Dis ’n tragedie wat nou by die SAUK afspeel

  • 4

Die openbare uitsaaier is vasgevang tussen twee wêrelde – ’n verouderde finansieringsmodel en nuwe tegnologie wat die SAUK se uitsaai-omgewing so ver vooruit is dat hy kwalik sal kan inhaal.

In die jongste tyd is heelwat geskryf oor die SAUK se las op die belastingbetaler en die inploffing van dié staatsonderneming – net soos by SAL en Denel, waar swak bestuur en korrupsie hulle tot bankrotskap gedryf het.

Vir iemand wat 35 jaar lank as joernalis, TV-anker en radio-omroeper diens by die SAUK gehad het, is dit ’n pynlike situasie. Die openbare uitsaaier is van kardinale belang vir die land. Dis sy taak om die bevolking in te lig, op te voed en te vermaak. Die SAUK gee met sy radio- en TV-uitsendings uitdrukking aan die kulturele kleinode van die diverse bevolking. Dit skep platforms om skeppende werk te bevorder en te vertoon. Dit het die mandaat om die bedryf te ontwikkel en uitsaai-geleentheid te bied aan ’n verskeidenheid tegnici en kunstenaars in drama, musiek, sport en etlike meer.

Die 10 radiostasies van die SAUK in die inheemse amptelike tale van die land, en die taaldienste op TV, het besonderse werk gedoen om nuwe skeppende werk te lewer. Daar was eenvoudig net weinig toepaslike materiaal beskikbaar. Jy moes opnuut programme skep wat in hierdie bodem geanker is. 

Vir miljoene mense is die SAUK ook die enigste bron van inligting, veral deur radio, tot aan die uithoeke van die land.

Ek onthou ons het op ’n keer ’n TV-program gaan maak in Soebatsfontein in die verre Noord-Kaap digby die Namakwapark. Dis ’n dorpie met maar ’n paar honderd siele. Ons het van huis tot huis verfilm. Oral waar jy kom, was die radio aan – op RSG. As jy so aanstap, klink dit kompleet of daar net een groot uitsending is op volle volume dwarsoor die dorp. Vir inwoners daar is daar net een skakel met die wye wêreld anderkant die ver blou rante, en dis Radio Sonder Grense.

Vir die Soebatfonteiners, en vele ander, is die taalstasies en televisiekanale van die SAUK ’n oorwegend betroubare bron van inligting. Dis al in ’n hele paar studies bewys dat die SAUK se uitsendings deur ruim 70% van die bevolking geglo word. En dit ondanks persepsies dat die openbare uitsaaier partydig is.

Ek beskou die goue jare van die SAUK en van behoorlike mediavryheid as die dekade van 1989 tot 1999 – van die De Klerk-bewind tot einde Mandela s’n. Sover ek weet, is daar nie deur die politici in dié tyd gepoog om aan die SAUK voor te skryf nie. Die aanloop tot die 1994-verkiesing was opwindend. Ons het met die groot buite-uitsendingswaens vanaf verskeie sentrums oral in al die provinsies regstreekse uitsendings gehad. Partykeer was daar verteenwoordigers  van ruim tien partye op die verhoog. ’n Saal vol kiesers kon hulle met vrae bestook.      

Die SAUK het in dié tyd ongetwyfeld ’n baie groot diens gelewer om die nuwe demokrasie aan burgers bekend te stel en hulle aan die rykdom van menings bloot te stel.

In die moeilike sewentiger- en tagtigerjare het dit my altyd verstom hoe politici kan dink dit sal tot hulle voordeel wees as hulle die nuus probeer manipuleer. Op die ou einde kom die waarheid altyd uit. Dit tas die geloofwaardigheid van die SAUK aan en daarsonder beteken jou uitsendings niks nie. Dis wat gebeur het in die Zuma-jare – net soos toe PW Botha aan bewind was. Die verskil was dat Zuma nie soseer persoonlik betrokke geraak het nie, maar hy het sy pionne in die regte posisies aangestel wat dan sou sorg dat uitsendings van die SAUK hom ter wille sou wees.

So het die verrotting begin. Mense is aangestel sonder dat hulle die nodige bestuurs- of bedryfskundigheid gehad het. Onder ’n bedryfshoof soos Hlaudi Motsoeneng het koste die hoogte ingeskiet terwyl die SAUK se sakeplan reeds besig was om te misluk. Adverteerders het al hoe meer verskuif na die internet en selfone. Die openbare uitsaaier is seker die enigste op aarde wat vir sowat 80% van sy inkomste van adverteerders afhanklik is. Rondom 18% kom van TV-lisensiegeld en 2% van die staat en borge. Dié persentasies kan van jaar tot jaar wissel, maar dit bly min of meer in dieselfde verhouding – dat die grootste gros van die inkomste deur advertensies verkry word. Dis internasionaal ongehoord vir openbare uitsaaiers om van kommersiële bronne afhanklik te wees.

Dit is dus verkeerd om te sê dat die SAUK deur die belastingbetaler gefinansier word. Behalwe die onlangse lewensboei van R3,2 miljard het die staat minimaal bygedra tot die SAUK se inkomste. In Australië word die ABC se geld deur die parlement toegewys. In Brittanje kry die BBC sy inkomste hoofsaaklik van lisensiegeld. Maar dáár is die betaalkoers by die 94%. Hier was wanbetaling die afgelope boekjaar 81%. Dus het net 19% van die lisensiegeld in die SAUK se koffers beland – en  die syfer daal steeds.

Dit dui op toenemende publieke weerstand teen die SAUK.

Een van die redes was die manewales van Motsoeneng. Hy het hom ingemeng by die nuusredaksie en onder meer opdrag gegee dat oproerige protesoptogte nie uitgesaai word nie. Hy het soos ’n Krismisvader poste uitgedeel en salarisse verhoog. Sowat 45% van die SAUK se begroting word aan personeel bestee. By eTV is dit minder as 20%. Verstommend  word 98% van die nuusafdeling se begroting aan personeel betaal. Dus is daar omtrent geen geld oor vir produksie nie. Opknapping van ateljees en tegniese toerusting word agterweë gelaat en die SAUK se geboue word nie onderhou nie. 

De openbare uitsaaier het die einde van die vorige boekjaar met ’n verlies van R511 miljoen afgesluit. Baie daarvan is skuld aan produksiemaatskappye wat nie betaal is nie – en sommige van die maatskappye moes sluit. Teen die einde van hierdie boekjaar sal die verlies na raming verdubbel het. Toe die tesourie ’n lewensboei van R3,2 miljard verlede jaar aan die SAUK goedgekeur het, was die voorwaarde dat salariskoste gesny moet word. Maar noudat die raad besluit het om 400 van die sowat 3 000 mense uit diens te stel, het die minister, Stella Ndabeni-Abrahams, dit gekeer – al het sy nie die mag om dit te doen nie. Die hele proses is met ’n maand vertraag vir verdere konsultasie.

Intussen het  al hoe meer kykers ander platforms, soos rekenaars, gebruik om internetstroomdienste te kyk. Jy het eenvoudig nie meer ’n TV nodig om vermaak te word nie. As jy wil weet wat in die nuus aangaan, kry jy dit op jou selfoon.

Dit bring ons by die ander teer puntjie. Suid-Afrika moes al in 2015 van analoog- na digitale TV oorgeskakel het – soos in 2006 onderneem is teenoor die Internasionale Telekommunikasie-Unie. Dit het nie gebeur nie – onder meer omdat ons in 20 jaar 10 ministers van kommunikasie gehad het. Sommige het nie belanggestel nie, soos Dina Pule, wat eerder saam met haar mansvriend in Parys se modewinkels rondgerinkink het. Ander het geen kennis gehad nie; ander het voorgangers se besluite omgekeer; het gekibbel oor die soort tegnologie wat gebruik moes word; het met uitsaaiers baklei en die hele stelsel swak bemark.

Vandag is daar in bergplekke glo by die miljoen dekodeerders (ten duurste bestel). In ’n spesiale veldtog ten bate van mindergegoede gesinne, kan elke gesin aansoek doen vir ’n dekodeerder en dit gratis afhaal. Tog is die vraag traag. Die aangepaste spertyd vir die afhandeling van die migrasieproses sou vanjaar gewees het. Dis egter uitgestel tot volgende jaar. En dis reeds duidelik daardie spertyd gaan nie gehaal word nie. Die groot voordeel wat die land sou gekry het deur beter-kwaliteit-beeld en meer beskikbare spektrum vir onder meer vinniger en goedkoper internetdienste, is al vyf jaar lank verbeur.

Intussen het die koronavirusregulasies die grond onder ons voete geskuif. Sport sou een van die groot trekpleisters van digitale TV wees. Nou’s dit ’n afgewaterde spul met geen toeskouers nie. Talle mense het reeds die verskuiwing gemaak weg van TV na die rekenaar. Met digitale TV kan jy minstens ses kanale akkommodeer in die spektrumwydte van een analoog-TV-kanaal. Dus kan die SAUK skielik 18 kanale hê pleks van drie. Wat gaan hy daarmee maak? Om ’n kanaal te vul, moet jy inhoud hê – en dit kos geld. Sonder behoorlike inhoud trek jy nie kykers nie, wen nie advertensies nie en laat mense nie lisensiegeld betaal nie.

Die SAUK is in ’n hoek.

Die SAUK, en ons almal saam, sal opnuut moet dink oor die rol van ’n openbare uitsaaier. En dan moet drasties planne bedink word om die SAUK se verouderde finansieringsplan te vervang.

Hier volg ’n paar voorstelle.

Die 10 inheemse radiostasies, en die Engelse SAfm, is duidelik van groot waarde. RSG in die besonder vaar goed. Dis een van die min stasies wat ’n wins maak. Die huidige topbestuur besef glo die strategiese waarde van Afrikaans. Dit het ’n ware gemeenskapstasie geword. Ruim 56% van die luisteraars  is bruin. RSG is vir talle die luisterpas na die wye wêreld – vra maar die Soebatsfonteiners.

Dit geld ook vir die ander stasies in inheemse tale. Hulle en MetroFM het die grootste luisteraargetalle in die land. Dié stasies, SAfm en Lotus (hoofsaaklik vir die Suid-Afrikaanse Indiese gemeenskap) moet as groep los staan van die SAUK as die openbarediensstasies van die land. In die praktyk gaan hulle net voort soos gewoonlik, behalwe dat finansiering moet verander. Die parlement moet jaarliks ’n begrotingstoewysing aan die stasies saam maak – sê 51% van die begroting. Die res moet van advertensies en borgskappe kom. Elke stasie behou sy produksiepersoneel met die minimum oorkoepelende administratiewe amptenare vir die groep. Al die ander stasies moet verkoop word.

Wat televisie betref, moet aanvaar word dat die omstandighede so verander het dat die openbare diens en finansieringsmodel drasties aangepas moet word. Verkoop SABC 3. Behou SABC 1 en SABC 2 en lewer steeds programme in verskillende tale. Behou die 24-uur-nuuskanaal in Engels. Bestuur die drie kanale saam as die openbare diens: televisie. Dit moet verkieslik ’n ander naam hê. Handel die digitale-migrasie-proses so gou as moontlik af. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid, Okosa, het onderneem om teen einde Maart aanstaande jaar ’n veiling te hou van die spektrum wat beskikbaar kom. Dis veral operateurs soos selfoonmaatskappye wat van die spektrum wil bekom. Dit sal hulle in staat stel om die jongste tegnologie te gebruik om vinniger, goedkoper dienste te lewer tot selfs in diep plattelandse gebiede. Dit het groot ekonomiese voordele. Daar word geraam dat die veiling tussen agt en tien miljard rand sal oplewer.

Dis geld sal gebruik kan word om die migrasieproses af te handel, die SAUK se skuld te delg en vir die herstrukturering van die openbare radio- en televisiedienste te betaal. In die SAUK moet administratiewe personeel soveel as moontlik beperk word. Ek het al verneem dat daar by die SAUK meer administratiewe personeel is as produksiemense. Dit moet verander. En soveel moontlik moet  bestee word aan inhoud. Dit skep werk, ontwikkel die bedryf en lewer die inhoud wat kykers kan trek. Die SAUK moet van alles ontslae raak wat nie direk tot die uitsaaivoordeel bydra nie. Dit sluit die toringgebou van die SAUK in Johannesburg in. Die gebou is in verval. Koop of huur baie basiese kantoorruimte in byvoorbeeld Brixton.

Skaf die TV-lisensie af. Die betalingskoers gaan nie verbeter nie. Dit gaan nie help om MultiChoice of eTV te vra om die lisensiegeld namens die SAUK in te vorder nie. Hulle gaan dit nie doen nie. Net so min gaan rekenaarmaatskappye en internetvoorsieners dit doen. Buitelandse stromingsmaatskappye soos Netflix gaan dit ook nie doen nie en sal nie geneë wees om voorskrifte te ontvang nie.

Wat wel moontlik is, is dat elke maatskappy of instansie wat spektrum koop, ’n jaarlikse lisensiegeld betaal. Dit kan in ’n ontwikkelingsfonds inbetaal word. Dit kan aan die SAUK (en moontlik ander uitsaaiers) betaal word om te vergoed vir die bedrag wat aan produksiehuise betaal word vir skeppende programme. Die parlement moet elke jaar ’n staatstoelae aan die SAUK betaal wat saam met die ontwikkelingstoelaag 51% van sy begroting behels. ’n Protokol moet daaroor opgestel word om te verseker dat daar nie staats- of partypolitieke inmenging is nie.

Die res moet kom van advertensies en borgskappe. ’n Nuwe benadering is nodig om in die veranderende mark tog nog advertensies te lok. Maar adverteerders kan nie die SAUK se voortbestaan in hulle hande  hou nie. Almal moet besef dat jy nie ’n openbare uitsaaier kan hê maar nie uit die openbare fiskus daarvoor betaal nie. Die belastingbetaler kan dan wel sê dat hy die grootste bydrae tot die SAUK se inkomste lewer en burgerlike optrede begin as die geld nie na behore bestee word nie.

Nugter weet wat die oponthoud met die digitale-migrasie-proses is. Die sendermaatskappy Sentech het die meeste van die werk gedoen om senders te verstel. Meer as 500 000 dekodeerders is al in behoeftige huishoudings geïnstalleer. Nou moet al die dekodeerders wat in pakhuise stof vergaar, net by huishoudings uitkom. ’n Omvattende bemarkingsveldtog is nodig om mense van die voordele bewus te maak.

Ek hoop dat hierdie voorstelle meer openbare debat sal uitlok. Die openbare uitsaaier is belangriker vir die land as SAL. Een ding is seker: Die SAUK moet drasties transformeer en ’n heel nuwe, vindingryke finansieringsmodel ontwerp. Anders gaan die belastingbetaler nog meer moet opdok. 2021 gaan ’n beslissende jaar vir die SAUK wees.

  • 4

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Weldeurdagte kritiek met substantiewe voorstelle om 'n sinkende skip te probeer red. Ongelukkig kom dit uit 'n verkeerde oord en val die meriete hiervan heel waarskynlik op dowe ore.

    Wanneer gekyk word na die powere programme, meesal patetiese films en die oneindige herhaling daarvan op DSTV, kry mens die vermoede dat dit ook nie so voor die wind met hierdie instelling gaan nie. Of dit finansiële probleme, onbevoegde bestuurders, onbekwame personeel of bloot polities gemotiveerde redes (of 'n kombinasie hiervan) is, is nie seker nie. Wat ek wel weet en kan sien is dat daar 'n merkwaardige afname in die standaard van programme is. Oral is 'teerpaaie' besig om in 'grondpaaie' te verander.

  • Volgens inligting op sosiale media en die web is die gemiddelde jaarlikse salaris by die SAUK R791 000 en tog word daar betoog vir verdere verhogings, terwyl miljoene mense landwyd werkloos is.

    Op 22 Augustus 2017 het die regering die volgende statistieke vrygestel:

    Poverty trends in South Africa: An examination of absolute poverty between 2006 & 2015

    "The proportion of the population living in poverty declined from 66,6% (31,6 million persons) in 2006 to 53,2% (27,3 million) in 2011, but increased to 55,5% (30,4 million) in 2015. The number of persons living in extreme poverty (i.e. persons living below the 2015 Food Poverty Line of R441 per person per month) in South Africa increased by 2,8 million, from 11 million in 2011 to 13,8 million in 2015."

    Dit is dus skokkend, gegewe die inligting dat SAUK werknemers nog steeds dreig om die openbare uitsaaier se werksaamhede te ontwrig indien daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie.
    Is dit nie die kern van die probleme wat die uitsaaier ondervind teveel mense wat teveel verdien en te min presteer om die vergoeding te regverdig?

  • Louis Lagrange

    Die oplossing vir die hele land se finansiering van noodsaaklike dienste, is om Christokraties ’n Godsregering in te stel. Hul moet elke werker ’n regverdige loon betaal en alle grondstowwe en lewende hawe nasionaliseer. Die eerste 5 Hoofstukke van Handelinge is ’n voorskou van hoe daar niemand sal wees wat gebrek in ’n Volk sal ly nie. Dit lyk soos Rooi Kommunisme maar die geldhandel is in onder regverdige geeste as Gesante van God se beheer.
    Die geheim is dat wins nie meer ’n individuele moontlikheid onder deelnemers mag wees wat van hul skuldlas kwytgeskeld kan word om gesamentlik gedelg te word nie. Sonder skuld of wins is daar vol indiensneming en met gehaltebeheer sal die aanbod altyd meer as die aanvraag in alle noodsaaklike dinge wees. Geen verkeerde of slegte ding sal kan bestaan nie, omdat daar nie ’n ander geldeenheid kan kompeteer nie.

  • Ongelukkig sal daar nooit 'n Godsregering ingestel word terwyl die huidige regering in beheer is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top