Die wolf wat Rooikappie geword het

  • 0

“Cuito Cuanavale (1988)” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Die wolf wat Rooikappie geword het

Luna staan met haar rug en linkervoet teen die muur toe ’n skaduwee onverwags om die hoek kom. Intuïtief druk sy haar sigaret dood teen die koue beton agter haar en laat sak haar voet. Waarom weet sy nie vir seker nie, maar haar wolfbaadjie is geneig om haar uitdagende dinge te laat doen. Soos om ’n verdagte hool in ’n donker steeg op te soek.

Die volmaan het deur die wolke gebreek en die styfpassende, skouerlose swart rok met die pêrelstrophalssnoer en Prinses Diana-haardos wat aangestap kom, is onmoontlik om mis te kyk. Luna is nie seker of sy haar verbeel het nie, maar sy kan sweer sy het die skynsel van ’n stoppelbaard op Diana se effens hol wange gesien.

Sy sug. Vir die soveelste keer wonder sy wat sy daar soek. Die verwysing op haar bankstaat het net twee woorde bevat: Dryad’s Daydream. Sy kyk op na die neonpienk uithangbord wat in die mis flikker. Hy kan tog nie hiérbinne wees nie, kan hy?

Haar ma hou al twaalf jaar lank vol dat hy dood is, maar toe ’n groot klomp geld verlede maand op haar agtiende verjaarsdag in haar rekening inbetaal is, het sy begin wonder. Hoe sou hy nou lyk? Die dowwe beeld in haar kop het ligbruin hare en kenmerkende amandelbruin oë. Dis al.

Dit begin liggies drup en Luna trek die kappie met die wolfore oor haar kop. Dis al wat sy van hom het. Hierdie belaglik uitdagende baadjie. Sy steek nog ’n sigaret aan en sukkel met die aansteker in die motreën. Staan effens nader aan die deur op soek na skuiling.

Die rook wat by die nagklub uitstroom, irriteer haar longe en sy sluk swaar aan die knop in haar keel. As hy wel hier is, hoekom het hy haar nooit gesoek nie? Sou hy haar dalk liewer nie wou sien nie?

Sy deins effens terug toe die deur skielik oopgaan en Marilyn Monroe en Beyoncé uitstap. Marilyn het haar ikoniese wit halternekrok aan met ooptoonhakke, ’n geverfde moesie op die wang en oordrewe rooi lippe. Beyoncé sprankel in goud met ’n laehalsaandrok, hoepelvormige oorbelle en goue hakke behang met glinsterende juwele. Hulle knik vir Luna en vra of hulle haar aansteker kan leen.

“Love jou top,” sê Marilyn met ’n hees stem.

“Very Big Bad Wolf,” beaam Beyoncé en neem ’n sigaret by Marilyn.

“Dankie,” mompel Luna en probeer dink aan iets prikkelends om te sê. “Ek hou van jou hakke,” lieg sy, terwyl haar oë vlugtig op Beyoncé se oordadige puntskoene rus. Haar eie tekkies is op verskeie plekke deurgeloop en deurgeskaaf, en sy tree selfbewus terug in die skaduwees.

“Thanks, girly! Special order,” verduidelik Beyoncé. “Hulle maak hierdie pearls nie gewoonlik in ’n size 11 nie.” Sy draai haar linkervoet sodat Luna haar trofeë deeglik kan beskou.

Luna groet met ’n knik en slenter weg met die muur langs. ’n Middeljarige man en sy eggenoot kom van voor af aangestap, hand aan hand. Albei het vreemde groen katoë.

Luna gee ’n laaste trek aan haar sigaret en trap dit dan met die neus van haar tekkie dood. Agter die paartjie kom Rooikappie aangedraf, haar roosrooi mantel vasgeknoop tot bo en styf om haar lyf vasgetrek. Sy gryp onverwags na haar handsak wat dreig om van haar skouer af te val.

Luna mik impulsief om haar te help. Toe albei gelyk daarna reik, kyk Luna op – vas in twee onmiskenbare amandelbruin oë.

“Luna?” vra Rooikappie, en verloor terselfdertyd haar greep op haar handsak se band.

“Ja?” Luna huiwer. Skrik toe Rooikappie haar nadertrek en entoesiasties omhels.

“Hoe het jy my gekry?” vra Rooikappie, terwyl sy terugstaan en Luna aan die skouers beetkry. “Het jou ma jou uiteindelik die waarheid vertel?”

“Gmf, nee, daar was ’n verwysing op my bankstaat, met hierdie plek se naam daarby.” Luna beduie na die uithangbord. “Wat is die storie?”

“Kom uit die reën, dan vertel ek jou.” Rooikappie tel haar handsak op en beduie dat Luna eerste by die nagklub se deur moet ingaan.

***

Daarbinne bevind Luna haar in ’n woud. Kunsmatige bome is strategies geplaas, kompleet met ’n waterval langs die kroeg. Luna staar betowerd, maar haar kop ruk om toe Taylor Swift se lirieke plotseling oor die luidsprekers begin blaker en die einste op die verhoog tree, geklee in ’n swart top en ’n kruipbroekie wat met pers blinkers versier is.

Rooikappie beduie na die kroeg. “Wat kan ek vir jou kry?”

Lang roesbruin hare val op haar skouers toe Luna haar kappie afhaal. “’n Bier, asseblief.” Sy huiwer. Dis die eerste keer sedert haar verjaarsdag dat sy wettiglik ’n bier bestel.

Die kroegman, van kop tot toon in leer geklee, reageer onmiddellik met: “Is jy seker?” Terselfdertyd plaas hy ’n leë glas op die toonbank. “Wat van ietsie potents in ’n lang glas?” Hy begin om ’n skemerkelkie te meng. “Iets wat by jou hare pas.”

Luna knik en skuif langs Rooikappie agter die kroegtoonbank in. Staar, letterlik oopmond, na Rooikappie wat haar mantel afgehaal en langs haar neergesit het. Waar is die baard en die prominente adamsappel? Al wat bekend lyk, is die amandelbruin oë.

“Pa?”

Uiteindelik kry sy die woord oor haar lippe.

Op die verhoog maak Taylor Swift ’n laaste buiging en die skare gil dit uit. Rooikappie steek haar hand uit na Luna, trek dit weer terug, skielik opvallend selfbewus.

Luna moet skreeu om haarself hoorbaar te maak bo die applous. “Ek’t al die jare gedink Pa is dood.” Sy kyk stip na Rooikappie, soek antwoorde in die amandelbruin kykers wat nou vol trane skiet.

“Is dit nie voor die hand liggend waarom jou ma vir jou gesê het ek is dood nie?” Rooikappie draai ’n sliert van haar lang ligbruin hare om haar vinger en skuif senuweeagtig in haar stoel rond voordat sy die woorde aframmel: “Ek’t gedink ek doen die regte ding. Jou ma het gereken dat ek jou lewe sou kompliseer, maar ek kon nie langer in daardie lyf bly nie. Jy moet weet dat dit vir my baie swaar was om jou agter te laat.”

Rooikappie soek rond in haar handsak. Die kroegman is vinniger en hou ’n aantal servette uit, en sy vee die maskara onder haar oë slordig af. “Ek is so jammer.”

Luna vat groot slukke van die borrelende pienk drankie wat die kroegman voor haar neergesit het. “Hoekom my nóú kontak? Dink Pa my lewe gaan nou minder gekompliseerd wees?” Sy vee haar mond met die agterkant van haar hand af.

Rooikappie skud haar kop. “Deon moes die bankverwysing verander het ...”

“Wie’s Deon?” vra Luna kortaf, geïrriteerd met die inligting wat so bietjie-bietjie uitgedeel word.

Net toe kom Diana agter die verhoog aangestap. Sy vat Rooikappie aan die skouer, trek ’n stoel tot langs haar en neem haar hand.

“Deon, ontmoet my pragtige dogter, Luna.”

Deon hou sy hand uit met ’n elegante gebaar. Luna hoop nie hy verwag sy moet dit soen nie en skud dit vlugtig.

“Ek’s so ongelooflik bly dat jy gekom het, Luna. Ek kon sien hoeveel sy na jou verlang. Sy hou nooit op om oor jou te praat nie.” Deon kyk met deernis na Rooikappie voordat hy verder praat. “Sy is ’n regte girly girl; my twee kom uitstekend met haar oor die weg.”

Luna se hart trek saam. So haar pa het haar met twee ander vervang. Hoe kon hy? Die glas glip en val uit haar hand toe sy die knop in haar keel met die laaste bietjie pienk vloeistof probeer afsluk.

“Ek moet gaan.”

Sy gooi haar kappie oor haar kop en vlug by die deur uit. Sy vermy Marilyn en Beyoncé wat steeds buite staan en rook. Die koue naglug laat haar longe saamtrek en sy hyg na asem terwyl sy na haar kar draf. Daar sukkel sy om die sleutels uit haar baadjiesak te kry. ’n Roosrooi pant warrel in die deur van die klub toe sy wegtrek.

***

Die trane rol warm oor Luna se wange en sy vee dit vies weg. Hoe kon haar ma vir haar gelieg het? Hoe kon sy haar pa van haar af weggehou het? Wat as dit ingewikkeld sou wees, wat maak dit saak?

Dis ná elf toe sy by die oprit indraai. Sy storm die huis binne en vind haar ma op die bank besig om televisie te kyk, foon in die hand.

“Hoe kon jy?” skreeu sy.

“Hoe kon ek wat?”

“Pa is nie dood nie.”

“O.” Haar ma kyk op van haar foon en draai die televisie se klank sagter. “Hoe weet jy dit?”

“Maak dit saak?”

“Seker nie. Jy sou wel die een of ander tyd uitvind. Ek’s net bly ek kon jou tot nou toe beskerm.”

“Teen wat?”

“Het jy nie oë nie?” Haar ma stik van die lag. “Is hy nog ‘Pa’ of moet jy hom nou ‘Ma’ noem?”

Luna staar na die vrou op die bank.

“Kan jy jou indink wat die kinders by die skool sou sê as hulle moes weet jou pa is sogenaamd ’n vrou?”

“Ma het my pa van my af weggevat!”

“Nee, jou pa het homself van ons geskei toe hy besluit het om iemand anders te word.”

Trane rol woordeloos teen Luna se wange af.

Haar ma haal haar skouers op. “Dis nie dit werd om oor hom te huil nie; ek’t genoeg daarvan namens ons al twee gedoen.” Sy strek haar uit op die bank en sit die televisie harder, ’n teken dat die gesprek oor is.

***

Toe Luna wakker word, is dit sonnig daarbuite. Gisteraand se mis het verdwyn en die jakarandaboom voor haar venster is besig om talle laventelpers blommetjies af te gooi.

Terwyl sy haar oë en neus met haar mou afvee, herroep sy die droom wat sy die vorige nag gehad het: dat sy ’n roosrooi mantel vlugtig by haar graad 3-prysuitdeling sien, by haar hokkietoernooi in graad 7, by die debatkompetisie in graad 10 en laas maand gedurende haar matriekafskeid.

Was laasnag se droom blote wensdenkery? Of was hy elke keer werklik daar? Kan sy haarself hierdie geleentheid ontneem om uit te vind?

Haar oog val op die boekrak in die hoek van haar kamer. Dit word meestal vir pakplek gebruik en bevat net enkele boeke. Tussen haar selfoonlaaier en animasiekarakters herken sy haar gunstelingsprokie. Hulle het dit altyd saam gelees. Ná sy skielike vertrek, het sy nooit weer aan die boek geraak nie. Kon dit ook nie weggooi nie.

Sy haal dit uit en blaai daardeur. Die laaste leë bladsy is aan die agterkant van die boek vasgeplak. Hoekom het sy dit nooit raakgesien nie? Sy maak die blaaie versigtig van mekaar af los en tot haar verbasing vind sy ’n handgeskrewe boodskap:

My liefste Luna,

As die wolwe van die wêreld om jou sluip, onthou om jou intuïsie te volg en na jou innerlike stem te luister. Ek het dit lank nie gedoen nie, maar daaroor is ek nie spyt nie, want ek het vir jou. Jy is die prinses in elke sprokie. My happy ending. My dierbare Rooikappie, wanneer dinge onseker of anders lyk, vertrou net op my liefde vir jou.

Pa

Dis dan die rede hoekom hy Rooikappie as sy alterego gekies het. Oor daardie boek en hulle gedeelde tye. Wanneer het hy die boodskap geskryf? Kort voor sy vertrek? In die hoop dat sy dit binnekort sou kry?

***

Die volgende Saterdag sit Luna buite Dryad’s Daydream in haar kar en wag. Senuweeagtig steek sy ’n sigaret aan. Sy het die enjin laat vryloop sodat sy haar gunsteling-Wolfmother-liedjie oor en oor kon luister. “Woman” hou op speel toe sy die enjin afsluit, net toe ’n roosrooi warreling om die hoek van die nagklub verskyn. Luna voel hoe ’n glimlag aan haar mondhoeke trek. Sy sluit haar kar, trek die kappie met die wolfore oor haar kop en stap die roosrooi pant tegemoet.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top