Dis komminplaas, maar kragtig

  • 0

Die week in woorde

Ek het ’n komminrige kant wat so hier en daar kopwys, maar ek moet erken ek is eintlik nogal trots daarop. Ek neem aan ons trots-Afrikaanse woord “kommin” kom van die Queen’s English-woord “common” (preferably pronounced with a hot potato in the mouth) – ’n woord wat mens soms in onverwagte plekke raakloop. Soos in die konteks van die sogenaamde “commonplace book” – die Renaissance se weergawe van scrapbooking vir intellektuele mense.

Wag, wag! Moenie laat die kommin-assosiasie met die woord “scrapbooking” jou afskrik nie! Kom terug dat ek eers verduidelik wat presies ’n “commonplace book” is wanneer hy by die huis is.

Volgens Poets.org, waar ek die eerste keer van dié tipe boek gelees het, is ’n commonplace book ’n notaboek waarin toegewyde lesers hul gunsteling-gedigte en -passasies uit boeke neerskryf vir later se herlees en genieting. Dis ’n persoonlike versamelbundel wat jou aan goeie boeke en gedigte herinner, en blykbaar is so ’n boek ’n onontbeerlike hulpbron vir elke digter of aspirantskrywer. Aldus Jonathan Swift:

A commonplace book is what a provident poet cannot subsist without, for this proverbial reason, that “great wits have short memories”: and whereas, on the other hand, poets, being liars by profession, ought to have good memories; to reconcile these, a book of this sort, is in the nature of a supplemental memory, or a record of what occurs remarkable in every day's reading or conversation. There you enter not only your own original thoughts (which, a hundred to one, are few and insignificant), but such of other men as you think fit to make your own, by entering them there.

(Uit: "A Letter of Advice to a Young Poet")

Sonder dat ek dit geweet het, is ek al sedert my sestiende jaar besig om commonplace books te maak. Die eerste ding wat ek in my eerste notaboek aangeteken het, was ’n aanhaling uit On the Road deur Jack Kerouac:

[T]he only people for me are the mad ones, the ones who are mad to live, mad to talk, mad to be saved, desirous of everything at the same time, the ones who never yawn or say a commonplace thing, but burn, burn, burn like fabulous yellow roman candles exploding like spiders across the stars.

 
Wag weer, voor jy beïndruk voel: laat ek dit net op die rekord plaas dat ek as sestienjarige boorling van Empangeni geen idee gehad het wie Jack Kerouac is nie, nog nooit van die beats gehoor het nie, en bepaald nie On the Road gelees het nie. Nee, die aanhaling het ek in die destydse Blush­-tydskrif gevind en om een of ander rede het ek besluit om nie die laaste deel af te skryf nie, oor die spinnekoppe. Ek het opgehou na die kerse. Ek reken die spinnekoppe was seker bietjie rof vir my sestienjarige sensibilities – of dalk het Blush besluit om nie die spinnekoppe tussen die artikels oor aknee, skoolstres en skoene los te laat nie.

Hoe ook al: dit was die begin van ’n jare lange obsessie met die opskryf van ander skrywers se woorde. Soms het ek in leë notaboeke geskryf, soms ou handboeke of foto-albums nader gehark om my komminplaas-aanhalings daarin af te skryf. Alles van Blink182 tot Barack Obama is aangehaal. Ek het groot dele van Winnie the Pooh oorgeskryf, lang gedeeltes uit lirieke van Karen Zoid opgeteken en amper die hele Nuwe Stemme 3 gefotostateer en in ’n boek geplak. (Dit maak nie saak dat mens die boek besit nie – om die woorde oor te skryf of te fotokopieer is om dit op ’n ander manier te eien, dit regtig jou eie te maak, dit op ’n dieper vlak te besit as bloot iets wat op jou boekrak stof versamel.)

Ek dink ek was eintlik net verlig toe ek lees van commonplace books, baie bly om te hoor dat al die jare se oorlees en oorskryf nie vermors is nie, dat Swift reken ek het dit goed spandeer deur ’n supplementêre geheue op te bou. Ek het die afgelope twee jaar heelwat minder tyd aan commonplace books spandeer, maar ek dink dis dalk nou weer die opportune oomblik om die gewoonte weer aan te leer. Wie weet watter nuwe dinge dalk uit die oorgeskryfde woorde van ander mag voortspruit.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top