Die wit koppie

  • 0

Sy sit by die ronde bruin tafel, sederhout, nee, dis iets anders, dit sal haar wel later byval wat. Die koppie in haar hand is deurskynende wit porselein. Die goue randjie is bykans afgewas, maar nog sigbaar op die oor.

Die stel het sy in Limoges gekoop. Dit was tussen strooi in ’n houtkissie verpak sodat sy dit huis toe kon bring. Tog was twee koppies gebreek toe sy dit uitpak. Die stel was oor die jare die middel tot vele gesprekke, vieringe en vertroostinge. Sy’t nou die dag die laaste piering teen die wasbak versplinter. Gelukkig was dit die piering en nie die koppie nie.

Haar rooi lipstif sit aan die buitekant van die koppie, nou geplat en sonder die buitelyne en strepies wat haar lipafdruk tevore gekenmerk het, toe haar hande ook nog slank en soepel was. Die binnekant van die koppie het ’n bruin ring om en ligte koffielyne wat afloop tot op die bodem. Met ’n nat vinger tel sy stukkie vir stukkie beskuitkrummels uit die pakkie op en sit dit op haar tong. Die knarserige boerbeskuit smelt soet weg.

Sy skommel die koppie vir ’n laaste slukkie, maar net die droesem is oor. Mooi woord droesem. Maar speel met woorde gaan nie help nie. Die einde is bereik, van haar verset, haar energie en haar uithouvermoë. Ook van die suikerpot, en die beurtkrag het net na die middagketel se kook weer uitgeskop. Vir wie weet hoe lank dié keer.  

Sy verskuif op die stoel. Aanhou beteken verseker ouetehuis toe, want alleen kan sy nie meer bly nie. Dit neem nou al ’n hele oggend om op te staan, aangetrek te kom en iets te ete te prakseer. Die badwater staan al drie dae lank, want sy kan nie meer buk om die prop uit te trek nie, die kettinkie is lankal af. Sy weet sy moes eerder net by die wasbak gestaan en was het. Gewag het tot Daleen kom om haar met die weeklikse bad te help, maar dit was so koud dat sy ’n warm bad nie kon weerstaan nie. En, voorspelbaar seker, gly sy en beseer haar bobeen toe sy teen die rand val.

Sy het op uithoudruppels en smeer-spoegies-aan grootgeword, en drink nie sommer ’n pil vir pyn nie, maar selfs dié bring nou net kortstondige verligting. En gee haar ’n dowwe kop. Laat haar buite haarself dryf en neerkyk op ’n droë ongeurige lyf.  Sy trek haar kamerjas weer toe, die voorpante wat nou al heeltemal oormekaar kan vou.

Na die val het sy heeldag in haar nagjurk gebly. Die linne is al plek-plek deur gewas, behalwe die fyn borduursel van Vlaamse kloskant wat sy self nog in Brugge gekoop het. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy nie dagklere aantrek nie, behalwe as sy siek in die bed was. Elke oggend darem nog die lipstif uit die yskas gehaal en aangesit. ’n Truuk wat haar grimeerder haar destyds geleer het.

Haar oë volg die vlieg wat uit die vullisblik opstyg. Die blik het omgeval en sy kan net wegkyk. Kan ook nie die plassies om die toilet bykom nie. Genade, wat is volgende? Die eenkamer-woonstel het nie plek vir ’n inwonende versorger nie, en sy hou daarvan om op haar eie rustig te sit, musiek te luister, te lees. En sy kan in elk geval nie ’n voltydse helper bekostig nie. Moes al ’n jaar lank sonder telefoon en televisie klaarkom en die weeklikse inkopielysie raak ook al hoe korter. Sy skakel die radio af, sy kan sonder die vyfuur-nuus klaarkom, maar sit dit dan tog uit gewoonte weer aan. “Staking van Eskom-werkers mag dalk na beurtkrag lei vir die res van die week.” Sy skakel die radio af. Wat nou nog? Die waterbeperkings is sy al gewoond, maar nou elektrisiteit weer daarby? Sy sal vanaand moet water kook en in ’n fles gooi dat sy darem môreoggend ’n koppie koffie kan maak as die krag dan wel af is. Sy bly sit, die gedagte aan die ketel vul, die groot fles bo in die kas uithaal en vol maak net te veel.

“Nou ja Friede, wat gaan jy doen? Ophou? Mens kan ook nou nie net sit en doodgaan nie. A nee a, dis net boedel oorgee. Kan jy nou dink hoe dit sal wees as Daleen jou al aan die verrot moet kry?” Die woonstel onnet vind is een ding, maar om haarself in ’n toestand te laat verval is ’n ander.

Sy wens Neels van langsaan was nog daar om haar die besluite te kan help deurwerk. Sy leuse is seker nog steeds: hoogskop, opskop, emmer net misskop. Maar hy is vier dae gelede hospitaal toe met ’n gebreekte heup en sy dink nie hy sal maklik weer alleen na sy woonstel terugkeer nie.

“So, wat van die ouetehuis hier naby? Ek gaan tog eendag soontoe en ons sal kan kaart speel,” maak sy Neels se stem na. En antwoord: “Dan moet ek dag in en dag uit tussen ’n klomp vreemde mense sit en kwyl en skuifelpassies maak . . . Ge-hallo hartjie of Mevrou word, waarvan ek nie een was nie. Nee dankie, Neels. Ek is nog my eie mens.”

Neels het haar gereeld geterg dat sy ’n snobis is. Tot ’n mate is hy reg. Al bly sy in die woonstelblok wat tien teen een ook volgende jaar gesloop gaan word om plek te maak vir luukse woonstelle, betaal sy nog self daarvoor. Die huur is wel laag, aangesien die eienaar destyds een van haar klavierstudente was wat nou in Frankryk bly. Maar sy sal wel moet uittrek as die ontwikkelaars die res van die gebou bekom.

’n Ander plek op haar eie sal sy nie kan bekostig nie en om een op te spoor is net te veel moeite. Al uitweg is dan seker maar ’n ouetehuis. Sy het twee jaar gelede ouetehuise met Neels besoek en weet die roetine wat hulle volg is belangrik, sy weet baie mense is gelukkig daar. Weet Neels sal in enige plek vriende maak.

Sy trek die telefoonboekie met die pienk rosies op nader, blaai bladsy vir bladsy deur. Herroep haar leerlinge, die vriende wat ook al oorlede is, net ’n niggie nog in Amerika. Neels het haar bly aanmoedig om weer betrokke te raak. “Jy het so baie om te gee. Gaan lees stories by die biblioteek, of neem soms by my oor.”

Hy lees twee keer ’n week vir ’n bedlêende vriend van hom in ’n ouetehuis. Daleen was al saam, kon egter nie verby die onhandigheid kyk nie, die vrees om self so afhanklik te word te groot. En, erger nog, om ander te moet teleurstel as syself ’n dag nie kan opdaag nie. Eerder dan alleen bly.

Daleen. Behalwe Neels al wie sy nou nog mee gesels. Haar sielslafenis. Hulle was verlede week nog uit met die rolstoel, op die Promenade gaan son soek. Die laaste rit uit, want met die terugkomslag het hulle twee ure vasgesit in die hysbak, en die skande wat Daleen daarna moes opdroog sal sy nooit weer wil ervaar nie.

Daleen het getroos: “Enigeen kan ’n glips kry. Dis nie die einde van die wêreld nie! Kom ek maak alles reg, dan drink ons ’n koppie tee.”

Maar Daleen kan nie meer alles regmaak nie. Nie die onvoorspelbaarheid van die elektrisiteitsvoorsiening, haar toenemende afhanklikheid teenoor haar onwilligheid om hulp te aanvaar en om voorgesê te word soos ’n kind nie.

Friede kyk na die paar portrette van haarself teen die muur agter haar bed. Daleen vee weekliks elke stoffie versigtig van die bladgoud-rame af, al het sy haar eers leer ken lank nadat haar vingers verstyf het. Saam het hulle nog soms na die plaatopname van haar eerste optrede in Carnegie Hall geluister, toe die dirigent van die New York Philharmonic haar as klaviersolis bekendgestel het met: “Miss Friede de Lange, from South Africa.”

Daleen kon haar passie vir opvoerings deel, haar kleinkind is immers ’n ballroom dancer. Sy wys Friede gereeld foto’s en video-opnames op haar selfoon. Die meisie waardeer ook dat die kunste animo en aanhou verg. En hoe ekstase kan opwel uit die verruklike uitputting met die sak van die gordyn. Tot die motorongeluk wat haar laat ophou speel het. Nou ja, sy kon darem nog klavierlesse gee, tot sewe jaar gelede.

Daleen kom môre, met die week se inkopies en nuwe biblioteekboeke. So terug na die besluit.

Aanbly of afsit.

“Friede, kom tog nou tot ’n besluit.” Sy klik haar tong. As sy aanhou sál Daleen môre ’n maatskaplike werker gaan roep. So, as sy ophou moet dit vannag wees.

“En wat sal die mense sê?” het haar nog nooit gepla nie. Sy het gelewe soos sy goedgedink het. Sy wens net die doodsertifikaat sal “by haar volle positiewe” langs “selfdood” lees. Ag wel, so is dit maar. Self lewe en self dood. Dit kon erger gewees het.

En as ophou-slag?  Sy was nog nooit ’n masogis nie. Dis hoekom sy drie jaar gelede by die stokvel aangesluit het. Die Stok-ou-velle-klub.

Dis juis Neels wat haar daar voorgestel het na een van hul geselsies. Seepunt is mos vol ou mense wat gereeld op die promenade kom stap. Self, of met kieries of looprame, of word met rystoele rondgestoot. Sy is nog as lid aangeneem tydens ’n teedrinkery langs die Rocklands-strandjie. Klublede ontmoet persoonlik wanneer hulle kan, of stuur pakkies met vertrouelinge as hulle nie die maandvergadering kan bywoon nie.

Die pakkies het koekies in, en daaronder, pille. Pynpille en slaappille wat oorbly na ’n operasie of as iemand doodgaan en die pille agterbly. En die enigste aangekooptes is anti-naarheidpille om die ander pille binne te hou wanneer die tyd kom.

Die een met die sterkste redenasie kon die kardoesie kry om huis toe te neem. Die voorwaarde was bloot dat elkeen wat aansluit in selfdood glo, en nie ander wil betrek by hul persoonlike besluit om die lewe vaarwel te roep nie. Sy en Neels is vier maande lank die laaste twee lede en hulle het maar die kardoesie elke maand uitgeruil, die koekies aanhou opvul en opeet.

Sy trek haarself aan die tafel op, stoot die stoel met haar lyf agteruit. Hou met een hand vas aan die tafel tot by die wasbak. Sy was die koppie, droog dit af en vul dit driekwart met kraanwater. Neem die lipstif uit die yskas, sit dit in haar kamerjas se sak. Tik-tik voetjie vir voetjie met haar kierie terug bed toe. Sit die koppie en lipstif op die bedkassie, lê die kamerjas oor die voetenent en sak neer op die kant van die bed. Slaan die skryfblok oop en met haar vulpen skryf sy ’n nota aan Daleen, dateer dit en teken haar volle naam onderaan.

Draai dan skuins, haak haar bene een na die ander met die kierie op die bed. Trek haar nagjurk reg en sit lipstif aan, borsel haar silwerwit hare maar kom net tot by 23 hale. Dan skakel sy haar battery-radio’tjie aan op Fine Music Radio; ’n onderhoud met Pretty Yende, die pragtige jong sopraan wat die operawêreld verower het. Die opgewondenheid in Pretty se stem neem haar terug na haar eie beginjare, die onsekerhede en die hartstog.

Soos sy as kind met suikerklontjies gemaak het, haal sy handjie vol na handjie vol pille op ’n slag uit die kardoesie en sluk dit weg met water. Sit die koppie versigtig neer op die bedkassie. Klap haar hande: sy’t onthou! Die tafel is van rooshout.

Oorkant haar bed is die litografiese afdruk van Magritte se L’empire des lumières wat sy destyds nog in die Guggenheim-museum gekoop het. Die sagte wolke in die helder lug se wonderlike balans teen die oorgang na donker bome en die nag. Die lig aan in die boonste verdieping van die huis, die straatlamp wat die pad nouliks belig.

Dan vou mejuffrou Frieda Johanna de Lange haar hande oor haar maag en glimlag vir die eerste keer in dae. 

Lees ook

Gran Theft Auto

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top