Die verwarde skepsel

  • 8

Ek sit annerdag die petalje en betrag, die ding wat ‘n skepsel is, maar weier om dit te glo. Die ding wat mens genoem word.

Eendag, lank, lank gelede het die meeste van hierdie spannetjie mekaar heeldag loop en beduie dat hulle nie skepsels is nie, maar afstammelinge van gode. Hul papa’s was ouens soos Zeus en al daai dosyne gode.  En so het die skepsel die skeidslyne en protocol misgekyk. Daar is steeds groot getalle van die skepsels wat hieraan kleef, een groot groep noem hul leier pous en glo hy is die mees direkte afstammeling van ‘n god. Ding is, die skepsel het die baie belangrike skeiding tussen Skepper en skepsel vervaag.

Tot op ‘n punt. Die skepsels begin mekaar toe beduie dat hulle nie skepsels is nie en ook nie afstammelinge van gode nie. Nee reken hulle, ons is nou so baie slim dat ons weet ons stam eintlik van diere af. Soort van, net baie slimmer as diere natuurlik, reken hulle onder mekaar. Hulle spits hulself dan ook naarstigtelik toe op die vind van bewyse vir hierdie nuwe kennis. Die bewyse sluit in enigiets wat hulle tou staan om te glo in ondersteuning van hul nuwe herkoms. Feite is nie nodig nie en ook nie bekombaar nie, so idees word herdoop as feite, wild-abstrakte drome word doktorale heiligdomme. Dis ook seker die enigste plek waar heilig en dom mekaar so mooi aanvul.

En hulle is so verlig dat hulle nou alles weet dat hulle seker maak niemand mag weer ‘n verkeerde idee kry nie so hulle begin dit ‘n misdaad maak om te glo jy is ‘n skepsel. Hulle besluit die skole moet die feite verkondig, hulle moet die kinders leer dat evolusie die heilige waarheid is en die Bybel is net ‘n mite. Hulle verwerp die Bybel as mite en staan tou om Harry Potter-flieks te kyk.

Hulle beduie hulle is verskriklik vêr verby alle diere ge-evolusie. Evolusie het die mens ontwikkel tot waar hy kan loop en hardloop. Sommige van hulle kan wragtag swem ook. Die enigste glipsie van evolusie was dat die mens nie kan vlieg nie. Dan wonder ek, hoekom kan ‘n makou dan loop, hardloop, swem en vlieg? Die mens se kleinneef makou is dan veronderstel om minder ontwikkeld te wees?

Maar nou-ja, soos gesê, die skepsel is verward.

Duitswester

  • 8

Kommentaar

  • Kom ons noem dit maar: belaglike verwardheid. Konsep soos 'n makou wat nooit vaartbelyn sal vlieg.

  • Jou mite hierbo ontbreek aan enige vorm van feite of bewyse van jou duistere godsdiens, suiwer 'n subjektiewe afkraak van gedisiplineerde wetenskappe,  onder die dekmantel van kamma humor.

    Jaco Fourie

  • As ek nou al ooit 'n dom stuk gelees het, is dit hierdie een. Duitswester, klim bietjie uit jou eng wêreldjie uit en vergewis jou van bewese feite, voordat jy jou onkunde so in die kuberruim uitstort.

  • Duitswester,

    As jy navorsing gedoen het wat ewolusie oortuigend uit die water blaas, stel ek voor jy publiseer dadelik. Jy sal die Mediese Wetenskap 'n enorme guns bewys en buitendien ... waarom die kans vir 'n Nobelprys deur jou vingers laat glip?

  • Ek is bly julle het dit nou van jul gemoed af. Kan een van julle nou al begin beduie hoekom die makou verder ontwikkel het as die mens?

    Onthou die makou het ook nie klere nodig nie, die mens wel. Die makou het ook nie nodig om kos op te gaar nie, die mens wel.

    Hoekom het evolusie die mens so 'n "handicap" gegee?

    Om my te skel gaan jou nie leer vlieg nie.

    Duitswester

  • Duitswester

    Om jou metodiek te mimiek.  Vertel ons wie is god se skepper, en indien jy 'n antwoord het, hoe kom jy daarby uit

    Jaco Fourie

  • Duitswester

    Bostaande twak oor makoue en vlerke wys weereens jou desperate onkunde oor evolusie. Gaan lees nou gerus 'n paar biologiese werke wat vir jou die hele proses wetenskaplik met bewyse verduidelik. Ek is bevrees dat dit selfs te veel inspanning gaan verg, want dit is 'n jarelange studie en nie net iets wat jy uit 'n oerboek van 'n kansel af sal hoor nie.

  • Hello, 

     
    Inderdaad is Duitswester korrek, die skepsel is verward, daardie skepsel se naam is Duitswester. 
     
    Vrede vir jou Duitswester   :>)
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top