Die Waterplek: Gabriëllië
Carina Stander
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485313601
Carina Stander se Bergengel-reeks bestaan uit vier boeke: Die Bergengel, Die Wonderwese, Die Waterplek: Afrika en Die Waterplek: Gabriëllië. In hierdie reeks word daar ’n fiksionele wêreld opgebou en uitgebou. Hierdie fiksionele wêreld is tot in die fynste besonderhede ontwerp en word uitvoerig beskryf. Die implikasies van die ontwikkeling en beskrywing van ’n fiksionele wêreld is velerlei: So ’n wêreld is uniek, maar moet genoeg raakpunte en ooreenkomste met die bekende werklikheid van die leser hê om die leser in staat te stel om met die gebeure in daardie wêreld te kan identifiseer. Die uniekheid van die verbeelde werklikheid moet egter ook gehandhaaf word. Enersyds verg dit van die leser inderdaad ’n opskorting van ongeloof, maar andersyds voer die verhaal die leser weg uit die werklikheid van elke dag en bring daardie leser in aanraking met ’n nuwe wonderwêreld van uitsonderlike mense en plekke, eksotiese verskynsels en belewenisse wat uit ’n gans ander hoek omskryf word. In hierdie opsig bevind Stander se reeks sigself in die geselskap van Tolkien se Lord of the Rings en CS Lewis se Narnia-boeke.
Die reeks in geheel kan beskryf word as ’n lang reisverhaal in die tradisie van die peregrinasieverhaal, dit wil sê ’n uitvoerige weergawe van vele omswerwinge, dikwels ook die ronddool van ’n karakter. Dit is ’n ou en gerespekteerde genre, vanaf Eksodus, die Ilias en Odusseia, die Middeleeuse verhale soos Elckerlijc en later Bunyan se The Pilgrim’s Progress tot by Aus dem Leben eines Taugenichts van Von Eichendorff en Etienne Leroux se improvisasies op die genre met boeke soos Die mugu, Isis Isis Isis en Onse Hymie.
In hierdie reeks dool die hoofkarakter egter nie – sy reis is duidelik gerig op bepaalde doeleindes en veral op die ontwikkeling van sy persoonlikheid en psige en morele insig. Daarom is die reeks ook ’n ontwikkelingsroman in die tradisie van die bildungsroman waarin die verhaal vertel word van ’n jongmens vanaf sy of haar (dikwels traumatiese) kinderjare en hoe hierdie karakter fisiek en moreel groei en ontwikkel tot insig en volwassenheid. Van hierdie genre is daar talle voorbeelde, waarvan die bekendste waarskynlik Goethe se Wilhelm Meisters Lehrjahre (1795–1796) of Dickens se Great expectations (1860–1861) is, afgesien van talle meer populêre werke wat so ’n lewensgeskiedenis vertel.
Wat my verder opgeval het, is dat indien ’n mens gaan kyk na die argetipiese temas in die wêreldletterkunde, kan jy al hierdie temas in die Bergengel-reeks terugvind. Uit die tyd van die soeke na universele patrone in die letterkunde het Langdon Elsbree (1982) vyf temas onderskei wat as narratiewe argetipes altyd weer terugkeer in verhale en waarop daar deurgaans geïmproviseer word. Hierdie temas is (1) die vind en wyding van ’n tuiste, (2) konfrontasie, konflik of om betrokke te raak in ’n geveg, (3) om ’n reis te onderneem, (4) lyding, en ten slotte (5) een of ander vorm van nagestreefde vervulling.
Die rede waarom ek al hierdie agtergrondinligting oor soorte literatuur en genres gee, is dat mens dit alles terugvind in die Bergengel-reeks. Verder verskaf Stander self aan die einde van die vierde boek ’n lysie van haar bronne en invloede, naamlik die Bybel, verskeie werklike historiese figure en gebeure, sprokies, films, Dante Alighieri se Heilige komedie, en haar eie reise en ervarings.
........
Hieruit kan ’n mens aflei dat Stander diep gaan grawe het in die literatuur en in die menslike psige om hierdie verhaal te skryf.
........
Hieruit kan ’n mens aflei dat Stander diep gaan grawe het in die literatuur en in die menslike psige om hierdie verhaal te skryf. Die gebeure speel af in en om die fiksionele land Gabriëllië waarin die hoofkarakter, Eron Verberger, reis en groei oor vier boeke heen om sy volle potensiaal te ontdek en te realiseer.
Gabriëllië bestaan uit verskillende provinsies waarin verskillende dialekte gepraat word. Elke provinsie het sy eie kulturele opvattinge en gebruike en daar is ook heelwat konflik tussen die provinsies. Voorin elke boek is daar ’n kaart van die land met al sy berge en riviere en stede, en deur die loop van die vertelling word die verskillende dialekte ook in duidelik gemerkte verskillende (selfgeskepte) vorme van Afrikaans uitgebeeld. So ’n fiksionele wêreld is ’n ingewikkelde narratiewe konstruksie waarin die skrywer die eiesoortigheid regdeur moete volhou. Die leser kan so dikwels as nodig na die kaart teruggaan om die omswerwinge van die hoofkarakter te volg soos wat die skrywer binne hierdie selfontwerpte ruimte met al die unieke beperkinge en moontlikhede die verhaal laat ontplooi. Stander slaag baie goed daarin om die sfeer van die land en sy mense vas te vang. Sy bly binne haar fiksionele grense en gebruik haar buitengewone taalvaardighede om die beskrywings van plekke, gebeure en mense, asook veral die verskillende dialekte oortuigend uit te beeld.
........
Die mees spesifiek tiperende en samebindende eienskappe van die reeks wat in die slotboek tot volle ontplooiing kom, is dat Eron ’n Bergengel is en dat die mense van Gabriëllië ’n mitiese ingesteldheid het wat gevoed word deur die droom van ’n utopiese lewensruimte of woonplek.
........
Die mees spesifiek tiperende en samebindende eienskappe van die reeks wat in die slotboek tot volle ontplooiing kom, is dat Eron ’n Bergengel is en dat die mense van Gabriëllië ’n mitiese ingesteldheid het wat gevoed word deur die droom van ’n utopiese lewensruimte of woonplek. In die voorwoord tot die laaste boek gee Stander die volgende omskrywing: “Gabriëlliese mitologie sentreer rondom ’n karakter, die Bergengel, sy helper, die Wonderwese, en ’n ruimte, die Waterplek. Die Bergengel is ’n menslike boodskapper met bomenslike vermoëns – ’n tipe profeet van sy tyd wat oor oerheimlike talente beskik … ’Waterplek’ [word] as sinoniem gebruik vir die frase ’hemel op aarde’.” Stander verwys na die fiksionele Gabriëlliese woordeboek, Bagterstam se Leksikon, wat drie betekenisse vir waterplek gee: “(1) ’n Raaiselagtige rusplek. (2) ’n Esoteriese ruimte-binne-’n-ruimte, rivier-onder-’n-rivier of aardhemel in die Verwonderingsestetika van die Nabiese Fluisteraars. (3) ’n Verskuilde drinkpoel wat van hemelwesens en sielstevrede sterflinge wemel.” Hieruit kan die leser reeds aflei met watter sorg elke besonderheid van die fiksionele wêreld van Gabriëllië beplan en ontwerp en tot stand gebring is.
As kind het Eron nie besef dat hy bestem is om ’n Bergengel te word nie, maar met verloop van tyd begryp hy dit en weet dat daar ’n groot verantwoordelikheid op hom rus. In sy omswerwinge leer hy baie mense ken wat sy insig verbreed, wat hom opponeer, vir wie hy lief word. Hy verloor sy moeder en word verlaat deur sy vader, wat as die vorige Bergengel ’n nuwe blyplek in Afrika gaan soek. Die voorlaaste boek handel daaroor dat Eron besluit om sy vader in Afrika te gaan soek. Die droom was dat Afrika die Waterplek sal wees. Hierdie droom blyk onbereikbaar en onhaalbaar te wees en aan die einde van die boek vernietig die ander jong Bergengel, Velvel Azazel, wat verdorwe geraak het en voortdurend met Eron in konflik was, homself.
Die verhaal van die land gaan uiteindelik oor ’n Geheime Revolusie wat die land wil red van oliebaronne en onderdrukkers, wat teen verskillende booshede in die land wil optree en slegte leiers wil verwyder. Hierin speel die Bergengele ’n groot rol. Vandaar die ekspedisie om Afrika te verken as ’n moontlike heenkome vir die rebelle wat in groot gevaar is in Gabriëllië. Die finale boek gaan egter oor die terugkeer na Gabriëllië met die droom van die rebelle om die vernietiging van die natuur en die onderdrukking van gewone mense deur die oliebaronne finaal te beëindig en in hulle eie land ’n nuwe tuiste te vind.
Afgesien daarvan dat die tematiek en aard van hierdie reeks aansluit by argetipiese literêre verskynsels, is die verhaal inderwaarheid baie modern en selfs eietyds in betekenis. Die preïndustriële en pretegnologiese wêreld staan gekonfronteer deur presies dieselfde probleme wat die werklike huidige wêreld in die gesig staar, onder meer korrupsie, omkopery, magsbeheptheid, die vernietiging van die natuur ter wille van geldelike gewin, persoonlike vendettas, maar ook die invloed van persoonlike verhoudinge en liefdesverhoudinge in die lewens van die belangrike rolspelers.
Alles wat vroeër in Eron se lewe gebeur het – sy gelukkige kinderlewe, sy tienerjare, ook en veral die konflik en gevolglike besering aan sy hand, sy bewondering vir wyse voorgangers, sy respek vir digters en kunstenaars – het hom voorberei vir die geweldige konflik waarmee hy gekonfronteer word in die laaste deel van die verhaal. Sy fisieke krag, sy geestelike vermoëns, sy insig en deursettingsvermoë word tot die uiterste beproef, maar hy is in staat om staande te bly. Hy neem die leiding, stel homself bloot, maar neem oorwoë besluite omdat hy oor insig in mense en sake beskik. Hierin, net soveel as in die liefdesvervulling wat hy leer ken, is daar ’n geweldig kragtige vervulling opgesluit.
........
Die hele reeks, en spesifiek ook Die Waterplek: Gabriëllië, is ’n kragtoer in terme van skryf.
........
Die hele reeks, en spesifiek ook Die Waterplek: Gabriëllië, is ’n kragtoer in terme van skryf. Om volgehoue van 2017 tot 2024 aan so ’n samehangende reeks te werk en binne dieselfde fiksionele wêreld steeds verhalend en talig oortuigend te bly, wil gedoen wees. Deur die loop van die reeks word baie verhaallyne aangevoor, en daar is ook baie karakters. Hierdie komplekse narratiewe netwerk wat ontwikkel, kom in die finale boek tot afsluiting en die leser moet kophou om te onthou waar almal en alles inpas. (In die voorlaaste boeke word daar wel baie van die vroeëre verhaalstof ingewerk om die geheue te verfris.)
Die hoogtepunt van die verhaal speel vanselfsprekend af in die laaste boek waar Eron as die uiteindelike Bergengel vir sy tyd erkenning kry en selfs die sleutel van die Akrotfort kry. Maar hy gaan woon nie in die fort met sy bloedige geskiedenis nie en gaan liewer saam met sy geliefde Lia terug na waar hy oorspronklik vandaan kom. Die boek bevat liriese beskrywings van die liefde tussen Eron en Lia en van die seetog terug na Gabriëllië, maar omseil ook nie die grusaamheid en geweld van die burgeroorlog nie.
Carina Stander bespeel ’n baie wye register van style moeiteloos, en daarin lê die leeskrag van die boek. Tussendeur is daar verder vele kosbaarhede in die boek versteek, onder meer wysheid (wat my laat dink dat die boek ook as wysheidsliteratuur gelees kan word). Ook besinning word deurgaans hoog aangeskryf en uitgewys, en ’n aanvoeling vir die balans tussen kragdadigheid en ’n fyner aanvoeling vir wat mooi en kosbaar is. Saam met Eron kan ’n leser (veral ’n jonger leser, as hulle nog die stamina het vir so leeservaring oor vier boeke heen) groei en saam met die hoofkarakter ’n tuiste vind, gevegte deurleef en oorwin, reise onderneem, lyding ondergaan en uiteindelik vervulling op verskillende vlakke ervaar. Stander het diep gedelf vir die verskuilde betekenisse van hierdie ryk verhale. Soos wat ek aan die begin aangetoon het, roep sy assosiasies op uit die religie, uit die menslike psige, uit die geskiedenis, uit die literatuur oor eeue heen om hierdie grootse vertelling van ’n stryd tussen goed en kwaad te kan neerskryf.
Met hierdie reeks word die skat van fantasieboeke in Afrikaans verryk. Meer nog, in die fiksionele wêreld speel dramas en konflikte af wat vir groot en klein insig in die huidige tyd kan verskaf, en as sodanig styg die boeke uit bo gewone fantasie en is hulle absoluut relevant vir die hede. Vanweë die argetipiese onderbou wil ek my verstout om te sê dat sulke boeke selfs hulle eie tyd sal oorleef, omdat die soort konflik waarmee gewerk word, universeel menslik is.
Lees ook:
Die Bergengel deur Carina Stander: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Kommentaar
Terwyl ek die resensie lees, voel dit of ek weer self die boeke lees. Ek ervaar weer die spesiale oomblikke van Eron se reise en wedevaringe. Sal dit op 'n stadium weer lees, meer intens, want ek was so gejaagd om elke keer die boeke te lees, agv die nuuskierig om meer van die fantasiewêreld te ervaar, dat ek nie alles mooi onthou nie. Carina het 'n puik reeks vir ons gegee.