
Titel: AleitApteit
Skrywer: Aleit Swanepoel
ISBN 9781432311582
Uitgewer: LAPA Uitgewers
Ek het nooit kon droom dat ek in 2022 gevra sou word om ’n storie te doen oor ’n jonger vriend se fantastiese leefstylkookboek ses maande nadat hy oorlede is nie. Sy woorde só hard in jou kop as jy die boek lees, dat dit voel hy is langs jou. Maar so sit ek met groot heimwee onlangs by die middagete van LAPA Uitgewers, ’n druknaam van Penguin Random House, by die bekendstelling van AleitApteit.

Dis die glanspersoonlikheid Aleit Swanepoel se stories, resepte, sêgoed en flair. Soos ek hom geken het, maar soos die land hom ook liefgehad het.
Die middagete is by Leopard’s Leap buite Franschhoek gehou. Daar sit ek om ’n tafel met dierbares wat hierdie boek moontlik gemaak het. Ons drink Aleit se gunsteling-Leopard’s Leap-wyne en eet sy kos wat met die eiesoortige stempel van sjef Christiaan Visser gemaak is.
Elke resep kom uit die boek, maar Christiaan het sy tradisionele Suid-Afrikaanse stempel daarop afgedruk. Hy weet waarvan hy praat, want die Suid-Afrikaanse tafel by Leopard’s Leap is legendaries.
Aleit het in Worcester grootgeword, waar die verskillende reuke en geure van sy ma se Sondagmiddagetes in sy ouerhuis hom altyd geïnteresseer het. Nadat hy naam gemaak het as een van Suid-Afrika se voorste beplanners van glansgeleenthede, het hy sy eerste leefstylprogram op kykNET, Tyd met Aleit, bekendgestel.
Dit was van die eerste episode af ’n groot sukses – en kort voor sy afsterwe het hy klaar geskiet aan die sewende seisoen. Saam met die glans was Aleit lief vir kos en lief vir geure. Hy het bekendes van regoor die land onthaal en sy oog vir kleiner detail was ongelooflik. Sy kennis en filosofieë word deur sy skool, die Aleit Academy, voortgesit.

In die Die Laaste Tyd Met Aleit-reeks wat in September op kykNET uitgesaai is, kon kykers in ’n gedeelte van die program sien hoe die produksie van die boek gebeur het.
Die boek is gevul met sy stories en dis in sy spreektaal gepubliseer, so ek kan hom hoor en voor my geestesoog sien hoe hy kook.
Daar is ongeveer 50 resepte nie net uit sy eie pen (en kombuis) nie, maar ook uit dié van sy vriende. Hy kon heerlike kos maak, maar ook boonop sy kos mooi laat lyk: die “Aleit-Way”.

Hy sou die dag nadat hy oorlede is (15 Mei) met sy kookboek begin. Vier vriende, Katarzyna “Kat” Willemse, Jorrie en Alret van der Walt en Elmarie Berry het besluit om die leiding te neem en die kookboekprojek te voltooi. Jorrie het Tyd met Aleit vervaardig en Aleit vir 12 jaar professioneel en persoonlik geken. Alret het die grafiese ontwerp van die kookboek hanteer. Op die ou einde het bykans 20 vriende op verskillende maniere tot die kookboek bygedra.
Elmarie sit langs my. Hul vriendskap was kort, maar eg. Aleit het op 5 April op sy Facebook-bladsy geskryf: “Ek kry baie min uitnodigings. Selfs sommige van my eie kollegas nooi my nie na hulle ‘vir ewig liefde verklaar feesvierings’ nie. Dit raak nogal diep, en is definitief nie goed vir mens se selfbeeld nie. Veral as jy weet jou eie maatskappy gee so baie om die finansiële las van trou te verlig.
“Toe kry ek ’n invite. Net die ander dag. En so mooi en elegant ontwerp. Vanaf Sonay van Deventer. ’n Vriendin met ’n inspirerende storie van hoop, liefde en self-herinnoveer. Ek dink soms mense nooi my nie, want hulle is bang ek kritiseer, en sien alles wat nie reg is nie. As hulle maar net weet hoe ek ook smag om soms aan die ander kant van die draad te wees.
“En wat ’n voorreg om Elmarie Berry te kon ontmoet sommer so saam met haar hartsvriendinne en kollegas. Ek het onmiddellik tuis gevoel en gevoel of ek die elegante, tydlose skoonheid van ’n vrou al donkiejare ken.” Dis ’n kort hoofstuk in die boek, van bladsy 112 af.
Sy vertel ons dat hulle onmiddellik so goed bymekaar aanklank gevind het. Hy het vir haar gesê hy wil ook ’n kookboek skryf en dit moet soos haar boek, Kosbaar, lyk. Van daar was hulle vriende en het sy elke aand ’n stemboodskap gekry met nog stories vir sy kookboek.

Hy het dan vir haar gesê: “Gaan lees lekker, ek hoop nie jy huil te veel nie.”
Sy vertel al sy stories het niks met kos te make nie, maar met sy lewe.
“Dit vertel hoe hy op skool geboelie is en eintlik ’n hero geword het toe hy Stellenbosch Hoërskool toe is. Dis Aleit se hart. Ons het glad nie aan sy woorde verander nie. Al daardie stories is regtig uit sy hart en sy pen uit. Al die resepte was klaar bymekaar gemaak, ons het dit net in hoofstukke sorteer.
“Toe Jorrie vir my vra of ek sal help met die stilering, het ek gevoel dat hierdie boek nog meer spesiaal aangepak moet word as my eie kookboek. Ek wou my heel beste gee, want dis ’n verskriklike eer.
“Ek het lank met mense na aan hom gesels en gevra: ‘Gee vir my foto’s van hoe hy tafels gedek het; hoe hy kos stileer het.’ Ek het videogrepe gekry by Jorrie oor die tafels wat Aleit oor die jare vir die program gedek het – daar was baie – om ’n idee te kry van sy styl. Hy was over the top, hy was elaborate, maar hy was informeel en gek oor tafeldek. En ek wou ’n tafel dek om elke hoofstuk se scene te set. Om ’n hele tafel in te kry, was natuurlik nie so maklik nie. Aan die einde van die eerste dag het ek vir Jorrie gesê ek is nie seker of dit gaan werk nie. Ek kom met my stileringidees en die arme fotograaf, Kat, is Pools en moet na al my idees luister en dit uitvoer. Jorrie moes later ’n steierwerk bo-oor die tafel bou, sodat die foto’s kon wees soos ek dit in my geestesoog gesien het.
“Sy [Aleit se] dogter, Kateline, het elke dag ná skool ingestap en kom kyk wat ons doen. Ek dink dit was vir haar ook ’n proses. Dit was ’n fees vir ’n stilis om in daardie huis te kon shoot, want die props was alles daar; kleur-gekoördineerd. So dis regtig alles Aleit. Dis in sy huis geshoot, met sy props geshoot.”

Jorrie vertel die projek was ongelooflik maklik om bymekaar te trek, want Aleit het so ’n ongelooflike verhouding met almal gehad. Van die dekor van Patrys Boshoff van Strand Trading Post, tot die blomme van Adene’s Flowers, almal het net hul harte vir Aleit oopgemaak oor die verhoudings wat hy oor die jare gebou het.
“En ek moet ook vir die uitgewers dankie sê dat hulle Aleit se stem behou het. Hulle het gehelp met spelfoute maar steeds getrou aan hom gebly. Soos jy die stories lees, hoor jy Aleit se stem. Hulle het selfs die emoji’s gehou wat hy so graag op Facebook en in sy WhatsApp-notas gebruik het.
“Niemand is ’n sent betaal vir hul werk nie. Al die geld wat ons ingekry het, is in die bestanddele, die steierwerk en alle profyt wat uit die boekverkope kom, gaan na Kateline. Almal het hierdie boek gedoen uit verhoudings en respek vir Aleit.”
Hy sê daar het ’n paar resepte bygekom en selfs Kateline het ’n resep gebring, wat sy graag wou insluit.
Jorrie het afgesluit deur te sê die boek is iets wat Aleit se vriende vir hom wou doen, maar op die ou einde het dit so ongelooflik baie vir hulle as sy vriende beteken.

Daar was ’n hele span vriende wat kom help kook het, voor Elmarie dit stileer het vir die fotografie.
My gedagtes loop wye draaie. Haar woorde oor sy liefde vir tafeldek is so ongelooflik waar. Toe ons almal tydens die eerste inperking beangs by die huis gesit het, los hy vir my ’n stemboodskap. “Wat daarvan as ek en Kateline vir jou ’n tafel dek met Vadersdag as fokus. Dis ’n lekker manier om pa’s en kinders bymekaar te kry en iets opwindends te laat doen, terwyl ons nie nou mag uiteet nie?”
En so gemaak. Hy en Kateline dra groen goed uit die tuin; van sy rakke; uit sy laaie aan buite-toe vir ’n spogtafel. Dit word nie ’n Vadersdag-fokus nie, maar eerder hoe om nie jou kreatiwiteit te laat inperk nie. Hy sluit die storie wat op 23 Mei 2020 op Netwerk24 verskyn af met die woorde: “Geniet die gehaltetyd met jou gesin en hopelik, binnekort, met vriende.”
AleitApteit is presies dit – gehaltetyd met ’n ou vriend. Dis meer as ’n leefstylkookboek, dis ’n huldeblyk aan iemand wat miljoene mense se lewens geraak het – nie net met sy programme, akademie of vriendskappe nie, maar by al die glansgeleenthede waar hy regoor die land opgetree het en waar sy woorde mense geïnspireer het.
- Foto’s verskaf.


Kommentaar
'n Uitsonderlike wese was Aleit. 'n Intense mens, maar tog kon ek aan sy lippe hang. 'n Reuseverlies vandat sy stem en doen stil geword het. Ek mis jou, Aleit.