Die wonderbare Heilige Gees én die Vader van liefde: ’n Besinning oor Pieter Verster se baanbrekende boek

  • 1

Die wonderbare Heilige Gees én die Vader van liefde
Pieter Verster
SunBonani Media
eISBN: 9781928424758

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Soos die son elke oggend opkom, so verskyn daar byna daagliks nuwe boeke, ook oor die teologie. Soms is ’n boek helder soos die son. Ander kere is dit gesluier soos die son wat deur die wolke bedek word.

Hierdie nuwe boek van Pieter Verster is soos die son wat helder skyn. Dit vra van die leser noukeurige aandag. Die buiteblad is opvallend en ’n sleutel tot toegang tot die boek.

Die aansig en gesig van die kerk het vanaf die 20ste eeu totaal verander. Daar is verskeie redes hiervoor. Sekularisasie. Vervreemding van kerk. Die mens is mondig. Hy kan self besluit waarheen hy gaan en wat hy glo. In ons tyd van vrese, korona en sy bondgenote, onsekerheid, werkloosheid, korrupsie en liefdeloosheid word vrae oor God se bestaan en sy teenwoordigheid in ons wêreld gevra: Waar is God in ons tyd van die oormag van korona? Oor dié aktuele en lewensbedreigende saak skryf Pieter Verster (2020:37-38) met insig en deernis. Wie is eintlik in beheer? Is dit nie hoog tyd dat daar van ’n Heer-lose God afskeid geneem word nie? Verby is die dae dat die predikant God aan mense voorstel. Buitendien is dit soms hulle eie voorstellings wat hulle op hulle verstaan van die Ou en Nuwe Testament grond. Dit gebeur ook meermale dat die voorganger in eksegetiese strikke trap. Verby is die dae van sekerhede en kerklike inperking. Die vraag is: Wat gee sin aan ons lewe in die kerk en buite die kerk? Vir my is een van die geldige antwoorde: “Yes to life in spite of everything” (Frankl 2019).

Is die kerk nog relevant? Wat maak die kerk relevant?

Dit is onder andere op hierde vrae dat Pieter Verster ’n duidelike antwoord gee. Die titel is veelseggend en aangrypend. Die wonderbare Heilige Gees én die Vader van liefde. ’n Missionêre teologie. Gaan dit om ’n voor-skriftelike of dienende kerk? Dit is die groot vraag waarop ons saam na ’n antwoord moet soek.

David Bosch kan met sy boek Transforming mission. Paradigm shifts in theology of mission (17de druk, 2002) as die kroonprins van missionêre teologie beskou word. Bosch het wêreldroem met sy paradigmaskuif in die missiologie verwerf. En met reg ook. Maar daar is tog leemtes in sy ontwerp. Dit is veral die Ou Testament wat skade ly. Bosch (2002:563) verwys slegs na enkele Ou-Testamentiese tekste, naamlik Deuteronomium 4:32 ev, 1 Samuel 15:3, Psalm 24:1, Psalm 82, Jesaja 18:7, 40-55, 42:6, 49:7, 58:6, 61:1, 2, 10, 11, 66:19–23. Volgens Bosch (2002:110-111) moet Jesaja 61:1, 2 byvoorbeeld in die lig van Lukas se Christologiese aanwending van die teks verstaan word. Daar is in Bosch (2002:72, 100, 110-111) se nadenke geen sprake van die Ruach Jahwe en die betekenis daarvan nie. En dit terwyl Jesaja 61:1 met die Ruach Jahwe begin. Hoewel Bosch (2002:368-510) deeglik aandag gee aan die gerigtheid op die wêreld, geregtigheid, mense in nood, en armoede, kom die priesterskap van die volgelinge van Jesus nie tot sy reg nie. Die Ou Testament kom eintlik net by wyse van verwysings aan die bod. Verder word die pneumatologie ook nie grondig genoeg in die Nuwe Testament toegelig nie. Bosch (2002:11, 143–4, 150, 175, 394) verwys wel na die Gees wat byvoorbeeld in Romeine 8:23 gevind word, maar die betekenis van die teks wat die Gees die Eerste Gawe noem, ontbreek. Verster (2020:143-144), daarenteen, skryf verhelderend oor die Gees as Eerste Gawe en die Gees as Arrabon. Bosch (2002:378-519) gee deeglik aandag aan die Christologiese begronding van die missiologie. Hy ontsluit ook die komponente van sy missiologiese paradigma grondig en met oortuiging.  

Verster bied ’n Trinitariese missionêre teologie aan en hierin munt hy uit as ’n deeglike leser van sowel die Ou as die Nuwe Testament. Wie is God? Dit word in die boek glashelder. Die skrywer het dit nie uitgedink nie, maar na die Ou en Nuwe Testament gaan luister. Sy verstaan van die Ruach Jahwe is betekenisvol en singewend. Die Vader stuur die Seun as heilsbode. Jesus Christus gee sy lewe om die losprys te betaal. Sy opstanding gee hoop op en waarborg die ewige lewe. Die kerk is die ruimte waar die heilsboodskap verkondig word en die heil word deur die sakramente gevier (Verster 2020:24).

Pieter Verster (2020:109) skryf met reg: “Sonder die Heilige Gees se oortuigingswerk en verheerliking van Christus is daar geen kerk nie.” (Verster (2020:109-137) lig die werk van die Heilige Gees skitterend toe.  

Dit skep ’n wonderlike gevoel om God saam met ander gelowiges te loof. Hy is altyd prysenswaardig. Maar dié lof moet ook na die wêreld uitkring. As ’n vreemdeling hoor hoe gelowiges die Here loof, moet die persoon gaan stilstaan en omdraai. Daar moet by hom ook ’n begeerte gewek word.

Verster (2020:149) skryf met reg: “Die kerk word deur die Heilige Gees die ruimte waarbinne geloof in Jesus Christus uitgeleef word. Ingelyf in die kerk deur die doop versamel die gemeente rondom Woord en nagmaal.”

In die erediens, maar ook buite die erediens, moet die dopelinge in die leer van die Skrif onderrig word. Soos melkkos moet die kinders gevoed word en die jonges grootword om die betekenis van die Skrif vir hulle te verstaan. Hulle moet ingelei word in die disciplina arcana, soos dit in die onderrig van die vroeë kerk voorgekom het (Heitink 1988:38; 2007:106–14, 252, 335). Die kerk moet sensitief wees vir kinders en jongmense se leeffases, leefervarings, ontwakings en ontnugterings.

Die Heilige Gees laat ons God se Woord hoor en spoor ons tot gehoorsaamheid aan. In die erediens hoor ons van geloof, hoop en die allergrootste, die liefde. Ons leer keer op keer wat geloof, hoop en liefde van ons vra sodat ons dit in die gewoel van die alledaagse lewe kan uitdeel.

Die teenwoordigheid van die Vader in die sakramente kom by Verster (2020:204) duidelik aan die lig. Tydens die erediens word mense gevoed met die brood van die lewe en drink hulle van die wyn van die groot Boland. Die Nagmaal wys na Jesus se menswording, lyding en kruisdood. Ons kan ons skuld aflê. Sy skouers is breed. Hy het vir al ons skuld betaal. Daarvoor het Hy sy liggaam laat breek en sy bloed gestort. Ons vier ons heil wat God uit genade aan ons skenk met brood en wyn. Daarop kan ons ’n glasie klink en ’n brokkie brood eet.

Die Nagmaal maak ons ook deelgenote van Christus se verheerliking. Dit wek by ons die groot verlange na die feesmaal van die Lam op die nuwe aarde.

Dit is bedroewend dat die kerk in ’n groot mate ’n “domineeskerk” geword het. In ’n kerk wat die heil vier en ervaar, is mense sentraal. Preke wat in eksegetiese strikke trap, word as eentonig beleef. Soms word die konteks van die teks nie deeglik verken nie. Preke gaan dikwels by die leefwêreld en ervaringe van mense verby. Preke moet mense, klein en groot, help en aanmoedig om priesters in die wêreld te wees.

Die kerk bestaan nie om homself te koester nie. Soms is gemeentes te veel in kompetisie met mekaar oor wie die voortreflikste is. Die deure van die kerk gaan nie na binne oop nie, maar na buite. Die kerk bestaan met die oog op die wêreld. “So lief het God die wêreld gehad ...” (Johannes 3:16). “Julle is die sout vir die aarde, julle is die lig vir die wêreld” (Matteus 5:13, 14). Eers as die wêreld die heerlikheid van die heil van God smaak en sien, is die kerk waarlik kerk. Dit is wat Pieter Verster se missionêre teologie beoog. Verster (2020:67-93) se behandeling van die kosmiese werk van die Heilige Gees is ’n juweel. Dit is die eerste keer dat dié belangwekkende kwessie so indringend en helder in die ontwerp van ’n missionêre teologie aan die bod kom.

Die kerk is vir talle ’n struikelblok. Verskillende redes word aangevoer: Die kerk is wêreldvreemd. Dit kom onder andere daarin na vore dat die kerk die tyd- en leefritme van moderne mense verpas het. Die kerk steur hom nie aan die noodroepe van mense nie, maar is selfgenoegsaam en stadig op pad. Die kerk word so maklik ’n naprater van ’n politieke ideologie. Hiervan is apartheid ’n beskamende voorbeeld. Die nuwe demokrasie bly in vele opsigte net ’n droom. Die praktyk is dikwels anders as die droom. Geregtigheid aan almal bly ’n ideaal. Korrupsie en die onbekwaamheid wat daaruit spruit, het deesdae ’n verlammende uitwerking op ons samelewing.

Die kerk, word gesê, is behep met mag en beheer oor mense se lewens. Morele keuses word namens mense deur die kerk gemaak. Dogmas wat uit die mode is en verslyt het, word op mense afgedruk. Wie dit nie nasê nie, word verdoem. Die meeste belydenisskrifte dra die verslete stempel van hulle tyd. Die Skolastiek met ’n vraag wat geen afwykende antwoord duld nie, word hoog aangeslaan asof dit ewigheidswaarhede bevat.

Daar is soveel skynheiliges in die kerk. Gevolglik skuif talle na die rand van die kerk of vervreem hulle van die kerk en selfs die geloof. Daar is mense wat reken die kerk buite die kerk is die eintlike kerk. Dáár geld geen kerklike reëls nie, maar net menslikheid en vryheid. Ek is nie so oortuyig dat dit regtig so is nie. Daar is soveel persepsies in omloop.

Die vraag is egter: As daar fout met God se grondpersoneel is, moet ons die kerk afskaf soos ’n kerkbasaar met ’n vleistafel in die stad? Moet ons nie eerder gaan soek na wat skeefgeloop het nie? Moet ons nie die kerk aan God se genade en Woord oorlaat nie? As ons die Woord se gesag prysgee, het ons geen maatstaf nie. Geen lig vir die kronkelpad nie.

Die kerk se bestaan is gegrond op die belydenis dat Jesus die Here is. “Op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matteus 16:18).

Karl Barth (1970:656-658) verklaar oor die kerk: ’n Mens kan die kerk ook beskryf met die teks van Markus 3:34. Dáár word vertel dat die leerlinge, die apostels, in ’n kring om Jesus gesit het. “Ek neem aan,” vervolg Barth “dat die circuitus (Vulgaat-vertaling: “kring”) die egte oorsprong van ons woord ’kerk’ is.” Die kerk is kringgenote rondom Jesus Christus. Geroep om uit te roep.

Verster (2020:23-62) se uitleg van Johannes 16:1–15 is indrukwekkend. Hy toon die werk van die Heilige Gees noukeurig aan. Met die oog op die priesterskap van die gelowiges is dit noodsaaklik. Die Gees is onder andere die Parakleet (Voorspraak) (Johannes 16:6). Die Parakleet maak dit vir volgelinge van Jesus moontlik om die priesterskap van die gelowiges uit te leef (Verster 2020:24, 83). Ten einde die priesterskap van die gelowiges uit te leef, moet vergifnis van God ontvang en in die alledaagse lewe uitgedeel word. Die voorblad van Verster se boek is vir my ’n sleutel tot die inhoud. Rembrandt se skildery van die verlore seun wat vergifnis ontvang en dit later uitdeel, is visueel aangrypend.

God stuur en gebruik nie net engele nie, maar ook mense. Handelinge 1:8 behoort vir elkeen wat dit lees of hoor, nuwe betekenis te kry. “ … julle sal my getuies wees … tot aan die uithoeke van die wêreld.” Dit is op hierdie kosmiese dimensie van die werk van die Heilige Gees dat Verster met reg klem lê. Verster (2020:63-93) gee ’n helder en grondige toeligting oor dié aspek wat in die Christologie ingebed is.  

Die hartklop van die Reformasie was ecclesia semper reformanda est. Die leuse inspireer die kerk om kerk in en vir die wêreld te wees. Om kerk vir en in die wêreld te wees, het duidelik neerslag in Martin Luther se preke gevind (Planck 1888). Volgens Karl Barth (1959:872-910) draai die bestaan van die kerk nie om homself nie, maar is die sin van sy bestaan om “die Gemeinde für die Welt” te wees. Dietrich Bonhoeffer is in die ouderdom van 39 jaar in ’n Duitse konsentrasiekamp tereggestel. Tydens sy gevangeskap is hy intens geboei deur die verskynsels van sekularisasie en ateïsme. Hier het hy mense uit alle lae van die bevolking kortstondig in die aangesig van die dood ontmoet. Hy was verplig om met hulle te identifiseer en saam te leef en te ly. Een woord kan die mense beskryf – mondigheid, al was hulle monde gesnoer. Mense op vrye voet was ook mondige mense.

Ons moet Bonhoeffer (2015) se besinning oor die taak van die kerk in sy konteks verstaan. Hy was betrokke by die stigting van die Bekennende Kirche wat afgeskei het van die Duitse Rykskerk omdat dié kerk deur die Nazi-teologie van die “Deutsche Christen” vergiftig is (Heitink 2011:224). Die kerk is immers “die mense wat weggeroep word” – só interpreteer hy die Griekse woord ekklèsia – en aan die heerskap van die wêreld onttrek is (Bonhoeffer 1966:260).

Die kerk is Christus wat in die Heilige Gees teenwoordig is. Só het die lewe van die liggaam van Christus óns lewe geword. In Christus lewe ons nie meer vir ons lewe nie, maar Christus leef sy lewe in ons. In gemeenskap met die gekruisigde en verheerlikte liggaam van Christus neem ons deel aan die lyding en die verheerliking van Christus. Die kruis van Christus druk op die liggaam van die gemeente. Wat ons onder die kruis ly, is Christus se lyding (Bonhoeffer 1966:266). Dit vra genade om vir Christus te ly. Hierdeur word ons as volgelinge geken en roep ons ander op om medevolgelinge te word.

In sy gevangenisbrief van 16 Julie 1944 skryf Bonhoeffer (1968:137-138): “Hier lê die wesenlike verskil met alle religieë. Die religieuse in die mens verwys hom in sy nood na God se mag in die wêreld. Die Bybel verwys die mens na God se onmag en lyding. Alleen die lydende God kan help. In soverre kan ’n mens sê dat die ontwikkeling tot mondigheid, die afrekening met ’n verkeerde voorstelling van God, ons oë oopmaak vir die God van die Bybel. Dit sal die uitgangspunt moet wees van ’n wêreldse interpretasie.” 

Bonhoeffer (1968:131) wys God as deus ex machina van die hand. In sy brief van 30 Junie 1944 skryf hy dat God as deus ex machina slegs by die laaste vrae ’n staanplek kry. Hy word dus gesien as die antwoord op die lewensprobleme, die oplossing in moeilikhede en nood. God is egter nie ’n noodgod nie, maar die God van hoop onder alle omstandighede, goed of sleg.

Die saak wat Bonhoeffer (1966:225, 231, 238, 242–244) ononderbroke besig gehou het, was: “Wat is die Christendom en wie is Christus vir ons in hierdie tyd?” Hy worstel met die groot vraag: Hoe word Jesus Christus die Heer van die religielose mense van vandag? Dáárom gaan alles. Die heerskap van Jesus Christus in die kerk en in die wêreld.

Bonhoeffer pleit vir ’n vereenselwiging en solidariteit met die godsdienslose wêreld. As ons só leef, kan die wêreld sien dat God tog daar is. Dit is ook wat die missionêre teologie van Pieter Verster beoog (Verster 2020: 210-211).

In Christus leer ons dié lewensles: Ons moet, soos die Gekruisigde, nie ons rug op die wêreld in nood draai nie. In sy selfontlediging het Jesus die nood van die wêreld vir Hom aangetrek. In navolging van Hom moet ons in sy spore loop. Diens, voorbode, voorbede, plaasvervangende lyding, stryd teen onreg, juk dra saam met die verdruktes en armes is waartoe Bonhoeffer (1966:205-297) die kerk oproep.

’n Wêreldse lewe beteken om in die wêreld te wees; om aan die lyding en ellende van ander mense te help dra; om te stry vir menswaardigheid en geregtigheid; om dáár te wees vir die ander. Godsdiens is méér as net dogmas, rites, eredienste. Die erediens op ’n Sondag moet uitmond op ’n erediens in die wêreld, die erediens van die lewe. Daarom pleit Bonhoeffer vir duur genade. Genade is nie goedkoop of te koop nie, maar dit vra egte dissipelskap en navolging van Christus in ’n mondige wêreld. Al is die prys hóé hoog.

Bonhoeffer (2015) se nadruk op die “werkende geloof” word in sy Nachfolge uitgespel. Navolging van Christus beteken om in die wêreld so oor God te praat dat die goddeloosheid van die wêreldkerk nie versluier word nie. Daar moet ’n verrassende lig op die wêreld val. Dit is die hoop wat die gelowiges aan die wêreld kan gee.

Deur Christus na te volg, kan ons ’n naaste vir die ander wees. Sodoende kan ons ’n verskil in hierdie wêreld en in die lewe van ander maak. Daarom moet ons getuies van die liefde wees. Dit beteken dat ons uit liefde moet leef en dit kosteloos aan ander moet gee.

Ons moet ook reg en geregtigheid aan alle mense laat geskied. Al kos dit wat. Die vreemdelinge, gebrokenes, die randfigure, die armes, die dakloses, die hongeres, die dwelmverslaafdes en die boemelaars mag nie onaangeraak by ons verby gaan nie. Dit is vanuit die voorafgaande perspektiewe dat Verster sy noodsaaklike en aktuele boek geskryf het.

Ek sluit my groot waardering vir Verster se boeiende boek af met “die gelykenis van die kuswagstasie”.

Arnold van Ruler (1972:191) het dit mooi gesê: Die kerk bestaan ter wille van, met die oog op die wêreld. Wat dit beteken, verduidelik Theodore Wedel (1953) in sy beskrywing van die kerk as kuswagstasie.

Die kerk is volgens Wedel soos ’n groot kuswagstasie langs ’n uiters gevaarlike en bedrieglike kus. Daar is die veilige hawe, die stasiegebou met al die reddingsapparate, die reddingsboeie, die eetsaal, die sitkamer en die hospitaal. Alles is ingerig om opvarendes van skeepsrampe en drenkelinge uit die see te haal.

Eeue lank staan dit al daar, dié indrukwekkende gebou op die rots waarteen die branders aanstorm. Die verhale van reddingswerk is verstommend – in so ’n mate dat sekere mense dit vergesog en as ’n illusie beskou.

Niemand kan ontken dat hierdie reddingstasie deur die eeue tot ’n magtige struktuur gegroei het nie. Dit is ’n landmerk waarsonder die kus ondenkbaar sou wees. Gekleurde glasvensters vereer die helde van die verlede, die groot dade van die stigters, die volgelinge wat gedoen het wat die eerste Redder aan hulle opgedra het.

Met die jare het egter ’n aksentverskuiwing by die bemanning van die kuswagstasie gekom. Hulle het aandag begin gee aan die verfraaiing van die gebou, aan die tuine en die parke, die toring en die horlosie, die begraafplaas en die paadjies. Argitekte het gekom en met mekaar meegeding oor wie van hulle die beste ontwerpe kon maak om die gebou en die terrein nog verder te versier. Dan sou dit ’n plek wees waaroor almal sal praat, ’n plek wat waardig is vir die saak waarvoor dit opgerig is.

Daar was nie ’n tekort aan geld nie! Vir die versiering van die stasie, wat al hoe meer eksklusief geword het, was daar oorgenoeg geld. Wie gee nie geld vir ’n verdienstelike saak nie?

Net sommige het aan die klub, wat oor naweke saamkom, behoort. Die klub het met die tydsgees saambeweeg. Vroue het nie meer hoede gedra nie en die meeste mans nie meer dasse nie. Die byeenkomste was informeel en gesellig. Die orde van gebeure het byna weekliks verander.  “Ons moet tog aanpas by die tyd,” was die gewilde spreekwoord. As jy agter raak, verstar jy.

Die instandhouding van die gebou het baie tyd en aandag geverg. Dit was al eeue oud en barste het hulle verskyning gemaak. Die begroting moes klop. ’n Balans wat jaarliks groei, gee status aan die klub en sy lede. Hierdie instandhouding het soveel tyd en aandag gevra dat die eintlike werk, die uitgaan in die storm, die reaksie op die dringende SOS-seine aan ’n paar geesdriftige vrywilligers oorgelaat is. Net ’n paar vrywilligers het vir Jesus Christus en die eer van God se Naam op die markplein van die daaglikse lewe geywer.

So iets, sê Wedel, het met die kerk gebeur. Toe hy dit geskryf het, en nou nog.

Watter uitwerking het die kerk se bestaan op die samelewing? Is ons nie te bang ons gee aanstoot nie? Ek pleit nie vir onbeskoftheid nie, maar vir ’n lewe onder die beheer van die Heilige Gees. Ons moet sy vrug op die markte van die lewe aan hongeres uitdeel.

Toe John Knox eenkeer oor die kole gehaal is oor sy inmenging in staatsake, het hy geantwoord: “The church was framed for the express purpose of interfering with the world!” Ons durf die wêreld nie aan homself uitlewer nie. Ons, die kerk, bestaan ter wille van die wêreld. Die wêreld met en in sy nood. Die vreemdelinge, armes, werkloses, dakloses, verwerptes, eensames en verslaafdes.

Pieter Verster se boek oor ’n eietydse missionêre teologie is lofwaardig. Die boek moet net opgetel en gelees word, en doen dan wat in die boek voorgestel word. Die sin van ons bestaan is om deel te neem aan die priesterskap in die lewe van elke dag.

Bronnelys

Barth, Karl. 1953. Die Kirchliche Dogmatik. V/I. Evangelischer Verlag, Zürich.

—. 1959. Die Kirchliche Dogmatik. Dritter Teil. Zweite Hälfte. Vierter Band. Evangelischer Verlag, Zürich.

—. 1967. Die Kirchliche Dogmatik. V/4. Evangelischer Verlag, Zürich.

Bonhoeffer, Dietrich. 1966. Navolging. Ten Have, Amsterdam.

—. 1968. Verzet & overgave. Ten Have, Amsterdam.

—.  2015. Dietrich Bonhoeffer. Neue Wege der Forchung. WBG: Darmstadt.

—.  2015. Nachfolge. Güterloher Verlagshaus: Gütersloh.

Bosch, David J. Transforming mission. Paradigm shifts in theology of mission. 2002. 17de druk. Orbis Books, Maryknoll, New York.

Frankl, Victor E. 2019. Yes to life in spite of everything. Penguin Random House, Londen.

Heitink, Gerben. 1988. Om raad verlegen, doch niet radeloosErvaringen van aporie bij beoefening der praktische theologie. Kok, Kampen.

—. 2007. Een kerk met karakter. Tijd voor heroriëntatie. Kok, Kampen.

—. 2011. Golfslagen van de tijd. Kok, Kampen.

Planck, Heinrich. 1888. Dr Martin Luther. Siebenzig Predigten. Verlag der Vereinsbuchhandlung, Stuttgart.

Van Ruler, AA. 1972. Blij zijn als kinderen. Kok, Kampen.

Verster, Pieter. 2020. Die wonderbare Heilige Gees én die Vader van liefde. ’n Missionêre teologie. SunBonani Media, Bloemfontein.

Wedel, Theodore. 1953. The life-saving station that became a club. Herdruk in The loose canon, 21 Junie 2011.

Die boek kan gratis afgelaai word by dié skakel: https://doi.org/10.18820/9781928424758

https://www.litnet.co.za/category/boeke-skrywers/resensies-reviews/lesersindrukke/

 

  • 1

Kommentaar

  • Cas Vos skryf meesterlik oor die indrukwekkende boek van Pieter Verster, "Die wonderbare Heilige Gees én die Vader van liefde – ’n Missionêre teologie". Vos se teks in met ’n digterlike hand en met besondere insig in die teologie geskryf. Om so ’n teks te lees en te oordink, is louter plesier. Cas Vos skep nie ’n God met sy verbeelding nie, maar sy skrywe is gebou op ’n diepgaande kennis van en insig in die Ou en Nuwe Testament. Hy stel die Bybel met al sy nuanserings aan die woord. Uit sy teks blyk dit dat Verster hoop wil gee aan moedelose en hooplose mense wat vasgevang is in die greep van armoede, korrupsie, rassisme en hoogmoed.
    Die kerk sal ook moet leer om op ’n ander wyse as die “domineeskerk” wat hoofsaaklik na binne gerig is, te leef en op te tree. Verster se boek is ’n bevrydende boek, aldus Cas Vos. Die priesterskap van die gelowiges moet herontdek en uitgeleef word. Dit beteken om in die volle lewe van elke dag priesterlik op te tree en mense in ellende en nood, ook die vernames, te help en te dien. Die Evangelie is immers ’n menswaardige en bevrydende Evangelie. Dit is die goeie nuus van God wat vir mense te midde van angste, kommer, vrese en wanhoop leef. Ja, vir mense wat vrees vir Covid-19.
    Die treffende skildery van Rembrandt is ’n sleutel tot die ontsluiting van die boek. Die vergifnis van ’n verlore seun wat uit die verlore land teruggekeer het. En wat kry hy? Net vergifnis. Niks meer en niks minder nie. Dit skenk God aan verlorenes wat uit die vreemde land terugkom huis toe, na die Vader toe. Die oudste seun is eintlik die verlore seun. Hy wat sonder God en sy vergifnis wil leef. Wie vergifnis ontvang het, verklaar Pieter Verster, moet daaruit leef en dit aan ander gaan uitdeel.
    Dit strek LitNet tot eer dat ’n lesersindruk soos dié van Cas Vos gepubliseer word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top