Die weerwiel sal draai

  • 0

Die weerwiel sal draai

Foto: Canva

In die toestand van Natuur
verloor ons nederig teen die weer.
Smeek Ra en Maangety vir lewensduur
langer as wat die grotmuur ons leer.

In toom en beteuel
deur die greep van reënval
en die storm se oordeel
is finaal of hitte besluit heeltemal.

Gekose vir die aasvoëls of Kalahari
kompos, bosveldkos
trap suutjies na die bessietros:
sal dit versadig of vergiftig slu?

Eendag 12 000 jaar gelede
laat val ’n versamelaar sy koringsaad
en om hom groei besittings en hoogverraad
teenoor die sterflike farao wat speel-speel heers oor die velde

Die vrouens, nou geketting, moet baar
vir werkers en weermag
en ons grawe, pluk en plunder enige bedrag
om te ruil vir méér en nóg opgaar

Sien jy die strale nader brand?
Almagtig omdat ons kan opkyk
en deur besoedel en ontbos verryk,
maar die son sal wraak neem in die naam van die land.

Modderhutte sal om ons smelt
en dun straaltjies kraan-chemikalieë brand die vel,
want ons intellek en innovasie vertel
’n oorlogsverhaal met die wildernis as held.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top