A society that puts equality before freedom will get neither.
A society that puts freedom before equality will get a high degree of both.
– Milton Friedman
Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) is ’n breë politieke en sosio-ekonomiese opheffingsprogram wat sedert 1994 deur die ANC-beheerde regering ingestel is as deel van die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP). In ooreenstemming met tradisie is ’n spesiale SEB-kommissie saamgestel, wat na vele harde werk terugrapporteer dat die doel van SEB is om "die ongelykhede van die verlede aan te spreek deur die oordrag van die eienaarskap, bestuur en beheer van Suid-Afrika se finansiële en ekonomiese hulpbronne na die meerderheid van die landsburgers".
As dit klink na grootskaalse nasionalisering, moenie vrees nie – ’n paar koelkoppe binne en buite die nuwe regering kon darem daarin slaag om hulle sosialistiese en kommunistiese kamerade te kalmeer en te oortuig van die deugsaamheid van plaaslike en internasionale kapitaal en industrie, veral gegewe die post-Berlynse-muur tydsgees.
Die SEB-program is dus geïmplementeer deur ’n kombinasie van wetgewing, sektorale kodes en sosio-ekonomiese groepsdruk. Die aanvanklike wetgewing is sedert 1994 al verskeie kere hersien, maar die mees onlangse weergawe wat in Oktober 2013 in die Staatskoerant gepubliseer is, bestaan nou uit die volgende vyf breë afdelings:
- Eienaarskap (aandeelhouding)
- Bestuur
- Vaardigheidsontwikkeling
- Besigheids- en verskaffersontwikkeling
- Sosio-ekonomiese ontwikkeling.
Ekonomies gesproke bied die eerste een, die gedeeltelike oordrag van eienaarskap na nuwe swart aandeelhouers, die grootste uitdaging aan maatskappye, omdat aandeelhouding ’n kapitaalbate is. ’n Maatskappy se aandeelprys is in ’n sekere sin die huidige waarde van al sy toekomstige winste, en dié moet nou op die een of ander manier eindig in die hande van nuwe aandeelhouers wat tipies nie daarvoor kan betaal nie. Die ander vereistes is almal lopende uitgawes, soos salarisse, opleidingskostes en dies meer, en dus ekonomies makliker haalbaar op langer termyn. Aan die ander kant is hierdie lopende uitgawes permanent van aard, terwyl die oordrag van aandele (teoreties) net eenmalig hoef plaas te vind.
Dit is belangrik om te verstaan dat ’n SEB-aandeletransaksie nie noodwendig ’n koste vir die maatskappy se bestaande aandeelhouers, en dus ’n ekonomiese meevaller vir die nuwe swart aandeelhouers, hoef te verteenwoordig nie. Waar ’n kwalifiserende swart beleggingsgroep byvoorbeeld die nodige persentasie aandele, tipies rondom 26%, teen die heersende markprys koop, sonder enige ander buitengewone toegewings of diskonto’s deur die maatskappy, het daar geen “bemagtigingspremie” verlore gegaan nie (adviesgelde natuurlik uitgesluit).
Die ekonomiese realiteit is egter dat daar juis ’n groot tekort aan swart kapitaal is, en dié wat dit wel het, kan kies en keur waar hulle wil belê. Maatskappye wat nog nie bemagtig is nie, ding mee om hierdie skaars kapitaal en is daarom bereid om teen ’n laer prys te verkoop of om ander toegewings te maak.
’n Meer haalbare manier vir meer swart beleggers om “gratis” deel te neem aan bemagtigingstransaksies is dus ontwikkel deur die goedbetaalde breinkrag wat werksaam is in Sandton se aksepbanke en regsfirmas: sit ’n swart konsortium bymekaar en gaan leen die nodige fondse om die aandele te koop, met die aandele wat dan as enigste sekuriteit dien.
Hierdie aanslag het egter ’n paar nadele:
- Om aandele met geleende geld te koop is uit die aard van die saak baie riskant. Indien die totale opbrengs op die aandeel (met ander woorde die kapitaalgroei, wat negatief kan wees, plus enige dividende) minder is as die rente wat op die lening gehef word, kan daar groot verliese ontstaan. Die swart beleggers kan nie hierdie risiko dra nie, maar geen probleem nie: laat die maatskappy dit doen!
- Die lening en rente moet een of ander tyd terugbetaal moet word, wat meestal net kan gebeur deur weer ’n groot deel van, of selfs al, die aandele te verkoop – weg is die swart aandeelhouding! Daar is steeds heelwat debat oor hierdie aspek van bemagtiging en ons het nog lank nie die laaste hiervan gehoor nie.
Ten spyte van hierdie nadele maak dit egter steeds sin vir maatskappye om hulle SEB-transaksies op hierdie basis te struktureer, en wel om die volgende redes:
- Anders as die geval waar die swart kopers hulle eie kapitaal bring, kan die maatskappy voorwaardes dikteer en selektief wees oor watter swart groepe of individue die begunstigdes gaan wees van dié se welwillendheid. Die aantal potensiële swart aandeelhouers sonder kapitaal is tog veel groter as dié wat wel daaroor beskik.
- Deur die lening se rentekoers hoog genoeg te stel en alle dividende terug te hou tot die lening ten volle vereffen is, hoef die bemagtigingstransaksie die bestaande aandeelhouers niks buiten adviesgelde te kos nie, aangesien die aandele ten volle gaan terugkeer na die maatskappy toe wanneer die lening en (hoë) rente uiteindelik betaalbaar is.
Intussen lag die prokureurs, rekenmeesters en bankiers natuurlik al die pad bank toe oor al die professionele en ander gelde wat hulle verdien om hierdie transaksies uit te dink, te dokumenteer en te bestuur. Dit laat ’n mens wonder of daar nie ’n meer effektiewe, regverdige manier was om hierdie aspek van swart bemagtiging te hanteer nie.
Natuurlik was daar.
Alle maatskappye kon bloot ’n sekere persentasie nuwe aandele gratis aan ’n nasionale “bemagtigingstrust” uitgereik het. Dalk nie 26% nie, maar ten minste sou daar geen skuld teen die aandele gewees het nie, sodat die ekonomiese voordeel van die aandeelhouding oor tyd kon vloei na hulle wat ekonomiese bemagtiging die meeste nodig het – verkieslik gebaseer suiwer op ekonomiese agterstand en nie velkleur of invloed nie.
’n Ekonomiese herverdeling, dus, vanaf hulle wat het, na hulle wat kort.
Klink dit bekend? Sowaar – dit is dan niks anders as belasting en maatskaplike besteding nie! Korporatiewe inkomstebelasting beloop tans 28%, wat beteken dat die staat effektief ’n 28%- (voorkeur-) aandeelhouding besit in elke besigheid in Suid-Afrika, reeds heelwat meer as die 26%-SEB-aandeelhouding waarna vele sektore mik (voor aftrekking van lenings). Tel hierby die verdere 15% dividendbelasting wat individuele beleggers betaal wanneer winste uiteindelik aan hulle uitgekeer word en die effektiewe aandeelhouding van die staat in Suid-Afrika Bpk is amper 39%, en dan praat ons nog nie eers van BTW, kapitaalwinsbelasting, invoertariewe, die brandstofheffing, munisipale eiendomsbelasting en ’n swetterjoel ander heffings nie. Op die persoonlike inkomstevlak gaan dit nog swaarder, waar hardwerkende burgers volgens ’n glyskaal tot soveel as 40% moet opdok aan Jan Taks.
Ruim 60% van die nasionale begroting (ongeveer R660 miljard in 2013) word dan ook toegewys aan maatskaplike besteding – dubbel Nigerië se totale begroting, al is hulle ekonomie groter as ons s’n. Natuurlik sou ons almal wou sien dat daar nog meer gedoen moet word vir diegene met die grootste ekonomiese nood, maar die werklikheid is dat die belastinglas reeds te hoog en gekonsentreerd is, terwyl die maatskaplike nood onversadigbaar groot bly. Die meer volhoubare strategie sou wees om ekonomiese groei, werkskepping en onderrig te bevorder, maar die unies bly die grootste struikelblok in hierdie proses.
En so het ons toe geëindig met die finansiële alchemie van SEB-aandeelhouding, waarin ‘n beduidende persentasie van Suid-Afrika se maatskappye mirakelagtig in swart hande moes beland, maar sonder onteiening deur die staat. Ja, daar was ‘n paar wenners in hierdie proses, maar die behoeftige en ongeskoolde massas het op enkele uitsonderinge na nog nie veel baat gevind by hierdie grootse sosiale heropbou nie.
Dalk moet ons maar weer probeer.
* Theo Winter is in die finansiële wêreld werksaam, want iemand moet dit seker doen.


Kommentaar
Alles baie goed uiteengesit. Een merkbare SEB verskynsel is die ontstaan en groei van die opkomende verbruiker oftewel swart diamant. Dié subsektor van die groeiende middelklas is óók grootliks te danke aan SEB-voorskrifte vir indiensneming, vergoeding en natuurlik 'n ontploffing in regeringsposte en salarisse vir daardie poste. In gevalle waar gelyke geleenthede in onderrig, indiensneming en verdere persoonlike ontwikkeling hierdie nuwe verbruikers genereer kan dit as 'n werklike sukses beskou word. Daar is baie voorbeelde hiervan en om eerlik te wees sou / sal dit nie sonder 'n bietjie 'aansporing' van die regering se kant af gebeur (het) nie.
In gevalle waar onbevoegde persone aangestel word in poste bo hulle vuurmaakplek met beperkte aanspreeklikheid, soos wat baie maal die geval is in die publieke sektor, boer mens vinnig agteruit en daarvan is daar ook heelwat voorbeelde. Die oplossing lê myns insiens 100% by die verskaffing van kwaliteit, bekostigbare onderrig vir die hele Suid-Afrikaanse bevolking (as jy my toelaat sal ek die orde van jou volhoubare strategie omkeer) en natuurlik is daar baie uitdagings op hierdie gebied (weereens is die privaatsektor nie blind vir die geleentheid nie). 'n Goeie onderrig plaas mense op wen-wen paaie van werksekuriteit by bestaande instansies met die geleenthede en vergoeding wat daarmee gepaardgaan of intrepreneurskap met al die opwinding, spanning en belonging wat dit vergesel. En is laasgenoemde nie die oorspong van aandeelhouding in die eerste plek nie?