In Feb14 is ’n demokratiese verkose president van die Oekraïne deur ’n oproerige skare in die hoofstad Kiev van die land verjaag. Die rede? Die president het besluit om nie, soos verwag, Oekraïne ekonomies met Wes Europa te verbind nie, maar eerder met Oekraïne se tradisionele bondgenoot, Rusland te bly. Die Weste het sekere aantreklike ekonomiese aanbiedinge vir hierdie brandarm land aangebied met die voorbehoud dat verbindinge met Rusland geleidelik verswak word, en eerder mettertyd in die Europese Unie en NAVO (militêre vleuel) ingelyf word. Ongetwyfeld, agter die skerms was Westerse en VSA-agente die opstokers, wat daartoe gelei het dat die Oekraïne ’n Westersgesinde regering inhuldig, met opstand teen sodanige regering in die ooste van Oekraïne, deur Rusland geldelik en wapentuiglik ondersteun. Maar voor hierdie opstand het Rusland, na ’n demokratiese verkiesing ten gunste van Rusland, die Krem as deel van Rusland, van Oekraïne annekseer. Wes-Europa en die VSA probeer om Rusland met sanksies van die res van die wêreld te isoleer, totdat hulle besluit om die Krem terug te gee asook ondersteuning aan die rebelle van Oos-Oekraïne te onttrek.
Op die oog af wil dit voorkom dat Rusland die sondebok, die vlieg in die salf is, en Westerse propaganda verskaf vet aan hierdie waarneming. Feitlik het die storie begin met die verbrokkeling van die Sowjet Unie en die hereniging van Duitsland. Die Russe is onder die indruk dat daar ’n belofte aan die kant van die Weste was, en nou deur die VSA ontken, dat NAVO nie verder as hul posisie ten tye van die verbrokkeling van die Sowjet Unie, nader aan Rusland se grens sou uitbrei nie. Die teendeel het intussen begin gebeur toe vorige Warskou (Russies-ondersteunde) lande soos Hongarye, Pole, Tsjeggies, Slowakies, Latvia, Estonië, Lithuanië, ens in die Europese Unie en NAVO ingelyf was, met NAVO so te sê teen Rusland se grens. Met die Oekraïne by NAVO ingelyf, is Rusland uiters kwesbaar. Die Russiese vloot het basisse van Oekraïne in die Krem gehuur. Nou stel jou voor wat sou die situasie vir Rusland wees indien Oekraïne onder NAVO beheer, hulle gevra word om te verkas? Die grootste grondgebied ter wêreld met die kleinste seefront in Europa. In die Baltiese see wat helfte van die jaar toegevries is met ’n enkele warmwaterbasis in die Krem! Rusland het teen die tyd reeds begin voel hulle word deur NAVO omring en verwurg, oa met die Westerse invloed in Moldawië en Georgia wat hulle vyandig teenoor Rusland beïnvloed het.
Rusland wat natuurlik as deel van Europa hoort, word deur die optrede van die EU en VSA verdryf met hulle sanksies en gebiedsdreigemente om na ’n ander heenkome te soek, en die bevind hulle nou in die arms van Sjina! Sedert sanksies het Rusland en Sjina verskeie verdrae onderteken tot beide se voordeel, oa ’n sneltrein tot Vladivostok in die ooste, gas en minerale uitruil, gesamentlike militêre oefeninge, met die Sjinese vir die eerste keer ooit nou in die Middellandse see teenwoordig, en die beste van alles, beplanning om die Sjinese geldeenheid die Amerikaanse dollar as wêreldgeldeenheid, wat deur die Amerikaners misbruik word om lande te maak of breek, te vervang. In die proses word die BRICS (Brasilië, Rusland, Indië, Sjina en SA) lande mettertyd meegesleep.
En die pion Oekraïne! Finansiële beloftes deur die Weste word nie deur hulle nagekom nie. Soos Griekeland, moet hulle by die IMF om hulp bedel. Die land staan op die punt van algehele bankrotskap en geldelike ineenstorting! Dan is daar die moontlike politieke verskeuring van die land waar die minerale-en-nywerheidsryke Ooste hul beywer vir ’n aparte staat in die skaduwee van Rusland.


Kommentaar
Jaco goeie geskrif van jou. As ek dit reg het "behoort" die Oekraïne nie aan Rusland nie. Dit is 'n geskil waaroor ek my glad nie kan uitlaat nie, maar soos jy dit tereg sê, die Weste vroetel en konkel in daardie geweste. Die VSA en sy meelopers is die voorbokke. Die vraag kom by my op wat is in daardie streek wat so belangrik vir die Weste en die VSA is. Die VSA en sy bondgenoot Brittanje is die voorlopers van destabilisasie, veral in Afrika en dit wil voorkom nou ook in Asië. Die geskiedenis is 'n duidelike bewys daarvan. Ons kan dit hier sien met die FIFA-sage. Hoekom het die "verslag" nou ewe skielik die lig gesien. Ek praat dit nie goed wat die regering gedoen het nie, maar wat die hel het dit met die VSA uit te waai wat ons FIFA sou betaal het? Die $10miljoen is kleingeld in vergelyking met wat die totale inkomste vir die land was. Ons wag en sien wat gaan gebeur. Die manne in die land voel vet mooi nokkol vir enige internasionale besluit. Hulle is mos nou in beheer en so gaan dit bly. Ek sien HKGK indien daar 'n ommeswaai in die land se politiek kom en die ANC uitgestem word. Hulle sal not de moer vreedsaam mag en beheer oorgee ...
Reusedwerg
Jy het 'n paar onderwerpe hierbo geraak.
Mbt Oekraïne. Die land behoort nie aan Rusland nie, maar aan sy eie bevolking. Die skeuring onderling het plaasgevind agv 'n ongrondwetlike verdrywing van 'n demokraties gekose president,wat hoofsaaklik deur die ooste en merendeels Russiessprekende burgers ingestem is. Die Kiev-skare het onwetlik opgetree, ooglopend deur die Weste aangehits met die verdrywing van hul president. Sedertdien het 'n verkiesing plaasgevind wat 'n westers gesinde regering ingestem het, ook as gevolg van die ooste wat merendeels buite stemming gebly het te midde van die burgeroorlog.
Die Krim, voorheen deel van Rusland, het oorweldigend vir hereniging met Rusland gestem, welke uitslag nie deur die weste erken is nie. Die dubbele standaarde van die weste, is met hulle inmenging en erkenning, kon Kosovo van Serbia wegbreek, maar waar dit by Rusland kom, is die Krim uitslag vir hulle 'n 'no-no'.
Die jongste nuus is dat die VSA voornemens is om swaar wapentuig by aangrensende NAVO-state soos Latvia, Finland, Estonia en Lithuanië te posisioneer wat die Russe nou erg ontstig en hulle het teruggekap hulle gaan kernwapentuig by die genoemde grense aanbring, gemik teen hierdie lande, om hulself van die VSA te beskerm. Sodra dit gebeur, wees verseker ons staan op die drumpel van ’n derde wêreldoorlog.
Mbt tot FIFA is ek glad nie op hoogte nie, weens geen belangstelling aan my kant nie. Al wat ek kan sê is dat enige vorm van korrupsie, van watter aard en oord ook al, geensins my persoonlike goedkeuring sal wegdra nie.
Ek is glad geen ondersteuner van die ANC nie, maar wat ek wel van hulle kan sê is dat hulle tot dusver die konstitusie eerbiedig asook alle hofuitslae teen hulle uitgespreek gehoorsaam het. Al hulle strukture is uiters demokraties ingestel met ’n verdraagsaamheid van rebelle in die party (soos Malema voorheen), wat my skoon verbaas. Ek persoonlik is optimisties dat hulle enige verlies van mag by die stembus, nie militer of gewelddadig sal teenstaan nie, aangesien een swart politieke party met ’n ander swart meerderheid politieke party (DA en alliansie) vervang sal word.
Jaco, gelukkig het ek of niemand wat ek ken 'n kristalbal om in die toekoms mee in te kyk nie. Die Russe en Amerikaners het al by vorige geleenthede die swaarde laat ritsel maar ek dink dis maar 'n magsvertoon. Ek sien dat Putin nou aangekondig het dat hulle sowat 40 atoom ICBM in hul verdedigingsnetwerk gaan opneem. Ek wonder of hulle reg getel het? Wat my laat regop sit is die feit dat die Japanese 'n ou wet herroep het wat hul verbied het om aan internasionale konflikte deel te neem. Wat weet hulle wat ons ander siele nie van weet nie. Hier by die huis verbaas die "politiek" my nie juis nie. Ek steur my nie veel daaraan nie want van 'n geknoeiery, rugstekery en geskinner wil ek nie weet nie. Ek weet net ons behoud in die land sal die etnisiteitsverskille wees. Ek is nie meer verstom wat hier aangaan nie. Die huidige regime het die uitsonderlike vermoë om hul name gat te maak. Maar in wie se oë? Ek huldig nog steeds die mening daar sal dringend na 'n alternatief vir Westerse Demokrasie gesoek moet word. Afrika-demokrasie werk anderste. Sal maar wag en sien wat gaan gebeur.
Reusedwerg
1) Heeltemal reg. Enige veronderstellings van toekomstige uitslae is suiwer spekulatief, selfs die moontlike gevolge van wat jy in jou eerste respons vir die toekoms voorsien het.
2) Vergeleke met ander Afrikalande, handhaaf SA, met ANC onderskraging daarvan, 'n westerse demokrasie, wat ek geensins onveranderd sal wil sien nie. Dat die ANC 'n gat van homself maak, stem ek met jou saam, dus die dat hulle ondersteuning besig is om te krimp. Die munisipale verkiesings volgende jaar sal bepaal tot watter mate.
3) Die Japanese is na WOII deur die Amerikaners per oorgee "surrender" bepalings, verbied om militêr by enige geskille in die verre-ooste betrokke te raak. Sedertdien het die taak met vele koste op die VSA se skouers geval om die vrede in die verre-ooste te handhaaf. Dit is die VSA wat die Japanese onlangs versoek het, om sodanige taak vir die Amerikaners ligter te maak, deur militêr betrokke te raak. Die Japanese was eers teensinnig, maar sedert Sjina onlangs sekere eilande beset het wat Japan op aanspraak maak, en die VSA niks daaromtrent gedoen het nie, het hulle ingestem om betrokke te raak. Ek sien niks sinister aan sodanige militêre betrokkenheid nie.
Dankie Jaco. Ek het vergeet van die Sjinese wat wou beslag op die eilande lê. Ek dink daardie manne se geveg is ook nog nie oor nie. Wat is jou mening of vooruitskouing, wat onregverdig is om enige iemand te vra, die rol wat die Noord-Koreane gaan/wil speel. Hulle maak net geluide en dan is hulle weer stil. Die Bolsjewiste is die manne wat nie net praat nie, hulle voer hul dreigemente uit. Wat my ook laat wonder het die sg Islamitiese Staat. Bestaan daar werklik so iets of is dit deur die VSA geskep? Wat my betref is die Islamitiese Staat al die lande waar die wet van Islam geld en kan daar nie grenslyne getrek word.
Reusedwerg
1. Noord-Korea: Is ’n Land wat so graag op baie wil roem, maar amper geen impak op die wêreldtoneel het nie. Al spog hulle van kernwapens, het hulle nie die vermoë om dit veel verder as die onmiddellike omliggende lande te kan aanwend nie. Durf hulle ander reuse-buurlande soos Sjina of Rusland te probeer aanvat, is hulle vermoë om skade te kan verrig waar dit tel, weens onoorbruglike afstande van genoemde state se hoofstede en digste bevolking, van gener logistieke waarde nie, nie eens die afstand van die VSA gepraat nie! Sou hulle 'n kern-aanslag enigsins loods, staar hulle, as redelike klein land, 'n onmiddellike algehele uitwissing in die gesig. Dit is 'n land met die ergste menseregte-vergrype in die wêreld, wat na my mening verdien om militêr oorgeneem te word, en ook na my mening nie saak maak watter een van die groot moondhede dit doen nie.
2. Die Islamitiese Staat is 'n opportunistiese staat in wording wat die verwarring en wanorde in die Midde-Ooste tot eie voordeel benut. Dit is 'n fundamentalistiese uitvloeisel van Al Kaida, wat ten doel het om die Koran en Sharia-wetgewing op alle onderdane af te dwing. Islamitiese lande soos Saudi, Sirië, Jordaan, Irak, Iran, Turkye streef gesamentlik om ISIS te vernietig wat hulle afsonderlike Islamitiese onafhanklikheid bedreig. Die VSA kan hoegenaamd nie vir die optrede en territoriale suksesse van ISIS geblameer word nie.
Ek stem oorwegend saam met wat hier gesê word oor die rol van die Weste in die algemeen. Die verstommende is die absolute eensydige beriggewing (eintlik blatante propoganda en leuens) wat in die Westerse media verskyn oor wat in die Oekraine aan die gebeur is. Een ding staan soos 'n paal bo water; lande het nie vriende of vyande nie, net belange en as mens alles in oënskou neem blyk dit duidelik ook hier die geval te wees. Daar is ontsaglik baie geskryf hieroor maar ek plaas net een alternatiewe mening (en daar's baie!) uit Amerika self wat gevolglik in Engels is. Hopelik gee dit nog verder perspektief alhoewel alles steeds blote menings is: Russia's remarkable renaissance (and why the West is seeking to crush it) http://journal-neo.org/2015/03/09/russia-s-remarkable-renaissance-2/