Die WOW Spelfees: Speel-speel spel skoliere van regoor SA

  • 4

Die WOW Spelfees: beamptes en organiseerders

 

Agt van die top tien spellers woon in die Wes-Kaap

Die US Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW) Projek het sy eerste nasionale spelfees verlede naweek op Stellenbosch aangebied. Skoliere van vyf provinsies het op 20 Oktober gespel dat die spoeg spat. Leerders in graad 1 en 2 het woorde geklank terwyl dié van graad 3 tot 10 moeiliker woorde soos minister, meringue en misterieus moes spel.

Die top drie spellers het onderskeidelik R250, R200 en R150 gewen, maar slegs een skolier per graad kan spog met die titel as Suid-Afrika se beste speller. Hulle is Matthew Carelse van Wellington Primêr (graad 1), Cohen Adams van Paarlzicht Primêr, Paarl (graad 2), Donney Spandiel van Kerria Primêr, Atlantis (graad 3), Martine Odendaal van Laerskool De Villiers Graaff, Hermanus (graad 4), Michelle Olivier van Laerskool Hendrik Louw, Strand (graad 5), Lismari Strauss van Laerskool Hermanus (graad 6), Audrey Perils van St Thomas Primêr, Malmesbury (graad 7), Elani Strydom van Hoërskool Duineveld, Upington (graad 8), Heinrich Jaar van Hoërskool Kakamas (graad 9) en Corli Rheeder van Hoër Meisieskool Paarl (graad 10).

Die WOW Spelfees is een van 22 projek-aksies wat jaarliks deur die WOW Projek aangebied word. Vanjaar is leerders uit ander provinsies as die Wes-Kaap vir die eerste keer betrek. Lyste met woorde is vooraf beskikbaar gestel en leerders kon dié woorde leer.

Fiona van Kerwel en Carmi Wentzel

Volgens Fiona van Kerwel, WOW Projek-bestuurder, is die projek nou al nege jaar aan die gang om leerders se taalkennis en woordeskat uit te brei en effektiewe taalgebruik aan te moedig. Die projek wil die strewe na prestasie onder leerders aanmoedig en uitnemende leerders vir verdere studie identifiseer. Deur onderwysers en kurrikulumadviseurs as amptenare by die WOW Spelfees betrokke te kry, word daar gestreef om opvoeders te bemagtig ten opsigte van die korrekte uitspraak en spelling van woorde in Afrikaans en hulle te motiveer om eienaarskap van die projek te neem.

“Ses van die nege provinsies het deelgeneem en skoliere uit die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Gauteng en Limpopo het op Stellenbosch bymekaargekom vir die groot gala,” het Van Kerwel gesê. Mpumalanga se spanne kon weens ’n tekort aan fondse en logistieke uitdagings nie die tog Kaap toe aanpak nie. 

Die WOW Projek is ’n bemagtigingsinisiatief vir skole en is gerig op leesbevordering en kulturele ontwikkeling en wil die enorme verskille tussen leerders uit bevoorregte en behoeftige omgewings help verklein.

Volgens WOW-organiseerder Shireen Crotz het die Spelfees vanjaar behoorlik uit sy nate gebars, met sowat 115 000 mense wat deur die projek bereik is. “Ons voorspel dat dit in 2013 nóg groter sal wees,” het Crotz gesê. 

Skole wat belangstel om in 2013 deel te neem, kan vroeg in die nuwe jaar op die Woordfees se webtuiste (www.woordfees.co.za) vir die nuwe woordelyste loer.  Inskryfvorms en kontakbesonderhede kan ook daar gevind word.

Die WOW Spelfees word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die volgende donateurs en vennote:  Die Dagbreek Trust, die ATKV, Universiteit Stellenbosch, die Gespreksforum vir die Geestes- en Sosiale Wetenskappe, Checkers, Pearson, Pharos, Leserskring, Lapa Uitgewers, die Kaapse Wynlandistriksmunisipaliteit, die Kara Hais Munisipaliteit, die Wes-Kaapse Departement van Onderwys, die Noord-Kaapse Departement van Onderwys en Think Online-leermateriaal.

Dorothea van Zyl van die US Woordfees

Foto’s van wenners:

Graad 1-wenners: Jessica Goosen (3de), Matthew Carelse (1ste) en Kurt Andrews (2de).

Graad 2-wenners: Chanice Holland (3de), Cohen Adams (1ste) en Jadé Cloete (2de).

Graad 3-wenners: Carina Louw (2de), Donney Spandiel (1ste) en Caitlin Goosen (3de).

Graad 4-wenners: Carmi Wentzel (3de), Martine Odendaal (1ste) en Elsari Strauss (2de).

Graad 5-wenners: Francisca Francis (2de), Michelle Olivier (1ste) en Saskia Bowman (3de).

Graad 6-wenners: Lizette Pretorius (2de), Lismari Strauss (1ste) en Nicola van der Walt (3de).

Graad 7-wenners: Kayla Kellerman (2de), Audrey Perils (1ste) en Robyn Abrahams (3de).

Graad 8-wenners: Gaylin Carelse (2de), Elani Strydom (1ste) en Sheune Solomons (3de).

Graad 9-wenners: Melissa Bergh (3de), Heinrich Jaar (1ste) en Allison Matroos (2de).

Graad 10-wenners: Monique Hansen (2de), Corli Rheeder (1ste) en Nathene Adams (3de).

                         

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Suzette Prinsloo

    Ek is op soek na spellyste van Graad 1 - 5. Waar kan ek dit kry?

    Groete
    Suzette Prinsloo

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top