Die waarheid oor duiwe
Gisela Ullyatt
Protea Boekhuis
ISBN: 978 1 4853 1066 2
Gisela Ullyatt (1977-2020) was ’n Afrikaanse digter, literator en resensent, ook bekend vir haar gereelde blogbydraes op die poësiewebwerf Versindaba. In 2014 was sy betrokke by die vertaalprojek In a burning sea: Contemporary Afrikaans poetry in translation, waarvan Marlise Joubert die samesteller was. Sy het die grade MA (Duits) en MA (Engelse taalstudie) aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Haar PhD-proefskrif (NWU) het gehandel oor die digter Mary Oliver, soos gelees vanuit ’n Boeddhistiese raamwerk. Van haar gedigte is in New Contrast en Nuwe stemme 5 opgeneem voor sy met Die waarheid oor duiwe (2020) gedebuteer het. Ullyatt, ’n geliefde figuur in die literêre landskap, het verlede jaar haar stryd teen kanker verloor. Haar debuutbundel is gekortlys vir die Ingrid Jonker-prys.
Tematies handel die verse oor die broosheid van die liggaam, verlies, pyn, geestesgesondheid, familie, verganklikheid, die dood, verwording, ontnugtering, asook ’n fusie van Oosterse geloofsienings met die populêre kultuur. Die bundel se toonaard is oorwegend somber en die “waarheid” van die duiwe word, na analogie van die titel, verbeeld as prosesse van ontgogeling en nihilisme. Die treffende omslagontwerp toon ’n porseleinduif, ’n kunswerk van Toni Pretorius. Die motto voor in open die verse se mineurstemming:
die dae het onrustig geword
met die pote van duiwe
op die windgrys dak
dit het onherroeplik winter geword
– Johan Myburg, Vlugskrif
Waar duiwe tradisioneel gesien word as ’n simbool van vrede, werk Ullyatt met die teenpool, naamlik onrus: ’n inversie van die vertroostende konnotasies geassosieer met duiwe. Reeds met die programgedig in “een”, “die waarheid oor duiwe”, word die agtjarige spreker se ontnugtering geskets wanneer die bure na ’n swanky suburb verhuis, maar hul duiwehok in die agterjaart los:
die hok my ogiesdraadkasteel
die lemoenduiwe royalty (bl 8)
Die kind se verwondering met die magiese duiwe en hok is egter van korte duur as die bure die hok kom terugvat en daar net ’n vergeelde vierkant op die gras oorbly. Hierdie aangrypende vers skakel met “nawoord” (83), waar die spreker erken dat sy haar nooit van die duiwehok kon losfletter nie. Die mens dra altyd die verwondering en pyn van sy jeug met hom saam. Die leefwêreld in die bundel is dié van kleinhoewes; dit is landelik, en die verse berig oor die wel en wee van arm kleinboere en plotbewoners.
Die volgende vers, “karoo-pasga” (9), word vergesel van ’n motto van Thomas Harris, die skrywer en skepper van Dr Hannibal Lecter-faam. Die blêrende lammers roep Silence of the lambs voor die oog, en ’n brandarm vrou is besig om ’n maal vir pasga voor te berei.
’n dun bars loop deur haar kosyn
in donkerte gedompel
in die leivore voor haar huis
net riool waarin skoongevrete bene
van ’n eersgebore lammer dryf.
Die vers is enersyds ’n verontheiliging van die lammer (Lam), maar dui ook op die brutaliteit van oorlewing én die eise wat aan geloof gestel word as suggesties van kannibalisme geaktiveer word. Hierdie onheilspellende gegewe kom weer later voor in “pâté de frois gras” (26). “bangmaaksprokies” (10) onthul die “waarheid” van sprokies as ontstellende leesstof vir grootmense, met verwysing na The Blair witch project.
Ullyatt is ’n fyn waarnemer van mense en situasies. “Postpartum” (11) verbeeld die chaotiese en selfs vuil huishouding van ’n vrou wat gereed maak om haar baba te bad. Haar nageboortelike depressie word skreiend – en tragies – gejukstaponeer met die onskuld van die kind: “die baba brabbel in sy biesiemandjie / sy skiet die water uit.” Die aanbod van bykans alle verwysings uit die Bybel in hierdie bundel is wrang. Die nugtere realiteite waarmee die jong moeder te kampe het, is inderdaad ook ’n verwringing van die Moses-in-die-biesiemandjie-verhaal. Ook in “vir ’n uiltrein” (12–3), ’n gedig in ses dele wat oor Helen Martins handel, vorm die engel by die bad van Bethesda ’n gelyknamige spel met Nieu-Bethesda:
so when at last the angel of the darker drink
dan roer die engel van Bethesda die water
voor sy daardeur waad
sing haar oogholtes
sonder die groen van glas.
Die opeenvolgende elegieë “in die tyd van die kiewiete” (14–5) en “vir liam” (16) is fyngetekende portretstudies van ’n “boere-john wayne”, en vervolgens die dood van ’n agt dae oue baba. Musikale intertekste kom voor in “vir eppy” (17), (Pink Floyd), asook latere verse oor die rocklegende Kurt Cobain waarin die pyn en verset van die tagtigerjare uitdrukking vind. En binne ’n biografiese register: Dit is musiek wat resoneer met die spreker-digter (toe ’n tiener) se persoonlike emosionele wroeginge. Verse oor selfdood, byvoorbeeld “agter gordyne” (18), na analogie van ? regte frase? Ingrid Jonker, word grimmig verbeeld as ’n geliefde in ’n staatshospitaal sterf. “september” (21) skryf hierdie wondbaarheid (“waarheid”) verder in ’n ontroerende vers oop:
skeef lê die kransduif
op septembergrond
geen geheime oopgeskarnier
slegs ’n stringetjie lentemiere
intieme besoekers
op terra incognita.
Géén sentiment nie – die afstandelike waarneming, die onderbeklemtoning verhoog die skokwaarde of pyn. Ook die dood van ánder voëls in die bundel dwing die leser tot die besef hoe broos die lewe eintlik is.
“twee” bring ’n intensivering van die somber gang in die verse. “beendigtheid” (24), een van die sterkste gedigte in die bundel, spot met die geveinsdheid en gulsigheid van mediese personeel (wat privaat mediese fondse verteenwoordig). Die kritiek word voortgesit in “my naam” (25), waar pasiënte bloot as produkte binne ’n bedryfsisteem behandel word. Die hope administrasie (wat die kapitalistiese mediese praktyke voorstel), word afgespeel teen die gebrek aan empatie en uiteindelike identiteitloosheid van die pasiënt. Hoe meer sy haar naam op mediese vorms moet invul, hoe meer anoniem raak sy. Die opeenvolgende vers, “pâtá de fois gras” (26), lewer kritiek op psigiatrie en op dokters wat pasiënte “vet voer” met “pil-orgies”. Die vers neem ’n makabere wending en herinner aan die kannibalistiese vergrype van Hannibal Lecter (Lecter was ook ’n psigiater):
stetoskopies luister jy
met jou koue pote oor my
smeer my dun vreet my op
met kraakbeskuitjies
vir my volgende afspraak
lui die voorskrif: 1 x lewer in netvet.
Die verorbering van die self as ‘n tipe kannibalisme skakel met die gedigtitel en die Thomas Harris-diskoers, soos vroeër genoem. Die psigiater onder bespreking nuttig sy maal (’n pasiënt), met ’n duur bottel wyn. Ullyatt se gedigte, wat hulle uitspreek teen die mediese bedryf, lewer ’n belangrike bydrae tot ’n diskoers wat nog onderverteenwoordig is in Afrikaans en aansluit by die poësie van Karen Kuhn, Aniel Botha en Jeanne Goosen.
Die sardoniese aanbod van Bybelse verwysings is volop in “jy omsingel my” (28), wanneer die spreker-digter op die moontlike diagnose van leukemie wag. Die lees van hierdie verse is ’n katarsis vir beide digter en leser, soos hierdie smartvolle fragment getuig:
dalk wel leukemie meen die spesialiste
die moontlikhede legio
wanneer jy jou tentpenne
daagliks in my steek
jy het my by my naam geroep.
En wanneer die blootlegging van die self, die ondraaglike pyn nie erger kán nie, projekteer die spreker-digter haar lyding op ’n terugflits aan haar sterwende vader in “intensiewe sorg” (30–1). Die intensiewe-sorg-eenheid word “die tempel”, maar die verpleegsters is vyandige “priesteresse in uniforms”. Die vader, die offerlam, sterf, en sy uittog word ontroerend beskryf. Ullyatt jukstaponeer die stoïsynse kilheid van die hospitaal meesterlik met dié van ’n levitiese tempel:
jy is ’n piramide van rites en stiltes
jou papirusboot navigeer jy
uit die rietlandskap se slik
pa jy is ’n heilige kewer
skuifel-skuifel
reis jy die skitterende dagbreek in.
Die rivier Styx, as oorgang tussen die lewe en dood, word gesuggereer. Die kewer onder die soeklig is waarskynlik ’n liewenheerbesie wat simboliese konnotasies met God en Christus deel.
Deel drie, “al daardie dae” (36–7), dui op traumatiese ervarings as jong kind. In “gebedjies in die klas” word die onderliggende onheil en geweld in ’n skoolsisteem verwoord aan die hand van AG Visser se “Biesie-biesie-bame”, wat as makabere parodie ’n ontluistering van kinderlike onskuld voorstel.
“vier” handel oor triestige winterlandskappe, en “ontgogeling” (42) tree intertekstueel in gesprek met Cussons se “die swart kombuis” en “die woedende brood”, ’n vers wat terugreik na die grieselrige kombuis in die reeds genoemde “karoo-pasga”. Die morbiede gang van die verse bereik ’n klimaks in “onteer” (43), waarin ars poëtikale prosesse as die vernietigende gevolg van ’n rooftog verbeeld word. Die emosionele laagtepunt word in die volgende vers, “kaddisj vir kristallnacht” (44) voortgesit en getransponeer na die pyn en verskrikking van die Jode wat met die Kristallnacht van November 1938 die vandalisering van hulle sinagoges aan die hand van Nazi’s beleef het. In “boomvers” (48) word erotiese verwonding van ’n kind via assosiasie met die fluitspeler van Hamelin gesuggereer: “ek hoor jou towerfluit vanaand / in die mik van ons boom / jy speel ongesteurd voort / maar die takke / verstrengel my.”
“vyf” bekoor met 20 haikoes, getitel “vir ’n zoeloeland-boeddha (58–60), na aanleiding van ’n besoek aan ’n Boeddhistiese sentrum. Hierdie Oosterse meditasies bring ’n welkome afwisseling, ’n vars bries te midde van die swaar melankolie van die bundel.
In “ses” kom verse oor die grunge-rocker Kurt Cobain aan die beurt. Die angsgedrewe, anti-establishment musiek, waarvan Cobain die gesig van generasie X verteenwoordig, resoneer met die algehele gevoel van ontnugtering in die bundel. Cobain se selfdood word in “die dag toe kurt cobain gaan slaap het” (63), beskryf:
jy word afgemeet
onder ’n stil wilg
in lake washington boulevard 171 se herehuis
in new york vermeng met tibettaanse klei
namgyal monnike dreunsing jou bardo
[…]
brandende lotus
versengende nirvana.
“courtney love” (64), met verwysing na Cobain se vrou en weduwee, sorg vir nóg ’n sensitiewe digterlike portret van dié vermaaklikheidskunstenaar – sy sal “vir ewig / in kurt se skootknal- / skaduwee” leef (Cobain het homself geskiet).
Naas die fusie van Oosterse sienings en populêre kultuur skryf Ullyatt ook ’n vers getitel “mystic boer” (68), ’n heerlike vers; pure boerevintage. Die digter gee vervolgens ’n kopknik in die rigting van André P Brink en Karina Szczurek (69), die digter Wilhelm Knobel (70) en Ernst van Heerden (71).
In die laaste deel, “sewe”, skryf die spreker-digter oor haar ouma en oupa en hulle afsterwe. In “om ’n vrouetafel” (79) merk die jong spreker dat daar geen manlike familielede aan die feestafel teenwoordig is nie:
tóg
om hierdie tafel onthou sy
geen oupa
geen oom
geen vader nie.
Die tragiese disfunksionaliteit van die familie word ook in ander verse belig. Wat aanleiding tot Ullyatt se poësie gegee het, was emotiewe impulse, dit wat persoonlike betekenis het. Die waarheid oor duiwe is ’n sterk en onthutsend-eerlike bundel oor die prosesse van verontmensliking wat die dood voorafgaan. Alhoewel die digter se oeuvre uit net een solobundel bestaan, is haar nalatenskap ’n seminale een.
altyd in pretoria-wes
pa
in jou kop lê ’n laskombers
toegehekel in lusse
van verrafelde jare
en jou vader se soveelste huis
is iewers in christoffelstraat of prospectstraat
een vir een
sement hy bakstene opmekaar
verpand sy brouwerk
om dan die volgende spoorweghuisie
toe te messel met sy woede
waar jy fraiingrig droom
met ’n verbode flits
onder jou deken
oor die huis van die vier winde
verskeur in jou vader se snippermandjie
ja pa jy hang geketting
in jou ewige herhaalpatroon
jy heg jouself af van die hede
oral krap jy foto’s uit
al vang jy ’n knewel van ’n vis in lourenço marques
al vang jy hoeveel grade
selfs wanneer jy voorlees uit die kinderbybel
die 1981-uitgawe
al sing jy hallelujaliedjies op een noot
die hekelpen is bedraad met jou kortbeendae
jou leghorns verkwansel aan die buurtkinders
jou verskifte trui jou dikwielfiets jou gekraakte ribbes
jou broers wat grynslag soos pampoenspoke
nog ’n wedergeboorte
in ’n voorhuis gedurende ’n apostoliese biduur die erwe van jou vader
waar daar altyd ’n wrak lê om aan te karring
pa die lusse trek noustrop met die tyd
jy’s ’n bywoner
in jou eie
lewe. (76–7)
Kommentaar
Baie dankie vir hierdie resensie, dit gee 'n mens nog meer waardering vir haar bundel. Sy was 'n ongelooflike digter!!!!
Stem saam! Meesterlik gedoen, Nini!
Dankie vir hierdie deeglike resensie!