Dingleton

  • 2

Sy stop met haar rooi Polo op die grondpadstraat, voor ’n vervalle huisie. Die deur swaai oop en ’n paar swart hakskoene verskyn. Sy klim uit en sluit die kar twee keer (wie op ’n Saterdagmiddag ’n Polo in Dingleton sou steel, weet nugter). Met ’n klik-klak stap sy tot by die geroeste tuinhekkie. Sy huiwer. Dan lig sy haar donkerbril en sien hoe ’n derde van die buurt by hul vensters uitloer, deur kantgordyne en vertikale blindings, om die dorp se enigste gebeurtenis te aanskou. Sy skep diep asem en skuif die handvatsel sukkel-sukkel oop. Haar sykous haak aan ’n verlore draadjie. “Demmit,” mompel sy. Sy sug vir die oormatige onkruid, stap tot by die voordeur en lig haar vuis op om te klop. Nee wag, dalk is daar ’n klokkie. Die deurmatjie is deurgetrap en al wat nou daarop gelees kan word, is “el om”. Geen klokkie nie. Sy lig weer haar apatiese vuis en klop twee keer. Niks.

Nina het geweet sy maak ’n fout om hiernatoe te kom. Sy het lankal afskeid geneem van dié dorp en was vasberade om weg te bly. Sy sou nooit gekom het as haar sielkundige nie op haar skuldige gewete gespeel het nie, as haar ou net sou verstaan dat sy nie gehard is nie, net rusteloos. Tog staan sy nou by haar kleintyd se begin. Sy het vyf pitstops gemaak op pad Dingleton toe (al is dit net twee ure se ry van Upington af) – gedeeltelik omdat sy nie hier wou uitkom nie en gedeeltelik omdat sy nie in haar nuwe kar wil rook nie. Nou het sy al haar moed bymekaargeskraap, geklop, en hier staan sy voor dooiemansdeur. “Die nerve,” sê sy saggies vir haarself. ’n Man met ’n baard en overall oorkant die pad maak asof hy gras sny om nader aan die toneel te kom. Nina skud haar kop; gras het lankal ophou groei in dié plek.

Van iewers binne-in die huis begin iets beweeg, soos ’n beer wat uit hibernasie kom. ’n Deur gaan oop – die badkamer of slaapkamer s’n, sy kan nie mooi uitmaak nie. Dan hoor sy dit: die sleepvoete wat haar altyd laat droom het om meer te wees as waar sy vandaan kom. Die deur kraak oop soos in ’n riller. Agter die sifdeur staan ’n vrou, of ten minste dit wat oorgebly het van haar.

“Nina,” – haar stem sny deur die gaatjies van die siwwe – “is dit jy?” Magdalena, of Daleen soos die mense haar ken, maak die sifdeur oop. “Kom binne,” kwaak Daleen se stem weer.

Nina kyk na Daleen se verrimpelde bolip, haar yl hare, haar gordynlaprok en haar skaapwolpantoffels en sy oorweeg dit vir ’n oomblik om op te hou rook. “Ek wil nie inkom nie,” sê sy en sien die plotselinge teleurstelling op Daleen se gesig. Sy probeer haar stelling versag. “Ek bedoel, ek het nie baie tyd nie.”

Daleen glimlag teer. “Die water is klaar gekook vir tee,” sê sy.

“Nou goed, net ’n vinnige teetjie,” wankel Nina.

“Jy kan maar in die huis rook, jou oupa is nie meer hier om met ons te raas nie!” skree Daleen uit die kombuis.

Nina glimlag vir die eerste keer, tot haar oog die portret van haar ouma en oupa se troudag vang. ’n Bitterheid stoot op tot in Nina se keel en sy voel asof sy vlamme gaan braak. Sy moet hier uitkom, dit was ’n simpel idee. Sy wil sommer haar sielkundige klap wat hierdie saad in haar kop geplant het. Sy steek ’n sigaret aan om die naarheid te verdoof.

“Moet ek die melk warm maak?” gil Daleen.

“Nee … nee dankie Ouma,” sê Nina.

Haar ouma stap die sitkamer binne met ’n skinkbord en haar fensie koppies, nogal pierings en als. “Ek het nou net gewone tee in die huis en die suiker is op. As ek geweet het jy kom, sou ek vir Martie gevra het om my winkels toe te vat. Ek kry net nie meer tyd …”

“Toemaar Ouma, ek drink anyways nie suiker nie,” bieg Nina.

Die twee drink hulle tee in doodse stilte. Elke keer as ’n koppie op ’n piering neergesit word, breek dit die spanning soos ’n kind se gegiggel gedurende nagmaal.

“Dis vir ouma nogal vreemd dat my kind rook, jy het dan altyd gebrag jy gaan honderd-en-vyftig jaar oud word, ouer as tannie Bets op die hoek. Sy is so ’n paar jaar terug oorlede.”

Nina kry dit reg om ’n skewe glimlag te gee. “Ag, ek wou maar net cool lyk op kollege, Ouma,” sê Nina. Nina vat ’n groot sluk van haar tee. Sy probeer dink aan iets om te vertel, iets lig, soos ’n grappie. Nee, sy begin altyd by die punchline en dan neuk sy die hele ding op; sy was in elk geval nog nooit goed met grappe onthou nie. Sy kan vir haar ouma vertel van haar nuwe kêrel, maar dan vra sy weer te veel vrae oor trou en kinders kry. “Ek het begin skoolhou by ’n kleuterskool,” sê Nina.

Daleen sit haar vernielde oumenshand saggies op Nina se been.

“Jou oupa sou so trots gewees het,” sê sy.

Die bitter brand stoot weer op in Nina se keel, maar hierdie keer is dit nie net ’n gevoel nie. Sy gryp na haar mond en hardloop uit na die voorstoep.

“Kyk Mamma, daai tannie is siek,” sê die bure se kind wat oor die muur hang. “Klim af daar, Bianca!” skel haar ma. Twee derdes van Kwêsbokstraat staan nou en kyk. Die oom wat kamstig gras gesny het, stap nader. Nina se ouma staan by haar en vee haar rug. ’n Halfgerookte sigaret hang by Daleen se lip af. “Alles is reg dankie, Hennie,” sê Daleen vir die overall-oom. Teen nou het die hele beurt ontsnap uit hulle huise en staar met wasem-oë na Nina wat siek word op haar ouma se stoep. “My aarde,” sê Hennie se vrou Magriet, “dis mos Ninatjie – hallo Nina!” roep sy uit. Magriet was saam met Nina in Sishen op skool, so ’n jaar of wat voor haar. Nina het kollege toe gegaan en Magriet het terug huis toe getrek, totdat Hennie ’n appie op die myn geword het en Magriet (en hulle vier jaar oue kind) by hom kon intrek. Daleen steek nog ’n sigaret aan. “Julle kan maar ingaan, ons is nie die dekselse sirkus nie,” sis sy.

Nina se ouma sit ’n nat waslap op haar voorkop, maar sy ruk die waslap af, vee haar gesig skoon en trek haar hakskoen aan. “Ek moet gaan, Ouma, ek is jammer,” sê Nina.

“Jy het nou net hier aangekom,” kla Daleen.

“Ek het gesê ek sal nie lank kan bly nie,” sê Nina.

“As jy moet gaan, moet jy seker gaan,” sug Daleen.

“Jammer oor die voorstoep,” sê Nina.

“Ek sal dit later met die hosepipe afspuit, moenie daaroor bekommer nie,” sê Daleen.

“Ook maar goed so. Die tuin kort bietjie water, Ouma,” sê Nina.

Daleen kyk vir Nina stip aan. Iets hard verskyn in haar oë en die blou kleur verander na witgrys, soos dié van ’n songevlekte teerpad.

 “Jy wys vir ses jaar nie jou gesig hier nie en nou voel jy jy kan inset lewer oor my tuin?” vra Daleen.

“Ek moet gaan, Ouma,” sê Nina weer.

Nina stap by die deur uit, af in die begroeide paadjie tot by die tuinhekkie. Sy stop. Sy kyk terug na die gekraakte mure van haar ouma se mynhuisie. Sy sien hoe haar ouma die koppies uitspoel in die kombuis en dat sy nie eens opkyk nie. Hoe sy nogmaals maak asof alles doodnormaal is. Nina voel hoe haar hart begin klop en haar voete terug op by die paadjie stap, verby haar braak, tot by die deur. Dit voel asof haar liggaam oorgeneem het en sy nie meer beheer het nie. Terselfdertyd het sy nog nooit so sterk gevoel nie. Sy ruk die sifdeur oop.

“Het jy iets vergeet, Ninatjie?” vra Daleen.

Nina se oë blits, haar hande trek in vuiste en sy voel hoe haar keel droog raak. “Het Ouma geweet? Het Ouma geweet wat hy aan my gedoen het?” vra Nina.

Daleen was nog nooit ’n vrou van veel woorde nie; almal het altyd gesê sy is troumateriaal, want sy praat min en kook gereeld. Daleen het nie haar eie man gekies nie, al het haar pa haar so laat dink. Gerrit Loots was oorgenooi na Sondagmiddagete vir ’n maand lank. Daleen was sestien. Gerrit was amper dertig; hy het van jong meisies gehou. Hy was sterk op pad om die jongste mynbestuurder te word. Daleen en Gerrit het getrou. Dit was ’n mooi troue met baie mense. Daleen en Gerrit het twee kinders gekry. Dit was goed, almal was bly. Gerrit en Daleen se dogter het weggehardloop van die huis, maar darem het Gerrit en Daleen se oudste seun, Hannes, ’n dogtertjie gekry. Haar naam was Nina en Gerrit het nog steeds van jong meisies gehou.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top