"Die Winter" deur Abre van Wyk

  • 0

Die Winter

Ek hang my skuldgevoelens
oor die sekelmaan
Sodat ek môre
sonder dit kan opstaan
Ek sukkel om jou in die oë te kyk
Veral as jy so diep in myne kyk

Ek wens ek kon teruggaan
Daar waar sy voor my staan
Spyt kom altyd te laat
En “jammer” gaan ons nie baat
Ek besluit om stil te bly
Miskien vlieg dit als verby

REFREIN:
Dit voel asof ek jou mis
terwyl jy langs my lê
Jy kruip nader aan my
asof jy skielik koud kry
Jou vriesende hande druk my vas
soos dit nog altyd was
Ons huis is deesdae koud
Ek dink dis dalk my fout

Ek hou jou dop in die spieël
terwyl jy jou hare droogmaak
Jou kuiltjies, jou ken, jou lippe
Laat my hart vir ? oomblik staak
Die hael slaan my stukkend aan die binnekant
soos my hart nou huil aan die binnekant

Die winter is nou om die draai
Die wind het dit tot hier gewaai
Die berge se sneeukombersie
laat my verlang na daai ou versie
“Dis lente in die Boland ... ”
Toe vat ek maar jou hand

REFREIN:
Dit voel asof ek jou mis
terwyl jy langs my lê
Jy kruip nader aan my
asof jy skielik koud kry
Jou vriesende hande druk my vas
soos dit nog altyd was
Ons huis is deesdae koud
Ek weet dis my fout

Moedskep se graaf raak swaar
En stilbly is ook ? antwoord
Liefde oorwin mos alles
oortuig ek my C-akkoord
Skryf maar net nog ’n liedjie
en bid net nog ? klein bietjie

Dit voel asof ek jou mis
terwyl jy langs my lê

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top