
Foto: Canva
dit is volbring
(Op 17 April 2023 het die mineralebronne- en energie-departement in Pretoria die aansoek van TotalEnergies goedgekeur om in die see tussen Kaapstad en Agulhas na olie en gas te soek ondanks pertinente gemeenskaps- en omgewingsbesware)
wat die seepampoentjies nie betyds besef
eerdat die kwade dae kom
en elkeen omkom nie
wat plankton nie gedoen kan kry
in hierdie tyd van atrofie
wat die alikreukel die oester die perlemoen té laat aanvoel
sonder die ou sirenes oor die waters
wat die snoek en withaai op eie manier alleen laat sweet
wat die doejong en dolfyn en walvis in hulle siele weet
dit is volbring
sê die oseaan
aan die masjien
die toepas van donker druk
met dinamietgeweld
deur die planetêre bedryf se totalitêre drif
wat kraters uitskiet onder die belt
gemik om die membraan van die bodemstuk te ruk
(ruik terloops die taalintrusie)
sodat brandstof oweral hemelvaartshoog bly seëvier
in die naam van totale energie!
god weet/nie
dit is volbring
sê die oseaan
aan die masjien
kruis en dwars
tegnies geteiken en toe verdoem
tot tombe vir die maan
se getye in pekel
dit is volbring
sê die oseaan
aan die masjien


Kommentaar
In die derde strofe is 'n perfekte tikfout: "bodem" en "stuk" is nie 'n samestelling nie. Dus: "gemik om die membraan van die bodem stuk te ruk" - jammer, leser!