Dis weer herfs in my tuin

  • 0

Foto: Canva.com

Dis weer herfs in my tuin

Ek sit op ’n bankie in my herfstuin 
verkneukel myself in die roesbruin 
en goue blaartapyt argeloos gesaai 
deur die wind se wispelturige waai

’n stuitige briesie dans deur die blare 
en ’n emmervol verstrengel in my hare 
die skaterlag borrelend diep in my 
voel ek sorgeloos, gelukkig en vry

die son wat oranje agter die horison sink 
laat my aan ’n ou romantiese fliek dink 
die een van herfs in ’n groot wêreldstad 
wat dan eindig met almal se oë sopnat

die boomtakke vonk in vlammerooi 
teen ’n skemerlug ongelooflik mooi 
wat is daai liedjie wat Piaf heserig sing 
van herfsblare wat herinneringe bring

die reuk van warm appeltert en kaneel 
wat tartend met my neusgate speel 
bring my aangenaam terug na die nou 
van herfskleure wat my wêreld omvou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top