Die wêreld deur my oë
Ek vind stilte in geraas, ek vind vrede in geweld
Ek vind liefde in haat, ek sien ? skelm in elke held
Ek vind simpatie in apatie, ek vind niks in alles
Ek kry geluk in depressie, ek vind alles normaal as dit eintlik mal is
Ek sien goed in die sleg, ek sien lewe in die dood
Ek voel veilig as ek vir my lewe veg, ek hoor suiwer taal in elke vloekwoord
Ek sien wit in swart, ek voel vol as ek honger is
Ek vind net krag in my swak hart, ek voel nugter as ek eintlik dronk is
Ek sien myself in iemand anders, ek kry vreemdelinge in my eie familie
Ek voel tuis saam met buitelanders, ek sien krake in elke fondasie
Ek voel nog steeds siek al is ek gesond, ek twyfel al is ek seker
Ek het ? storie vir elke wond, ek word swakker al word ek beter
Ek voel gevind al is ek verlore, ek sien die hel in die hemel
Ek sien ? begrafnis na elke geboorte, ek vind te min in te veel
Ek sien ? half-leë glas in ? wêreld wat half-vol is, ek voel skuldig al het ek niks verkeerd gedoen nie
Ek sien ? doel elke keer as ek een mis, ek het vryheid in ? tronk van oppressie
Ek kry skaam vir waarop ek trots moet wees, ek kom laaste al is ek eerste.
Ek skree wolf elke keer as ek God moet skree, ek vind ? behoefte in elke begeerte
Ek sien ? realiteit in drome, ek het baie al het ek min
Ek’s verkeerd al gebruik ek die regte woorde, maar met musiek maak alles sin
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


