
“Die weduwee wat soos ’n feniks gerys het en kon miaau van daggasjokolade” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Die weduwee wat soos ’n feniks gerys het en kon miaau van daggasjokolade
Dit word skerp lig in hierdie kamer. Ek het al vergeet hoe lig so skielik en helder deur ’n kleiner venster kan skyn. Of is dit van die cannabis-sjokolade?
Die goed laat my wel lekker slaap, maar ek hoor en sien en ruik baie skerper wanneer ek met piepietye wakker word deur die nag. Ek het ’n hele blokkie geëet ounag, na hý gery het.
Gisteraand. Hy. Wat de fok? Regtig?
Ja, hy het werklik vyftig minute lank gery en tien oor tien hier ingeloop.
“Hallo, Kwagga.”
Ek het nie regtig gedink ek gaan my eie stem dit hoor sê nie. Tog het ek vinnig gaan stort en vir my syglad geskeer.
En toe staan die viriele lang, lenige man met die perfekte glimlag hier.
En hy sê hy wil nie wyn hê nie; hy drink nie meer nie.
Ek het ’n klein bietjie van ’n giggel-histerie in my voel opborrel, want, o fok, wat nou, wat maak ek met een wat nie wyn vat nie? Sallie deug nie, Retha.
Ek vis maar uit na sy gesondheidsprobleem en toe staan daar ’n tweevingertjie-bietjie rooiwyn in ’n glas voor hom.
Net sodat ek gemakliker is, sien? Want ekself was ’n hele bottel rooi al warm, dié dat die whatsappery uitgeloop het op ’n ek-ry-sommer-nou-na-jou-toe.
My tweesitplek-leerbank is koel vanaand, ’n ware lafenis, onder die omstandighede. Ek speel musiek en babbel soos ’n bakvissie. Die mooie ding is negentien jaar my junior. Ek breek vanaand sewentig-maal-sewe van al my selfopgelegde reëls.
Toe maak hy my stil.
Net só. Met warmte en ’n sekure maar sagte dwingendheid oor my mond. Ek word soos karamel teen sy bors. Vanaand sal ek oop wees. Sag wees, weer vrou wees.
Tog veilig wees.
Hy lig sy kop, kyk my mooi aan. “Bed toe?”
Ek sê ja. Ek weet mos waaroor dié gaan.
Niks is vreemd nie.
Ek voel nie sleg nie.
Ek voel nie goedkoop nie.
Sy manlikheid is soos vars bergwater. Dit is natuurlik. Dit omsluit my, dit vul my en dit maak my ’n klein bietjie seer, soos yskoue water op vuurwarm vel ’n klein bietjie prik maar tog ook verkwik.
Ek wens ek kan vir hom meer gee; ek wil woes wees vir hom. Ek wil hom ure en ure hier hou; dinge met my mond en my tande aan hom doen wat hy môre en in die dae wat voorlê, sal onthou en wat hom in die geheim weer hard sal laat word as hy daaraan dink. Dit is wat ek vir hom wil doen! Vir hom iets gee om saam te vat van hier af ...
Maar ek is onbeholpe; ek is nog nie op gelyke speelgrond nie.
Ek is eintlik nog oorbluf soos ’n standerd 8-skooldogter wat skielik eerstespan moet speel.
Ons lê, ek asem hom in: die reuk van man; die reuk van liefdemaak-gom; sy hier-wees.
Ek dink, hierdie sal ek vat. Ek sal dit in ’n boek sit en al bêre ek dit in bladsye of pars dit soos ’n blom, dis myne. Al kom hy nooit weer terug nie.
Ek vat dit, Kwagga.
Ons lag oor dit en dat. Hy praat oor sy broers. Ek soek vir sy storie. Daar moet iéts wees. Alle mense het ’n storie. Hy maak toe, soos ’n see-anemoon vou hy daai tentakels versigtig toe voor die kern.
Wat is dit, Kwagga, wat jou laat alleenloop? Jy, met die mooi so in jou skoene en in jou jeans en veral agter daai sonbril?
Hy het gery en nie oorgeslaap nie.
It was all over in three hours.
Die daglig kom skerp by dié kamer in, kom my gedagtes weer terug na my toe, hier in die bed. Dalk moet ek tog maar seker maak alles was nie net ’n droom nie. Is dit nie net ’n versinsel van die daggasjokolade nie?
Gist’raand se bietjie skottelgoed is onaangeraak.
Vroegoggend se enkel-koffiekoppie en die blenderbeker van die piesang-gemmer-futurelife-smoothie nou bo-op dit als.
Reent slaan teen die ruite al van ounag af; die lig is onbehoorlik vir drie-oor-elf en ek trek weer die duvet oor my kop.
Laudo sing: In die donker voel ek veilig.
Dis donker onder die duvet en warmer, al is my derms geknoop.
Dalk is dit net die donnerse ongenaakbare winterweer.
Of, dalk oor ek weer alleen moes slaap, sonder my onoorslapende drie-uur-kuier kammabeminde.
Ek is nou per slot van sake na soveel jaar ’n alleenloopweduwee wat moet slaap op daggasjokolade.
***
Vandag praat die dennebome hard.
Die boonste toppe besweer als in skerwetaal daar waar hulle die meeste wind vang.
Hul dennekoppe skud, die lang Kersfeesboompunte ruk, kiertsvervaard.
Vandag is kwaad. In my derms is kwaad en in my hart is kwaad, ’n kwaai woessee-soort woede, onstuimig, skuimend.
Onbehandskoende, ballende, boksende hoekoms, vuisvra, God, hoekom?
Ek loop tussen stukke brandsel, sementblokke en bakstene wat geval het. Swart roet en as. Ék is in sak en as.
Selfs die cannabis-sjokolade wat nog in die eikehoutspieëlkas se laai was, dink ek skielik! Histerie borrel gek uit my keel. Genadiglik het ek alleen hier kom stop om te kom sien of my twee katte nog hier hou tot ek hulle kan kom kry, so niemand hoor dit nie, behalwe die katte, dalk. Die diere-engel voer hulle elke dag as sy na haar perde kom omsien.
Die wolhaarkat sit by die stalle. Strek haar behaaglik uit, staan op en kom na my toe aan asof alles hier presies nog is soos wat dit twee weke gelede was - ’n lowergroen, soel Novembermiddag en ’n pragtige kleinplasie met ’n grasdakhuis en ’n dakwoonstel.
Ek miaau vir haar streepkat-suster en hoor haar terug antwoord. Dit roer my binnegoed tot ietwat minder van ’n woesterny.
Omdat ek nie die vuurverwoesting uit my geestesoog kan kry nie, bly ek nie lank nie en klim te gou weer in my kar met die uitgeslaande bestuurskantruit. Ry terug na die eenvertrek- gemeubileerde studio wat ek gelukkig was om vinnig te kon bekom. Ek en my hondjie. Met my handsak, selfoon en klere wat my sussie en dogter aangegee het, ’n paar nuwe goed soos skoene en toiletware. Jirre. Om letterlik soos in die N.I.K.S. te hê nie. Dit maak elke keer my mond spoegloos en my kop én my maag naar.
Ek kry die hond by die huis, sit ’n paar rand in my Levi’s se gatsak en gaan stap sommer om die blok met haar, om die laaste seespattende kwaad in my ingewande af te stap. Die paar rand is vir ’n bier by ’n straatkafee waar ek die see kan sien.
Reg by die tweede hoek hoor ek musiek vanuit ’n nuwe kuierplek. ’n Band wat ek goed ken. Die musiek trek my in en die mense sê die pooch kan saam inkom, solank sy nie tussen die tafels rondloop nie. Oudergewoonte stap sy sonder leiband. Dié brakkie van my het maniere.
Ek stap windgat in en vra vir ’n ouer paartjie of ek by hulle kan sit, bestel ’n gin special, maar vra soda in plaas van tonic. Agter ons is ’n muur met ’n bankie en daar sit ’n man met die mooiste koffiekleur vel, ’n goed versorgde baard en seker presies Kwagga se ouderdom. My maag draai oor iets van ’n vae vlietende herinnering hier by my ysbeen van ’n paar maande gelede; ek wys niks. Ek sê vir hom en sy bankiegenote ek is jammer dat hulle na my rug moet kyk, ek weet wel my gesig is die mooier kant.
’n Bietjie later is die gesprek oor my skouer als oor my vreeslike soet hond en dié mooi man wil graag ons tuin waarin genoemde hondjie woon by sy tuindiensbesigheid voeg.
Ek is weg met sy nommer.
Tuis kry ek eerste ’n boodskap, want ek het gedink dis clever om my foon te gee en te sê die slim “tuinman” kan sý nommer in mý foon sit; ek gee g’n mý nommer uit nie. Fok my. Lessie geleer. Jy het geweet so ’n man is nie ’n gewone tuinman nie, Retha.
Die swaeltjie het ses maande by my gekuier. Sy hart is skoon. Sy liefde warm en geduldig.
Die jare verskil tussen ons onoorkomelik te veel.
Alleenloopweduwee leer die pad stap. Sonder cannabis-sjokolade, as agtergelaat, lang aande langs vure gesit met ’n mooie swaeltjieman en vele maanstories op die strand loop praat.
Die pad loop vorentoe en swaeltjies is seisoenaal. Kwaggas draf aan en leer jou ook ’n les of twee wyl daggasjokolade in ’n laai kan verbrand.
Die lig kom sag by die studio se skuifdeurvenster in. Dis moerlekker om skuins oor jou eie queen size bed wakker te raak, jou hondjie by jou kop, en te sien hoe die druppels aan die wasgoedlyn hang, net vir jou blink. Hulle sê jou presies hoe ver het jy, ampersestig, in vier jaar gekom.
Die wolhaarkat sit gatekeeper by die deur en lek haar spierwit pote. Ek miaau dat die hele dorp my hoor. Tigey die streepkat antwoord my met ’n ewe mighty miaau vanuit die tuin.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie


Kommentaar
Die feniksstorie is pragtig geskryf.
Sluitingsdatum van hierdie kompetisie?
Die inskrywings het reeds gesluit, Jean.