Digterstuin: Gebed van die klipbreker

  • 1

as ek dié landskap met koevoet en pik moet karteer,
vra ek, skepper, versterk my greep
sodat water kalm bo sediment bly loop en gelyk deur klipformasies boor,
kalibreer die fokuspunt tussen my oë
dat ek, eerder as die kokerboomwoud ruk uit sy skoonheid,
die kanaal laat kronkel óm die kors kalksilkaat.
help my kies tussen muskovietskis en veldsplaatgneis;
die hamer lig bo stolsels lawa en ambiboliet.
vergeef die geweld van dinamiet waarvan visse witpens dryf,
likkewane langsaam vrek, wat skerwe uit die grouwak pluk.
ek pleit: hou die gradiënt gelyk;
tonnel vir dié kanaal ’n poort
deur heuwels van toermalyn.
stroop my rug van jeug, as dit moet, maar gun my, god,
wonders uit die aar bevry:
kristalle wat blom wanneer u lig val oor die tuin van gips en kwartsiet.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top