Die vier seisoene*

  • 0

Lente

Skielik is lente weer hier en die voëls
vier haar koms met vrolike feesgefluit;
murmelende stroompies vly hulle speels
teen die westewindjie aan. Donderstorms,
daardie ou bekende bodes van die lente,
dreun, span hul wolkkaros teen die hemel,
rammel dan weg tot stilte, en die voëls
sing opnuut hul betowerende lied.

In die blommende weiveld, blarende takke
ritselend bo hom, sy getroue hond
langs hom, slaap die bokwagter.

Skaapwagter en nimf dans ligvoets
op maat van feestelike doedelklank
onder die lente se helderblou koepeldak.

Somer

In die snikwarm asem van die somerson
vergaan kudde en wagter, dennebome skroei.
Dan klink die stem van die koekoek,
gevolg deur die soet geluid van die tortelduif
en vink. Koel briesies roer die lug
maar ’n dreigende bergwind vee hul weg.
Die skaapwagter bewe, vreesbevange
vir die broeiende storm se geweld.

Sy tam bene word wakker geskud uit hul rus
bewerig van vrees vir weerlig se blits en donder se brul,
terwyl muggies en vlieë koorsig om hom draai.

Helaas, sy ergste vrees word waar
wanneer die hemel dreun en swaar stene hael
neerval op die trotse, regop graan.

Herfs

Die plaaswerkers vier die goeie
oes met sang en dans. Bacchus se beker
loop oor en hul vreugde eindig
in ’n diep, vreedsame slaap.

So kom die fees tot ’n einde
koel briesies roer die lug
hierdie seisoen nooi almal
om te rus, sorgeloos te sluimer.

Die son kom op en die jagters kom uit,
met blaashorings en honde en krete;
hul prooi vlug voor die geskal.
Met die jagters warm op hul spoor,
verskrik en verward, sukkel die diertjies vooruit
maar, gekwes en gewond, kom hulle om.

Winter

In die kloue van die ysige sneeu,
in die vlymskerp tande van die wind;
met bewende bene wat bibber van koue
klappertand in die gryswit winter.

Vlug ons strompelend na die veilige herd
Terwyl dit stort daarbuite, neerstort in vlae.

Eers trap ons suutjies, saggies op die ys
uit vrees dat ons sal struikel en val.
Raak dan oorhaastig, syg neer op die grond;
weer op ons voete, hardloop ons
verder voordat die ys begin kraak.
Buite die deur veg die suidooster
woedend teen die noordewind.
Hierdie seisoen bring ’n vreemde vrede.

 

* Vivaldi se "Vier seisoene" vertaal en voorgelees as deel van 8 Seisoene, ’n produksie by die AbsaKKNK 2007, waartydens die Johannesburg Music Initiative se simfonie-orkes Vivaldi en Piazzola se Vier seisoene opgevoer het. Vivaldi het die sonnette vermoedelik geskryf om sy bekende musiek te vergesel.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top