Die wet van Gauteng deur Hannes Barnard: ’n resensie

  • 1

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780798182379

Die wet van Gauteng
Hannes Barnard
Human & Rousseau
ISBN 978-0-7981-8237-9 (sagteband) en ISBN 978-0-7981-8238-6 (e-formaat)

16 Februarie 2022. Kagiso. Drie lyke; een deur die linkeroog geskiet.

Aanvanklik net nog ’n moordtoneel vir die Randburgse forensiese spesialis kaptein Cindie McKelly. Maar vroeg-April, na ’n oproep uit Parktown van speurkaptein Awande Mhlanga, is dit duidelik dat daar óf ’n reeksmoordenaar óf ’n huurmoordenaar aan die werk is – verskeie slagoffers is almal minus hulle linkeroë. Politieke en mediadruk gee geboorte aan ’n taakspan met ’n spesifieke opdrag: Spoor die moordenaar, “die Oogarts”, op.

...........
Die tegniek om die leser van meet af aan in sommige opsigte effens meer inligting as die ondersoekers te gee, maar in ander opsigte effens minder as dieselfde karakters, word baie vernuftig in hierdie roman aangewend.
...............

Die tegniek om die leser van meet af aan in sommige opsigte effens meer inligting as die ondersoekers te gee, maar in ander opsigte effens minder as dieselfde karakters, word baie vernuftig in hierdie roman aangewend. Die openingstoneel is 27 April 2022 en maak dit vir die leser duidelik dat ’n skerpskutter in posisie is vir die spesifieke geleentheid. Al die karakters wat in hierdie kort toneel verskyn, is egter naamloos – en skep die agtergrond waarteen die leser se vermoë om legkaartstukkies in ’n raamwerk te pas, deurgaans uitgedaag word. Daar is ook terugflitse waarvan die relevansie eers later sal blyk: Bulgarye, 2013; Randburg 2018; Sentraal-Afrika. Die rolspelers word teen ’n vinnige tempo aan die leser bekendgestel en die hoofstukke wissel tussen tydperke, tonele en karakters. Dit herinner nogal aan die speel van Tetris: spreekwoordelike blokkies van alle groottes en vorme kom uit alle rigtings en dit word ’n lekker uitdaging om almal so vinnig moontlik iewers in te pas.

Die roman word bemark as ’n politieke riller, ’n subgenre van die klassieke spanningsverhaal met bepaalde kenmerke: hoë risiko’s; slinkse, ambisieuse en gewetenlose karakters; en ’n vinnige, spannende tempo teen die agtergrond van ’n politieke magstryd. In hierdie geval is die fokus op eg Suid-Afrikaanse intrige: korrupsie, politieke faksiegevegte en politieke marionette. Die twee hoofkarakters, Cindie en Awande, het die onbenydenswaardige taak om ’n komplekse netwerk van skynbaar onverwante insidente te ontrafel waar niks is soos wat dit voorgee om te wees nie. Die frustrasie en onmag van polisie-ondersoekers wat telkens deur politieke inmenging en die rompslomp en onbevoegdheid van staatsmasjinerie gekortwiek word, word ook realisties en oortuigend uitgebeeld.

In die geval van ’n tradisionele speurverhaal is dit dikwels moontlik om met min karakters geloofwaardige intrige te skep; dis egter selde die geval by ’n politieke riller. ’n Veel groter aantal karakters word benodig om politieke insidente oortuigend weer te gee, wat die inherente gevaar daarstel dat karakters oor- of onderontwikkel word. Die skrywer het hierdie slaggat meesterlik vermy deur aan sekere karakters, Cindie, byvoorbeeld, ’n veelkleurige agtergrond te verskaf wat terselfdertyd relevant by die ontvouing van die ondersoek is, maar ook deur ander tegnieke aan te wend om ander karakters volwaardig te ontwikkel.

...........
Die skrywer het hierdie slaggat meesterlik vermy deur aan sekere karakters, Cindie, byvoorbeeld, ’n veelkleurige agtergrond te verskaf wat terselfdertyd relevant by die ontvouing van die ondersoek is, maar ook deur ander tegnieke aan te wend om ander karakters volwaardig te ontwikkel.
............

Die gebruik van name om ’n beeld van ’n karakter by die leser te skep verdien spesiale vermelding: Wanneer ’n karakter Wilfred “Meneer” Mathosa genoem word, weet die leser onmiddellik dat hy ten minste gewaande aansien en mag geniet. Net so is die naam Lou-rindi aanduidend van ’n pretensieuse, verwaande karakter.

Die skrywer is reeds bekend vir sy suksesvolle romans vir jong volwassenes, naamlik Halley se komeet (2019), Wolk (2020) en Roet (2020) (almal by LAPA), maar met hierdie volwasseneroman vestig hy hom ongetwyfeld ook as ’n meester op hierdie gebied. ’n Toneel op bladsy 18 het my besonder beïndruk – die beskrywing van die gewaarwordings van ’n besope/bedwelmde karakter was so oortuigend dat my kop begin draai het!

Barnard slaag nie net daarin om ’n sterk spanningslyn te skep en dit deurlopend te behou nie; hy dek as’t ware die tafel vir ’n grootskaalse maaltyd op 27 April 2022. Sonder om enige verrassings in die slottonele te verklap, moet ek ook meld dat die spanning en tempo op ’n weldeurdagte wyse opbou na ’n dramatiese crescendo wat sterk herinner aan George RR Martin se berugte Red wedding.  

Twee dinge het my gepla: Die vergelyking op die voorblad dat die roman staatskaping “laat lyk na swieties steel in die hoekkafee” doen afbreuk aan die grootsheid van die roman. “Swieties” klink soos ’n kindersêding; die verkleinwoord moes eerder met “swiets” vervang gewees het. (My persoonlike smaak: ek gril vir verkleinwoorde!) Die polisiekarakters verwys ook na sake wat “uit die hof gegooi” is. Alhoewel dit dalk spreektaal vir mense buite die regstelsel mag wees, is dit ’n frase wat in werklikheid nie regtens bestaan nie, en die karakters, wat beide in regstoepassing werksaam is, sou meer akkurate terme gebruik het wanneer hulle dit met mekaar bespreek, soos “geen vervolging”, “teruggetrek”, “van die hofrol geskrap”, “vryspraak na staatsaak”, “staking van vervolging” of “onskuldigbevinding”.  

Ek bloos steeds by die herinnering, maar ek onthou dat ek destyds, na die lees van Hannes Barnard se eerste roman vir die jeug, Halley se komeet, verkeerdelik op sosiale media na hom verwys het as Marius Barnard. Ter verdediging van myself: Ek ken regtig iemand met daardie naam! Na die lees van hiérdie roman kan ek egter met sekerheid sê dit sal nooit weer gebeur nie. Sy naam is Hannes Barnard; hy is ’n skrywer van formaat. Hou hom dop! Die wet van Gauteng (“ketjieng-ketjieng-ketjieng”, aansienlik meer van ’n gesinsvriendelike spreekwoord as die alombekende destydse “Wet van Transvaal”) is ’n 5-ster-spanningsroman wat my deurgaans geboei en gefassineer het. Sterk aanbeveel vir liefhebbers van hierdie en verwante genres.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top