Die vullis moet skoon gevieë wot

  • 0

Ek dinkie die politicians dink ooit hulle of hulle geliefdes kan in die nood vallie. Hulle vat dit sieker soe hulle gatte sal altyd gedek wôt. Ek mean hoe sit djy daa in daai high office  en pretend  met jou high suit  soes djy sit en planne maak op anne mense se liewens. Hoe in jou regte mind  kan djy stem dat mense wat oppie straat bly moet geskyf wôt? Om skouers op te trek en te sê maa dis die by-laws, is maa net nog ʼn veskoning vir politicians om nie hulle wêk te doen nie.

ʼn Vriendin van my lies die anner dag ʼn berig oor wat die City of Cape Town biesag is om te doen. Sy skel toe en sê: “Dis ommat hulle nie die moordenaars en rapists kan vangie nou moet hulle die homeless anval.” 

En dissie vi my te vêr van die waarheid nie. Dis soes hulle wil wys hulle kan shabba maak met die vullis op die strate. Dis soes dit vi hulle browny-points gat score by hulle base, wie-ever dit oekal is. Ek is net onsteld en teleurgesteld in die mense wat daa boe sit, but what’s new?

Die hele storie gan oo privilege, en oorie feit dat baie mense wat by die by-laws staan, dink dat om die dak oo hulle kop te veloo kan nooit met hulle gebeerie, wan hulle het ʼn doel in die liewe en hulle betieken meeran die mense wat die strate hulle huis kô maak het.

Ek mien wie wil dannie langsie beach bly, of in die middestad, of naby Hoerikwaggo wiesie? Hoekô moet die plekke dan nou net reg wies vi die mense wat dit kan bekostig? 

Die hele storie is ʼn storie van privilege en soelank dittie vi ôs raakie, hoef ôs mossie an dit te raakie. Ek wonner dan hoekô is daa nie by-laws wat dit tien die wet vi mense om te veel spasie te het as wat hulle nodig het? Ek mien as djy wil ʼn groot jaat met ʼn pool en jacuzzi en ʼn grasperk en boeme, dan is dit tog net reg dat djy gefine moet wôt om te het wat djy nie nodig hettie. Hoe sal dinge wêk as dinge moet gechange wôt? Hoe sal ôs wat met soeveel privilege sit dan praat?  Vi’al die groot koppe wat daa hoeg in hulle kastele sit en reëls en regulasie aftieken vi die skarrelaars op die grond. Om te dink dat soe baie mense en politicians brêk hoe hulle gloe in ʼn Christelike Got, maa hulle waardes wys na iets anners toe.

Toe ek nog innie stad gebly het, het die mense wat hulle vookamers en kombuiste op die sypaadjies maake my familie geraak – my vrinne, my bodyguards, my beraaders, my kêk-mense.  Ek dink an die een spesifieke dag. Ek was oppad na ʼn vriendin van my toe, maa die dag self was een van daai dae wat die wêreld net op haa rug gelê en lag het vi my. Ek kry toe vi Cardo voo die Spar. Nou ôs ken mekaa al lank. Hy vetel my toe van sy seun en hoe dit met hom gan, en ek vra hom hoe dit met Waanie gan. You know, die gewone smalltalk. Maa Cardo kyk my en hy sê: “Maa suste lykkie soes suste se self vedaggie.” Ek smeer dit af en sê: “Niee, djy wiet Cardo, die liewe wil maa net geliewe wôt.”

Hy luiste andagtig na wat ek vi hom sê en dis soes daa ʼn lig in sy gesig angan. Na ʼn paa minute van net die karre se gedruis wat veby ôs ry en die val van ôs voete tienie gruis begin vetel hy my van sy kinnerdae. Hy vetel van sy Sondagskooldae en hoe die dominee vi hulle die storie van die mostertsaad vetel het. Hy sê toe: “Suste, al is ʼn mens se geloof soe klein soes ʼn mostersaad kan dit berge skuif.” Hy sug toe en sê dat hy nie lekke die Bybelvers kan onthou nie, maa wat hy al die pad saam hom gedra het was dat dit maakie saak hoe erg dinge gannie, maa soelank jou geloof stêk is dan is alles fine.

Nou wat is die nuisance van om sulke mense in jou gemeenskap te het? Ôs is veels te gewarrie oo die gesig van ôs gemeenskap en hoe dit lyk en ruik, dat ôs vegiet het vannie mense wat minner as ôs het en die waarde wat hulle binne hulle dra? Daai mense, die vuil, stinkendes van ôs strate: voo hulle die strate geraak het, was hulle mense met stories, en hulle is dit vandag nog steeds. Ek wens ons kan dit elke dag onthou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top