|
||||||||
Opsomming
Die oogmerk van die artikel is om ’n moontlike misverstand rakende die vertaling van Romeine 8:16 in die 2020- Afrikaanse vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) onder die loep te neem en ’n ander vertaling voor te stel. Waar vorige vertalings hierdie vers vertaal met: “Die Gees self getuig saam met (συμμαρτυρέω) ons gees dat ons kinders van God is,” vertaal die 2020-Av met: “Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is.” Met die eerste oogopslag klink dit asof die Heilige Gees en ons gees in stryd is met mekaar. Die artikel wil hierdie moontlike misverstand ondersoek. Allereers word gelet op die betekenis van die kernlekseem συμμαρτυρέω. Die gebruiklike betekenis “getuig saam met” word as problematies aangedui; die betekenis is bloot “bevestig” of “verseker”. Hierna word ondersoek hoe verskillende bekende vertalings die lekseem vertaal en word ’n ander vertaling voorgestel, naamlik: “Die Gees self verseker ons gees dat ons kinders van God is.” In ’n laaste afdeling word redes aangevoer waarom hierdie vertaling te verkies is, waaronder die belangrikstes is: Dit dien die betekenis van συμμαρτυρέω die beste; dit staan op een lyn met die betekenis en vertaling van συμμαρτυρέω in die twee ander voorkomste van hierdie lekseem (Romeine 2:15 en 9:1); en die konteks van Romeine 8:1–17 ondersteun dit.
Trefwoorde: 1933/53- Afrikaanse vertaling; 1983- Afrikaanse vertaling; 2020- Afrikaanse vertaling; Bybelgenootskap van Suid-Afrika; dativus commodi; Heilige Gees; kinders van God; oorsig oor bekende vertalings van Romeine 8:16; Romeine 2:15; Romeine 9:1; συμμαρτυρέω; vertaling van Romeine 8:16
Abstract
The translation and interpretation of συμμαρτυρέω in Romans 8:16 – in conversation with the Bible Society of South Africa’s 2020 Afrikaans translation
The occasion for this article is the translation of Romans 8:16 in the 2020 Afrikaans translation (2020 At) of the Bible Society of South Africa (BSSA). In previous Afrikaans translations of the BSSA Romans 8:16 was translated as, “The Spirit himself testifies with our spirit that we are children of God.” (Afr.: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”). But the 2020 At translates this verse as, “The Spirit himself testifies over against our spirit that we are children of God.” (Afr.: “Die Gees getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is.”) In Afrikaans this “teenoor” (“over against”) is confusing. It might create the impression that the Spirit of God is not in unison with our spirit. Whereas our spirit testifies to the fact that we are God’s children, the Spirit of God testifies to exactly the opposite – that we are not his children. But of course, this cannot be the intention of the 2020 At. It thus begs the question whether the Afrikaans “teenoor ons gees” (“over against our spirit”) is a good translation. This article therefore wants to explore the logic behind the 2020 At of Romans 8:16. Why did it find it necessary to change the previous translations’ “saam met” (“with”) to “teenoor” (“over against”)?
At the root of the argument is the question how to translate the underlying Greek verb συμμαρτυρέω. The problem starts with its meaning. It is a compound verb consisting of a preposition σύν (“[together] with”) and a simplex verb μαρτυρέω (“bear witness” or “testify”), resulting in a reasonably “logical” compound meaning of “testify with” or “bear witness with”. But as Greek linguists are quick to point out, the meaning of a compound word is not necessarily a simple adding up of the constituent parts. As it turns out, once the compound συμμαρτυρέω is being investigated in the various ancient Greek contexts it soon becomes clear that its meaning is not simply the etymological sum total of its constituent components, resulting in a meaning of “testify with someone else”. Rather, συμμαρτυρέω is used in the meaning of “affirming” or “confirming” a situation or another’s testimony, or, if one wants to use the word testify, “to testify in support”.
Once the meaning of συμμαρτυρέω becomes apparent, this leaves us with the question of its translation in Romans 8:16. And then one discovers that few translations in the past have really tapped into the meaning of συμμαρτυρέω. Most translations have stuck to the etymological meaning of “testify with” and have translated (e.g. NIV): “The Spirit himself testifies with our spirit …” Furthermore, a compounding factor in the translation of Romans 8:16 is that συμμαρτυρέω is followed by the dative τῷ πνεύματι ἡμῶν. The question then arises: What is the relationship between the verb and the dative? Should the dative be taken as an associative dative (“testify with our spirit”) – as most translations do – or as an indirect object (“testify to our spirit”) or even a dativus commodi (“testify on behalf of our spirit”)? To keep the translation in line with the meaning of συμμαρτυρέω, (affirm, testify in support) the translation should be moving in the direction of the latter two options (indirect object and/or dativus commodi). And that is obviously the intention of the 2020 At. The translation, “The Spirit himself testifies over against (Afr.: ‘teenoor’) our spirit” should not be taken as that the Spirit is testifying against our spirit in the sense of opposing our spirit, but should be taken as indicating a simple indirect object, namely: “The Spirit is testifying to our spirit that we are children of God.” However, my suggestion is to avoid all possible misunderstandings and to stick closer to the meaning of συμμαρτυρέω, and therefore translate: “The Spirit himself affirms to our spirit …” (Afr.: “Die Gees self verseker ons gees …”). This was also the choice of the Revised English Bible (1989) and the Dutch Nieuwe Bijbelvertaling (2004).
Subsequently four reasons are explored why this translation best fits Romans 8:16.
Firstly, it goes without saying that it supports the meaning of συμμαρτυρέω as “testify in support” or “affirm a situation”. The Spirit is not merely “witnessing with” the human ego who independently came to the conviction of being God’s child, but the Spirit is actually the initiator of the human conviction, and He affirms that they are children of God.
Secondly, the translation “affirms to our spirit” (Afr.: “verseker ons gees”) avoids the misunderstanding that the current 2020 At (“testify over against our spirit”) may cause, as if the Spirit opposes the testimony of the human spirit.
Thirdly, when compared to the only two other places where συμμαρτυρέω appears in the New Testament, namely Romans 2:15 and Romans 9:1, the meaning “to affirm” is corroborated. In both these places it is the conscience (συνείδησις) that affirms a situation. In 2:15 it is the conscience of the Gentiles affirming that what the law requires, is written on their hearts. And in 9:1 it is Paul’s conscience that affirms that Paul is not lying when he speaks of the great sorrow in his heart about his fellow Jews not accepting God’s saving grace in Christ.
Fourthly, the context of Romans 8:16 also vouches for the translation of συμμαρτυρέω as “affirms”. Many commentaries that support the translation of “testify with” usually try to make sense of who the two witnesses might be that testify with one another. Then they point to the Spirit and the human spirit who are in unison with one another. However, the problem with this interpretation is that it makes God’s Spirit and the human spirit equal witnesses, as though the Spirit is merely nodding in approval of what the human spirit has accomplished on its own. And that cannot be farther from the truth. The whole argument in Romans 8:1–17, especially from verse 9, is that the Spirit is overwhelmingly dominant in human renewal. It is through Him that we cry, “Abba, Father” (v. 15). And that is exactly what the Spirit affirms in v. 16: indeed we are God’s children. He is the sole initiator of our being children of God. Hence the translation: “The Spirit affirms to our spirit that we are children of God.”
Keywords: 1933/53 Afrikaans translation; 1983 Afrikaans translation; 2020 Afrikaans translation; Bible Society of South Africa; children of God; dativus commodi; Holy Spirit; Romans 2:15; Romans 9:1; συμμαρτυρέω; survey of well-known translations of Romans 8:16; translation of Romans 8:16
1. Inleiding
Die aanleiding tot hierdie studie is die vertaling van Romeine 8:16 in die 2020- Afrikaanse vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2020-Av) vis-à-vis die 1933/53- en 1983- Afrikaanse vertalings (1953-Av en 1983-Av onderskeidelik). In die laasgenoemde twee vertalings lui Romeine 8:16 soos volg: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (1953-Av), en: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (1983-Av). Hierteenoor vertaal die 2020-Av: “Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is”. Die voorgaande kursief gedrukte woorde is almal pogings om die Griekse werkwoord συμμαρτυρέω weer te gee. Dit gaan spesifiek oor die verandering “teenoor” versus “saam met”. Waarom sou die 2020-Av dit goedgevind het om met “teenoor” te vertaal terwyl die vorige twee vertalings “saam met” het? Want met die eerste oogopslag kan daar ’n misverstand ontstaan. “Saam met” roep immers ’n gunstige situasie op: Die Gees stem saam met en ondersteun ons belewing dat ons kinders van God is, terwyl “teenoor” ’n adversatiewe gevoel opwek, asof God se Gees téén ons belewing ingaan: Óns is oortuig dat ons kinders van God is, maar die Gees getuig van iets anders. Maar dit kan tog kennelik nie die bedoeling van “teenoor” wees nie. Wat ís dan die bedoeling? Is “teenoor” ’n goeie vertaling? Druk dit die bedoeling van die Grieks goed uit, of is daar ander opsies wat nie misverstande sal laat ontstaan nie, maar die bedoeling van die teks onmiddellik duidelik sal maak? Dit spreek dus vanself dat die “teenoor” van die 2020-Av om nadere toeligting vra. En dis die doel van hierdie artikel om die vertaalopsies rakende συμμαρτυρέω in Romeine 8:16 te ondersoek en ’n voorstel aan te bied wat reg sal laat geskied aan die betekenis in hierdie vers.
2. Die betekenis van συμμαρτυρέω
Voordat vertaal kan word, moet eers duidelikheid gekry word oor die betekenis van συμμαρτυρέω. Συμμαρτυρέω is ’n saamgestelde werkwoord wat uit ’n voorsetsel σύν (saam [met]) en ’n werkwoord μαρτυρέω (getuig1) bestaan. Die simpleks μαρτυρέω kom talryk in die Nuwe Testament voor,2 maar die samestelling συμμαρτυρέω slegs drie maal, al drie in Romeine, te wete 2:15, 8:16 en 9:1. In die lig van die geringe aantal Nuwe-Testamentiese voorkomste is dit dus nie so maklik om die betekenis van hierdie lekseem te beskryf nie; die data is min.3 Geen wonder nie dat die meeste vertalings so na as moontlik aan die betekenis van die simpleks μαρτυρέω (getuig) beweeg en dan die betekenis van συμμαρτυρέω as ’n soort etimologiese optelsom opbou uit die voorsetsel σύν (saam) plus μαρτυρέω (getuig), dus “saam getuig”. Maar, soos Du Toit (2009:297) tereg aantoon, lê die betekenis van saamgestelde werkwoorde nie noodwendig in die somtotaal van hul onderdele nie. Die samestelling συμμαρτυρέω kom algemeen in die klassieke en hellenistiese Grieks voor, hoewel dit nie in die LXX te vinde is nie. Uit die oorsig van Strathmann (1967 [1942]:508–9) blyk dit dat “saam getuig” wel ’n vroeë betekenis van συμμαρτυρέω was. Aanvanklik het dit die betekenis van “om saam met (’n) ander getuie/s te getuig” gehad. Maar gaandeweg vervaag hierdie betekenis en word dit bloot aangewend in die betekenis “om te bevestig” (bv. ’n verklaring van iemand anders). Dít is dan ook die enigste betekenis wat Louw en Nida (1988:s.v. συμμαρτυρέω) aangee: “to testify in support”. Die gedagte van “saam getuig” word dus glad nie eens deur Louw en Nida as ’n betekenismoontlikheid genoem nie; die enigste betekenis is dié van ondersteunende of bevestigende getuienis wat iemand ten opsigte van iemand anders of ’n saak lewer. Die gedagte van “getuienis lewer” mag dus wel ter sprake wees, maar die kerngedagte is nie om “saam met” iemand anders te getuig nie – getuienis wat later omvergegooi kan word – maar om iets te bevestig of te verseker as waar en eg. Die samestelling συμμαρτυρέω het dus gaandeweg ’n versterkende betekenisverskuiwing ondergaan – nie bloot getuig nie, maar ter ondersteuning getuig of te bevestig of te verseker dat ’n saak of iemand anders se getuienis waar is. Lohse (2003:241 vn. 23) onderstreep ook hierdie betekenis as hy sê dat die σύν in συμμαρτυρέω nie die gedagte van “getuig saam met” wil uitdruk nie, maar dat die samestelling, soos in die breë hellenisme gesien kan word, as versterking van die simpleks μαρτυρέω dien. Dit is ook veelseggend dat in BAGD (2000:s.v. συμμαρτυρέω), hoewel daar ’n paar gevalle genoem word van “getuig saam met”, die meeste van die aangehaalde voorbeelde die betekenis van “bevestig”, “verseker”, of “getuig ter ondersteuning” onderskraag. BAGD merk ook eksplisiet op dat die σύν van συμμαρτυρέω ’n versterkende betekenis het, wat dan sou neerkom op ’n betekenis van “bevestig”, “verseker”, of “getuig ter ondersteuning” vir συμμαρτυρέω (so ook Du Toit 2010 en NET 2019:2174).
3. Vertaling van συμμαρτυρέω
Noudat daar min of meer helderheid verkry is oor die betekenis van συμμαρτυρέω, kan daar voortgegaan word na ’n bespreking oor die vertaling van hierdie lekseem in Romeine 8:16. In hierdie vers gaan dit egter nie net oor die vertaling van συμμαρτυρέω alleen nie, maar moet daar ook rekening gehou word met die datief van πνεῦμα wat daarop volg. Die vraag is dus: Hoe moet die frase συμμαρτυρεῖ τῷ πνεύματι ἡμῶν vertaal word? Kommentare sien oor die algemeen die probleem goed raak en noem dat daar twee opsies is (so bv. Witherington 2004:218, NET 2019:2173 en Morris 1988:317). Eerstens kan πνεύματι as ’n datief van assosiasie geneem word, veral onder invloed van die tradisioneel etimologiese betekenis van συμμαρτυρέω. Dan word dit gewoonlik vertaal met: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Tabel 1 hier onder gee ’n oorsig oor die verskillende vertalings wat hierdie opsie volg.4
Tabel 1. Vertalings wat συμμαρτυρέω as “getuig saam met” vertaal en πνεύματι as datief van assosiasie (“met”)
| 1933/53- Afrikaanse vertaling | “Die Gees self getuig saam met ons gees ...” |
| 1983- Afrikaanse vertaling | “Hierdie Gees getuig saam met ons gees ...” |
| Afrikaanse standaard vertaling (2014) | “Die Gees self getuig saam met ons gees ...” |
| King James Version (1611) | “The Spirit itself beareth witness with our spirit ...” |
| New King James Version (1982) | “The Spirit Himself bears witness with our spirit ...” |
| Revised Standard Version2 (1971) | “15... When we cry, “Abba! Father!” 16it is the Spirit himself bearing witness with our spirit ...” |
| New Revised Standard Version (1989) | “15... When we cry, “Abba! Father!” 16it is that very Spirit bearing witness with our spirit ...” |
| New International Version (2011) | “The Spirit himself testifies with our spirit ...” |
| New Living Translation (2008) | “For his Spirit joins with our spirit to affirm ...” |
| Today’s English Version (1966) | “God’s Spirit joins himself to our spirits to declare ...” |
| The New English Bible (1970) | “In that cry the Spirit of God joins with our spirit in testifying ...” |
| Jerusalem Bible (1966) | “The Spirit himself and our spirit bear united witness ...” |
| Groot Nieuws Bijbel (1989) | “De Geest van God self valt onze geest bij en getuigt ...” |
Die tweede opsie is om die datief πνεύματι as ’n indirekte objek te neem of as ’n dativus commodi (datief van bevoordeling). In hierdie geval is die vertaalmoontlikhede soos volg: “Die Gees self getuig vir/teenoor ons gees ...” of “Die Gees self bevestig aan/teenoor ons gees ...” of “Die Gees self getuig ten behoewe van ons gees ...” of “Die Gees self verseker ons gees dat ons kinders van God is”. Tabel 2 hier onder gee ’n oorsig oor vertalings wat breedweg hierdie opsie volg.
Tabel 2. Vertalings wat συμμαρτυρέω as “getuig/bevestig/verseker” vertaal en πνεύματι se datief as indirekte objek neem (“vir/teenoor”) of as dativus commodi (“ten behoewe van”)
| 2020- Afrikaanse vertaling | “Die Gees self getuig teenoor ons gees ...” |
| Nuwe Lewende Vertaling3 (2017) | “Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees ...” |
| Die Bybel vir Almal/Dowes (2007) | “Ja, die Heilige Gees help ons om baie seker te wees ...” |
| New English Translation (1996/2019) | “The Spirit himself bears witness to our spirit ...” |
| Revised English Bible (1989) | “The Spirit of God affirms to our spirit ...” |
| Contemporary English Version (1995) | “God’s Spirit makes us sure ...” |
| Lutherbibel (hersien) (1984) | “Der Geist selbst gibt zeugnis unserer Geist ...” |
| Gute Nachricht (2000) | “So macht sein Geist uns im Innersten gewiss ...” |
| Nieuwe Bijbelvertaling (2004) | “De Geest zelf verzekert onze geest ...” |
Uit bostaande tabelle is dit duidelik dat vertaalopsie 1 se vertalings min of meer dieselfde patroon volg van “getuig saam met ons gees”. By vertaalopsie 2 is die variasie groter; dit hang af watter betekenis aan συμμαρτυρέω toegeken word en hoe die datief πνεύματι geïnterpreteer word. My kontensie is dat vertaalopsie 2 die beste uitdrukking gee aan die bedoeling van die teks, soos onder beredeneer sal word. Die bedoeling is egter nie om vervolgens aan al die variasies aandag te gee nie, maar om die vertaalopsie van die 2020-Av onder die loep te neem en met ’n voorstel vorendag te kom wat reg sal laat geskied aan die bedoeling van Romeine 8:16.
4. Vertaling en interpretasie van Romeine 8:16
Die vertaling van Romeine 8:16 in die 2020-Av beweeg in die regte rigting, maar bevat bepaalde gebreke. Die vertaling “Die Gees self getuig teenoor ons gees ...” het die voordeel (a) dat dit wegbeweeg van die vorige Afrikaanse vertalings se vertaling van συμμαρτυρέω as “getuig saam met” en (b) dat dit die datief πνεύματι as ’n indirekte objek vertaal, en moontlik selfs as ’n dativus commodi. Maar die nadeel is dat dit steeds in gebreke bly om die betekenis van συμμαρτυρέω, soos beredeneer in afdeling 2, tot sy reg te laat kom. Hoewel dit nie verkeerd is om die gedagte van “getuig” steeds ’n rol te laat speel in die vertaling van dié lekseem nie, bring dit nie sy betekenis van “ondersteun”, “bevestig” of “verseker” sterk genoeg na vore nie. Verder, die “teenoor” waarmee die datief πνεύματι weergegee word, is nie verkeerd nie, maar kan aanleiding gee tot misverstand. Met die eerste oogopslag sou dit opgeneem kon word as sou die Gees “téén” ons gees, dit wil sê, “in stryd met” ons gees getuig (adversatiewe betekenis), naamlik: Óns gees getuig dat ons kinders van God is, maar Gód se Gees getuig van die teendeel. En dít is sekerlik nie die bedoeling van “teenoor” nie. My verstaan van die “teenoor” in die 2020-Av by Romeine 8:16 is dat dit hier op sy minste bloot as indirekte objek verstaan moet word, soos dit dikwels in Afrikaans gebruik word, byvoorbeeld: “Die spreker het teenoor sy gehoor genoem dat hy hulle besware verstaan”, of: “Ons is geroepe om teenoor almal met respek op te tree”. Dit het dus nie ’n adversatiewe betekenis nie, maar is bloot ’n neutrale indirekte objek na συμμαρτυρέω. So verstaan is die 2020-Av korrek met sy vertaling en ’n verbetering op die 1933/53-Av en 1983-Av.
Daar moet egter ’n ander weg met die vertaling van Romeine 8:16 ingeslaan word, wat nie net die moontlike misverstand rakende die “teenoor” uit die weg sal ruim nie, maar wat ook die betekenis van συμμαρτυρέω sowel as die bedoeling van Romeine 8:16 in die geheel beter sal dien. My voorstel is dus dat die vertaling soos volg moet lui: “Die Gees self verseker ons gees dat ons kinders van God is.” Hiermee sluit ek my aan by die Nederlandse Nieuwe Bijbelvertaling van 2004 (“De Geest zelf verzekert onze geest ...”) wat die bedoeling van die teks korrek weergee, sonder om misverstande te laat ontstaan. Dit korrespondeer ook met die Revised English Bible (1989) se “The Spirit of God affirms to our spirit that we are God’s children” (kyk bo in tabel 2 vir hierdie vertalings).
Vervolgens wil ek redes aanvoer waarom hierdie vertalingsvoorstel die bedoeling van Romeine 8:16 beter dien as die vertaling wat tans in die 2020-Av voorkom.
4.1 Ondersteun betekenis van συμμαρτυρέω
Die voor die hand liggende voordeel van bogenoemde vertaalvoorstel is dat dit die betekenis van συμμαρτυρέω (“getuig ter ondersteuning”, “bevestig” of “verseker”), soos beredeneer in afdeling 2, ondersteun. Verder sou ek persoonlik wegbeweeg daarvan om die lekseem “getuig” hier in die vertaling in te voer, want dit kan die gedagte laat ontstaan dat, soos met die vertaling “getuig saam met” kan gebeur, dit die spirituele ego van die mens is wat selfstandig tot die oortuiging kom dat ons kinders van God is en dat die Heilige Gees dit bloot beaam of “saam getuig met” wat ons gees reeds weet. En dít is beslis nie die bedoeling van συμμαρτυρέω nie (vgl. Morris 1988:317, NET 2019:2174 en Ridderbos 1959:182). Daarom is die vertaalkeuse “verseker ons gees” te verkies.
4.2 Vermy die misverstand wat “teenoor” oproep
Sonder om alles te herhaal wat bo reeds genoem is oor die misverstand wat “teenoor ons gees” kan oproep, kan ter wille van volledigheid net weer gekonstateer word dat met die vertaling “verseker ons gees” die lekseem “teenoor” vermy word en daarmee ook enige misverstand wat deur dié lekseem hier veroorsaak kan word.
4.3 Vergelyking met Romeine 2:15 en 9:1
Dit is reeds genoem dat συμμαρτυρέω slegs op drie plekke in die Nuwe Testament voorkom, al drie in die Romeinebrief. Benewens 8:16 kom dit ook in 2:15 en 9:1 voor, in laasgenoemde twee gevalle albei saam met die gewete (συνείδησις) wat stawende getuienis gee.
In Romeine 2:15 kom συμμαρτυρέω sonder ’n daaropvolgende datief voor. En hier vertaal die 2020-Av dan ook heel korrek met “bevestig”: “Hulle (die heidene, HCvZ) wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan, en hulle gewetens bevestig (συμμαρτυρέω) dit ... .” Indien hier met “getuig saam met” vertaal sou word (soos die 1933/53-Av dit doen: “... terwyl hulle gewete saam getuienis gee ...”),5 sou mens saam met Du Toit (2010:elektroniese art p2) tereg kon wonder wie die ander getuie naas die heidene se gewete is wat “saam getuienis gee”. Wat weer bevestig dat συμμαρτυρέω se betekenis nie “getuig saam met” is nie.
In Romeine 9:1 kom συμμαρτυρέω ook, soos in 8:16, saam met ’n datief voor. En soos in 8:16 vertaal die 2020-Av ook hier met “getuig teenoor”: “... my gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig teenoor my (συμμαρτυρούσης μοι) dat ek in my hart ... ’n onophoudelike pyn ervaar”. Dit gaan hier oor Paulus se droefheid dat sy volksgenote nie die verlossing in Christus wil aanvaar nie. Vervolgens beroep Paulus hom op sy gewete, soos gelei deur die Heilige Gees, dat hy nie hieroor lieg nie. Hy kan in alle opregtheid verklaar dat sy droefheid eg is. Sy gewete is hiervan getuie. Die vraag is dus hoe συμμαρτυρούσης μοι vertaal moet word. “Getuig teenoor my” (soos die 2020-Av doen) is ’n opsie, maar is vaag; μοί (“teenoor my”) word dan as ’n blote indirekte objek geneem. Maar het Paulus self dan enige versekering deur sy gewete nodig dat sy droefheid eg is?6 Tog seker nie. Dit is eerder sy gehoor wat daardie versekering nodig het. Daarom is Du Toit (2010:2) waarskynlik reg as hy sê dat μοί hier ’n dativus commodi is en soos volg verstaan moet word: Paulus se gewete “... affirms towards his readers/audience on behalf of Paul that his sorrow and pain are genuine.” Die frase συμμαρτυρούσης μοι sou dus soos volg vertaal kon word: “... my gewete ... bevestig vír my / ten gunste van my / ten behoewe van my / staan vir my in dat ek ... pyn ervaar.” Op sterkte hiervan sou mens dus ’n saak daarvoor kon uitmaak dat die πνεύματι van 8:16 ook as ’n dativus commodi opgeneem kan word, met as moontlike vertalingsopsies: “Die Gees self bevestig ten gunste / ten behoewe van ons gees dat ons kinders van God is.” Maar dit is waarskynlik eleganter Afrikaans om dit met “Die Gees self verseker ons gees ...” te vertaal, soos voorheen voorgestel. Implisiet word πνεύματι dan wel as ’n dativus commodi geïnterpreteer.
Die slotsom van hierdie vergelyking met die ander twee gevalle waar συμμαρτυρέω voorkom, is dat dit die betekenis van συμμαρτυρέω as “bevestig” of “verseker” ondersteun.
4.4 Sentrale rol van die Heilige Gees in Romeine 8 bevoordeel die vertaling van συμμαρτυρέω as “bevestig” of “verseker”
Een van die interessante waarnemings rakende die vertaling van συμμαρτυρέω as “getuig saam met” is hoe kommentare probeer sin maak van hierdie “dubbele getuienis” in 8:16. Wie sou die twee getuies wees wat “saam getuig” dat ons kinders van God is? Die voor die hand liggende keuses is uiteraard die Heilige Gees en die menslike gees, want so word hulle genoem in 8:16: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”7 Vervolgens word dan gewys op die Ou-Testamentiese agtergrond in Deuteronomium 19:15, dat ’n saak slegs vasstaan op gesag van twee of drie getuies (so bv. Witherington 2004:219, Barrett 1991:154 en Moo 1996:504 vn. 40). Die Heilige Gees en die menslike gees is dan die twee getuies wat saam getuig dat ons kinders van God is (vgl. Schreiner 1998:427). So gesien ontstaan egter die probleem dat die Gees en die menslike gees eintlik gelykwaardige getuies word, asof die Gees bloot saamstem met wat die menslike gees self reeds weet omtrent sy kindskap van God. Jewett (2007:500) sien die probleem goed raak en probeer dit so oplos dat dit eintlik die deel van die Gees is wat God aan die mens toebedeel wat hierdie getuienis lewer. So ontstaan egter die logiese vraag of die Gees dan nie maar net met Homself “saam getuig” en dat dit nie regtig die menslike gees is wat hierdie getuienis lewer nie. Jewett volstaan egter met hierdie oplossing en sê dat ons dit nie moet probeer konseptualiseer in moderne terme nie. Paulus wil nie ’n leerstelling van die Gees of ’n konsistente antropologie daarstel nie, maar wil bloot die gelowiges in Rome oortuig dat hulle charismatiese ervaring getuienis lewer dat hulle kinders van God is. Michel (1978:261–2) probeer hierdie twee getuienisse weer oor ’n ander boeg gooi van die objektiewe getuienis van die Gees (8:16; die getuienis “na onder”) wat die subjektiewe ervaring of gebedsroep van die menslike gees (soos verwoord in 8:15; die getuienis “na bo”) ondersteun. Die Gees self is die vooronderstelling van alle Christelike sekerheid. Daarom moet daar ’n verbintenis tussen die twee getuienisse wees: Die Gees is die objektiewe Woord wat die subjektiewe belydenis van die mens onderlê. Vir Lekkerkerker (1971:339) is dit weer ’n vraag of met die “medegetuig” van God se Gees en menslike gees dit nie dalk die menslike gees is wat bevry word tot medewerksaamheid met die Heilige Gees nie. Veral omdat die menslike gees deur die Heilige Gees vernuwe is. Die gelowige subjek kom dus so tot sy reg.
Om die vrae wat opgewerp word deur die “dubbele getuienis” in 8:16 te probeer beantwoord, is dit duidelik dat die literêre verband ’n belangrike rol in die verstaan en vertaling van 8:16 moet speel. Verskeie navorsers wys op die sentrale rol wat die Heilige Gees vervul in die hele argument van 8:1–17 (bv. Louw 1979:91), spesifiek met betrekking tot die gelowige se kindskap van God. So noem Collins (2019:228) dat in geen ander hoofstuk in die Nuwe Testament die Gees so talryk voorkom nie. Net in die eerste 17 verse van hoofstuk 8 word die Gees 16 keer vermeld, terwyl dit net 13 keer in die res van Romeine voorkom. Hierdie verskynsel hang saam met die verhouding tussen Romeine 7 en 8. Daar is ’n fundamentele verskil tussen hierdie twee hoofstukke. In Romeine 7 word die mens in die greep van sy σάρξ (sondige aard) beskryf, nie in staat om die wil van God uit te voer nie, al wil hulle. Maar in Romeine 8 draai die gety; die era van die Gees het aangebreek: “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees ... het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood” (8:1–2). Die Gees bring bevryding van die σάρξ, natuurlik met die eskatologiese voorbehoud van 8:18–30 dat die skepping nog wag op die finale verlossing van die kinders van God (Hays 1996:45). Maar ten minste voer die mens in Christus nou ’n bestaan in die krag van die Gees; hulle sterflike liggame is opgewek tot ’n nuwe lewe (8:11); hulle word gelei8 deur die Heilige Gees en ontvang so die versekering dat hulle kinders van God is (8:14). Die Gees verdryf die vrees en die gelowiges roep uit: “Abba, Vader” (8:15).9
’n Mens kan die struktuur van Romeine 8:1–17 in groter besonderhede bespreek,10 maar voorgaande oorsig is voldoende om die punt tuis te bring dat die Gees ’n sentrale rol vervul in die hele argument. Dit het ten minste die effek dat dit hoogs onwaarskynlik is dat συμμαρτυρέω in 8:16 as “getuig saam met” vertaal moet word, waaruit die verkeerde gevolgtrekking gemaak sou kon word dat ons gees as gelykwaardige getuie met die Heilige Gees optree (vgl. Du Toit 2010:2 vir dieselfde waarneming).11 Selfs kommentare wat “getuig saam met” vertaal, gooi wal teen so ’n gelykstelling. So sê Ridderbos (1959:182) dat hoewel die Gees saam met ons gees getuig dit nie so verstaan moet word dat die Gees bloot bevestig wat ons gees reeds weet nie, maar “... dat het geloofsgetuigenis van onze geest mede tot stand komt door het getuigen van de Geest, die onze geest daarin a. h. w. draagt en bevestigt”. Ook Fitzmyer (1993:501) sê dat die voorafgaande konteks van 8:16 dit duidelik maak “... that the vital dynamism of the Spirit constitutes the sonship itself and bestows the power to recognize such a status.” Ook Barth (1968 [1933]:298–9), op sy tipies dialektiese manier, sê dat ons kindskap nie berus op persoonlike ervarings soos “... ecstasies and illuminations, inspirations and intuitions ...” nie, maar dat “... all that occurs to us and in us can be no more than an answer to what the Spirit Himself says. ... The Spirit Himself speaks beyond our strength and truth and life ... for He speaks of our non-existent existence; He speaks of us as – His Children.”
Verder betrek die vertaling van 8:16 ook die verhouding tussen 8:15 en 8:16. Dit moet so verstaan word dat v. 16 verduidelik wat die oorsaak van die gebedsroep “Abba, Vader” in v. 15 is. Die abrupte, asindetiese oorgang tussen v. 15 en v. 16 asook die αὐτό van v. 16 (die Gees self) versterk die gedagte dat v. 16 interpreterend ten opsigte van v. 15 verstaan moet word, en wel so dat die Gees ’n onafhanklike en objektiewe getuie tot die gelowiges se belydenis van kindskap vorm, en in der waarheid die oorsprong daarvan is (so Schmidt 1966:142, Morris 1988:316–7, Michel 1978:261–2, Wolter 2014:497, Cranfield 1980:402 en Wilckens 1980:138). Indien Galasiërs 4:16 ook betrek word, waar spesifiek staan dat dit die Gees is wat in ons harte roep: “Abba, Vader” dan versterk dit die gedagte dat Romeine 8:16 as ’n verduidelikende en versterkende uitspraak volg op v. 15. Met ander woorde, dit is nie bloot ons wat deur die Gees roep nie (v. 15), maar dis die Gees self wat roep, en wat in ons harte roep. Die eintlike oorsaak van ons kindskap is dus die Gees wat ons daarvan verseker (vgl. Schlier 1979:253). En dít is die gedagte wat v. 16 ook wil onderstreep.
En dit bring ons weer by die vertaling van 8:16: “Die Gees self verseker ons gees dat ons kinders van God is.” Die literêre verband van 8:1–17 belig die sentrale rol van die Heilige Gees in ons kindskap. Die Gees getuig daarom nie “saam met” ons gees as bloot ’n gelykwaardige getuie nie, of maar net “teenoor” ons gees (lg. as indirekte objek of as dativus commodi) nie, maar “verseker” ons gees dat ons God se kinders is. Die Gees is die oorsprong van ons kindskap, en as sodanig die Een wat ons laat uitroep: “Abba, Vader.”
5. Slotopmerking
Hierdie artikel het die leser deur ’n spesifieke argument geneem, naamlik dat die 2020-Av die leser met ’n moontlike misverstand laat rakende die vertaling van Romeine 8:16. Waar vorige vertalings vertaal met: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is”, vertaal die 2020-Av met: “Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is”, so asof die Heilige Gees en ons gees in stryd is met mekaar. Vervolgens is gelet op die betekenis van die kernlekseem συμμαρτυρέω asook hoe dit deur verskillende bekende vertalings vertaal word. Uiteindelik is redes aangevoer waarom die vertaling “Die Gees self verseker ons gees dat ons kinders van God is” te verkies is. Ek vertrou dat die leser deur die argumente oortuig kon word.
Bibliografie
Bachmann, H. en W.A. Slaby. 1980. Computer-Konkordanz zum Novum Testamentum Graece. Institut für Neutestamentliche Textforschung und vom Rechenzentrum der Universität Münster. Berlyn: Walter de Gruyter.
Barrett, C.K. 1991. A commentary on the Epistle to the Romans. 2de uitgawe. Londen: A. & C. Black.
Barth, K. 1968 [1933]. The epistle to the Romans. Oxford: Oxford University Press.
Bauer, W., W.F. Arndt, F.W. Gingrich en F.W. Danker (BAGD). 2000. A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature. 3de uitgawe. Chicago, IL: University of Chicago Press.
Bertone, J.A. 2005. “The law of the Spirit”: Experience of the Spirit and displacement of the law in Romans 8:1–16. Studies in Biblical literature. Volume 86. New York: Peter Lang.
Collins, R.F. 2019. Life in the Spirit in Romans 8: Hope grounded in love. The Bible Today, 57(4):228–34.
Cranfield, C.E.B. 1980. The epistle to the Romans. Volume I, Romans I–VIII. The International Critical Commentary. Edinburg: T. & T. Clark.
Du Toit, A. (red.). 2009. Focusing on the message. New Testament hermeneutics, exegesis and methods. Pretoria: Protea Boekhuis.
Du Toit, A.B. 2010. Some more translation headaches in Romans. Verbum et Ecclesia, 31(1):385. DOI: 10.4102/ve.v31i1.385.
Du Toit, H.C. 2009. Contributions from modern linguistics to New Testament exegesis. In Du Toit (red.) 2009.
Fitzmyer, J.A. 1993. Romans. A new translation with introduction and commentary. The Anchor Bible. New York: Doubleday.
Hays, R.B. 1996. The moral vision of the New Testament. Community, cross, new creation. A contemporary introduction to New Testament ethics. New York: HarperCollins.
Jewett, R. 2007. Romans. A commentary. Hermeneia. Minneapolis, MN: Fortress.
Kowalski, M. 2018. The brokerage of the Spirit in Romans 8. The Catholic Biblical Quarterly, 80:636–54.
Lekkerkerker, A.F.N. 1971. De brief van Paulus aan de Romeinen. Volume I. De prediking van het Nieuwe Testament. Nijkerk: Callenbach.
Lohse, E. 2003. Der Brief an die Römer. Kritisch-exegetischer Kommentar über das Neue Testament. 15de uitgawe. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
Louw, J.P. 1979. A semantic discourse analysis of Romans. Volume II: Commentary. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
Louw, J.P. en E.A. Nida. 1988. Greek-English lexicon of the New Testament. Volume 1 and 2. New York: United Bible Societies.
Michel, O. 1966. Der Brief an die Römer. Kritisch-exegetischer Kommentar über das Neue Testament. 13de uitgawe. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
—. 1978. Der Brief an die Römer. Kritisch-exegetischer Kommentar über das Neue Testament. 14de uitgawe. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.
Moo, D.J. 1996. The epistle to the Romans. Grand Rapids, MI: Eerdmans.
Morris, L. 1988. The epistle to the Romans. Grand Rapids, MI: Eerdmans.
NET (New English Translation) Bible. Full notes edition. 2019. Nashville, TN: Thomas Nelson.
Newman, B.M. en E.A. Nida. 1973. A translator’s handbook on Paul’s letter to the Romans. Helps for translators XIV. Stuttgart: United Bible Societies.
Nygren, A. 1972 [1949]. Commentary on Romans. Philadelphia, PA: Fortress.
Ridderbos, H. 1959. Aan de Romeinen. Commentaar op het Nieuwe Testament. Kampen: J.H. Kok.
Schlier, H. 1979. Der Römerbrief. Herders Theologischer Kommentar zum Neuen Testament VI. Freiburg: Herder.
Schmidt, H.W. 1966. Der Brief des Paulus an die Römer. Theologischer Handkommentar zum Neuen Testament VI. Berlyn: Evangelische Verlagsanstalt.
Schreiner, T.R. 1998. Romans. Baker Exegetical Commentary on the New Testament. Grand Rapids, MI: Baker Academic.
Strathmann, H. 1967 [1942]. S.v. συμμαρτυρέω. Theological Dictionary of the New Testament. Volume IV. Grand Rapids, MI: Eerdmans.
Wilckens, U. 1980. Der Brief an die Römer. 2. Teilband: Röm. 6–11. Evangelisch-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament VI/2. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.
Witherington, B. III (met Darlene Hyatt). 2004. Paul’s letter to the Romans. A socio-rhetorical commentary. Grand Rapids, MI: Eerdmans.
Wolter, M. 2014. Der Brief an die Römer. Teilband 1: Röm. 1–8. Evangelisch-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament VI/I. Neukirchen-Vluyn: Patmos Verlag.
Wright, N.T. 2005. Paul. In fresh perspective. Minneapolis, MN: Fortress.
Eindnotas
1 Louw en Nida (1988:s.v. μαρτυρέω) identifiseer twee betekenisse van μαρτυρέω: 1. getuig (inligting verskaf waaroor die spreker direkte kennis het); 2. om goed te praat van iemand, goed te keur. Betekenis 1 is verreweg die algemeenste een.
2 Volgens Bachmann en Slaby se Computer-Konkordanz (1980) 76 keer.
3 Louw en Nida (1988:xvi) wys daarop dat in woordbetekenisse ’n mens nie die geheel kan ken voordat al die onderdele geanaliseer is nie. ’n Mens is dus ietwat op dun ys met die betekenis van συμμαρτυρέω in die Nuwe Testament omdat die beskikbare kontekste waaruit die betekenis geanaliseer kan word, skraal is.
4 Die vertalings wat in tabel 1 en 2 gelys word put nie die moontlikhede uit nie, maar is min of meer verteenwoordigend van die mees gebruikte vertalings. Die leser sou nog ander vertalings by die onderskeie tabelle kon voeg.
5 Die 1983-Av vertaal net met “getuig”.
6 Newman en Nida (1973:177) maak ’n saak daarvoor uit dat dit nie Paulus se droefheid is wat bevestig moet word deur sy gewete nie, maar dat hy nie lieg nie. Dit is egter onnodig om hieroor hare te kloof; dis twee kante van dieselfde muntstuk. Dit gaan daaroor dat hy nie lieg oor sy droefheid nie; sy gewete staan vir beide in.
7 Kommentare wat hierdie weg opgaan, is Jewett 2007:500 (veral vn. 293), Ridderbos 1959:182, Michel 196613:198 (herhaal in Michel 197814:261), Bertone 2007:203 en Witherington 2004:219.
8 Kyk in hierdie verband die insig van Wright (2005:138, 149) dat Paulus hier besig is met ’n herinterpretasie van die verbondsvolk se uittog uit Egipte. Soos wat hulle deur God deur die woestyn gelei is na die beloofde land, so word die nuwe verbondsvolk deur die Gees gelei na die eschaton. Die Gees neem die plek in van die Shekinah, die tabernakel-teenwoordigheid van JHWH by sy volk in hulle tog deur die woestyn na die beloofde land.
9 Kowalski (2018) bied ’n interessante siening van hoe die Gees se rol in Romeine 8 gesien kan word. Kowalski volg ’n sosiologiese benadering en tipeer die rolle van God, die Heilige Gees en die mens in terme van weldoener (“patron”), makelaar (“broker”) en kliënt (“client”) onderskeidelik. Die Gees is die Goddelike makelaar wat die Weldoener (God) se weldade aan die mens (die kliënt) bemiddel (2018:639). Die Gees tree dus op as makelaar van Goddelike genade in Romeine 8 en bewerk so die mens se kindskap van God (2018:643).
10 Byvoorbeeld, Nygren (1972 [1949]:309) sien vryheid as die hooftema van Romeine 8:1–17 en deel dit soos volg in: Vry van die dood, deur die Heilige Gees (vv. 1–11); Vry van die dood sodat ons kan lewe (vv. 12–17). Louw (1979:91) praat weer van vv. 14–17 as ’n “cluster” wat die basiese tema van die voorafgaande verse voortsit maar nou op die werk van die Gees fokus, en wel so dat v. 14 herhaal word in v. 16, met v. 15 en v. 16 wat by wyse van kontraste op onderskeidelik v. 14 en v. 16 kommentaar lewer. Dit gee aan vv. 14–16 ’n ringkomposisie wat die onderskeie items beklemtoon. Dit belig veral die feit dat die Heilige Gees die Goddelike agent is wat mense kinders van God maak. Vers 17 trek dan die gevolgtrekking van kindskap van God, naamlik mede-erfgenaamskap van Christus.
11 Hieroor sê Cranfield (1980:403): “But what standing has our spirit in this matter? Of itself it surely has no right at all to testify to our being sons of God.”
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur Leonardo Dourado en is verkry op Pexels.
| LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |

