Die web

  • 0

Foto: Canva

Die web

Sy het gedink sy’s klaar met die web. Toe sit dit drie sitplekke weg van haar op ’n boot na Poros.

Spetses ruik na jasmyn en see. Perdehoewe klik oor die klippe, terwyl die wind deur Johanna se hare trek.

Sy koester die stilte.

Laatmiddag eet sy amygdalota met sterk Griekse koffie, terwyl hulle stadig langs die hawe verbybeweeg. Sy stap stadig terug hotel toe, want met elke tree sak die moegheid dieper in haar bene. Daardie nag droom sy van ’n taai web laag teen die grond gespan – en hoe sy al dieper daarin vasval. Die blink swart lyf beweeg nie, maar die oranje uurglas koggel.

Die volgende oggend skink sy tee uit ’n fyn teepot met ’n goue oor. Die vensterbank voel warm onder haar en die twee hoofpynpille laat ’n bitter smaak. Sy staan lank onder die stort, asof sy die moegheid wil afwas. Sy trek met sorg aan: pienk sonrok, sagte grimering. Die ander toerlede wag reeds by die hawe toe sy by hulle aansluit.

“Goeiemôre,” groet sy.

“Ons het jou by die ontbyttafel gemis.”

Sy glimlag net.

Die hydrofoil lig sy vlerke en gly oor die water na Hydra. Die enjin dreun sag.

Die eiland voel uit tyd uit. Klein vissersbote lê teen die kaai en laat die water klots. Perde en donkies met saals wag geduldig langs die kaai. Johanna stap saam met die donkie deur die klipstraat. Die bougainvillea hang laag oor die straat, amper soos ’n versperring.

Die jongman maak haar tas los. Die donkie kyk nie op nie.

Die alleenheid tref swaar. Vir twaalf maande was sy net iets waarop hy kon rus. Nie ’n vrou nie. Die kelner sit ’n bak jogurt voor haar neer, maar die lepel voel te swaar en die heuning te soet teen haar tong. Rondom haar lag toeriste. Johanna kyk oor die hawe en sien niks.

Daardie aand bel hy haar, maar sy antwoord nie. Sy sluit by die ander toerlede aan vir aandete.

Die taverna se kussings voel klam teen haar bene en die ouzo brand te vinnig deur haar keel, terwyl ’n Griek met ’n gebreekte stem “Zorba” probeer sing. Rondom haar klap mense hande. “Yamas!” klink vrolik op. Net Johanna lag nie. Sy kyk na die glas en wag vir die wêreld om dof genoeg te raak.

Daardie aand huil sy haarself aan die slaap en weet nie of dit die hartseer of die ouzo is nie.

Die volgende oggend is die son reeds hoog toe sy wakker word.

Sy trek haar stapskoene aan, sit haar strooihoed op en loop na die vissersdorpie Kaminia.Ná die vyftien minute se stap gaan sy sit by die enigste eetplek – ’n klein enkelverdieping-taverna reg langs die water.Wit mure. Groen luike wat effens skilfer. ’n Bont kat slaap halflyf op een van die stoele.

“Hierdie plekkie is klein,” dink Johanna. “Die soort plek waar die eienaar jou ná die tweede keer as familie beskou.”

Daardie aand raak Johanna vroeg aan die slaap, maar skrik net ná drie wakker.

Sy sien hom in die web. By háár. Onwillig om los te kom. Johanna huil onbedaarlik en raak eers weer aan die slaap toe dit lig word buite.Sy trek daardie middag haar rooi halternekrok aan en maak haar mond dieselfde kleur. Met haar Ray-Ban-donkerbril op haar kop stap sy met die trappe af.

“Jy lyk pragtig, Johanna.”

“Dankie.”

Sy trek haar bril oor haar oë en stap na die hydrofoil.

Die sitplek kraak onder haar en die lugversorging byt koud teen haar nek. Deur die klein venster skuif skuim en blou en wit strepe verby, terwyl die enjin onder haar voete brom soos ’n dier wat nie tot rus kan kom nie.Sy sit regop, hande styf om haar sak, en wag dat die onrustige gevoel in haar bors bedaar.

Toe sy links kyk, sien sy haar. ’n Vrou in ’n swart sonrok. ’n Groot oranje strik hoog op die kop. Netjies. Té netjies. Hande in haar skoot, kyk sy reguit vorentoe. Nie een keer na Johanna nie.

Haar keel trek toe. Nie omdat die vrou daar is nie. Omdat sy weet hoe sy lyk.

’n Knopiespinnekop wat geduldig wag.

Sy het gedink sy’s klaar met die web. Maar nou sit dit hier, drie sitplekke weg, en haal in dieselfde lug as sy asem.

Die hydrofoil skud. Die vrou bly stil. Die oranje strik bly perfek. Asof iemand dit vasgespeld het vir ’n foto.

Haar oë brand. As sy knip, is die vrou dalk weg. As sy nie knip nie, moet sy kyk hoe dit voel om gekonfronteer te word met wat sy al maande lank ontken.

Sy knip nie.

Sy kyk net.

En wag om te sien of die spinnekop ook sal knip.

Buite die venster bly die see onskuldig blou.

Die hydrofoil stop. Poros.

Die beroemde kloktoring staan stil oor die hawe. Die wit huise lê laag op laag teen die heuwel. Die bromponie gons onder Johanna toe sy wegtrek.

Poros ruik na sout en denne. Klein bote wieg teen die pier en oral is daar katte. Party lê uitgestrek in die son met toe oë. Ander kyk stil na verbygangers met daardie onaangeraakte selfvertroue van iets wat nêrens hoef te wees nie.

“Op Poros gebeur alles stadig,” dink Johanna. “Tog voel niks leeg nie.”

Groot dennebome troon oor die begraafplaas op pad na Askeli. Die klipmuur voel koel onder haar, terwyl sy stadig water drink.Sy onthou haar niggie se troos aan ’n vriendin: “Mans gaan altyd van sleg na erger, Maria. Niks anders as moeilikheid nie.”

Johanna glimlag. Haar niggie se kop het nog altyd skeef gestaan, maar sy’s reg oor mans. Sy drink die bottel leeg.

Twaalf maande. In sy web. Stil. Nuttig. ’n Matras met ’n naam.

Johanna was nie ’n engel nie en sy het nooit so voorgegee nie. Maar sy breek nie. Sy verander rigting. Sy breek nie in storms nie. Sy verander koers.

En sy probeer nie mense verander nie. Sy verander net haar afstand van hulle. Getrouheid was nog nooit onderhandelbaar vir haar nie.

Die sypaadjie voor Gelato di Poros voel warm. Sy proe drie geure roomys gelyk en eet die bakkie vinnig leeg.

By Love Bay stroop sy haar klere af en loop in die water. Die klippe maak haar voete seer en die water is koud. Die koue see vat iets uit haar bors weg. Nie alles nie. Genoeg. Sy raak op die strand aan die slaap.

Teen sononder stap sy na Taverna Apagio. Sy wieg saam met die bouzouki. Sy bestel geroosterde seekat met warm brood en witwyn sonder om na die spyskaart te kyk.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd voel dit nie nodig om te verduidelik waarheen haar lewe op pad is nie.

Die volgende oggend neem sy die eerste boot uit Poros.

Die hawe is nog half aan die slaap – toue wat kraak, koffie wat iewers warm gemaak word.

Sy staan op die dek, haar hare nog sout en droog aan die punte van gister se swem. Sy kyk hoe die eiland stadig kleiner word.

Die see is vandag anders. Nie minder koud in herinnering nie – maar stiller in haar lyf.

OR Tambo is luid. Mense skree name.

Sy sien hom.

Rose in sy hande. Rooi. Te veel.

Sy loop verby.

Hy sê nie haar naam nie.

Sy sê nie syne nie.

Die skuifdeure maak oop.

Johanna stap uit en kyk nie terug nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top