Op Woensdag 28 Januarie het professionele mense, betrokkenes en werkers uit verskillende dissiplines van die film- en televisiebedryf in Kaapstad betoog. Save SA Film Jobs het die staat daarvan beskuldig dat hulle die bedryf verlam. Die demonstrasie het tot ’n deurbraak gelei toe die voorsitter van Suid-Afrika se Komitee van Handel en Nywerheid hul memorandum aanvaar en dringende ingryping belowe het.
Antoinette Louw was deel van die betoging.

Ek, Leatitia Solomons, Melanie du Bois, Cintaine Schutte en Nini Conradie
“And … that’s a wrap, everyone!”
Die laaste woorde van die laaste toneel na weke – soms maande – se werk. Tussen 12 en 16 ure ’n dag. Mense juig en fluit. Ander huil. Jy raak lief vir die mense saam met wie jy so intens werk. Lang ure en ’n gejaag om die dag se tonele “in die kan” te kry. Werk is tyd en tyd is geld.
En nou is daar nie geld nie. En daar is nie werk nie.
Nie genoeg nie.
Ek is nie ’n joernalis nie. As jy feite wil hê of meer wil verstaan, is daar joernaliste wat die hele kommerwekkende situasie uiteensit en verduidelik. Te same met die nodige statistiek. (Ek self slaan toe as dit by syfers en persentasies en kolomme kom.)
Maar ek is wel ’n akteur. Een van honderde wat aan ’n film- of televisieproduksie werk. Die enigste verskil is tussen my en die res van my hardwerkende kollegas is dat jy my gesig kan sien. Jy weet ek is daar. Maar die ander? Wat vóór al die akteurs daar is om alles vir die dag aan die gang te kry en werk tot ná al die akteurs huis toe is?
Húlle moet die applous en erkenning kry. Nie die akteurs nie.
My ouers het al vir my op stel kom kuier. En hulle is verstom oor wat agter die skerms aan die gebeur is. Die aantal mense betrokke om net een toneel te skiet. En hoe lank dit neem om slegs ’n minuut of twee minute van wat die kyker op skerm sien, te skiet.
Maar die geld word minder. En daarom word die tyd wat gegee word om ’n hele film of TV-reeks aanmekaar te sit, ook minder. Van die teks tot die editing. En almal word minder betaal. Die geld word reeds vir die laaste paar dekades al hoe minder.
Ons het geweet ’n ongeluk is onvermydelik. Dis soos om die munisipaliteit te waarsku oor daardie gevaarlike kruising wat ’n verkeerslig moet kry.
Die ongeluk het toe gebeur en nou is ons in die waakeenheid. Mense se lewens is op die spel. Sommige kollegas het reeds hulle huise verloor of kan nie meer huur bekostig nie.
Nie net word ons minder betaal nie, maar projekte word minder.
Die publiek sien ons in mooi rokke by die Silwerskermfees; ons verskyn in tydskrifte. Maar daai rok is geleen en daar is nie kos in die yskas nie. Letterlik. Ek kan vir jou ’n lys van name gee.
Hoe oorleef ek? My ouers. Ek is ’n 50-jarige aktrise met ’n hele paar toekennings agter my naam, maar ek sou nie kon oorleef as dit nie vir my ongelooflike ouers was nie. En tot onlangs was ek skaam om dit te sê – dat ek afhanklik is van my ouers. Maar dit is die realiteit. Ek is net ongelooflik dankbaar dat ek nog in die bedryf kan wees. Bitter min in die filmbedryf is so bevoorreg.
Sien, ons word nie as “werkers” gesien nie – mense wat tot die ekonomie bydra. Suid-Afrika het letterlike miljarde al verloor deur nie die filmbedryf te ondersteun nie.

Leatitia Solomons, ek en ons agent Suzanne Smith Bojè (van StellaTalent)
En daarom het ek saam met my kollegas voor Kaapstad se parlement gaan staan. Vervaardigers, akteurs, skrywers, regisseurs, kostuumontwerpers, beligtingspersoneel, klankmense. Die atmosfeer was elektries.
“Amandla!” sê Wandile Molebatsi* in die mikrofoon vanaf die verhoog.
“Awethu!” antwoord ons almal terug.
Rondom my begin kollegas sing en dans.
En ek dink: “Hoe ongelooflik om in ’n land te bly dat wanneer daar ’n optog is, mense sing en dans.”
Ek het nie ’n woord verstaan wat gesing word nie, maar dit was nie eers nodig om te verstaan nie. Want die woorde voel jy in jou beendere.
’n Kollega het wel later een van die vele liedere vir my vertaal:
We will turn things around.
Listen to the child’s cry.
You must listen to the child’s cry.
Stories is in ons DNS. Dis deel van ons erfenis.
Vat alles nou weg. Vat kykNET weg. Vat Showmax weg. Weg is Een keer om die son. Weg is Suidooster. Weg is die nuus. Alles. Wat oor is, is ’n swart skerm. Of herhalings en herhalings van ou programme (waarvoor niemand betaal word nie).
Is ek dramaties? Miskien.
Maar die huidige toestande is nie volhoubaar nie. Van die vollengtefilms wat verlede jaar by die Silwerskermfees gedebuteer het, was in twee weke geskiet. Maar ons doen dit. Want ons is lief vir stories. Dis ons werk.
Dis ons diens aan ons land.

‘n Mooi oomblik tussen my en jong akteur en skrywer, Dean-Richard Olivier.
* Wandile Molebatsi is ’n akteur en vervaardiger, asook die ondervoorsitter van IPO (Independent Producers Organisation).


Kommentaar
Liewe Antoinette, baie dankie vir die skrywe. Dis inderdaad 'n reusedilemma. Ongelukkig mensgemaak. Die crew op films is meestal die ruggraat daar en die liefste mense. Ek weet al lankal nie hoe jong akteurs kop bo water hou nie. Jy druk mooi uit hoe die realiteit elkeen van ons sal raak - nou reeds, maar erger - as die verknorsing nie aangespreek word nie. Ons moet aanhou en die druk volhou. En op die mooi manier - soos met die aangrypende gebed wat in JHB gebid is.