Die waarde van boeke – wat behels dit?

  • 1

Foto: Pixabay

In 2007 begin ek ’n boek skryf. In 2016 word dit gepubliseer. In 2021 kry ek ’n Messenger-boodskap van iemand uit Duitsland: “Ek het jou boek gelees, en dit geniet ...” – so iets. Ons begin via e-pos korrespondeer. Etlike e-posse volg. Ons besef ons het heelwat gemeen, bo en behalwe die feit dat ons in dieselfde skool was, hoewel nie op dieselfde tydstip nie. Vandag gaan eet ons by ’n restaurant en gesels vir sowat drie uur lank oor alles van mense wat ons ken tot politiek (en dus mense wat ons nie wil ken nie, soos sekere magshebbers uit die ou en huidige bestelle).

.......

Want dis wat lesers gemeen het: Ons is ingelig oor baie onderwerpe; ons sit nooit met ’n mond vol tande nie.

.........

Want dis wat lesers gemeen het: Ons is ingelig oor baie onderwerpe; ons sit nooit met ’n mond vol tande nie. Inteendeel, die tyd sal altyd te min wees vir wat ons met mekaar kan deel. Ek voel jammer vir mense wat nie lees nie, regtig.

En dit het alles begin met ’n idee vir ’n boek wat ek 14 jaar gelede gehad het. Ek kan regtig nie eens dink wat ek al alles uit boeke – hetsy uit die skryf of uit die lees daarvan –  ervaar het nie, hoeveel dit my verryk het nie. Die plekke wat ek al kon besoek, en mense wat ek al kon ontmoet ... interaksie, kommunikasie, die deel van idees, begrip vir ander – dit alles vloei uit die woord, gesproke of geskrewe.

.......

Ja, eintlik gaan alles uiteindelik oor taal. En die lekkerste is om bogenoemde in jou eie taal te doen.

.........

Ja, eintlik gaan alles uiteindelik oor taal. En die lekkerste is om bogenoemde in jou eie taal te doen.

Taal is meer as kommunikatief. Dis ook emotief. Daar is oordrag van kultuur, en kultuur is die somtotaal van alles wat vir mense belangrik is: waardes en norme en menings en voorkeure en afkere, en bowenal jou trots in volk, in sy merkers (en jy neem ook verantwoordelikheid vir die laagtepunte waarin jy dalk gedeel het), in die geskiedenis van die mensdom se groter verhaal. Uiteraard is jou taal ongetwyfeld soveel meer as net jou eie menswees.

Daarom verstaan ek toe Jürgen vir my sê dat hy inpas en oorleef in Duitsland, maar dat dit vir hom altyd voel asof ’n ledemaat van hom geamputeer is. Daardie deel van hom wat Afrikaans is.

So ons kan in Engels of Duits ook lees, maar waar boeke dalk net boeke is, is taal nie maar net taal nie. Die waarde van boeke lê altyd in méér as net die feite of inligting wat in die teks vervat is.

........

So ons kan in Engels of Duits ook lees, maar waar boeke dalk net boeke is, is taal nie maar net taal nie. Die waarde van boeke lê altyd in méér as net die feite of inligting wat in die teks vervat is.

..........

Daarom ook tref dit my nou weer dat dit so hartseer is dat ons taal vandag al hoe meer terug na die kombuis gedwing word, dat ons taal op ’n skynheilige en onderduimse, dog minagtende en arrogante wyse versmoor word uit ’n universiteit wat gestig was om Afrikaans ’n regverdige staanplek te gee, en waar dit ’n voormalige rektor se droom was dat die dogter van die plaaswerker en die seun van die plaaseienaar saam daar kon studeer.

Wie gaan eendag die Afrikaanse boeke in daardie biblioteek lees, oor 80 of 100 jaar? Of sal hulle eendag net uitgesmyt word, soos ’n nabootsing van Bradbury se Fahrenheit 451?

Ek vra weer: Wat is die waarde van boeke, vir my en jou as individue, maar ook vir die siel van ’n volk?

Jare gelede het ek by ’n gemeenskapsentrum in ’n township gepraat – ek was die verteenwoordiger van die Afrikaanse komponent van ’n groep wat op Erfenisdag oor ons onderskeie kulture moes praat. Die kern van my betoog was eenvoudig: Ons nasie is soos iemand onder ’n karos wat bestaan uit aaneengewerkte lappies pels en huid. Wanneer jy een stukkie afruk of uitsny, sal almal koud kry. As jy een taal vernietig, sal nie net daardie volk daaronder ly nie – daar is kumulatiewe nagevolge.

Wanneer een van ons tale begrawe word, behoort elke patriot dus te huil. Die vraag is dan nou: Hoeveel van ons is regtig patriotte? En hoeveel van ons is manteldraaiers en karakter- en kultuurmoordenaars?

Ek voel vandag eerlikwaar bevoorreg om in Afrikaans te kan skryf. Ek het niks teen Engels nie – ek lees dit graag en skryf ook daarin, maar wanneer ek in Afrikaans kommunikeer, dra ek my kulturele wese ook oor aan ander.

Taal is ’n kommunikasiekode, maar daardie kode weerspieël ons kultuurkode, amper soos ons genetiese kode ons van ander diere onderskei.

........

Taal is ’n kommunikasiekode, maar daardie kode weerspieël ons kultuurkode, amper soos ons genetiese kode ons van ander diere onderskei.

.........

Boeke, die codex humanus, bring mense bymekaar, en taal ook, al strek ons diaspora ook hóé ver.

  • 1

Kommentaar

  • Johan de Nysschen

    Mooi Francois.
    Lekker om dit te hoor van iemand wat ons taal liefhet. Jy weet hoe om die woorde in te span om dit wat ons ook glo, te verwoord.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top