Koos Kombuis lees drie uiteenlopende boeke dié maand. Hy is liries oor Murakami se Kafka on the shore en hy gee hoog op oor Op pad na Grysberg, ’n boek wat, onder leiding van Stefaans Coetzee, deur 22 skrywers saam geskryf is. Laastens vertel hy meer oor Fokofpolisiekar se bloemlesing van hul lirieke, bekend as Woorde 2003–2023. Om die lirieke te lees is dalk nie soos om poësie te lees nie, sê hy. Dit is immers nié poësie nie. “Dis eenvoudig woorde.” Dié versameling lê egter langs sy bed by sy Bybel, want die tekste laat ’n mens dink. “Dit is soos om Prediker te lees.”

