Weke lank hoor Sanet haar kleinseun en sy vriend Ewie gil van die lag en skree “Score!” bo die gezoei van motors. Hul sit middag vir middag by die rekenaar in Andries se kamer en speel ’n nuwe videogame wat hy vir sy verjaarsdag juis van Ewie gekry het, Grand Theft Auto. Die naam kwel haar, maar sy is maar te bly hulle geniet dit en is veilig binne die huis. Nie blootgestel aan die boewe daar buite nie. Andries se fiets is juis twee weke gelede rof van hom weggeneem by ’n stopstraat.
Een middag neem sy vir hulle koeldrank en gemmerkoekies. Ewie bring ’n stoel vir haar en sy gaan sit om meer uit te vind van die nuwe videogame. Sy hou daarvan om by die jonges betrokke te bly en sien daarna uit dat hulle die nuwe opgewondenheid met haar deel.
Geskok sien sy egter dat Ewie ’n granny stamp dat sy daar trek en dat hy net aanhou ry. “Score!” gil Andries.
“Wat doen julle!?” vra Sanet ontsteld, haar oë op die stil figuur in die straat, haar loopraam weggestamp deur die motor. Sy is seker die vrou het ten minste ’n heupbreuk opgedoen, soos onlangs met haar sus Elsa gebeur het na sy net in ’n gat op die sypaadjie getrap het.
“Ag Oumie, dis net ’n speletjie,” paai Andries, en soen Sanet op haar wang.
Dié aand bespreek Sanet met haar seun en skoondogter die videogame. “Het julle al daarna gekyk?” vra sy, haar stem hoog en haar oë wyd. “Dis ’n klomp skelms wat links en regs jaag en punte verdien deur bankrowe en moord, en nogal ekstra punte kry as hulle iemand met ’n polisiemoter omry! Watse waardes word in die kinders se koppe geplant?”
Hulle belowe om te kyk, maar Sanet kan sien hulle dink sy oorreageer.
Hulle kyk toe die volgende aand, en lag saam met Andries oor die jaagtogte en botsings, geniet die adrenalien wat die speletjie laat vloei. Hul kom darem na haar kamer en sê hulle sal “dinge dophou”.
Na dese gaan Sanet nie weer in as die seuns die speletjie speel nie. Hulle voel haar afkeer aan en maak die deur toe sodat die klanke nou net dofweg deurkom. Andries is egter nog net so liefdevol teenoor haar soos altyd. Soms gaan sy maar uit om in die tuin te werk, en ontsnap so die speletjie, maar kan die gevoel nie afskud dat daar iets leliks uit die ding kan ontwikkel nie. Haar seun dink duidelik nie dieselfde oor die saak nie en sy begin wonder of sy tog oorreageer.
Vanmiddag besluit sy om gou bank toe te gaan – sy verkies steeds om kontant met ’n glimlag van ’n teller te ontvang. ’n Tiener op ’n fiets ry haar rakelings mis toe sy oor die pad stap, die groen mannetjie ten spyt. Sy tree terug en skree “Haai!” en kyk hom vies agterna.
“Suurstofdief!” gil hy terug toe hy omkyk na haar.
In die bank is ’n teller besig met ’n gryskopman voor haar. Hy stel sy gehoorapparaat op, maar kan steeds nie goed hoor deur die glasversperring nie. Toe hy eindelik geholpe is, rol die teller haar oë vir haar kollega langsaan en sê saggies hoe moeg sy vir al die krimpies is wat haar tyd mors. Daar is egter niks met Sanet se gehoor verkeerd nie, en sy hoor die woorde. “Seker julle spul gebruik toe hulle die speletjie ontwerp het,” dink sy. Sy besluit om nie nou ’n bohaai op te skop nie, maar laat net één weer oumense te na kom, dan sal hulle met haar te doen kry.
Terug in haar motor sit sy eers ’n rukkie met die venster oop om tot verhaal te kom. Net toe sy begin uittrek, sien sy in haar truspieël dieselfde fietsryer van netnou aankom, een hand op die handvatsels, kordaat regop. Sy steek haar kop uit om hom te stop, roep weer “Haai!”. Sy wil vra of hy sy eie ouma ook ’n suurstofdief noem. Voor sy iets verder kan sê, kyk hy in haar gesig vas en gooi so terloops die middelvinger na haar. Sanet trek met ’n brul weg en stamp hom van agter. “Score!” Die woede sypel uit haar uit, en sy sit arms langs haar sye en wag. Hoe onbevredigend sag was die stamp.
Kommentaar
Ek is effe teësinnig 'n bewonderaar van die ouma. Ja, ek weet mens moet nie kwaad met kwaad vergeld nie, maar as niemand die jonges leer nie, hoe gaan hulle dan grootword?
Ek is ook 'n Ouma en het nogal begrip vir jou Ouma, Renee!