Dis jou koesister en my koeksister

  • 1

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), die ATKV en LAPA Uitgewers het op Saterdag 20 Mei 2017 gesamentlik Internasionale Museumdag gevier met ’n spesiale byeenkoms in die Paarl.

Michael Jonas, die direkteur van die ATM, het vertel Museumdag word jaarliks, wêreldwyd, op of rondom 18 Mei gevier sedert dit in 1977 deur die Internasionale Komitee van Museums ingestel is. “Die doel daarvan is om mense bewus te maak van die belangrike rol wat museums in die samelewing speel. Vanjaar se tema is ‘Museums en omstrede geskiedenisse: sê die onsêbare in museums.’ Ons viering sal fokus op die Afrikaanse gemeenskap se koserfenis – ons het nie almal dieselfde tradisies nie, maar wel baie gedeelde erfenisse wat voorheen soms misken is en wat ons nou kan omarm.”

Chantelle de Kock, kurator van die Taalmuseum, het die gaste vertel van die eerste Afrikaanse kookboek, wat geskryf is deur 'n Engelse vrou, Elizabeth Jane Eckley. Sy was met ’n Nederlander, Jan Hendrik Dijkman, getroud. Hulle van is later as Dykman geskryf. So het dit gekom dat JE Dykman die skrywer van die eerste Afrikaanse kookboek was.

Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het oor die herkoms van die woorde koeksister en koesister gesels. Beide woorde is reeds in 1960 in die WAT opgeneem, maar dit was mans wat aan die stuur van die WAT was en hulle het nie mooi verstaan dat daar ’n verskil is tussen die sagte koesister, wat in klapper gerol word, en die harde, gevlegte koeksister nie. Die oorspronklike inskrywing meng die twee resepte dus.

Dié inskrywing sal nou reggestel word, aangesien woordeboeke deesdae elektronies gemaak word.

Drie bobaasbakkers het toe oor die onderwerp “Dis my koeksister en jou koesister” gesels. Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, van Bonteheuwel in die Kaap, het bekendheid verwerf met die deel van hul resepte op RSG. Hulle het reeds twee kookboeke uitgegee en het hul eie kookprogram, Flori en Koelsoem se kosse, op televisie. Die derde deelnemer was Gonny du Plessis, voorsitter van die Suider-Paarl-tak van die Vroue Landbouvereniging (VLV). Sy is al amper 40 jaar by die VLV betrokke.

Shireen Crotz, van die US Woordfees se WOW, was die gesprekleier.

Die gevlegte koeksister word van ’n stywe deeg gemaak wat in olie gebak word en dan in yskoue stroop gegooi word. Die koesister met die klapper word in olie gebak en dan in warm stroop gegooi voor dit met klapper bestrooi word.

Koelsoem Kamalie het vertel dat sy as jong meisie al geleer het hoe om koesisters te bak. Omdat hulle arm grootgeword het, is die koesisters toentertyd van aartappels gemaak – ’n resep wat sy steeds vandag gebruik.

Gonny du Plessis van die VLV het vertel dat sy in ’n Nederlandse huis met oliebolle grootgeword het. Sy het later eers geleer hoe om die gevlegte koeksisters te maak.

Flori Schrikker het in Brooklyn grootgeword en daar het sy by 'n Boeretannie geleer hoe om gevlegte koeksisters te bak. Sy het egter as jong meisie ook geleer hoe om die geklapperde koesister te bak.

Flori en Gonny het saamgestem: suurlemoenskil moet in die deeg en die stroop kom; dit maak jou koeksisters bobaas.

Sal die lekkernye voortleef? Die paneel dink wel so. VLV het programme om jongmense te leer hoe om die baktradisies voort te sit, en boeke soos Kook saam Kaaps en Soettand sal maak dat die Kaapse kookkuns nie sommer vergeet sal word nie.

Die rieldansgroep die Betjies van Betjiesfontein het voor en ná die tyd almal vermaak met hulle passies. Die jongmense het ook die gehoor betrek; hulle was ware ambassadeurs vir die riel.

Ná hulle optrede by die Taalmuseum moes die Betjies nog deurry na Worcester; die ATKV se streekuitdunne vir die rieldans het daar plaasgevind.

  • 1

Kommentaar

  • Benjamin Bock

    Ek kan sien dat ons heelwat rieldansers opgelei het. Of hoe sê ek Izak? Baie geluk met die program. Dit was uitstekend aanmekaar gesit en uitgerol.
    Net jammer ek kon nie daar wees nie. Ons het stof in Worcester opgeskop!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top