Die voëls van die gode

  • 0

Foto: Canva

Die voëls van die gode

Onthou is deel van wie hulle is.

Kra-kra.
Kra-kra.

Die voëls van die gode sit die bome vol.
Die swerm kraaie in hul swart pakke. Roubeklaers by Dietlof Fritz se graf.

Cia kom nie meer elke dag na sy graf nie. Haar naam het op sy lippe gesterf saam met die fluitjie.

Sy ken die plek goed. Kinders word saam met die gode groot, ken hulle by name. Volwassenes leer om weg te kyk.

Die voëls kom steeds. Elke dag dieselfde tyd.
Eers een kraai. Dan twee. Dan ’n klein groep wat soos swart gedagtes op die klip en die lae takke gaan sit.

Hulle maak nie geraas nie. Nie soos menslike rou nie. Net die sagte skuif van kloue op hout, die kort draai van koppe, die manier waarop hulle kyk – asof hulle wag vir iets wat altyd gekom het en nou nie meer kom nie.

Dietlof het hulle jare lank gevoer. Hulle geselskap gehou. Versorg. Gehelp om stokkies aan te dra vir nuwe tuistes. Ou tuistes weer opgebou.

Brood in sy handpalm. Krummels op dieselfde bankie. ’n Fluitjie soms. En hulle het gekom soos kinders wanneer ’n ouer roep.

Nou is dit stil. Alles is stil.
Geen krummels nie.
Die fluitjie is ook stil.

Maar die kraaie het nie vergeet nie.
Hulle vergeet nooit regtig nie. Onthou is deel van wie hulle is.

Hulle sit op die graf, op die heining, op die kaal takke bo hom – nie asof hulle van die dood verstaan nie, maar asof hulle die plek onthou waar iets belangriks eens geleef het.

Die houtkruis staan hoog bo die los grond met sy naam op. Regop. Soos Dietlof.
En wanneer die son sak, beweeg een kraai nader aan die kruis, tik liggies met sy snawel en wag.

Nie vir die mens nie.
Vir die gewoonte wat verdwyn het.

Die houthuis waar hy ’n leeftyd gewoon het, staan effens skeef in die wind.
Vol ou stories.

Sommige ken net die kraaie.

 

Die kerk met die rooi koepel staan regs, half verskuil agter die huis. Die geel kerktoring troon bo die bome uit. Agter die kerk staan die kopbene met hul brandende kerse veilig agter draad.

Waarom die kopbene daar is, weet niemand.
Ook nie waarom elkeen sonder ’n eie sandbed rus nie.

Miskien ken die gode se voëls die antwoord. Maar hulle swyg.
Miskien het die geeste lankal die hemele ingevaar.

Almal wonder.
Niemand weet nie.

Cia stap stadig deur die gang. Die huis ruik steeds na pyptabak en skeerroom.
Haar hand gly oor die houtmuur – warm van herinnering, koud van tyd.

Familiefoto’s staan op ’n ry. Sy loop verby. Steek vas. Draai terug.

Toe sien sy haar.
Swart toutjieshare.
Swart kraaloë.

Sy kyk af.
Toe op.
Die kraaloë beweeg.
’n Sliert hang buite die raam.
Toe sy weer kyk, is alles normaal.

Sy is moeg ná die reis. Sy gaan bad en skakel die ligte af.
Deur die venster: Die kraai lê nog. Die roubeklaers sit nog.
Sy trek die deken terug.
’n Swart veer lê op haar kussing. Sy glimlag. Sien die glans op die veer. Hy weet sy is hier.

Glas breek in die gang.
Sy gaan kyk.
Niks is gebreek nie.
Sy kyk weer deur die venster.
Die toutjieshare swaai in die wind.
Die dooie kraai is weg.
Die roubeklaers is stil.
Die kerse is dood.
Die veer op haar kussing is weg.

En iewers, baie naby, klink dit asof iets sag ween.

Daardie nag reis sy weer.

Nog ’n nagtelike rit tussen die sagte vere wat glinster in die helder maan. Sy, met gare toegedraai. Goue sterre wat laag hang, en klein kristalle wat blink en rondswaai aan dun toutjieshare.

Die son sit al hoog toe sy wakker word. Sy trek haar kamerjas aan en loop, nog gapend, kombuis toe.

Een stoel is uitgetrek. Vere wat in die son glinster, lê op die klein kombuistafel.

Die kraai se oë is half toe wanneer dr Kolbe hom aanraak. Die pyn in sy vlerk is nie meer skerp nie – net swaar.
Hy hoor dinge wat nie klank is nie.

Sy het my nie gelos nie.
Mense los altyd.
Die ander een is weg.

Hy voel dit steeds – die stilheid van sy maat. Soos ’n gat in die lug.

Hy wag nog.
Kraaie wag nie.
Die lug in hierdie plek is anders.
Te stadig.
Te vol.

Die vrou kom weer in. Beweeg nader. Haar hande bind, druk, maak vas.
Nie pyn nie.
Hy ruik maanlig.
En ou dinge.

Hy wat Corvus is, dra Huginn se bloed. Hy dra die Gedagte.
En Gedagte onthou.
Wie die draad gespan het.
Wie die skoot afgevuur het.
Wie gelag het terwyl hy geval het.

Dit is die vloek:
“Ek vergeet jou gesig nie.”
Ons vergeet nie.
Ons leer ons kleinkinders jou gesig.
Vir vyf geslagte lank.

Kra-kra.
Kra-kra.

Die vrou met die toutjieshare brand kerse vir kopbene sonder name. Sy bid sag.
Corvus sit op die dak en kraai hard.

Laat ons sien wie se gebed eerste by die gode uitkom.

Huginn en Muninn keer elke aand terug na die vrou in die raam se skouer.
En sy sê net:
“Vertel.”

Sy vra nie meer nie.
Sy vra nie beter nie.
Sy laat hulle net praat.

Dan wag sy tot die maan vol is sodat sy die siel die hemele kan inneem.
Daarna gaan lê hy ook in sy sandbed.
Toegemaak onder ’n enkele houtkruis.

Cia maak die kombuis skoon.
Ook die res van die huis.

Sy vee die ou familieportrette af. Staan stil by die vrou met die toutjieshare. Glimlag. Hoe mooi is jou hare nie daarbo nie, Ouma. Niemand weet jy is steeds hier nie. En daar. En oral. Vir altyd.

Sy gee die plante water.
Môre sal sy weer graf toe stap.

Sy haal meel uit en bak broodjies.
Teen middag staan ’n mandjie gereed: die helfte van die vars broodjies, ’n paar appels en ’n botteltjie appelkooskonfyt.

Sy stap stadig met die woudpaadjie wat na die bure se huis lei.
Wit veldlelies word ook gepluk en versigtig in die mandjie gesit.

Hoe rustig is dit nie hier nie.
Die enigste geluide is voëltjies en bye.
Voëls vlieg heen en weer terwyl hulle neste bou.
Water kabbel oor klippies.

Sy het lanklaas by oom Gerbardt gaan aanklop.
Niemand antwoord op haar klop aan die deur nie.
Sy draai die knop en stap binne.
Alles is netjies op sy plek.
“Oom Ger, is oom hier?”
“Oom Gerbardt? Ek het vars broodjies gebring.”

Die huisie se stilte raas.
Die mandjie gaan op die tafel.
Cia loop om die huis.

Kra-kra.
Kra-kra.
In die bome sit die roubeklaers.

Corvus sit langs Gerbardt.
Die dun stringetjie hare lê oor sy gesig.
Daar is hol gate waar sy oë eens was.

Die gode vergeet nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top