
Foto: Canva
Die vlugteling
Die vrou staan op, stap na die koolstoof in die hoek van die vertrek. Sy vou ’n lap om die handvatsel van die ketel, stap terug na die kombuistafel en skink die koffie in die twee enemmelbekers.
Soos wat sy beweeg, dans donker skaduwees in die lig van die gaslamp. ’n Mot draai al om die lamp, betower deur die verblindende lig. Die reuk van gebrande vleis prikkel haar neus. Buite hoe-hoe ’n uil droefgeestig.
Sy ril onwillekeurig en trek die gehekelde truitjie wat los om haar skouers hang, stywer.
Johannes kyk op toe sy die beker met die moerkoffie in sy rigting skuif. Haar heuningblonde hare hang los oor haar skouers. Donkerbruin oë onder lang swart wimpers maak kontak met hom. Haar hande slank, maar goed versorg.
“Dankie, Matilda,” sê hy en vou beide sy hande om die beker. Anders as haar hande, is syne grof en vol eelte. Daar is swart grond en olie onder sy vingernaels. Hy bring die warm koffie versigtig na sy mond en slurp daaraan. Sug behaaglik.
“Môre is ons groot dag,” sê sy sag.
Hy kyk nie op nie, vra net: “Is jy seker ons doen die regte ding? Om alles darem net so te los en...” Hy maak nie sy sin klaar nie. Neem nog ’n slukkie van die koffie.
“Hoeveel maal moet ons dan nou ook hierdie gesprek hê?” Haar stem geïrriteerd. “Daar is nie meer ’n toekoms vir wit boere in hierdie land nie. Wit is nie ’n kleur in die reënboog van hierdie nasie nie.”
Sy skuif haar stoel terug. Stap na die koolstoof en gooi nog mieliestronke daarin.
Sy vat die ronde yster langs die stoof en begin om die vuur daarmee te stook. Driftig. Kole skiet in die lug op, sterf halfpad.
Sy kom sit weer by die tafel met sy vier witgeverfde stoele. Die verf plek-plek afgedop. Kyk hom stip in die oë. “Wanneer gaan jy ophou droom, Johannes? Kyk tog net vir eenmaal in jou lewe na die werklikheid om jou.”
Sy swaai haar arm deur die lug.
“Hier sit ons op ’n plaas in die donker. Sonder krag.” Matilda vat nog ’n slukkie van die koffie. “Ek is al so gatvol vir hierdie alewige beurtkrag. Niks gaan verander nie, Johannes. Niks!” Haar stem bewe.
“Ek is nie blind vir al hierdie dinge nie, maar om alles net so te los.” Sy stem sag. Moeg. Hy kyk op na haar. “Hoe begin ons weer van voor af in ’n vreemde land en dit as bywoners?”
Sy spring regop. Die stoel knal agteroor. Haar oë blits in die sagte lig van die lamp. “Het jy vergeet, Johannes? Het jy daardie aand vergeet?” Haar stem breek. Eindig in ’n snik. “Die Here weet ek sal so iets nie weer oorleef nie.” Sy klap die deur agter haar toe. Los hom met die stilte.
Sy gedagtes dwaal na daardie aand. Hoe sal hy dit ooit kan vergeet? Hy vryf onwillekeurig oor die littekens op sy bobeen. Dit was donker, soos nou. Hulle was al in die bed. Die eentonige dans van die reëndruppels op die sinkdak het hom aan die slaap gesus.
Hy weet nie hoe lank hy geslaap het nie. Die geluid van iets wat val. Onbekend. ’n Skerp, suur reuk in sy neusgate. Hy het opgevlieg. Te laat.
Daar was drie van hulle.
Een het vir Matilda gegryp. Haar gil het deur murg en been gesny. Hom vorentoe gedryf. ’n Stem in die donker wat skreeu: “Shut up! I’ll kill you!” ’n Klapgeluid. Matilda wat saggies snik. Prewelend bid.
Hy het die blink van die pistool hier vlak voor sy gesig gesien. Daarna gegryp. Skote wat klap. Sy bene wat onder hom ingee. Matilda het weer begin gil. Haar stem skril. Vreemde stemme wat deurmekaar skreeu. Voetstappe wat in die gang afhardloop. Alles wat swart voor hom word.
Hulle kon darem sy been red, maar niks sou ooit weer dieselfde wees nie.
Johannes weet nie hoe lank hy by die tafel gesit het nie. Hy staan moeisaam op. Leun swaar op sy kierie en stap na die koolstoof. Hy stook weer die vuur en nadat die ketel gekook het, gooi hy vir hom nog ’n koppie van die sterk swartkoffie in.
Hy kyk deur die kombuisvenster, sien hoe die son kleurvol die nuwe dag aankondig. Buite kwetter die vinke in die wilgerboom by die dam. Iewers kraai ’n haan.
Later staan hy op. Hinkepink in die gang af, verby die gepakte tasse. Sy vingers streel oor die tas.
Hoe pak ’n mens ’n leeftyd se leef sommer net so in ’n tas? wonder hy en stap by die voordeur uit.
Hy stap verby die reusepeperboom tot by die kraal. Die hout skurf onder sy aanraking. Van die beeste draai hul koppe na hom. Ander lê rustig en herkou. Hy ruik die vars beesmis. ’n Kalf roep na sy ma.
Hy sluk aan die knop in sy keel, draai om en stap verder.
Verby die stoor al met die kweperlaning af. Hy maak die lendelam hekkie oop. Dit protesteer luidkeels. Hy stop by die klein graffie met die wit kruis daarop. Johannes van Wyk, lees hy. Die Here het gegee. Die Here het geneem. Die wit woorde spring uit die swart graniet van die eenvoudige kruis na hom toe. Hou hom gevange.
Hy sou die vierde geslag Johannes van Wyk gewees het. Hy was maar net een jaar oud. ’n Traan biggel teen sy wang af, verdwyn in sy welige swart baard. Na hom het hulle geen verdere kinders gehad nie. Die seer net te groot.
Wat gaan van hom word as hulle daar in die verte is? Wie gaan sy graf skoon hou en gereeld vars veldblomme daarop sit? Hoe los hy vir klein Johannes sommer net hier?
Hy leuen met beide hande op sy kierie. Sy kop op sy bors.
’n Motor beur teen die opdraand uit, agter hom ’n stofstreep wat lui in die oggendsonnetjie hang.
Hulle het ons kom haal. Dit is tyd, dink hy by homself en stap stadig terug na die witgekalkte huis met sy groen dak.
Die lughawe is ’n mengelmoes van bedrywighede. Menselywe skuur verby mekaar. Onbewus van mekaar. Sy oë spring na die gesigte rondom hom. Soek na iets bekends. Vind niks. Sien Matilda in die ry voor hom. Hy skuifel nader aan haar. Ruik die bekendheid van haar parfuum.
Die vrou by die toonbank vat Matilda se paspoort. Voer iets op die rekenaar in. Matilda sit haar tas op die vervoerband. Hy sien hoe haar tas in die onbekende verdwyn.
“Meneer, u paspoort.” Die vrou agter die toonbank kyk vraend na hom. Sy hou haar hand met die rooi naels na hom uit. Sy oë dartel verwilderd van die rooi naels na die paspoort in sy hand en dan weer terug na die vrou agter die toonbank.
“Ek kan nie,” prewel hy.
Sy oë draai smekend na Matilda. Hy sien die beslistheid op haar gesig.
“Ek kan nie alles net so los nie.” Sy stem ’n sagte fluister.
Matilda draai woordeloos om en begin wegstap.
Hy skuifel uit die pad. Kyk haar agterna totdat sy tussen die mense verdwyn. Johannes draai stadig om. Sy kierie klik-klak op die teëls.
Hy gaan sit eenkant op een van die blou bankies. Laat sak sy kop tussen sy hande. Die rou snikke skeur sy menswees oop. Die seer van sy verlies ’n kloppende pyn in sy bors.
Hy weet nie hoe lank hy so gesit het nie. Hy haal die sakdoek uit sy broeksak. Die een wat sy nog vir hom gekoop het. Blaas sy neus daarin uit. Vee oor sy oë. Dan staan hy moeisaam op. Met die kierie in sy een hand en sy tas in die ander stap hy stadig in die rigting van die hysbak.
“Johannes!” Die stem agter hom sag, tog bekend.
Hy hou aan stap. Bang vir die stemme in sy kop.
“Johannes!”
Hierdie keer is die stem duidelik. Hy draai om. Sien hoe Matilda tussen die mense deur beur. Die kierie val uit sy hand. Rol knetterend eenkant toe. Hy gee ’n tree in haar rigting. Sy hardloop in sy oop arms in. Druk haar kop styf teen hom vas.
“Ek kan nie ’n nuwe lewe sonder jou begin nie,” prewel sy tussen die snikke deur.
Hy hou haar vas. Voel hoe sy in sy arms ontspan. Dan lig hy haar kop op. Kyk diep in haar goudbruin oë.
“Miskien is daar tog ’n plek vir ons in hierdie deurmekaar land,” sê hy en soen haar vol op die mond.

