Dit wat mens nie kan kies nie

  • 8

Foto: Canva.com

Daar sit sy vrou. Of dan nou weduwee. Sy sit alleen in die ry. Hulle het mos nie kinders gehad nie. Haar kop hang, haar skouers hang. Sy lyk eensaam.

My oë gly oor die mense in die kerkgebou. Ek ken min van hulle. Die bekendes kon dit nie maak nie – te vêr. Hier is ’n paar wat deel was van als... party oë loer terug in my rigting deur pare donkerbrille, so ek kan nie sien of hulle ná my, verbý my of déúr my kyk nie.

Ek glimlag halfhartig en probeer myself kleiner maak. Sluk swaar verby die ystergreep wat my keel toedruk en probeer so asemhaal dat daar wel lug in my longe kan insypel, want díép asemhaal kan ek nie. Ek vertrou glad nie die potensiële ontploffing van emosie wat daarmee gepaard kan gaan nie. Glad nie.

Die mense fluister sag. Daar is min woorde. Dis vir hulle ook ’n skok. Dit was te vinnig. Daar was nog so baie wat kon gebeur, voordat dit die einde moes wees. Ek het nog altyd hoop gehad.

My gedagtes is soos ’n tennisbal wat in ’n eindstryd heen en weer geslaan word, hier, daar, uit, hier daar, uit, want as die gedagte te lank stil lê, raak dit oorweldigend. Te veel emosie. Ek kan dit nie nou hanteer nie.

My oë vang die ruiker voor in die kerk. Dis vrolike blomme. Soos hy was. Hy het meer as eenmaal gesê dat wanneer hy eendag doodgaan, maak nie saak wat die oorsaak is nie, hy tog net nie wit blomme wil hê nie. Ek kry nie die gedagte gevang voordat my hart dit voel nie, en die emosie ruk my toe ek die eerste blom onthou wat hy vir my gepluk het. Ek onthou al die detail van daardie oomblik asof iemand ’n video geneem het en ek dit oor en oor kon kyk ...

Skielik spring die beeld van die beskeie houthuisie op die plaas waarheen ons oor naweke weggeglip het, ook in my geestesoog op. My hart.

Ek konsentreer daarop om stadig asem te haal. Baie stadig. Moenie dink nie. Moenie. Ek sit vorentoe en klem my hande, weerskante van my bene, om die sitplek van die stoel.

Die wal het egter gebreek en die herinneringe stroom al hoe sterker. Al die spesiale tye wat ons saam gehad het. Al die planne wat ons saam gemaak het. Party het gewerk, party nie. Dit was uitdagend. Maar dit was só die moeite werd. Elke sekonde saam was perfek en elke sekonde alleen het my laat uitsien na die volgende keer. Die nattigheid oor my wange raak meer en my oë kan nie meer sien nie. Daar ontsnap ’n snik uit my mond.

“Goeiemôre geliefdes,” onderbreek ’n onbekende, diep stem my gedagtevloed, en ek is dankbaar dat ek nie meer met my eie gedagtes besig hoef te wees nie.

Die man in die pak klere lê plegtig klem op elke lettergreep.

“Dis Bernard se roudiens, want hy is baie skielik van ons weggeneem. Maar dis ook ’n lofdiens, want hy het selfs op hierdie ouderdom ’n vol lewe gehad wat ons vandag kan vier. Die familie is dankbaar vir elkeen van julle wat vandag hier is, wat een of ander verbintenis met Bernard gehad het en ...”

Ek hoor nie verder nie.

Ons het ’n verbintenis gehad, ja.

Ek was lief vir hom, want mens kan nie die liefde kies nie. 

Hy was op ’n stadium lief vir my, maar nie lief genoeg nie, want mens kan nie die liefde kies nie.

Of, so sê hulle ...

As ons nie by vyf ophou tel het nie, sou dit vandag ons sewe-en-twintigste huweliksherdenking wees.

  • 8

Kommentaar

  • Sjoe, Corli, dit voel of dit ek is wat dit mee maak. Baie geluk dis 'n aangrypende kortverhaal.

  • Corlie, jy vat 'n ding so raak sonder om te veel blommerige (oordadige) woorde te gebruik. Dis pragtig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top