
Foto: Canva
Die vlugteling
Klerksdorp. Sondag 30 Maart 2025, 21:47.
Ek sit op die toilet. Ten volle geklee. My voete voor my uitgeskop, my rug rus teen die waterbak. In die plek van toiletpapier hou ek ’n boek vas. Tom Wood – my gunsteling- assassin-skrywer.
Die huurder agterin ons erf se hond blaf. Vroegoggend, as sy terugkom, klink dit of die hond ’n inbreker verskeur. Maar sy diep blaf bring ook gerusstelling – mense loop aan die oorkant van die straat verby ons huis.
“Het jy gehoor? 70 000 Afrikaners het aansoek gedoen om vlugtelingstatus!” skree my vrou, Lauren. Haar Engelse aksent slaan deur. Dit klink of sy by die deur staan. Wil inkom.
Ek kreun vir effek. Skree: “Ek hoor nie! Ek is nou daar!”
In die tronk het ek baie in die stort gebid, want dit was die enigste plek waar dit stil was. Sedert my troue lees ek om dieselfde rede in die toilet.
Aan die einde van die hoofstuk vou ek die hoek van die bladsy. Spoel die toilet en maak die kraan oop. Moet ek lugverfrisser ook spuit?
Ek druk die boek agter my rug by my broek in. Laat my T-hemp bo-oor hang.
“Waar’s jy?” Lauren, dit klink asof sy van die slaapkamer na die sitkamer geskuif het.
Sy kyk nie van haar selfoon op toe ek instap nie. Haar bene is tot teenaan haar bors opgetrek. Ek krap haar bobeen met my naels.
Op die armleuning lê twee Grandpa-pakkies. Dit lyk soos twee koplose lyke.
Lauren hou ’n leë glas na my uit. “Kan jy asseblief vir my bietjie water bring?” Sy knyp haar oë toe, vryf hulle met haar duim en wysvinger. “Hulle moes met Izak se geboorte vir my die Covid vaccine ingespuit het, die hoofpyne gaan nie weg nie. Bliksems.”
Izak lê langs haar opgekrul, sy donkie-teddiebeer styf teen hom getrek. Foxy, ons gemmerkat, lê in die waai van sy rug.
’n Man skree vanuit haar Samsung dat die ANC agter die plaasmoorde sit.
Hoe het sy op dié kak afgekom? Moet ek nie liewers die wi-fi stop nie?
Lauren: “Dink jy nie ons sal veiliger in Orania wees nie?”
Ek gebruik die Skepper se naam ydellik.
Sy: “Wat sê jy?”
Ek: “Beslis.”
In die doodsnikke van apartheid het verregse paramilitêre bewegings ook vrees gebruik om ons te breinspoel. Geprofeteer dat ons soos Zimbabwe gaan opeindig. My laat glo dat ek vir God, Volk en Vaderland veg.
Drie mense dood, ses beseer.
Here, wat het ek gedoen?
Ek loop kombuis toe.
Pieng.
“Geld,” spot Lauren.
My selfoon kletter op die teëls.
“Wat’s dit? Is jy oukei? Het jy al jou bloeddrukpille gedrink?” Paniek in haar stem.
“Jy is reg,” lieg ek. “Dit is geld. R10 000.”
Dit behoort haar vir ’n paar uur op Takealot besig te hou.
“Jy lieg. Ek wil sien.”
“Deon Raath wil hê ek moet vier reisverhale skryf.”
Sy storm die kombuis in, high-five my. “Ek’t jou gesê nog werk gaan inkom. Well done!”
Sy toets of die kombuisvenster op knip is. Haal die papiertjies van die yskas af. ’n Wasgoedpennetjie hou hulle bymekaar. Elke papiertjie verteenwoordig ’n betaling wat moet inkom. Twee artikels vir Die Stem, ’n onderhoud vir 100% Boer. ’n Ope brief aan die EFF-leier.
Ek wou eintlik vir die wêreld ’n ope brief skryf. In die tronk het ek geleer om saam met alle gelowe, rasse en seksuele keuses te leef. Hoe fokken moeilik kan dit nou werklik wees met soveel vryheid om in te beweeg? En: Geen doel of stryd is heilig genoeg om te moor nie. Punt.
Met R10 000 kan Lauren ’n paar van die lysies doodkrap. En nuwes opstel.
Ek klap haar in die verbyloop op die boud. “Tee?”
“Asseblief.”
Aan die begin van ons verhouding sou ek ná so ’n bonus later die aand ’n stukkie gekry het. Deesdae scroll sy liewer tot douvoordag op Takealot en maak wenslysies. Die ander aande het sy ’n hoofpyn. Ek probeer nie eens meer nie.
Ek tap water in die ketel. Kwart. Plug dit in. Staan so dat ek haar kan dophou. Lees:
@Arina: Dit is tyd dat jy weer ’n boek skryf. Ek stuur inligting.
Boek skryf is die kodewoord vir aktief raak. Wat moet ek hierdie keer doen? Gaan ek weer in die tronk beland?
Pieng.
’n Foto van Izak. Dit is vanoggend voor sy kleuterskool geneem.
Ek bal my vuiste. Swets binnensmonds. Die swaard oor my kop: As jy nie die opdrag uitvoer nie ...
Ek delete die boodskappe.
Hoekom het ek toegelaat dat die polisie my werf?
Die ketel borrel. Ek haal twee bekers uit die kas bo my kop, albei ore wys na voor. Twee suiker in elkeen. Lauren drink yskasmelk; ek verkies poeiermelk. Een lepel, opgehoop.
Ek was die regses se vloerlap. Gebruik en weggegooi.
Ek haal my teesakkie uit, druk dit met my duim. Vee my duim teen my broek af. Gooi die teesakkies in die inkopiesak wat oor die twee deure onder die wasbak hang.
“Jy moes meer doodgeskiet het.” Of: “Jy moes ’n medalje gekry het, nie tronkstraf nie”, lewer mense gereeld kommentaar op my Facebook-profiel. Maar nie een van die 132K volgelinge weet dat die Swart Gevaar – saam met wie ek gedwing was om in ’n gemeenskaplike sel te bly – my ontnugter het nie. Die vyand is toe al die tyd die monster in elkeen van ons.
So tien jaar in my vonnis daag Arina op. ’n Mooi vrou. Lae hals en kort romp. Maar ’n platpoot. Polisie. Ek kan regs bly – nee, jy móét regs bly – net keer dat nóg onskuldige mense sterf. En verhoed dat ander jong seuns, soos jy, tronk toe gaan. Niks anders nie.
Sy besoek net saans, as die res van die tronk toegesluit is. Kruis haar bene, raak aan my arm wanneer sy met my praat. Haar borste lê op die tafel as sy op die rekenaar werk. Sy stel alles op, leer my hoe Facebook werk. Ons sluit by alle groepe wat regs neig aan, van Plaasmoorde CLOSED group tot Laat die Boeremag vry.
Maandeliks e-pos ek vir haar ’n Word-dokument met print screen-bewyse. Ek maak aantekeninge, deel die mans in groepe in: Vlagswaaiers, die spreekwoordelike Facebook-warriors. Baksteenskieters, mans wat moontlik sal oorgaan tot aksie, maar nét onder die invloed van drank en groepsdruk, en nét sabotasie. En, laastens, die vuurvreters. Ek sien myself in drie. Een van die mans is intussen net buite Warmbad gearresteer met ’n kattebak vol vuurwapens. Op sy rekenaar het Arina ’n hit-lys gekry.
Sedert parool is dit my voltydse werk. Want wie beter om die volgende lone wolf te identifiseer as ’n voormalige een? Dit is juis hoekom sekere regse politieke gevangenes in die vroeë 1990’s so min tyd uitgedien het. Hoe anders sou die regering tydens die eerste demokratiese verkiesing geweld beperk?
Arina en my paroolbeampte hou my regse bedrywighede uit die media.
Lauren: “Wat het van my tee geword?”
Twee weke later. Washington D.C.
Sedert Lauren en ons huurder nege dae gelede verkrag en vermoor is, is ek pal in die nuus. Die polisie vermoed Lauren het gille gehoor en ondersoek gaan instel.
Sê nou Izak was nie by die kleuterskool nie?
Vlugtelingstatus is uit die Withuis aan my beloof. Ek is mos nou die gesig van die uitroeiing van die wit mense in Suid-Afrika.
President Ramaphosa het op sy beurt die wêreld verseker dat dit nie ’n wraakaanval weens my verlede was nie. Dat die skuldiges vasgetrek sou word. Dieselfde aand is twee mans in Kanana, die informele nedersetting buite Orkney, vasgetrek. My vrou se trouring is in een van die mans se broeksakke gekry, maar voordat hulle ’n verklaring kon aflê of kon pleit, is hulle in die hofselle doodgesteek. Bendegeweld.
Was Arina betrokke? Hoe? En hoekom moes ek Izak ná die begrafnis by Lauren se ouers los?
Pieng.
’n Foto. Arina en Izak deel ’n melkskommel.
Koue oortrek my. Soos destyds net voordat ek die mense doodgeskiet het.
@Arina: Net een kan lewe – kies: Izak of die president.
Onmiddellik nadat ek dit gelees het, word die boodskap uitgevee. Ek staar na This message was deleted. Vee sweet teen my broek af.
Jissis, sy het dit goed uitgewerk! Niemand anders sou so naby aan die Amerikaanse president kon kom nie.
Ek het Izak, met sy geboorte, beloof dat ek, anders as my pa, daar sou wees. Dat ek hom nie emosioneel of fisiek sou mishandel nie. Dat ek só sou leef dat hy my altyd in die oë kan kyk.
Teen die muur is ’n TV. Dit is aan op ’n nuuskanaal. Arina is op TV. Ek stap nader, skerp my oë: Russiese spioen in Suid-Afrika vasgetrek.
’n Rilling hardloop oor my rug af. Fokfokfok ...
Die vermeerdering van lyfwagte kondig die Amerikaanse president se teenwoordigheid aan. Hy is hier om my persoonlik te verwelkom.
’n Vrou met ’n knipbord plaas ’n hand op my skouer. “Is jy okay?”
Nee! Ek wil nie weer moor nie.
Maar Izak ...
’n Sug plof. Hard, asof ek my laaste asem uitblaas.
Ek knik, staan op. Sit die koffiebeker langs my sagtebandboek neer, druk die pen onder my horlosie in. My mou sal dit versteek.
In die tronk leer mens dat enige iets in ’n moordwapen omskep kan word. Jy moet net weet waar om te steek. En die hart hê om dit te doen.
Izak!
Ek haal my hande uit my sakke, want die lyfwagte sal enige beweging daarheen dophou. Ontspan my vingers. Glimlag.
Snaaks hoe vinnig ingeoefende geweld terugkeer.
Ek gee ’n tree nader en skud die uitgestrekte hand van die president. As ek hom nader ruk, en die pen deur sy oordrom kap, kan Izak lewe ...


Kommentaar
Uitstekend, meesterlik - dankie Stefaans.
Briljant, Stefaans. 'n Unieke manier van tekenskryf. Spanning word ontsteltenis.
Dankie, Coen. Maar nog nie in jou Woordfeesbundelwengehalte nie. Ek werk egter hard aan my stem. Hopenlik eendag.
Dankie Nico. Ek is te dankbaar LitNet hou hiervan. Hulle is immers die platform om op te publiseer.