Resensie: So is dit nou – nog stories van gister en vandag deur Johan van Wyk

  • 0

So is dit nou - nog stories van gister en vandag
Johan van Wyk
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624080206

Kort voordat ek Johan van Wyk se tweede boek, So is dit nou - nog stories van gister en vandag, begin lees het, het ek eers weer sy So was dit (Tafelberg 2013) gelees. Net om in die regte stemming of op sy golflengte te kom.

Want die herinneringe aan sy rubriek, "Stop van myne" in Die Volksblad (nou: Volksblad), is steeds sterk by my. Met die herlees en pas met die lees van sy nuwe boek het ek opnuut die styl en stem van Johan van Wyk ervaar en geniet. Daar is maar net een soos hy!

Van Wyk, ‘n bekroonde rubriekskrywer in publikasies van Naspers/Media24, onderskei hom in sy tweede boek opnuut as uitnemende storieverteller.

Sy liefde vir veral die Noordweste, die Hantam en Calvinia word weer beklemtoon. Dit is sy wêreld daardie en hy keer telkens na sy geliefde platteland terug in nostalgiese herbesoeke.

Dit is die mense van daardie harde landstreek wat hy aan die leser bekend stel: Hoe hulle geleef het en nou leef, aanpassing by die verlies van verdwene dinge, afskeid van ou goed en gewoond probeer raak aan nuwe dinge en gebruike.

Van Wyk se skryfwerk is ‘n kosbare kultuurhistoriese dokument. Dit lewer sosiale kommentaar op mense en hul dinge: op ‘n hoë leefstyl en ander se swaarkry, op vergrype en uitbuiting, maar ook op deernis en barmhartigheid.

Dit is ‘n relaas oor landboutoestande in ‘n harde wêreld – die stryd teen droogtes en vloede. "Reën, asseblief – nie te veel nie"! Karooboere "kon sewe jaar van droogte vat, maar nie sewe dae van reën nie".

Van Wyk was self ‘n boer en dit is steeds duidelik. Hy stort die hartseer uit as hy vertel van die ontvolking van sy geliefde platteland; onbewoonde plase wat nou aan stedelinge behoort, waar veeboerdery grootliks deur wild vervang is en waar jy baie ver kan ry sonder om ‘n enkele skaap te sien. En van die bittereinders wie se spore al dowwer word …

Met nostalgie roep Van Wyk ook herinneringe op van treinry. "‘n Onbeskryflike grootsheid en bekoring, wat nooit deur ‘n vliegtuig of motor vervang kan word nie, omsweef ‘n verligte trein in die nag."

Maar van ‘n eens magtige staatsonderneming – een van die beste spoorwegstelsels in die wêreld - is daar vandag op plekke net geroeste spore of niks oor nie.

Alle eer ook aan Tobie Wiese wat die boek saamgestel en geredigeer het. Hy het sowat 250 000 woorde uit veral latere rubrieke van Van Wyk gesif en geskaaf en gelas om by ‘n samehangende, vloeiende en verrassende sowat 60 000 uit te kom.

‘n Baie gepaste huldeblyk is die voorbladfoto van Van Wyk se pa, Johannes van Wyk, lank gelede van die plaas Zandkraal in Calvinia se wêreld, waar sy spore steeds lê en hy ook bekend was as ‘n storieverteller. 

Ek is seker nog ‘n uiters leesbare boek of twee kan saamgestel word uit Van Wyk se rubrieke wat oor 25 jaar in Die Volksblad verskyn het. Sy denkbeeldige reise saam met Nelson Mandela na oorsese lande en hoe hy vir Madiba soggens ‘n potjie mieliepap gemaak het, was byvoorbeeld skreeusnaaks. Maar daardie verhaaltjies lê in knipsellêers by Ineg (die Argief vir Eietydse Aangeleenthede) by die Universiteit van die Vrystaat en in gebundelde koerante. Dit is geskryf voor die digitale eeu.

Ek wil beaam wat Tobie Wiese sê: "Hierdie boek is vintage Van Wyk. Neem, lees en geniet!"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top