Die vrou met die pers oog – ’n adrenalientrekker

  • 1


Titel: Die vrou met die pers oog
Skrywer: François Bloemhof
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798155328
Prys: R84.95

Klik hier om Die vrou met die pers oog te koop by Kalahari.com.

Om ’n bangmaakstorie aan hedendaagse tieners te verkoop wil gedoen wees, en die grilskrywer François Bloemhof het so ’n wenresep beet. Een wat reeds gelei het tot ’n hele reeks boeke wat menige jong leser se tone laat krul. Sy eerste, Die vrou met die pers oog, is ’n boeiende riller met hope verrassings, geheimenisse, intrige en spanning. Dit is oorspronklik in 1996 uitgegee met ’n interessante blaps op die voorblad: die woord “pers” het in petunia-pienk aangemeld. In 2006 verskyn hierdie verhaal weer in die grieselige Rillers-omnibus en dit het pas opnuut in 2011 in ’n splinternuwe glansbaadjie by Human & Rousseau ’n opwagting gemaak.

Grilverhale het ’n groot aanhang onder veral jong lesers van oraloor en dit blyk dat ook Afrikaanse rillers gulsig opgeraap word, vandaar die behoefte aan nuwe uitgawes. Alhoewel die voorblad van die jongste uitgawe minder vreesaanjaend as dié van die 1996-uitgawe is, is die aanbod van ’n enkele pers oog bo ’n soort gotiese skrif, teen ’n swart agtergrond, steeds visueel prikkelend en die verhaal bly ’n lekker spanningsvolle leeservaring.

Dis nooit maklik om by ’n nuwe skool in te skakel nie en vir die twee hoofkarakters, broer en suster Chris en Martie Smit, is dit ’n besonder groot aanpassing. Die maak van nuwe maats is reeds ’n moeilike ding, en om dan sommer gou gekonfronteer te word met vriende wat openlik angstig is en vreemd begin optree en lyk, kan onthutsend wees.

Spanning neem reeds in die tweede hoofstuk toe met die beskrywing van die eienaardige gedrag en voorkoms van die skool se biblioteekjuffrou. Tydens ’n pouse besoek Martie die biblioteek, wat effens eenkant sit. Die gang is leeg en stil en ’n vreemde gevoel van verlatenheid maak Martie skrikkerig. Dis haar eerste een-tot-een ontmoeting met die rare me Pol. Miskien is dit omdat ek self ’n bibliotekaris is, maar hierdie gegewe het my maag lekker laat kriewel van opwinding. Daar is niks meer vreesaanjaend as ’n stil, skemer biblioteek nie. Die kanse dat iets onmenslik uit die skadu van stowwerige rakke kan du, toor met die onderbewussyn. Sit ’n grillige bibliotekaris agter (in hierdie geval, onder) die uitleentoonbank en jy het ’n wenner beet.

Wanneer Chris se beste vriend, Bertus, en sy suster, Engela, ook hulle rooibruin hare oornag verloor, word ’n ontstellende patroon vir Chris en Martie duidelik. Kinders met ’n haarkleur soos dié van hulle eie is die slagoffers en iewers pas die vrou met die pers oog in die verdoemende prentjie in. Die twee karakters bevind hulle binne die milieu van skoolgaan en alledaagse werklikhede en tog dwing gebeure hulle nou om planne te beraam om te ontsnap en te oorleef. Hulle moet immers tot die redding kom van hulle maats en moontlike toekomstige slagoffers. Nadat hulle een aand vir juffrou Pol in haar huis (nr 13, natuurlik) gaan afloer het, is hulle seker sy hou haar met onderduimse dinge besig. Dié vermoede word bevestig wanneer Martie dit regkry om juffrou Pol se dagboek te gaps. Soos wat die opwinding en die afwagting toeneem, word die dreigende onheil ’n werklikheid. ’n Konfrontasie met juffrou Pol en haar swart kat blyk onafwendbaar te wees en die verhaalgebeure word toenemend intens.

Binne die Afrikaanse letterkunde is die riller vir jong lesers ’n relatief onderontginde genre – waarskynlik weens die feit dat dit geen maklike projek is om aan te pak nie. Dit verg ’n skrywer wat die behoeftes van tieners verstaan. So ’n skrywer moet vernuftig en uiters vindingryk te werk gaan. Deel van die aantrekkingskrag van die riller is juis die aanbod daarvan, met ander woorde die wyse waarop die storie vertel word. Dit behoort ’n mallemeule van ononderbroke aksie, kinkels in die kabel, verrassings, misterie en opwinding te wees. Dinge wat die jong, miskien soms blasé, leser sal meesleur. Die vrou met die pers oog is so ’n blitswarm riller wat ’n mens noop om verder te lees.

Soos met die verhaal “Die speletjie”, aanvanklik in 1999 uitgegee, in die omnibus in 2006 en nou weer in 2011, bied Bloemhof ’n tipiese lekkerlees-grilstorie. In Die speletjie is dit teen die agtergrond van die rekenaartegnologie waar die moordspeletjie ’n werklikheid word en doodgewone kinders die gevare die hoof moet bied. Bloemhof bring die jong leser telkens voor ’n oortuigende lewe-of-dood-situasie te staan, binne ’n volgehoue nagmerrie wat waar word.

Tradisioneel is die wêreld van die riller ’n oorwegend manlike domein. Daarom is dit verfrissend dat Bloemhof ’n vroulike protagonis inskryf. Martie is ’n ewe oortuigende karakter as haar broer. Saam aanvaar hulle die uitdagings en tree hulle dienooreenkomstig op.

Voorts is die riller grootliks daar om te vermaak. Karakterontwikkeling bly dus ondergeskik aan die intrige en die verhaalgebeure. In Die vrou met die pers oog word daar, soos te verwagte, nie vreeslik diep gedelf in die psige van die karakters nie. As adrenalientrekker is hierdie boek egter ’n wenner.

Die vrou met die pers oog kan met vrymoedigheid aanbeveel word as ’n voorbeeld van ’n suksesvolle, vinnigbewegende, opwindende riller wat lesers sal laat naels kou en enduit sal boei. Trouens, na die lees van hierdie boek sal lesers lus wees om in die res van Bloemhof se rillers te gaan inklim.

 

  • 1

Kommentaar

  • Wil graag meer inligting verkry oor die intrige van die verhaal en wie die vrou met die pers oog is!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top