Dirk Nagtegaal kook

  • 0

Dirk Nagtegaal is ’n man met vele talente. Nie net is hy ’n regsgeleerde van formaat nie, maar hy is ook ’n sakeman, teaterfilantroop, uitgewer en skrywer uit eie reg. As gesinsman blink hy deesdae ook uit as oupa van klein Dirkie.

Dit was vir my geen verrassing toe ek op die Suidoosterfees se program sien dat Dirk sy jongste boek, Kok en Skinker, tydens die fees bekend stel nie. Dit was egter wel vir my ’n verrassing toe ek en vroutjie die gastelys haal, want hoewel ek die name van ’n bekroonde kok of twee ken, en so af en toe met ’n wynkenner skouers skuur, het ek self nog nie my spore in daardie tydverdrywe verdien nie.

Kookboeke is, sover ek kon vasstel, naas godsdiensboeke die mees kompeterende genre in die bedryf. Dit is skynbaar ’n onbegonne taak om ’n pennevrug wat in daardie kategorie val, van die mededinging te differensieer. Ek kon nie dus wag om te sien hoeveel draai die Nagtegaals uit hierdie kolfblad gaan kry nie.

Die feit dat die uitnodiging dit duidelik gestel het dat die boekbekendstelling en kook-show in die Arena-teater by Artscape gaan plaasvind, het ons laat wonder wat die Nagtegaals in die mou voer, of liewer op die planke gaan opvoer.

Met die ingaanslag is elke gas met ’n hemelse kelkie appelkoosroomtert en ’n botteltjie Boplaasport verwelkom.

Ons het skaars gesit toe die beeldskone Minki en haar galante eggenoot, Constand, by ons verby skuif en langs die wynkenner Emile Joubert gaan sit. Die aanslag op al my sintuie was van meet af gedug.

Die keuse van Albert Maritz as seremoniemeester/hofnar was puik. Albert is ’n woelige ou en ’n verhoog duld nie swanger stiltes nie. Tussen die kwinkslae deur het Albert vaardig die aflosstokkie aan Dirk oorgegee. Die man van die oomblik het dan op sy rustige, bedaarde manier sy kundigheid met die gehoor gedeel. Dirk, wat volgens sy kollegas nie skroom om met vertroue te delegeer nie, het Ettiene Venter, sjef de cuisine van die Mount Nelson, ingespan om van die geregte in die boek te demonstreer. Die goue draad wat deur al die demonstrasies te bespeur was, was een van geen fieterjasies. Die bestanddele waarmee drie geslagte Nagtegaals se geregte opgedis is, is feitlik sonder uitsondering in die algemene handel beskikbaar. Dis ’n groot pluspunt in vandag se gejaagde lewe. Niemand het regtig meer tyd om bestanddele vir ’n onthaal uit Sentraal-Amerika in te voer nie.

Ettiene het eers koningklip thermidor voorberei, en toe ’n pizza saamgeflans. 

Dirk het terselfdertyd die wyngedeeltes van die boek met die nodige gehoorbetrokkenheid bekendgestel. Anders as baie regsgeleerdes wat ek ken, het hy sy gehoor op verstaanbare Afrikaans ingelig oor die deugde van die verskillende wyne wat hy in die boek bespreek. Danksy Albert se subtiele regie is die kollig soomloos van die een karakter na die ander verwissel terwyl ’n videokamera gebruik is om onderskeidelik meer inligting en vermaak aan die gehoor te verskaf. Diegene in die voorste gestoeltes het dan ook gretig meegeding om van die meesterstukke wat Ettiene opgetower het, te proe.

Die aandjie het verby geflits en kort voor lank het Dirk se eggenote, Reinet, van die balkon af aangedui dat die teater aan die volgende produksie oorgegee moes word. Dirk moes sy grand finale, die appelkoosroomtert,  teen ’n rekordspoed aanmekaar slaan.

Daarna  het die gaste na die skemerkelkkroegie by die teater oorgestap om verder te proe. Daar is gebraaide amandelrolle, ’n verskeidenheid canapés en aspersierolle aan hulle voorgesit. Die geregte is met Douglas Green-wyne gekomplementeer.

Die boek, wat 556 bladsye, 16 hoofstukke en ’n indeks beslaan, bied uitstekende waarde vir geld. Die werk se uniekheid is daarin geleë dat daar ook konstruktief oor wyn in die boek geskryf word. Die ander kookboeke wat ek onder oë gehad het, bevat slegs terloopse verwysings na wyn.

Die resepte lees lekker en Reinet se foto’s is uit die boonste rakke. Elke hoofstuk bevat ook ’n aanbevole menu. Die boek sal ’n uitstekende geskenk vir die liefde in jou lewe uitmaak. Volgens vroutjie sprankel die geregte in eenvoud – en wie is ek om te stry? Terug in Gauteng het sy dan ook dadelik op my aandrang haar hand aan die die appelkooshoender (p 26), die kaneelballe (p 102) en die waatlemoensap (p 92) gewaag. Die eindresultaat was ’n vervroegde Valentynsete.

Benewens die ryke verskeidenheid resepte is daar ook lekkerleesinsette oor kooktaal en wynbediening. Die kennershand van wynredakteur Emile Joubert is duidelik in die insiggewende wynbrokkies te bespeur.

Ek het na afloop van die bekendstelling vir ’n paar gaste wat gereeld by Dirk en Reinet aan huis kom, gevra wat hulle as Dirk se voorste gereg beskou. Een gas het dit so gestel: “As daar ’n Curriebeker vir kosmaak was, het Dirk dit met sy rissie-en-basiliekruidburger gewen.” 

Die boek word uitgegee deur die Nagtegaals se eie uitgewery, Joho. Die kleinhandelprys is R299.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top