Dit skort aan omgeedoepa

  • 0

Terwyl ek met die navorsing vir hierdie artikel besig was, hoor ek ’n storie. Dit pas presies in by die tema van hierdie skrywe. Die storie is waar, maar alle karakters se identiteit word beskerm.

’n Vrou van in die tagtig en haar ewe bejaarde man doen albei COVID-19 op. Hulle kry behandeling in ’n hospitaal, en wonder bo wonder oorleef albei dit. Die man word ontslaan en die vrou maak haar reg om ook huis toe te gaan. As ’n laaste versoek vra sy die verpleegster om haar te help met ’n bedpan. Die ergerlike verpleegster gooi dit op die bed neer en loop weg. Die vrou, wat swak is na haar verbete stryd teen die virus, probeer maar self regkom. Sy verloor haar balans en val kop eerste van die bed af … morsdood.

Mediese dokters, verpleegsters en ander gesondheidswerkers verdien lof en dank vir hulle onbaatsugtige diens in hierdie moeilike pandemietyd. Volgens die Departement van Gesondheid het sowat 27 000 sulke werkers in die land reeds positief vir die siekte getoets. 240 het self die hoogste prys betaal deur die pasiënte se belange eerste te stel. Ongelukkig is daar net te veel voorvalle waar veral verpleegsters by betrokke is wat dui op ’n gebrek aan omgee by sommiges. En omgee is die een eienskap wat die grootste wonderkuur is.

Ons gesin se lewe is al meer as 25 jaar vervleg met dié van die Mogorosi’s (skuilnaam soos al die ander hier onder).

Anna, die matriarg, was al die jare die sentrale figuur wat, ondanks al die diepe waters, haar familie bymekaar gehou het. Ons het al dikwels gewonder: Hoekom is dit dat ’n swart familie sulke wrang vrugte pluk in ’n bedeling wat veronderstel was om hulle lewens beduidend te verbeter? Ek het al lankal besluit: Hieroor moet geskryf word.

Anna het sewe kinders gehad, maar een is by geboorte dood.  

Die oudste kind is Kagiso, nou al in sy diep veertigs. As jongman het hy bevriend geraak met Lesedi van die Mafikeng-distrik – van waar hy ook gekom het. Lesedi het verwagtend geraak en geboorte geskenk in ’n kliniek. Sy is gou huis toe gestuur, maar het bly sleg voel. Binne dae is sy dood. Dit blyk toe dat ’n gedeelte van die plasenta in die buik agtergebly het na die geboorte. Dit het sepsis en die dood veroorsaak. Om die een of ander vreemde rede is die baba na drie maande ook oorlede.

Met verloop van tyd het Kagiso ’n verhouding  begin met Malebogo van Johannesburg. Hulle het saam ’n kind verwek: Naledi. Malebogo het na ’n tyd TB opgedoen. Tydens ’n opvolgbesoek aan die hospitaal word sy ander medisyne gegee. Dit akkordeer nie met haar nie en sy gaan terug na die hospitaal. Daar word sy aangesê om die volle kursus van die pille te gebruik, dan sal dit regkom. Dit het nie en sy is dood. Naledi woon by haar ouma, Malebogo se ma. Kagiso help waar hy kan, maar dit gaan moeilik.

Die tweede oudste seun was Neo. Hy het Dikeledi in Johannesburg ontmoet, maar sy kom eintlik van Pampierstad af – ’n stowwerige township tussen Jan Kempdorp en Hartswater in die Noord-Kaap. Hy was maar in sy vroeë twintigs en sonder werk toe Dikeledi swanger raak. Sy is na haar familietuiste in Pampierstad vir die bevalling. Sy is onverklaarbaar ’n maand later dood. Die suigelingbaba, Mpho, het by Dikeledi se ma, Kefilwe, gebly. Die familie, en Neo, was te skaam om die ander ouma, Anna, daarvan te vertel. Dit het eers ’n jaar later gebeur. Neo het op ’n dag begin kla van maagpyn. Na ’n gesukkel is hy in die hospitaal opgeneem. Sewe dae later is hy dood – sonder dat die familie ooit ’n verklaring gekry het.

By die begrafnis is Anna deur die ander ouma, Kefilwe, ingelig oor die ware stand van sake.  Toe Anna vir Mpho sien, het Anna geweet: Dis Neo se kind. En skielik was Mpho ’n weeskind en moes Anna inspring om te help – soos oumas maar doen. (Die skokkende omstandighede wat die klein Mpho by die familie moes deurmaak en hoe die onderwysstelsel haar gruwelik in die steek gelaat het, is ’n storie vir ’n ander dag.)

Tussendeur moes Anna vir haar man, Ofentse, sorg. Hy was die bestuurder van ’n pandjieswinkel en het heel goed gevaar. Totdat ’n bus hom raak gery het. Hy was toe in sy veertigs, so 20 jaar gelede. Ofentse het veelvoudige beserings opgedoen en sou nooit weer werk nie. Eers was dit ’n moeisame proses om die nodige mediese sertifikaat te kry sodat hy ’n ongeskiktheidstoelaag kon kry. En toe die drama om die toelaag te kry. Intussen moes hy dikwels hospitaal toe gaan vir behandeling vir die een of ander skeet. Elke keer was dit dieselfde storie: Anna of hulle dogter, Bontle, moes vroeg-vroeg reeds daar wees, maar nogtans is daar ’n tou mense. Die pasiënte word soos skape behandel, en sonder ywer. Maak nie saak hoe dringend jy glo ’n dokter moet jou sien nie, jy sal wag totdat dit die verpleegsters behaag om jou na ’n ondersoeksaal te neem. Bontle is van dieselfde stoffasie as haar ma: sterk gebou en skrik nie vir die duiwel nie. Nou onlangs was dit weer dieselfde storie. Na ure se gewag sien sy dat die verpleegsters luilekker sit en tee drink. Dit was vir haar een te veel.  Sy het daar ingestorm en een van die verpleegsters saamgesleep om aandag aan haar pa te gee.   

Die laaste storie is dié van Boipelo, die jongste seun.  Hy was ’n kranige bofbalspeler. Dermate dat hy ’n kans gestaan het om die Suid-Afrikaanse Jeugspan te haal vir ’n toer na die VSA. Pas na matriek het hy begin om ’n platejoggie by sjebeens te wees. Self het hy nie gedrink nie. Een aand breek daar ’n geveg uit en hy word deur iemand bygedam met ’n stukkende bottel. Sy een hele voorarm is oopgekloof. Hy haal betyds die hospitaal, maar die jong doktertjie doen maar rowwe lapwerk. Van die senuwees in die arm het seergekry en hy verloor gedeeltelike beheer van sy arm. Daarmee is dit die einde van die bofbaldroom.

Boipelo kry nogtans vaste werk. Een aand gaan hy saam met vriende na ’n klub. ’n Skietery ontstaan en ’n dwaalkoeël tref hom in die been. Ernstige sjirurgiese werk is nodig om met ysterpenne en -stutte die bene te heg. Na ’n paar weke lyk dit maar steeds sleg en skeef. ’n Ander dokter ondersoek hom by die hospitaal en sê die eerste dokter het ploeterwerk gelewer. Die been moet van nuuts af gebreek word en weer geheg word as hy ooit behoorlike gebruik wil hê. So is dit toe gedoen. Dit het beter gegaan en na ’n klompie weke kon hy soort van weer loop, maar van hardloop kan hy vergeet.

Die stories van die Mogorosi’s is haas denkbaar. Hoe kan een familie deur soveel emosionele pyn en mediese terugslae  getref word? Dis ’n verhaal van ’n gebrek aan omgee, soos met die Life Esidimeni-skandaal. Dis ’n verhaal van sommige verpleegpersoneel wat nie respek het vir pasiënte nie. Dit ontbreek aan deernis, empatie, meelewing, aanmoediging, openheid, deursigtigheid, eerlikheid, privaatheid, vertroue, betrokkenheid en vriendelikheid.

Nehawu, die grootste vakbond in die gesondheidsektor, dreig om van 3 September af te staak. Mens kan hulle eis verstaan dat beskermingstoerusting éérs aan elke persoon gegee moet word – die gevaar om die COVID-19-siekte op te doen, is groot. Maar eise oor geld? Dit omdat die regering gesê het hy kan nie meer die verhoging van jaar drie van ’n ooreenkoms bekostig nie. Dit terwyl soveel miljoene mense die afgelope weke van inperking finansieel ’n erge knou toegedien is. Afgesien daarvan dat gesondheidswerkers ’n noodsaaklike diens lewer en nie mag staak nie, wys hulle eise dat hulle nie die belange van pasiënte eerste stel nie. Tog is die pasiënt die sentrale persoon in die gesondheidsektor. Anna en haar familie verdien eersteklas mediese sorg.

Dis juis om mense soos sy en haar familie sulke behandeling te gee dat die regering Nasionale Gesondheidversekering wil instel. Deesdae hoor ’n mens min daarvan. Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het voor die inperking gesê die nuwe stelsel sal na raming sowat R430 miljard kos. Talle kenners en instellings meen dit sal onbekostigbaar wees en twyfel of die diens sal verbeter. Ek ook.  

Die omgee-eienskappe soos hier bo genoem, kan nie met wetgewing afgedwing word nie. Dit gaan oor ’n ingesteldheid, en dít is onberekenbaar waardevol. En dit kos niks.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top