Dis die einde van die pad met my wintertrosie

  • 0

Foto: verskaf

Dis die einde van die pad met my wintertrosie. Chocolate Log, het die grootbase by Nestlé besluit, is geskiedenis. Ek kan nie onthou wanneer ek die eerste keer deur die dun lagie sjokolade en wolksagte wit tot in die beskuitjie gebyt het nie. Ook nie wanneer ek besluit het dis dié een wat my deur my winters gaan dra nie. In die somer stap ek ongeërg verby die rakke waar die lekkerte in sy goue jassie pryk. Maar wanneer die koue begin byt, soek ek van winkel tot winkel om my belusting te bevredig.

Ek onthou hoe ek eenkeer, toe ek nog in die ou Naspers-gebou gewerk het, ontdek het die kafeteria hou boksies vol van die lekkerte by die kasregister aan. My kantoor was die Noordpool vanself. Ek weet nie van nou nie, maar destyds het die lugreëling nooit reg gewerk nie. Die gebouebestuurder, radeloos met al my klagtes, het toe maar op die ou einde vir my komberse aangedra. Ek het die komberse laag vir laag van my afgeskil, my beursie gegryp en gaan troos soek.

Met die terugkom het ek daar in die stampvol hysbak gestaan met my verslawing in my hand – vir almal om te sien. Ek het nie my handsak by my gehad nie en die kafeteria het nie sakkies uitgedeel vir die wegsteekslag nie. Die mense om my het alwetend geglimlag en hier en daar het een so ’n glim in die oog gehad. En toe begin die een ou vir almal daar in die hysbak vertel hoe hy sy Chocolate Log eet, hoe hy eers versigtig die dun lagie sjokolade afeet en hom dan aan die sagte wit vergryp, tot net die beskuitjie oorbly wat hy dan met oorgawe verslind.

Sy beskrywing het soos ’n voorlesing uit ’n hygroman geklink, maar ek glo nie enigeen in daardie hysbak het op daardie oomblik aan die lyflike gedink nie. Ek kan raai dat ’n hele paar van my “mede-passassiers” ’n rukkie later skelm-skelm terug is kafeteria toe om self in die lekkerte te deel. Of heelwat later, wanneer die baklei teen die begeerte fut verloor het, op pad huis toe by ’n kafee of winkel te stop.   

My smaak in sjokolade, nes met koffie, het oor die jare verander. Ek het baie lank ’n intieme verhouding met die Switsers gehad, totdat ek besef het my groot liefde lê by die Belge. Nou nog. Al wat oorgebly het, is Chocolate Log. Dis soos Wimpy-koffie op die langpad. Jy weet dis glad nie in dieselfde klas as die suiwer sjokolades of varsgemaalde koffiebone waarmee jy normaalweg omgaan nie, maar jy kan jou nie die lewe daarsonder voorstel nie.

In hierdie koorstyd het ek weer my eie troosblokke begin maak en uitgedeel aan die mense in my lewe. Ek het begin om hierdie sjokblokke te maak toe ek nog ’n marktafel by The Palms in Woodstock gehad het. Dit het begin as ’n manier om van my oorskot koekies, gesmelte sjokolade en malvalekkers ontslae te raak, maar nadat ek hierdie “oorskietgoed” die eerste Saterdag op my marktafel gehad het, het ek besef ek het ’n wenner beet.  Toe moet ek maar spesiaal koekies bak, malvalekkers maak en sjokolade smelt om die sjokblokke te maak. Mense het van Durbanville en Stellenbosch agter die blokke aangery.  

Wanneer ek Saterdagoggende met my hele trek by die mark aangekom het, het daar al mense staan en wag. Goed, ek was altyd ’n bietjie laat, want ek het die oggend nog die laaste paar goedjies gebak. En die sjokblokke gemaak. Ek vermoed dit was vir die vroeë kopers deel van die ritueel om te kyk hoe ek die panne met die blokke uit die koelsak haal en die blokke net daar op die marktafel uit hul vorm losmaak voordat ek dit op die skinkborde op my tafel uitstal.

Aanvanklik het ek by die Switserse sjokolade, in grootmaat aangekoop, vir al my bakwerk, ook die sjokblokke, gehou. Toe ontdek ek die klein sjokoladefabriekie daar in die hoek by die Biscuit Mill. Ek was aanvanklik ’n bietjie skepties, totdat ek ’n blokkie van hul sjokolade geproe het …

Cocoa Fair voer organiese kakaobone uit Suid-Amerika in. Hulle neem agtergeblewenes van die straat af in en lei hulle op in die kuns van sjokolade maak – van die boon tot die wonderlike blokke suiwer genot. ’n Hele paar van ons TV-joernaalprogramme het al insetsels oor die interessante onderneming gemaak. Maar dit was lank nadat ek hulle die eerste keer ontdek het.

Die groot lekkerte was altyd vir my om te staan en wag vir my bestelling en deur die glasafskorting te sien hoe die gesmelte sjokolade in vorms gegiet word. Saterdae kon jy op ’n begeleide toer deur die hele sjokolademaakproses gaan. In die winter kon jy van hul sjokoladedrankies proe en in die somer hul roomys. Maar ook dit het tot ’n einde gekom toe die fabriekie Montague Gardens toe skuif. Gelukkig het dit darem beteken dat hulle uitgebrei het en nou altyd sjokolade vir my in voorraad het. 

Wanneer ek die sjokblokke maak, kies ek om my eie, tuisgemaakte malvalekkers in die resep te gebruik. Ek het meer beheer oor die smaak van die blokke – sommige van die gekoopte malvalekkers het onverwagte geurtoevoegings wat die smaak van die blokke beïnvloed. Om dieselfde rede gebruik ek ook nie winkelkoekies in my resep nie, maar eerder my eie, tuisgebakte Romany Creams of sjokoladesplinterkoekies vir dié wat nie van klapper hou nie.

Maar dis hoe ek is – ’n bietjie (baie!) van ’n beheervraat. Moenie jou daardeur laat afskrik nie. Dis ’n vreeslik maklike resep. Jy kan winkelkoekies en gekoopte malvalekkers na hartelus gebruik. En die sjokolade wat jy gebruik, is op jou gewete.  

Foto: verskaf

Karen se troosblokke vir koorstye

Lewer ongeveer 12-20 blokke, afhangend van hoe groot jy dit sny.

Vir die blokke
150 g donkersjokolade
150 g melksjokolade
3 eetlepels botter
3 eetlepels gouestroop
1 x 200 g pakkie Romany Creams of sjokoladesplinterkoekies, verkrummel
1 x 150 g pak malvalekkers

Vir die bolaag
150 g donkersjokolade
150 g melksjokolade
3 eetlepels botter

Maak eers die blokke: Plaas die sjokolades, botter, gouestroop en malvalekkers saam in ‘n swaarboomkastrol en smelt oor baie lae hitte. Roer af en toe om te meng. Sodra dit net-net gesmelt het, haal die kastrol van die hitte af. Roer totdat jy ’n gladde mengsel het en alles goed gemeng is. Voeg die koekiekrummels by en meng goed. Skep die mengsel uit in ’n vierkantige koekpan wat met jy met oliesproei gespuit en met stroke bakpapier gevoer het. (Ek het ’n losboom-brownie-pan wat ideaal is.) Maak die mengsel mooi gelyk. Smelt die sjokolades vir die bolaag saam met die botter in ’n dubbelkoker of in ’n hittebestande bak oor ’n kastrol water wat liggies kook. Moenie dat die bodem van die bak aan die water raak nie. Skep die gesmelte mengsel bo-op die mengsel in die pan, maak mooi gelyk en laat staan ’n paar uur, verkieslik oornag, om te stol. Ek het ook al in die somer, of as ek baie haastig is, die pan vir 30 minute in die vrieskas gesit. Gebruik ’n skerp mes en sny in blokke.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top