Die Zombie Apocalypse

  • 0

Wat moet in ’n ouer se kop gebee ommie liewe van haa of sy eie kind te niem? In Desember 2007 het Ellen Pakkies die liewe van haa kind geniem deu hom dood te choke met ’n tou wat sy langs ’n treinspoo opgetellit. Sy sê sy’t hom tie gemaak, ennit vi hom geniem. Sy’t haa man af gan sien voorat sy trug na haa kind toe gegannit om te gat praat met hom oorie monste wat hy biesag was om tien te veloo. En daa het sy hom liewe geniem.

Die storie van antie Ellen se struggle wôd op 7 September 2018 landwyd gerelease. Die storie is gebaseer op antie Ellen se liewe en struggle met haa sieen, wat sy finally veloorit deu haa eie hanne. Hie issie trailer:  Ellen: Die Ellen Pakkies Storie.

Die storie is ’n storie wat baie mense oppie Flets kan mie relate. Antie Ellen wôd gespeel deu Jill Levenberg, wat Mymoena Samsodien speel in Suidooster, dit was geskryf deu Amy Jephta en die director is die outjie wattie movie Noem my Skollie gedirect het, Daryne Joshua.

Al is dié ’n Cape Flets-storie wat vetel wôd, strek die tik-siekte vêder dannie Cape Flets, dit raakie hele wêreld.

Ek het in 2004 vi tik onmoet. Ek het in ’n retail winkel gewêk as ’n casual. Die winkel se bestuur het toe vi allie casuals, mieste van ôs jong mense, ’n video gewys oo die nuwe drug wattie Kaap vol lê. Die drug het uitie bloute in ôs liewens in gespring. Miskien wassit ommat ôs oppie buiterand vannie Flets gebly het dat tik soe lank gevat het om ’n draai te kô maak in ôs neighbourhoods. Wan drugs wassie iets wat ôssie nie van gewiet hettie. E’s was gepop, mandrax en dagga was geroek, die dragon was gedjaag, die rocks was geroek, drank was gesyp, en speed was gedoen, maa die ding wat se naam tik is, was iets nuuts trug in 2004.

Ôs casuals was toe amal voorie TV innie canteen saamgeroep. Dit was soesie mênagement gedink het dat ôs die êgste sou geraak wôd, maa as hulle maa net gewiet het dat tik warrie nie oo ouderdommie. Die mênager hettie VHS-kassette ingesit en voo hy “play” gedrukit het hy ees vetel hoekô dit soe belangrik is dat ôs met erns luiste. Ek dink baie van my kollegas hettie wat hy gesê het gehoorie. Ek dank God vedag dat ek opgegroei het as ’n mens wat gou bang gepraat kon wôd, en dat my band met God gedurende daai tyd baie stêk was. Dit maakie saak wat dit wassie, God offie feit dat ek net bang geraak het vi wat ek op daai video gesien het. As ekkie geluister hettie, sou ekkie vedag hie gewies hettie. Wan nevermintie feit dat hulle vi ôs daai video gewys het, het my kollegas om my beginte tik. Die kinners in my strate het beginte Tik. Dit wassie “talk of the town”, offie skinner oppie strate se hoeke, ennie gepraat tussen ouers wattie kon vestaan wat nou biesag was om te gebee mettie kinnersie. En dissie lankie toe beginte val hulle soes vlieë om my, uit hulle wêke uit, hulle het vel en bien geraak, en som het selfs van hulle koppe af beginte raak.

Djy kan gou sien as iemand tik. Behalwe die feit dat daa ’n emptiness in hulle oë sit, raak hulle brandmaer, en mens veloo mens se vestand, wan al wat djy oo warrie issie next rush.

Ek sê nog elke dag vi God dankie dat ek by my woord kon gehou het om nie die goed te gebruikie, al het my tjommies hoe getry om my te kry ommit te gebruik. Die vrinne het soe ver gegan om my te kô kuier met hulle lollies, en straws, maa ek kon myselfie kry om daai ding te roekie.

Maa ek dink nie mense wou rêrig eelik met hulleself wies oo hoe êg die ding rêrig kan raakie. Wan na ses maane toe issittie nettie casual wêkes wat tikkie, maa tik het mênagers beginte uit hulle wêke uit dryf. Ek dink baie vannie tik-gebruikes het gegloe dat hulle stêk genoeg was en dat hulle kon stop wanne hulle wil. Maa tik is ’n anner monste.

Tik, wat een soote vorm van metamfetamien is, wassie ees gesien assie monste wat dit kô raak het vi mense oppie Fletsie. Wan mense het speed gedoen, maa volgens veskillende bronne is speed maa net 10 tot 20% suiwer, maa tik is 80% suiwer. Metamfetamien was eeste gemaak deu ’n Japannese man innie vroeë 1900’s Dit was gebruik as ’n dieetmiddel, en oek vi mense wat probleme het met annie slaap raak. Innie Twiede Wêreldoorlog wassit virrie troepe gegie om hulle wakke en vol energie te hou. Daa is ’n paa anner “legal” drugs, soes Desoxyn, wat baie soes tik is, wat hulle gebruik om “siektes” soes ADHD, mense wat êg struggle met “vet-siekte” te behandel. Maa tik wôd nou eeder gemaak om mense siek te maak. En dis soesie gawement hulle oë toe maak tienoo wat gebee mettie afstammelinge vannie Eeste Nasie, en daa issie veel wat ôs kan doenie. Wan dit was maa nog net ’n drug wat vrygelaat was oppie Vlaktes. En niemand kan antwoord gie oo waa die goed vandaan kô nie.

Wat my onnerkry van antie Ellen se storie issie feit dat niemand haa wou helpie. Niemand wou na vore kô om te sê, maa my kind is oek siekie. Wan niemand wou deel wies van daai skanne van tikkie al wassit biesag om in hulle huise te gebee. Ouers, vrinne, en families se hanne is afgekap, want al is daa means ommie kind rehab toe te vat, wat gebee as hulle uit kô? Hulle gat maa net wee trug innie vullis in. Soe, djy is lief vi jou kind totdat djy nie mee kan nie, of tot jy moet baklei vi jou liewe tien ’n mens wat djy innie liewe gebringit. In Januarie was daa nog ’n ouer angekla oppie moord van sy tik-kop-kind. Dis ’n lielike naam om iemand te noem, “tik-kop”, maa die waarheid is: daa is lankalie mee ‘n mens in daai pesoonie. Die mens het monste geraak, zombie geraak. Een van my lecturers het eendag gecomment op ’n kôtvehaal wat praat van vampires in Mitchells Plain. Sy sê toe, hoe kannit wies dat daa ooit sulke goed kan bestaan in Mitchells Plain? Ek het gedink, maa as daa zombies kan bestaan in Mitchells Plain, dan sieke oek vampires. Wanne dit kô byrie tipe drugs wat in ôs se gemeenskappe met groot “boots” innie ronte in loep, is niks impossiblie.

Maa waa trek mens daai lyn om te sê, “Nie wat, is okay! Maak maa dood as djy nie mee kannie.” Wan soes ek vi tik lee kennit, is ekkie vesieke wattie plan van aksie moet wiesie. Om iemand se liewe te niem is vekeerd. Maa wat moes antie Ellen gedoen het? Sy’t gesê sy wou net praat saamit hom, maa toe sy wee daai woore hoo, “Ek sal change”, toe was sy te ver gedruk.

Ek kan my nie indink in watte hel sy moes geliewe hettie.

Ek dink ôs wat gelukkig genoeg is om nie die tik-monste op ’n pesoonlike vlak te kennie kannie oodeelie. Wan hoe vestaan ôs wat mense moet deumaak wat selfs by hulle slaapkamers moet security hekke ansit van bang wies vi hulle eie kinners. In elke anner huis oppie Flets is daa ’n probleem met tik. Dis eeder die ouers wat tik, offie kinners, offie kinners ennie ouers wat saam tik.

Hoe gat ôs die siekte uit ôse gemeenskappe uit kry, as om te doen wat antie Ellen gedoen het? Wanne die staatie ees kan helpie. Die judge het eeder vi antie Ellen gesê toe sy gesentence was: “Dis nou jou veantwoordelikheid om anners te wys hulle moenie dieselle doenie.” Maa wat doen djy assie staat jou nie eens kan helpie. Hoe lank gan ouers, families, kinners en gemeenskappe nog stêk wies soes hulle gevange gehou wôd in hulle eie huise? Dissie veantwoordelikheid vannie staat om te vesieke dattie gemeenskap veilig is. Dis hulle veantwoordelikheid om ôs strate skoon te maak. Wan die Zombie Apocalypse issie net ’n movie nie. Dis die reality vi baie mense oppie Flets.

Bly te kenne, en dankie virrie onnersteuning.

  • Ellen: Die storie van Ellen Pakkies speel by vanjaar se kykNET Silwerskermfees en word vroeg in September landwyd uitgereik.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top