Die vyfde slag deur Johann Grobbelaar: ’n resensie

  • 2

Titel: Die vyfde slag
Skrywer: Johann Grobbelaar
 ISBN: 9780639606248
Uitgewer: LAPA

Vyf motiewe weerklink in Johann Grobbelaar se Die vyfde slag: seksualiteit en seksisme, verraad en verkragting, en ten laaste liefde. Dit sluit natuurlik aan by die unieke vyfnootmotief van Beethoven se vioolkonsert in D opus 61, vandaar die titel van die boek.

Beethoven se vioolkonsert begin met vyf slae van die keteltrom. Dit is ’n eenvoudige polsende ritme, militêr van aard. In teenstelling daarmee is die melodieë wat volg, liries. Soos wat die vioolkonsert ontsluit, ontwikkel konflik. Onder die skynbaar kalm melodieë van die houtblaasinstrumente en later viole, pols ’n onheilspellende ritme.

Een …, twee …, drie …, vier …, vyf.

Op die oppervlak het die prokureur Karl Louw en sy vrou, Wilma, ’n gelukkige huwelik, maar albei dra swaar aan hul eie geheime, wat hul liefdeslewe strem. Karl is geslote oor sy jeug. Dit maak hom emosioneel ontoeganklik vir sy vrou op sekere vlakke. Sy het weer ’n sielsvernietigende ervaring beleef wat sy vir hom wegsteek en wat veroorsaak dat sy nie meer orgasmes kan bereik nie.

In albei geheime word die vyfslagmotief gebruik. Vir Karl verwys die vyfslag na sy skoolliefde Erna Ferreira en daardie fatale dag in die musiekkamer. ’n Dag wat hul lewens vir altyd sou verander. Erna is die een wat vir hom oor die vyfde slag verduidelik – hoe die eerste vier slae as ’n solo-inleiding dien met die vyfde slag wat versmelt met die houtblasers wat die tema aankondig.

Dit kan die einde wees, of die begin, leer sy hom. Maar in hul geval is dit die einde, en iets waaroor hy nooit weer kan praat nie.

Wilma se vyf slae manifesteer in vyf foute wat sy begaan wat dan tot haar trauma lei: 1. Sy stem in om saam te gaan na ’n partytjie wat deur haar man se enigste groot kliënt, Armand du Preez, gehou word. 2. Sy laat haar ompraat om ’n bikini te dra. 3. Sy komplimenteer Armand oor die chardonnay wat hy bedien. 4. Sy volg hom as hy haar nooi om sy wynversameling te besigtig. Dit bring ons by 5. En dis ’n fout so erg en verraderlik dat dit haar vrouwees en sekslewe vir altyd vernietig.

Die storielyn van Helen Brodie wat Karl se regshulp inwin, is die soloviool wat die storie vorentoe laat beweeg.

Karl stem in om Helen te verdedig nadat Dupli Business Solutions ’n hofaansoek teen haar en haar mede-aandeelhouer, Richard Murray, inbring om Murray se handelsbeperkingkontrak af te dwing. Die hofsaak volg die gewone kat-en-muis-speletjie van afpersing en skikkings – maar onder dié storielyn draai allerhande duiwels rond.

Die dualiteit van verraad en verkragting word deurgaans in die boek bespreek. Is ontrouheid verraad? Kan jou liggaam verraad pleeg teen jou gesonde verstand? Is leuens verraad? Of is dit ’n vorm van beskerming?

In Die vyfde slag word twee vroue verkrag en word daar ook verwys na ’n hofsaak waarin ’n swart man ter dood veroordeel is nadat ’n wit vrou verkrag is. Die twee vroue se situasies is uiteenlopend, en so ook die manier waarop hulle hulle verkragting hanteer – maar die resultaat is dieselfde: Hulle word halwe mense, slagoffers; en hulle word geteister deur skuldgevoelens.

Grobbelaar probeer verkragting vanuit ’n feministiese perspektief beskou: dat dit die resultaat van patriargale onderdrukking en van ’n siening van die vrou as voorwerp is. Een karakter in sy boek voer aan dat verkragting niks te doen het met mag nie, maar wel met seks, aangevuur deur die oerdrang om voort te plant.

Interessant genoeg is daar twee hoofstroommenings oor die motivering agter verkragting. Een reken dit is seks, die ander meen dit is ’n uitdrukking van mag en dominansie. Maar breër gesien kry ’n mens wel verskillende soorte verkragters (soos bewys deur psigologiese navorsing): die opportunistiese verkragter wat enige geleentheid sal aangryp om homself te bevredig en dikwels sy slagoffers sal dronk maak of bedwelm, die sadistiese verkragter wat sy slagoffer wil verneder, en die wraaksugtige verkragter wat haat en aggressie jeens vroue voel.

Die skrywer belig ook die feit dat verkragting van vroue as wapen in oorlogsituasies – en in hierdie geval die apartheidstryd – gebruik is, maar hy kyk ’n belangrike punt mis. Manlike oorlogsgevangenes word ook verkrag. Soveel as 22% van mans het seksuele geweld in Oos-Kongo aangemeld in 2010.

Grobbelaar raak egter wel twee uiters interessante verskynsels aan. Die eerste is dat vroue soms orgasmes (maar sonder plesier) tydens verkragting kan ervaar. Die tweede is dat mans dikwels die verkragting erger beleef as die slagoffer self en haar dan verwerp omdat sy (as sy besitting) bevuil is deur ’n ander man. Ek het opgelees dat, ironies genoeg, dieselfde gebeur met verkragte mans in patriargale Afrika-lande waar die vrou hom verwerp omdat sy hom nie meer as manlik of sterk beskou nie.

’n Ander waarneming van patriargie wat Grobbelaar maak, is die kwessie van owerspelvergoeding. In die boek, waar die hofsaakstorielyn in 2010 afspeel, word verwys na ’n artikel wat Karl hieroor geskryf het. Basies maak hy kapsie teen die feit dat ’n eggenoot die reg het om die derde een wat met die ander een owerspel gepleeg het, vir skadevergoeding te dagvaar.

Dié regsaksie kom van die ou Romeins-Hollandse wette waar die man as die dominante rolspeler beskou is en die vrou as sy besitting. En tot 1914 was dit ’n kriminele oortreding net as die vrou owerspel gepleeg het. Die man kon ook eis van die derde party, maar die getroude vrou kon eers in 1950 die minnares dagvaar. In 2014 is dié regsaksie ongeldig in Suid-Afrika verklaar.

...
Seks met sy dubbele standaarde vir mans en vroue val ook onder die soeklig, sowel as verskillende soorte seks. Karl praat van wellusbevrediging, seks vir voorplanting, seks vir blote plesier sonder verbintenis, en dan sublieme seks – oftewel liefdeseks.
...

Seks met sy dubbele standaarde vir mans en vroue val ook onder die soeklig, sowel as verskillende soorte seks. Karl praat van wellusbevrediging, seks vir voorplanting, seks vir blote plesier sonder verbintenis, en dan sublieme seks – oftewel liefdeseks. Daar word ook gekyk hoe die samelewing se beskouing van seks en sonde elke dekade of so verander.

Lesers wat van filosofiese denke hou, sal dit geniet om uitgedaag te word en so tussen die lees deur persoonlike sienings te toets en te verbreed. Die onderwerpe wat bespreek word, is dan ook vars in ’n Afrikaanse konteks.

Die hofsaakstorielyn is egter taamlik voorspelbaar, en die karakterontwikkeling van die vroue kon volronder gewees het. Of ’n jonger leser begrip gaan hê vir hoe sedelik eng Suid-Afrika in die sestigs en sewentigs was, is ook ’n ander vraag.

Daar was frases wat my van kop tot tone laat gril het … ’n pa wat deur ’n hartaanval “gedood is”; “koukasiese gelaatstrekke en ’n knypie Afro”en hoekom sal ’n bruin vrou wat in Londen grootgeword het, praat van “moeder” en “vader”?

Die boek sou kon gebaat het by ’n snoei, ’n meer gespanne storielyn, moderner taalgebruik en minder dramatiese wroeging.

Andersins volg die boek dieselfde patroon as Beethoven se vioolkonsert in D opus 61. Die onheilspellende vyf slae, die soms vrolike, eenvoudige melodieë van herinnering, gevolg deur spannende onderbrekings en die meer vrye cadenzas van filosofiese denke.

Grobbelaar sluit uiteindelik af met die vyf slae van verligting, verlossing, vergifnis, versoening en vrede wanneer die karakters besluit om hul eie lewens terug te neem.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top