Dis donker maar ook plesierig In die land verby donker

  • 0

"In die land verby donker lig iets leliks sy kop, kruip ’n ding met lang tande soos ’n slak uit sy dop. So, kom loer nou saam van A tot Z aan my grillerige alfabet!"

Die land verby donker is bedoel vir kinders. Maar dié land is donkerder as donker. Hier tjank weerwolwe en swiep vampiere in die nag rond. Rikus Riller loop om elke draai ...

Francois Bloemhof, bekend vir sy rillers en grillers en skrywer van hierdie kinderboek, vertel vir Naomi Meyer hoe om kinders te laat skrik.

Hallo Francois, dankie vir die geleentheid tot gesprek. Ek sien jou boek In die land verby donker sal kinders lok wat hou van weerwolwe wat in die nag tjank. en die voorblad met Dale Blankenaar se illustrasie is al klaar spookagtig. Waar het jy die idee vir hierdie bundel gekry?

Soos enige skrywer behóórt te wees, is ek lief vir die alfabet! En daar is hopeloos te min alfabetboeke in Afrikaans. Daar is trouens te min rympieboeke in die algemeen. Sodra ek voel daar is ’n gebrek aan iets én dis iets waarin ek belangstel, is dit my taak om daardie gaping te vul. Ek was lus vir ’n boek met A-, B- en C-rympies, maar daar moes ’n deurlopende tema wees – en die tema is toe “grillerige goeters”. Ek is bly jy verwys na die voorblad deur Dale Blankenaar; ek is mal daaroor om saam met talentvolle kunstenaars te werk en hy loop oor van vernuwende idees. Sy aanvoeling vir hoe die boek moes lyk, het presies ooreengestem met myne, en hy het my visie verryk met uitstekende voorstelle.

Wat maak jou bang – en wat dink jy maak kinders bang? Hoe verskil die vrees van ’n grootmens en die vrees van ’n kind? (Ís daar ’n verskil?)

Dis moeilik om te veralgemeen, maar ek dink die meeste grootmense se vrese is meer sielkundig van aard. Tog bly ’n goeie ou skrik-in-die-nag ’n staatmaker as dit by fiksie kom! Ek sal enige tyd deur ’n donker woud loop, maar ’n donker huis hou vir my meer skrikwaarde in. Ek glo alle mense is in die een of ander graad bang vir die onbekende; vir verskillende mense neem die onbekende net verskillende vorms aan. Kindervrese raak ook nie ongedaan namate jy ouer raak nie.

Hoe kry jy dit reg om vir kinders te skryf sodat hulle bang raak, maar nie so erg dat hulle hul ouers vir ewig en altyd in die nag wakker hou met hul vrese na aanleiding van wat jy geskryf het nie? Dis ’n kuns om dit so te kan bemeester – wat is jou geheim?

Ek skryf vir verskillende ouderdomsgroepe en wanneer die storie (of in hierdie geval rympies) by my aanmeld, weet ek dadelik vir watter ouderdom dit geskryf moet word, en dit bepaal hoe “erg” dit kan raak. Jy wil kinders bang maak, ja, maar dit moet ’n lekker bang wees. Dit moet ook ’n verantwoordelike bangmakery wees. My taak is om te vermaak, nie om sielkundige letsels toe te dien nie. Die beste toets vir jeugfiksie bly vir my maar om terug te dink aan watter soort boek ek op daardie ouderdom graag sou wou gelees het, maar nie kon nie omdat dit nie bestaan het nie – en dit dan te skryf.

Uittreksel uit Die land verby donker:

Rikus Riller
is ’n griller.
Kyk, hy lyk net soos ’n vlieg.
“Ek kan ver sien,
elke ster sien.”
Maar dít is ’n lekker lieg.

Rikus weet nie
wat hy eet nie,
want hy het sy bril verloor.
Hoor hoe kraak dit,
k-r-r, k-r-r maak dit.
“Agge nee, my eie oor!”


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top