
Foto deur Angeles Balaguer van Pixabay
Daar kom ’n oomblik waar jy op jou eie oewer staan, voor nuwe roetes, op vertrek.
Dan verskuif jou verwysingspunt.
Losgemaak, sien jy die ou landskap vir die eerste keer van buite af.
Solank jy daarbinne gestaan het, was dit agtergrond. Jy kan nie ten volle deelneem en terselfdertyd sien waaraan jy deelneem nie. Die vertrek trek ’n rand om die ervaring, en ’n rand is wat ’n ding sigbaar maak.
Onderwater word die strome dieper en stiller. Jy skuil in seegrotte, verkleur, pas aan met die jare, en soek dan meervoetig soos ’n seekat na jou aanlandige spore – in jou nageslag se oë en mond.
Dít is waarom insig en rypheid dikwels uit ’n vorige landskap kom, die landskap waarin jy gegroei het en geleer het om waarde en die werklike doel van deelname te onderskei. Die landskap gee die vorming; die verplasing gee die insig.
Maar die sien bly nie neutraal nie. Jy sien ook dwarsdeur die skyn en die valse waarde van dinge, en dan wil jy jou maatstaf van nuuts af yk.
Die oog wat ontmasker, word al skerper geslyp en doen mettertyd met die nuwe landskap presies wat hy met die ou een gedoen het.
Waardes word hernu na iets meer onverganklik. Dan is die ontmaskering nie verlies nie, maar suiwering: Die vorige landskap word agtergelaat, maar die inhoud gaan saam. Die leerskool word verlaat; die lesse word bewaar.
En die grens word ontwortel soos ’n ou gewoonte afgeleer word.
Dit is hier waar die drie poorte hulself openbaar.
Hulle kom reeds in Eden voor. Die boom was goed om van te eet, ’n lus vir die oë, begeerlik om wysheid te verkry – en Johannes lees dit eeue later terug as die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – the pride of life.
Genesis gee die poorte; Johannes benoem die trajekte.
Hulle staan gedurig oop, in jou doen en late.
Die verplasing ontmasker die drie. In die ou landskap het elkeen ’n plaaslike gestalte gedra, en daarom kon jy dink die probleem lê by die gestalte. Vertrek, en dieselfde drie staan weer voor jou, as roetes op jou pad.
Drie deure, dieselfde bestemming: die self wat gryp na dit wat as ’n gawe ontvang moes word. Die derde is die swaarste, want die grootsheid van die lewe begeer nie ’n ding nie, maar ’n stand.
Ek het dit in een van my gedigte gesien as ’n muur om die stad, ’n poort deur soldate bewaak, reisigers wat daardeur loop. En dan, in een gebod, ’n nuwe poort sonder geweer of slot.
Die drie word deur die self bewaak.
Die een wat oopstaan, is nie een van hulle nie.
Hulle moet onderdanig gemaak word aan dit wat onverganklik is – nie as deure vernietig word nie.
Die krag is nie op sigself tot kwaad gedoem nie. Honger, sig en die drang na betekenis is die stukrag waarmee jy enigsins iets gedoen kry. Maar die energie van elkeen kan lei tot beweging op paaie wat bloot die self dien – paaie wat terugkrul na die self, om dit tevrede en gevoed te hou.
Daar is paaie wat nie terugkrul nie.
Dieselfde boog, die regte mikpunt.
’n Poort is ’n punt; ’n trajek is ’n lyn. Die poort laat bloot toe; die trajek is reeds gerig. En ’n poort word so gou ’n trajek dat ’n mens die oorgang nie kan besef nie.
Daar lê die stryd.
Nie wát ek voel nie – maar waarheen die pad loop.
Draai dit alleenlik terug na my toe, of loop dit ook na buite – na die merk waarvoor ek gemaak is?
Maar jy is nie ’n betroubare regter oor jou eie kring nie. Die oortuiging moet van buite kom.
Die Heilige Gees oortuig ons van sonde, geregtigheid en oordeel. Die Griekse woord hamartia dra die beeld van ’n pyl wat die merk mis. Die drie poorte kort nie krag nie; hulle mis die regte mikpunt.
Daarom wil ek nie so behep wees met my eie belang dat ek die trefkrag misplaas en die soet vrug van vervulling mis nie.
’n Wandeling oor voetheuwels, verby oorwoekerde bloekoms, boomreste wat soos kangaroes deur die struweel staan, ’n stroompie wat afwaarts trippel.
Uit die bors van ’n boom kom dan die inheemse kreet:
Curr-a-wong.
Heling en heil.
’n Loflied word daar gelewer –
in gees en in waarheid,
uit die bors van ’n mens of boom –
saam met Paulus en Johannes:
Hy in my, die hoop van heerlikheid;
Hy moet meer word en ek minder.
Die verwysingspunt word nie verskuif nie;
dit word vervang.
© Margaret Cordier-Biermann
Nota
Die Skrifgedeeltes waarop die essay steun, in volgorde van voorkoms; aanhalings en omskrywings volg die 1933-vertaling:
Genesis 3:6 – die boom wat goed was om van te eet, ’n lus vir die oë, begeerlik om wysheid te verkry
1 Johannes 2:16 – die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe
Johannes 16:8 – die Gees wat oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel
Johannes 4:24 – aanbidding in gees en in waarheid
Kolossense 1:27 – Christus in julle, die hoop van heerlikheid
Johannes 3:30 – Hy moet meer word en ek minder.

