Doodstil. Sonder klank of beweging,
leef jy kliphard vir almal wat wil hoor en sien.
Jou bestaan,‘n simbool, lewensles en herlewing
van ‘n iemand of ‘n iets wat erkenning verdien.
Soos al die ander, is jou kliplyf gebou
met gereedskap gemaak van dit wat in die hart sit.
‘n Staaltjie geskiedenis, ’n stukkie onthou
vir môre se kinders om te verafsku of aanbid.
Twee kante is daar wel aan elke saak
en die harte wat by jou voete klop
is nie in harmonie met mekaar.
Jou val sal ook kom, die herlewing sal stop
wanneer dit wat in die hart sit,
‘n wapen word wat jou platslaan tot stof en stukkies klip.

