Die vrou op die dak: die aangrypende verkenning van ’n eksistensiële krisis | Momentum Beleggings Aardklop 2023

  • 0

Momentum Beleggings Aardklop bied aan: Die vrou op die dak
Met: Je-ani Swiegelaar
Teks: Germandt Geldenhuys, geskoei op ’n konsep van Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar 
Regie en beligtingsontwerp: Germandt Geldenhuys
Stelontwerp: Germandt Geldenhuys en Je-ani Swiegelaar
Verhoogbestuur: Rehbart Geldenhuys
Vervaardiger: Guyselaar Produksies
Genre: Tragikomedie
Taal: Afrikaans
Tydsduur: 80 minute
Venue: Gimmies
Datum en tyd: 4 Okt 09:30, 6 Okt 09:30, 7 Okt 16:30, 7 Okt 20:00

“Dit is 2023, ’n vrou kan enigiets doen,” roep René uit terwyl sy op die dak klim. Sy is ’n vrou op ’n missie, nie net om haar huis te red nie, maar om haarself te herontdek.

Aardklop het ons weer eens met hul nuutste produksie Die vrou op die dak oorbluf. Dié tragikomedie, met aktrise Je-ani Swiegelaar in die kollig en Germandt Geldenhuys as regisseur, bied ’n hartstogtelike reis wat die gehoor deur die kompleksiteite van bevryding (hoe om te laat gaan), identiteit, vrouwees, verlies en genesing neem. Wees bewus daarvan dat hierdie verkenning inligting oor die storielyn van die opvoering onthul wat ’n eerstehandse kykervaring kan bederf.

Die hele vertoning speel af op die dak van René Niewoudt se huis. Ten spyte van die beperkte ruimte, hou Swiegelaar se boeiende vertolking die gehoor betrokke en bekoor van begin tot einde. Die verhoog is vernuftig ontwerp, wat dit ’n karakter in eie reg maak. Die dak word ’n mikrokosmos van René se wêreld, waar sy nie net met haar eie emosies worstel nie, maar ook met die menings en oordele van diegene wat “onder” haar vergader.

René se impulsiewe besluit om op die huis se dak te klim, word gedryf deur ’n eksistensiële krisis wat veroorsaak is deur haar egskeiding en die naderende sloping van haar geliefde gesinshuis.

“Ek is siek vir elke liewe man op hierdie aarde wat vir my wil sê wat om te doen,” verklaar René. “Ek sal bly sit.”

In die opvoering word verlies en die stryd om te laat gaan meesterlik verken. René se besluit om in protes op die dak van ’n huis (wat tegnies nie meer aan haar behoort nie) te bly sit, is ’n duidelike bewys van haar hardkoppigheid en onvermoë om afskeid te neem van die verlede.

“Ek sukkel om te laat gaan, duidelik.”

Die vrou op die dak ondersoek ook die veerkragtigheid van sterk vroue. René beklemtoon die opofferings wat vroue maak in die rolle wat hulle vertolk, dikwels ten koste van hul eie identiteit.

“Ek dink meeste van alles mis ek myself.”

Ook op die huis se dak besef René dat sy eintlik lankal die egskeiding, die verbrokkeling van haar huwelik en “die krake in die fondasie” moes sien kom het. Die man waarop sy eens verlief geraak het, bestaan nie meer nie. Johan het reeds jare gelede sy gevoelens aan haar openbaar:

“Ek dink nie ek is meer lief vir jou nie.”

René het doodstil in die bed bly lê. Dit het gevoel asof haar siel bo haar liggaam sweef:

“Ek kon sien hoe weerloos en broos ek is, soos ’n lappop.”

Teen skemertyd maak René haarself aan die televisieskottel met ’n tou om haar lyf vas. In ’n humoristiese visueel hang sy onderstebo teen die dakteëls af, terwyl sy die blare uit die geute probeer vee. In die agtergrond speel sy musiek op haar foon – Laura Branigan se liedjie “Ti Amo” begin speel. En daarna Celine Dion se “All by myself”. Behalwe vir Je-ani se skreeusnaakse vertolking, het sy die gehoor aangenaam verras met haar brawe toertjies op die verhoog. Die gehoor was omtrent meegevoer deur dié gedeelte van die vertoning. Dit is hierdie tipe humor (grensend aan absurditeit) wat die gehoor deurgaans op hul tone gehou het en die fokus vir ’n kort oomblik wegdraai van die naargeestige realiteit wat René in die gesig staar.

Sy ontvang ’n telefoonoproep van haar vervreemde eksman Johan wat alles verander. “Jy het gewen, Johan,” gee sy toe, nog vóór hy iets kon sê. Maar Johan het skielik van besluit verander. Hy bied aan dat René die huis kan hou en dat hy na hulle vakansiehuis in Gordonsbaai sal verhuis. Die gehoor word herinner aan die belangrikheid om te veg vir iets wat jy graag wil behou, maar om ook te weet wanneer dit tyd is om totsiens te sê. Sy gooi haar handsak oor haar skouer en klim versigtig van die dak af.

Die vrou op die dak is ’n teatrale meesterstuk wat komedie en tragedie gemaksugtig vermeng en ’n gedagteprikkelende ervaring skep. Je-ani Swiegelaar se merkwaardige vertoning as René Niewoudt is niks minder as buitengewoon en voortreflik nie. Haar vermoë om moeiteloos oor te skakel tussen oomblikke van humor en aangrypende refleksie, weerspieël haar besonderse toneelspelvernuf. Regdeur die toneelstuk word die gehoor op ’n tuimeltrein van emosies geneem. Die gehoor aanskou René se eksistensiële krisis en haar vasberadenheid in die aangesig van teëspoed.

Je-ani Swiegelaar se meesleurende uitbeelding van René laat ’n blywende indruk, want sy neem die gehoor op ’n reis van selfontdekking en veerkragtigheid. Die balans tussen komedie en tragedie, tesame met die toneelstuk se pertinente temas, maak van Die vrou op die dak ’n kragtige en boeiende teaterervaring. René se verhaal vergestalt die idee dat ’n mens krag en bevryding kan vind selfs in die mees uitdagende oomblikke van die lewe. Maar sy herinner haarself deurgaans om nie na ander se opinies te luister nie en dat sy ’n sterk vrou is:

“Se moer, ek ís rots.”

Die vrou op die dak is ’n triomf in storievertelling en uitvoering. Dit nooi die gehoor om na te dink oor die kompleksiteite van die menslike toestand en die stryd om op te hou vasklou aan die verlede. Je-ani Swiegelaar se stervertoning en die toneelstuk se verkenning van verwante temas maak dit ’n moet-sien vir teatergeesdriftiges en enigiemand wat ’n dieper begrip van die lewe se skoonheid en onstuimigheid soek. Moenie die kans mis om hierdie aangrypende en humoristiese vertoning te aanskou nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top