Die versmelting van outeur, skrywer, verteller en karakter in André Letoit se Suidpunt-jazz

  • 0

Titel: Suid-punt Jazz
Skrywer: Koos A Kombuis
Uitgewer: HAUM-Literêr
ISBN: 9780798623063

1. Inleiding

Studente in die letterkunde het tradisioneel volgens die kommunikasiemodel geleer dat daar drie komponente in die vertelproses is: die sender, die boodskap en die ontvanger (Cloete, Botha en Malan 1985:30–8). Elke prosawerk het dus 'n verteller, 'n teks en 'n leser. Protokol vereis sogenaamd dat die verteller en die skrywer heeltemal apart gehou moet word. Op geen manier mag hulle as dieselfde persona gereken word nie. 'n Doodsonde sou wees om biografiese inligting van die skrywer te gebruik om die teks beter te verstaan. Daarom die caveat aan letterkundiges: Vergeet van die mens agter die boek!

Dit sou egter tot 'n verdraaide en verarmde interpretasie lei as iemand Suidpunt-jazz so wil lees. In hierdie werk speel die skrywer 'n uiters belangrike en beslissende rol, in so 'n mate dat dit moeilik is om die skrywer en die verskillende vertellers uitmekaar te hou. Van uiterste belang is dit om die insette van die skrywer/outeur te verreken. 'n Verdere vraag ontstaan na die identiteit van die skrywer en die outeur (op die titelblad aangedui as André Letoit): Het hierdie twee dieselfde persona, of nie?

Hierdie artikel maak 'n veelvlakkige ontleding van die eerste vertelblok in Suidpunt-jazz en beweeg daarom weg van ‘n teksimmanente ontleding van die boek. Die fokus is primêr op die rol van die skrywer/outeur binne sy kontekste. Reiken (2011:3–24) skryf ‘n seminale artikel hieroor met die titel: “The author-narrator-character merge”. Hy beskou die versmelting van genoemde rolle as slordige skryfwerk. Na aanleiding van ‘n ontleding van Suidpunt-jazz verskil ek met hom. Die doel van hierdie artikel is dus om die versmelting van stemme te midde van verskeie ander literêre tegnieke na te gaan en ‘n mening oor die funksie daarvan te gee .

Slegs die eerste “bedryf” op die program soos gegee op bl 8, nl “PFP”, word verken. Die rede vir die seleksie is hoofsaaklik prakties, want om die hele boek te behandel sou oor die 100 bladsye neem. Dit behels wel ‘n kort deel van die boek, maar mag dalk die begin van ‘n groter studie oor die onderwerp wees.

Ek, die skrywer van hierdie artikel, ken die outeur van Suidpunt-jazz al meer as 50 jaar lank. Soos wat ek dus die teks as leser resepteer, speel my herinneringe en belewenisse 'n groot rol. Dit kan bydra tot ‘n wyer leserspersepsie van die “roman” wat dalk te veel kere as obskuur en absurd afgemaak word. ‘n Grens word doelbewus oorskry: biografiese inligting en algemene agtergrond word, waar relevant, in die ontleding verreken. Omdat die skrywer so sterk figureer in die roman, en hierdie skrywer en die outeur André Letoit so baie op mekaar trek, dink ek nie 'n mens kan anders nie. Ek wil so ver gaan om te sê dit is noodsaaklik.

'n Kort teoretiese oriëntasie volg. Die wetenskaplike bronne tot hierdie artikel word vervolgens ingespan waar die ontleding van die teks dit noodsaak. Teorie volg die teks as die teks vir teorie vra.

Kort teorie

Plato (Halliwell 2009:34) onderskei in sy Republiek III:396–7 tussen drie literêre style: die verhalende, die dramatiese en die gemengde. In prosa tref ons die gemengde styl aan: 'n kombinasie van die verteller se mededelinge en die karakters se verbale uitinge. Verdere ontleding kan volg.

Hough (1978:49–52) beskryf vyf tipes diskoerse in 'n prosawerk:

1) Die skrywer se stem

Dit is nodig om hierdie persona duidelik te onderskei van die verteller, en dit kommunikeer dikwels reflektief, aanmoedigend of kripties (Hough 1978:49). Die stem staan buite die hoofstroom van die vertelling, maar dikwels word die leser direk aangespreek. Dit is ironies, epigrammaties en soms paradoksaal. Gemoedelikheid tussen die leser en die skrywer wat in die eerste persoon praat, kan tot stand kom. Presies hoe die outeur van ‘n werk en die skrywer in ‘n werk verband hou, hang van die konteks af. Dit is akademies, maar tog nodig om tussen die outeur (Letoit) en die skrywer in die verhaal te onderskei. Dit blyk egter dat die twee personas grootliks ooreenkom.

'n Buitengewoon groot gedeelte van Suidpunt-jazz bevat hierdie tipe styl: byvoorbeeld 17 bladsye uit 32 uit die vertelblok “PFP”. Dit is die primêre teks van die roman wat hierdie artikel ontleed.

2) Objektiewe vertelling

Dit gaan hier hoofsaaklik om die mededeling van feite wat as waar beskou word. Die vertelling is ongekleur (emosieloos) en kom nie noodwendig van 'n spesifieke perspektief af nie. Min dele van Suidpunt-jazz beslaan hierdie styl.

3) Gekleurde vertelling

Hierdie styl kom oorvloedig in Suidpunt-jazz voor. “Gekleurd” dui op ‘n spesifieke perspektief, subjektiewe persepsie en/of emosie (Hough 1978:50). Beide derde- en eerstepersoonvertellers tree op. Meyer (2005:199) wys daarop dat daar soms ‘n noue verhouding tussen die skrywer en ‘n eerstepersoonverteller voorkom. Die begrip en term fokalisasie word deesdae al meer gebruik (vgl. Bal 1986:108–23). Dit behels die vrae: Wie sien? en Wie praat? Die verteller se “point of view” of gesigshoek lei tot fokalisering deur die waarnemer of die betrokke persona (De Villiers 2004:5-42).

4) Vry indirekte styl

Hierdie styl is ‘n konsentrasie van gekleurde vertelling. Die woorde van ‘n karakter kom nie in die direkte rede voor nie, maar in die indirekte rede – as “gerapporteerde spraak”, om die Engelse term reported speech vir die doel hiervan direk te vertaal – in die vertelling self ingebed (Hough 1978:51). Die ingebedde gedeelte resoneer egter asof dit wel deur iemand êrens in direkte rede uitgespreek is.

5) Direkte rede en dialoog

Hier gee die skrywer aan die karakter(s) kans om self te praat, en dit lei dikwels tot belangrike dialoog. Kwantitatief speel dialoog nie 'n groot rol in die roman nie.

5) Bespreking

Nie die hele boek word ontleed nie. “Bedryf PFP of vertelblok 1 is die korpus wat wel in hierdie artikel gestiplees word, asook die voorafgaande skutblaaie wat die roman inlei en uniek oriënteer. Dit behels 32 bladsye, ingedeel in verteleenhede (tonele) met elkeen ‘n tiperende kode (P = Preskrip, V = Verteller en S/O = Skrywer/Outeur) en die eerste woorde van die gedeelte. Hier volg die indeling en ontleding:

P 1 – André Letoit

Die boek is in 1989 uitgegee en André Letoit word as outeur aangedui. André le Roux Toit (soos op sy ID geregistreer) begin in die laat sewentigerjare as digter, kortverhaal- en romanskrywer publiseer onder die naam André Letoit ('n onbewuste anagram vir "toilet").

Vir sy musiekloopbaan kies hy egter die naam Koos Kombuis, ook vir sy latere publikasies vanaf 1990. Koos Kombuis is sowel sy humoristiese verhoognaam as sy pennaam. Koos (klink soos " koe-is is 'n verkorte weergawe vir die bekende naam Jacobus/Jakobus, maar is ook Afrikaanse sleng vir “kamerpot”. “Kombuis” se betekenis spreek vanself. Sy bynaam was op skool al Koos, en soms Koos Doos.

Koos bring later 'n A in sy verhoognaam in en word nou Koos A Kombuis. Die A is vir André, wat deel vorm van sy eerste verhoognaam, André Letoit. Die feit dat die akroniem van sy naam KAK is, is glo “suiwer toevallig”.

Die titel van die roman is Suidpunt-jazz. Dit word eksplisiet 'n roman genoem. ‘n Mens sou hierdie tipering kon bevraagteken, veral as jy die boek net begin lees het. Later is jy nie meer so seker nie. Die skrywer hou daarvan om te oordryf, maar dan ook om woorde te dekonstrueer sodat teenstrydighede en paradokse na vore kom. In dié verband is die eerste sin van die roman insiggewend: “In u hand hou u die Groot Afrikaanse Roman.” Oordrywing en satire op sy beste! Of dalk ‘n dieper vlak van erns?

Hierdie roman handel “oor een tema, twee volke, drie eeue, vier provinsies, vyf landstreke en ses politieke partye”. Dit is nie as ‘n raaisel bedoel wat 'n leser moet ontrafel nie. Watter twee volke sou byvoorbeeld bedoel word: die Afrikaners en die Zoeloes? Daar is wel 'n dramatiese effek in die lysting van die syfers vanaf 1 tot 6, maar dit is waarskynlik speels. Dwarsdeur die boek kry ‘n mens talle nonwaarhede, absurditeite, skewe jukstaposisies, sintagmatiese variasies, imitasies en parodieë.

P 2 – Opgedra aan Willie en Lettie van der Merwe

Hierdie opdrag is insiggewend. 'n Bietjie agtergrond is van waarde. Willie van der Merwe was destyds op Stellenbosch 'n professor in filosofie. Hy en Lettie, sy vrou, het goeie vriende met Koos (soos hy ook in die omgang bekend geraak het) geword. Koos het selfs in die tagtigerjare by hulle loseer.

Direk onder die opdrag verras ‘n uittreksel uit die outeur se vorige werk:

Van Tafelberg tot in Transvaal
Loop hensoppers weer deesdae kaal
En is jy wit, bruin swart of geel
Kak almal in dieselfde taal.

                - PFP van Wyk Louw (Uit: Piekniek by Dingaan)

Hierdie uittreksel dateer uit die Voëlvry-dae. Letoit het 'n orkesgroep saam met ander bekende kunstenaars gevorm. Hulle het die land deur getoer and aandag getrek met hulle versetmusiek, veral teenoor rigiede Afrikaners. ‘n Hoogtepunt was hul produksie Piekniek by Dingaan, ‘n musiekspel, wat baie mense die horries gegee met sy parodie, wanvoorstelling en hiperbool. Die spel is derhalwe by verskeie plekke verbied.

Vroeg op skool reeds het Letoit die skuilnaam PFP van Wyk Louw gebruik, veral om sy “strokiesprente” te onderteken. Gewoonlik het die formaat bestaan uit vuil ou A4-papiere wat hy in die hande gekry het. Hy het die sketse met dialoog in die klas gemaak en dan na my en Etienne van Heerden aangestuur. In die roman onder bespreking skakel die wisseling tussen NP en PFP (van Wyk Louw) met die program (P 4 hier onder) waar die politieke partye se name as opskrifte gebruik word.

Wat die inhoud van die uittreksel betref, is dit duidelik dat twee horisonne langs mekaar geplaas word: die aura van die Tweede Vryheidsoorlog en die moderne verskynsel van kleurgelykmaking wat lei tot ‘n nuwe gemeenskaplikheid. “Hensoppers” dui waarskynlik op persone wat krities raak en wegbreek van stoere tradisies. Die gebruik van die k-woord is hier nogal tipies, want dikwels span Letoit kru taal in om te skok. Soms is dit net ‘n invuller met nie veel betekenis nie.

P 3 – Alle karakters in hierdie boek ...

Op 'n aparte bladsy kom die volgende stelling voor:

Alle karakters in hierdie boek is fiktief behalwe dié wat net in die
skrywer se verbeelding bestaan.
Die skrywer is ook fiktief.
 As julle dit nie wil glo nie, kan ek dit bewys.
Of betroubare getuies inroep (bv Sensal).

Die karakters en die skrywer van die boek is fiktief. Die outeur kan dit glo bewys, onder andere deur stawende materiaal van die destydse Sentrum vir die Afrikaanse Letterkunde te Bloemfontein in te roep. Die stelling oor die fiktiewe skrywer is absurd en paradoksaal, maar mag dalk ‘n rooi lig laat aangaan oor hoe belangrik die skrywer van die boek is. 'n Vraag kom op: Is die dwalende en vlugtige skrywer nie dalk die hoofkarakter in die boek nie?

P 4 – Program (Inhoudsopgawe)

In sy program maak die outeur gebruik van die eerste strofe van “Die Stem van Suid-Afrika” deur CJ Langenhoven:

Uit die blou van onse hemel,
uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee.
Deur ons ver verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa.
Ruis die stem van ons geliefde,
Van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe
Ons vir jou, Suid-Afrika.

Daar is altesaam 25 items (verteleenhede of tonele) op die program, ingedeel in ses groot bedrywe of vertelblokke wat op een uitsondering na die akronieme van politieke partye is. Dit is belangrik om te weet dat tydens die skryf van die roman die Nasionale Party (NP) regeer het en die Progressiewe Federale Party (PFP) die amptelike opposisie was. Die afwykings van die oorspronklike “Stem” word nou aangedui en kortliks bespreek.

PROGRAM

PFP

1 Uit die blou van onse hemel  13
2 Uit die diepte van ons see 25
31 Oor ons ver verlate vlaktes waar die kranse antwoord gee 27
4 Oor ons ewige gebergtes 34

NP
5 Met die kreun van ossewa 43
6 Rys die stem van ons geliefdes2 50
7 Van ons land, Suid-Afrika 58

KP [Konserwatiewe Party]
8 Ons sal antwoord op jou roepstem 67
9 Ons sal offer wat jy vra 72
10 Ons sal lewe 83
11 Ons sal sterwe 91

HNP [Herstigte Nasionale Party]
123 (Maar eers 'n kort pouse van tien minute) 100
13 Op eie bodem 108
14 Met nerf-af knieë 117
15 Ons sal dekonstruksie toepas 121

SAP [Suid-Afrikaanse Party]
164 Ons vir jou 131
17 Federasie gebaseer op die Switserse kantonstelsel 136
18 Aan die suide 140
19 Van 'n donker kontinent 144
20 Ver in die wêreld Kitty 151
21 – Die Derde Wêreld – 155
22 'n Kultuur van piesangrepublieke en bygelowe 163
23 Vertroud met staatsgrepe, spuitverf-ideologieë en drome 171

WP                     
245 En die winde wat waai 177
25 Deur die pluimsaad van ons stede. 183

1 Die outeur ruil die volgorde van die reëls om: “oor ons ver verlate vlaktes” word voor “oor ons ewige gebergtes” ingespan by item 3. Die gedeelte wat saam met “gebergtes” in “Stem” voorkom, word nou aangevoeg by “ver verlate vlaktes”. Het die outeur die woorde van “Die Stem” dalk verkeerd onthou?

2 Die afwyking in item 6 is meer insiggewend: “ruis” word vervang met “rys” en “geliefde” met “geliefdes”. Dit is baie meer mensgerig en antisipeer die baie stemme wat die leser in die boek gaan teenkom.

3 Hier wyk die outeur af van die volgorde in “Die Stem”.

4 Nou keer die outeur terug na “Die Stem”, maar net vir een halwe vers. “Suid-Afrika” ontbreek.

5 Items 24 en 25 staan onder die opskrif WP. Dit verwys waarskynlik na die Westelike Provinsie, die werklike suidpunt in die verhaal. Die titels van items 24 en 25 verwys beslis, maar subtiel, na NP Van Wyk Louw se omstrede toneelstuk oor die Afrikaners, Die pluimsaad waai ver, wat in 1961 in Pretoria opgevoer is:

Wat is ’n volk?

Uit stof en stof-in-tyd is ons gemaak:
Boere en knegte, trein-masjiniste,
passers, laboratorium-assistente,
motoriste, meisies in swemklere,
bestuurders, direkteure en rekenmeesters,
meisies op voorblaaie en agterop
motorfietse; anoniem: ’n massa,
maar elkeen met sy naam en eie aard,
elkeen met sy kiesheid, wat ’n kuisheid kan word.

         – Uit: Die pluimsaad waai ver 

Bostaande is deel van die proloog tot die Van Wyk Louw-drama. Dit beskryf die verskeidenheid van die Afrikanervolk, elke persoon “met sy naam en eie aard”. Die Afrikaner in sy verskeie tipes is sonder twyfel 'n tema in Suidpunt-jazz, maar dan die Afrikaner tussen talle ander tipe mense in Suid-Afrika.

Burger (1992:63) beweer dat Letoit hier “Die Stem” en Louw se proloog tot Die pluimsaad parodieer deur middel van paradokse en absurde sintagmatiese vervangings. Teenstrydighede word tot die uiterste toe gedryf, met die gevolg dat alle illusies verbreek en enige betekenis diffuus raak.

P 5 – PFP

Hierdie bladsy bevat drie aanhalings:

          The bearded man stepped forward menacingly. "Who owns it?" he demanded.
          "Who's gonna kick us outa here? You tell me."

                     – Uit: John Steinbeck, The grapes of wrath

Hierdie aanhaling raak dalk die vraag oor die besit van die suiderland aan. Wie ook al eerste hier was, niemand gaan die wittes verjaag nie.

          We artists are indestructible; even in a prison, or in a concentration camp, I
          would be almighty in my own world of art, if I had to paint my pictures with my
          wet tongue on the dusty floor of my cell.

                      – Picasso

Die bravade en selfs oormoed van die kunstenaar kom hier te berde. Hy glo sy kuns gee hom ‘n almagtige posisie in die samelewing.

           All men will take refuge in Africa.

                      – Leonardo da Vinci

Dat alle mense na Afrika toe sal vlug, is 'n fassinerende stelling, nie sonder ironie nie. Afrika is dalk 'n toevlugsoord, maar glad nie 'n paradys nie. Sy bewoners word uitgedaag en bedreig.

P 6 – In die begin ...

In die begin was die woord en die woord was God, en die woord het vlees geword en die vlees vrees en onder ons kom bang word, en wit.

En God was Liefde nog in daardie jare toe die wit man se eerste skepe Tafelbaaihawe binnegevaar het en hulle blink goedjies kom toon het aan die barbare, wie se tande en handpalms ook wit was, maar wat sonder sonde was omdat hulle nog nooit van God gehoor het nie, en omdat hulle oorloë dus nie in die naam van Liefde gevoer is nie, maar vir doodplein bloed.

En die wit man het aan die swart man die betekenis van bloed kom verduidelik, en hulle skepe het gekom en gegaan, en die branders van Tafelbaaihawe het teruggeskuif met hulle hande in die hare.

Vandag nog heers die suidpunt van Afrika oor die res van die wêreld, en vandag troon Tafelberg uit bo al die stede van die aarde, want as jy 'n aardbol onderstebo hou is óns aan die bopunt, en as jy 'n stuk brood die donker in werp, keer hy na baie jare na jou toe terug soos 'n koringland vol assegaaie en blink gesigte in die nag.

Agter die verste berge lê nog skatte; baie Westerse skrywers het daarvan gedroom, van hierdie weggesteekte agterplaas van Afrika. En dié land is óns land, die enigste land in die wêreld wat nog nie deur God bekeer kon word nie. En ook hiér het die kitaar begin speel, die wond van Jean-Paul Sartre oper begin rek, die kinders roomyse begin eet, wit roomyse, wit roomyse van redding en verwestersing.

Maar nog steeds, onder die moderne winkelsentrums, onder die parkades en die teer, onder die ice rinks en die myne en die pap-en-wors-kafees, gloei daar 'n pols, klop daar 'n hart, en dis die hart wat die wit man noem: Afrika.

Maar hoe gee jy 'n naam aan dít wat van die begin af geleef het sonder woorde?

Voor die boek eintlik begin, tref die leser onverwags 'n ernstige proloog, inleiding, aanhef aan. Dit is duidelik dat die formaat van Johannes 1 uit die Bybel die basis vorm van hierdie gedeelte. Johannes 1:1 en 14a lui soos volg:

1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
.......................................
14 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.

Die eerste sin van hierdie “proloog” bevat ‘n dramatiese afwyking van die Bybelse teks: “en die vlees vrees en (het) onder ons kom bang word, en wit”. Wit (Weste) en swart (Afrika) staan voortdurend in kontras, oa ten opsigte van sonde. Dit barbare het nie sonde nie, want hulle het nog nooit van God gehoor nie. Die wit man is sondig, want hy voer oorloë in die naam van liefde. Die polsende drif van Afrika is onmiskenbaar.

Hiermee eindig die Preskrip van ses bladsye. Al ses hierdie uitinge is die maaksel van die outeur. Dit dek die tafel vir wat gaan volg en bevat soveel informasie dat dit telkens in gedagte gehou moet word by die ontleding van die roman as sodanig. Die outeur maak sy leser by voorbaat sensitief vir die temas en die modus van emosie wat volg.

1 Uit die blou van onse hemel

By die lees van 'n roman verwag 'n leser tradisioneel 'n skrywer buite die teks en ‘n verteller. Die skrywer wend 'n verteller aan, hetsy in die eerste of derde persoon, om die vertelling te redigeer deur die ordening van dialoog, gedagtes en gebeure (Cloete 1992:564). Die perspektief (“point of view”) waaruit vertel word, is kritiek vir die verstaan van 'n teks en het betrekking op verskeie vlakke: die ideologiese oriëntasie, die emosionele sfeer, die hoek van vertelling en die groeiende begrip van die leser (Cloete 1992:377).

Die stippellyn ..................... dui aan waar 'n verteleenheid ingekort word ter wille van spasie.

S/O 1 – In u hand hou u Groot Afrikaanse Roman.

Verteleenheid (toneel) 1 behoort onteenseglik aan die outeur:

In u hand hou u die Groot Afrikaanse Roman. Terwyl u dit lees, gaan ek dit skryf. U is onseker oor hoe om dié boek te benader. Ek nog meer. Want wat by u reeds bestaan as vaste gegewe, berus by my op suiwer improvisasie ...

My grootste probleem is dat ek nooit weet hoe om 'n nuwe roman te begin nie. Eindes is maklik. Titels ook. Ek kan 'n twintigtal romans eindig binne een aand. Dit kom natuurliker ...

Maar laat ek verduidelik. Ek het darem reeds my basiese raamwerk vasgestel, hoewel dit mettertyd kan verander en onverwagte wendings neem. Luister mooi:

Soos u vermoed het, verwys die "jazz" in die titel eerder na die skryfstyl van hierdie roman as na die tema.

Hoewel die grootste deel van hierdie roman geskryf is (soos u sal sien) in die Wimpy Bar in Rondebosch, Kaapstad, beskou ek Transvaal as die belangrikste provinsie in die Republiek van Suid-Afrika. Die grootste rede hiervoor is die Groot Trek. Sonder die Groot Trek sou daar vandag geen Suid-Afrika gewees het nie. Naas Botha sou nie bestaan het nie, so ook nie die goudmyne nie. 'n Lied soos "Jabulani" sou nooit deur 'n groep genaamd Hotline op die treffersparade beland het nie. Ook sou ons minstens een openbare vakansiedag minder gehad het: 16 Desember.

Anders as my ander romans, het hierdie een 'n verstaanbare storie, hoewel ek nog nie seker is hoe dit inmekaarpas nie. Ook is dié roman gebaseer op werklike denkbeeldige karakters van vlees en bloed, en nie 'n reeks fiktiewe openbare persone nie. Daar gebeur verskriklik baie in dié boek. Daar is ook allerhande simbole in. Die boek is opgedra aan al die arme mense wat alledaagse en vaal lewens lei in dié land van ons, en nog nooit stilgestaan het om te dink oor die historiese betekenis van die grond waarop hulle loop, die lug wat hulle inasem en die musiek wat hulle om die een of ander rede nie kan hoor nie.

'n Eerstepersoonverteller orden die dialoog, gedagtes en gebeure (Cloete 1992:564). Die perspektief (“point of view”) waaruit vertel word, is die hoek van die outeur wat oor die skryfproses besin. Dit val op dat die teks gelaai is met emosie: hier is dit onsekerheid en vertwyfeling, maar tog ook iets van 'n bravade.

Die begrip metafiksie is hier van belang.

Metafiksie is 'n tipe fiksie waarin die outeur afwyk van realisme. Die stem van die outeur in die ontwikkeling van die verhaal en die rol van die leser in die ontvangs daarvan word dikwels sterk na vore gebring. Die rolle van die outeur en leser in Suidpunt-jazz word inderdaad buitengewoon opgeblaas, onder andere deur die gereelde ingrepe deur die akteur in die vertelling en die menigte direkte aansprekings van die leser in die tweede persoon.

Die boek open met opmerkings oor die skryfdaad en die produk daarvan:

In u hand hou u die Groot Afrikaanse Roman. Terwyl u dit lees, gaan ek dit skryf.
U is onseker oor hoe om dié boek te benader. Ek nog meer. Want wat by u reeds bestaan as vaste gegewe, berus by my op suiwer improvisasie ... (13).

Die obsessie met die Groot Afrikaanse Roman (GAR) is welbekend: elke outeur wil graag die beste roman in Afrikaans oplewer. Om na die boek wat hy nog moet skryf te verwys as die GAR, is ‘n toonbeeld van ironie en spot. Die outeur (“ek”) skryf dit, terwyl die leser (“u”) dit lees. Hier is die klem op die rol van die leser en ander interaksies wat die skryfproses direk kan beïnvloed nog voordat die woorde op papier verskyn.

Die outeur spreek die leser direk aan: “U is onseker oor hoe om dié boek te benader”, die boek wat nog nie bestaan nie. Die outeur is ook onseker. Die leser hou vas aan 'n sekere verwagting (vgl Jauss), die outeur probeer improviseer, verwerk gegewens uit sy ervaring. Hoewel die eerste twee paragrawe van die boek absurd voorkom, lê dit die preokkupasie met die skryfproses bloot. Onder andere beskryf die outeur die skryfstyl van die boek as “jazz”; hy brei uit oor die plekke waar die boeke geskryf is (bv die Wimpy Bar in Rondebosch) en maak bekend vir wie hy eintlik die boek skryf, nl die onbewustes.

Metafiksionele tekste is selfbewus oor taal, literêre vorm en vertelling en bevraagteken die status as artifakte. “Metafiction is frequently used as a form of parody or a tool to undermine literary conventions and explore the relationship between literature and reality, life, and art” (https://en.wikipedia.org/wiki/Metafiction). Dit is presies wat in Suidpunt-jazz gebeur, veral in die tekste waarin die outeur aktief optree, beide as ek-spreker en as karakter deur ‘n derdepersoonverteller.

V 1 – Hy trek sy baadjie ...

Die volgende toneel is 'n beskrywing van waar 'n karakter in Hillbrow koffie drink by 'n straatkafee. Hy sit, neem alles waar en vertel dit oor aan die leser. Dit is in die derde persoon geskryf, maar dit lyk of die karakter in hierdie toneel niemand minder as die outeur/skrywer is nie. Hy is verward en voel oënskynlik vere vir “hierdie boek”.

Hy trek sy baadjie stywer om hom vas. Dit is al sewe-uur in die aand en sy is laat ...

Die gebeure van die laaste paar weke en maande verwar hom nou al meer. Hy weet nie meer waarna hy kom soek het in hierdie land nie. Hy is nie seker waar hy is nie.

Die waarheid is: hy is in Hillbrow. Hy drink koffie met sy laaste rand in die eertydse Lucky Luke Steakhouse-straatkafee. Dis al wat hy doen. Hy kyk na die mense. Hy soek na 'n opening, 'n plek om weer te begin werk, hy soek mense deur wie hy homself kan openbaar. Hy voel vere vir hierdie boek, of vir enige ander teoretiese uitinge deur skrywers of politici. Sý vegterrein is die lewe self. En hy is gefrustreerd.

Hy sien 'n middeljarige vrou met 'n bril wat aan die oorkant van die straat haar motor se kattebak oopsluit en met moeite 'n plastieksak vol kruideniersware daarin sit.

Hy sien 'n jong swart man met 'n Skotse kep en 'n baadjie hande in die sakke verbyslenter.

Hy hoor die geloei van 'n ambulans.

S/O 2 (Net ter verduideliking ...)

Met hakies aangedui val die outeur weer die boek binne:

(Net ter verduideliking: terwyl ek hierdie roman skryf, is ek self ook nie gebonde aan tyd of ruimte nie.

Ek is tegelyk in my woonstel in Kaapstad, in die Wimpy Bar in Rondebosch, in die Grapevine in Sunnyside, in 'n “ladies” bar in Bloemfontein, in die Still Waters Motel net buite Vryheid, Natal, in 'n vriendin se woonstel in Windhoek, en inderdaad enige plek waar dit vir my raadsaam sou wees om te sit en skryf ten einde my ten volle in elke plek en situasie te kan inleef.

Ek is oral tegelyk, ek is dag en nag, hier en nou, ek is Suid-Afrika se nuwe geslag skrywers en ek kan waaragtig doen wat ek wil, of wat my tikmasjien wil, maar gewoonlik wil ons tegelyk dieselfde ding doen: die onmoontlike. Dit wat nuut en onbeproef in Afrikaans is. Dit wat oënskynlik lyk na heiligskennis, maar geen enkele wet van die hemel oortree nie.

Ek wil vir altyd lewe in my skryfwerk.)

Die ek-spreker beklemtoon sy alomteenwoordigheid wat help om homself as outeur werklik in te leef. Hy wil lewe in sy skryfwerk, sin en doel ervaar terwyl hy na die onmoontlike streef (dalk die skryf van die GAR?). “The process of telling is the story’s narration,” beweer Herman (2010:39). In Suidpunt-jazz is dit nie duidelik wie se storie eintlik vertel word nie en die skryfproses word gereeld ontleed en in verskillende rigtings uitmekaargetrek.

'n Mens sou Suidpunt-jazz as 'n metaroman kon beskou. Die ek-verteller/outeur kondig aan dat hy ‘n roman gaan skryf en 'n dubbelspel ontstaan tussen wat werklik gebeur (het) en soos die skrywende ek-verteller dit transformeer (Cloete 1992:93).

Die aktiewe rol van die skrywer en die leser kom al meer na vore, al skrywende en al interpreterende sowel die inhoud as die proses van die produk. Die outeur van Suidpunt-jazz wil die onmoontlike bereik deur sy skeppende produk. Volgens Brink (1967:103) is die skryfproses in die nuwe roman baie belangrik: “[D]it is een manier waarop die taal as geboorteproses gemanifesteer kan word – in laaste instansie die verteller self.” In toneel S 2 is die ek-verteller ook die outeur, 'n fassinerende subtipe.

Du Plooy meld dat Stanzel persoon, perspektief en modus as die belangrikste elemente in 'n vertelsituasie beskou (1986:84–5). Perspektief kan intern of ekstern wees. Dit hang daarvan af of die tipe karakter en die handeling in ‘n boek van buite beskryf word of van binne af, soos wat die verteller dinge in homself ervaar. Talle voorbeelde van interne perspektief kom in Suidpunt-jazz voor. Dit is egter gekompliseerd deurdat dit meestal vanuit die outeur/skrywer se interne perspektief is en die skrywer ook as 'n karakter voorkom.

V 2 – 'n Meisie in 'n rooi anorak ...

Hier volg suiwer vertelling, sonder die teenwoordigheid van die outeur, hoewel dit voorkom of dit die toneel van V 1 voortsit:

'n Meisie in 'n rooi anorak klou haar handtas onder haar arm vas en besigtig die blommeverkopers se ware aan die oorkant van die straat; kies dan eindelik 'n bos proteas toegedraai in sellofaan. Die sellofaan blink vir 'n oomblik in die lig van die straat. Sy haal geld uit en betaal daarvoor, stap weg, staan vir 'n rukkie huiwerig langs die swart-en-wit robotpaal waarteen die straatnaam aangeheg is:
← 53 PRETORIASTR 55 →
asof sy die straat wil oorsteek, verander dan van plan en stap by Checkers in.
In 'n ander blok is die helder verligte winkel waar hy dikwels sigarette koop. Die neon-kenteken op die sypaadjie dui aan:
TAKE AWAY FOODS
FONTANA BAKERIES
'n Groot stuk karton teen die glas net bo die deur adverteer:
Pineapples
Fresh Cream
Cakes
.......................................

Die verteller is 'n baie goeie waarnemer en het baie tyd!

S/O 3 Is ek nou die skrywer van hierdie boek of nie?

Die outeur beleef 'n identiteitskrisis:

Is ek nou die skrywer van hierdie boek of nie? wonder hy. Wat is my naam? Is ek dalk net 'n massamens, 'n videobeeld wat enige oomblik kan doodflikker? Is my naam Fanie, Johan, of dalk selfs Piet Retief? Is ek wit of swart? Loop tyd vorentoe of agteruit? Is dit die begin van die boek of die einde? Was daar ooit 'n boek?

Hoe kan ek my verhaal begin, my storie sonder storie, my sage sonder held, die wonderwerk wat onafhanklik is van enige openbaring, my boek sonder geleerdheid, my toekomsvisie sonder God, my Fiasko Sonder Perke?

Fabulasie vind hier plaas: die outeur “violate(s), in various ways, standard novelistic expectations by drastic – and sometimes highly effective – experiments with subject matter, form, style, temporal sequence, and fusions of the everyday, the fantastic, the mythical and the nightmarish, in renderings that blur traditional distinctions between what is serious or trivial, horrible or ludicrous, tragic or comic (Abrams en Harpham 2015:259).

Die outeur twyfel of hy werklik ‘n skrywer is, wat sy werklike naam is, in watter tydvak hy leef, of daar werklik 'n boek is om te skryf en waar hy moet begin. Sy brein produseer 'n fusie van chaos en disoriëntasie. Die teks van S 3 wyk radikaal af van die standaardverwagtings van hoe ‘n roman moet wees; die ou onderskeidings vervaag.

S/O 4 – Met 'n skok onthou hy ...

Met 'n skok onthou hy vir die eerste keer in sy lewe sy regte naam: Libido.

Die outeur is weer 'n karakter in die boek en in die derdepersoonvertelmodus onthou hy skielik sy naam ... Libido. Hierdie bekendmaking is onverwags en selfs skokkend. Dit is bedoel om te verras, en die feit dat die naam dui op “seksdrif” is op hierdie stadium van die boek nie so belangrik nie.

V 3 – Dit is feitlik donker ...

Uiteindelik kom ons by die “hoofstorie” van die boek.

Dit is feitlik donker in Timo Bezuidenhout se studeerkamer; donker behalwe vir die kol lig wat sy leeslamp op die ou manuskrip voor hom gooi.

Kort-kort lig hy sy kop en staar voor hom uit. Dan tel hy sy pyp op, steek dit aan met twee vuurhoutjies uit die dosie langs hom – Timo gebruik altyd twee vuurhoutjies wanneer hy 'n pyp aansteek – en blaas digte rookwolke die donker vertrek in.

Regs van hom, deur die venster se oop ruit, kan hy die silhoeët van Tafelberg net-net sien, met daaragter 'n paar sterre wat die hemelruim prik.

Hy kan egter nie die engel sien wat hom nuuskierig oor die vensterbank van buite af dophou nie, want engele is onsigbaar wanneer hulle dit verkies; selfs die pakkie grondboontjies in sy linkerhand is onsigbaar.

Omdat hierdie betrokke engel nog nie al sy goedheid verloor het tydens sy reis aarde toe nie, het hy nog sekere van sy superkragte behou. Bowendien, niemand het nog sover agtergekom hy is weg nie, want daar is op die oomblik 'n groot rugbywedstryd in die Hiernamaals, en dissipline is swakker as gewoonlik.

Die rugbywedstryd vind plaas tussen die hemel (hulle span word die Wit Span genoem, omdat hulle nooit hulle klere vuil maak nie, nie eens as hulle in die modder speel nie) en die hel (die Swart Span of All Blacks, soos daar soms grappenderwys na hulle verwys word).

Die engel, wie se naam Peanuts is (natuurlik 'n bynaam – sy regte naam is Gabriël XVII), stel egter nie belang in rugby nie. Nog minder Timo Bezuidenhout.

.....................................

S/O 5: Dit is, terloops, iets wat my al baie gepla het.

Die outeur deel 'n paar gedagtes oor gebed en wonderwerke. Om te bid vir die verlede, impliseer dat die geskiedenis kan verander. Soos ons binnekort sal sien, is 'n parallel hiervan Timo se tydmasjien wat reise in tyd – terug en vorentoe – moontlik maak en ook dalk die verlede kan verander.

Dit is, terloops, iets wat my al baie gepla het: Al die mense wat sê ons moet bid vir ons land se toekoms. As hulle die ware feite geken het en in wonderwerke glo, soos hulle beweer, sou hulle bid vir ons land se verlede. Dáár's nou vir jou 'n knoop wat geen mens kan losknoop nie.

Ja, soos ek gesê het, Timo Bezuidenhout kry trane in sy oë as hy na ou skeepswrakke kyk en sulke goed. Nou ... umm ...

V 3 (vervolg)

Hy slaan die boek voor hom toe – 'n herdrukte eksemplaar van Jan van Riebeeck se dagboek – en kyk op sy digitale polshorlosie. 12.15. Na regte tyd om te gaan inkruip. Magda is seker al woedend, want, soos sy altyd sê, dit word nou elke aand se ding, die laat lesery van ou manuskripte, die getoesluit van hom in sy feitlik donker studeerkamer ná ure.

Timo staan op en rek hom uit. Vir 'n oomblik wonder hy of daar waarheid steek in sy vrou se bewering dat hy hom saans verdiep in die geskiedenis van Suid-Afrika net om aan háár te ontsnap ...

"Een van die dae," so sanik sy vrou al die afgelope drie weke, "een van die dae sal jy moet kies: dis òf die Sesde Kafferoorlog òf ek."

"Grensoorlog,” korrigeer hy haar dan gewoonlik. Om die woord "Kafferoorlog" te gebruik, is nie meer aanvaarbaar by opvoedingsinstansies nie, allermins by die Universiteit van Kaapstad.

..................................

Hierdie is nie gewone vertelling nie. Dit grens aan die absurde, bonatuurlike, mistieke, en maak gebruik van parodie, hiperbool, diffusie, fantasie. Die karakter Peanuts verleen heelwat komiese verligting, ook later in die boek.

S/O 6 – Soos u dalk opgelet het ...

Weer die outeur as ek-spreker: hy wei uit oor die bonatuurlike en die skryfproses:

Soos u dalk opgelet het, speel die bonatuurlike hier 'n rol. En dit gaan deksels moeilik wees om dit oortuigend te beskryf. Dit is deksels moeilik om enigiets te beskryf, om hoegenaamd 'n skrywer te wees in hierdie tye waarin ons leef. Hulle sê skrywers het 'n Taak, daarom skryf hulle boeke.

Maar help dit? Help dit om my te verbeel dié roman is reeds voltooi, terwyl hy nog net 'n paar hoofstukke ver is? Ek kan myself verkul; kan ek die lesers verkul?

Sal dié vrou saam met my huis toe gaan as ek haar vra? En as sy wel inwillig, gaan ek enige werk gedoen kry?

Terwyl ek werk aan 'n boek, is ek 'n terror. Die rede is eenvoudig. Skryf is 'n plaasvervanger vir seks. Of in my geval is dit dalk selfs andersom: seks is 'n plaasvervanger vir skryf. Seks is slegs iets om te doen in dié dae as ek niks het om oor te skryf nie.

Die teks is selfreflektief en kripties (vgl Hough 1978:49). Die stem staan buite die hoofstroom van die vertelling, maar hier word die leser direk as “u” aangespreek. Die styl is ironies, absurd en selfs paradoksaal. Gemoedelikheid tussen die leser en die skrywer wat in die eerste persoon praat, kom mettertyd tot stand in die boek. Die aangesproke “u” word 'n gespreksvennoot, 'n vertroueling.

Die outeur twyfel aan homself as vakman – die opdrag is te moeilik, hy is onseker van sy taak en weet hy kan nie die leser verkul nie. Daar is ‘n alternatiewe verband tussen seks en skryf – nie al twee gelyk nie. Die melding van teks herinner aan die eerste naam waarmee die outeur hom voorgestel het, nl Libido.

V 4 – Wie is die skadufiguur ...

Die worstelende skrywer in pyn word weer ‘n karakter, beskryf in die derde persoon.

Wie is die skadufiguur agter die tikmasjien in die nag? Wie is die man wat niks liefde het nie, maar slegs oor liefde dig? Wie is die lyf wat sy naam dra, soos hy lyk, sy oë in sy kop het, telkens as hy opkyk na die spieël in die hoek van die vertrek en homself daar met sy koppie koffie en sy pyp sien sit? Die man met die geel trui, die voete wat vroeër in duisende strate afgeloop het?

Wie is die monster in sy hart, die monster wat hom dryf tot hierdie wandade met woorde, laat in die nag wanneer ander slaap?

Het hy 'n identiteit? 'n Geskiedenis? 'n Toekoms? 'n Annuïteitspolis? 'n Vrou? 'n Behuisingsubsidie?

Is daar 'n rede vir die miljoene lettertjies wat hy weef uit die tikmasjien voor hom, of wil hy daarmee 'n laken van begrip span, 'n laken om oor die ganse volk te span sodat hulle kan lees? Of is die laken waaraan hy werk slegs bedoel om hom uit sy selfopgelegde tronk van woorde uit vry te laat na buite – waar "buite" ook al is?

Die outeur probeer uit 'n benoude wêreld van sy worsteling met woorde ontsnap. Volgens Van Heerden (1997:11) was “postmodernisme” reeds teen 1989 in die Afrikaanse literêre gesprek ingeburger toe Suidpunt-jazz verskyn het. Al meer literatore rus hulle toe met die begripsapparaat van die nuwe paradigma. Francis Galloway beskryf die skuif van die ou na die nuwe paradigma onder andere soos volg:

Die teksbegrip het verander: dit bestaan nie meer uit papier en ink tussen die titelblad en slotwoord nie, want vandag word selfs die leser getekstualiseer. Die outonomie of selfgenoegsaamheid van die literêre teks het verval; in die hedendaagse denke is die ondersoek na verhoudings tussen die teks en ander tekste (intertekstualiteit), insluitende die kontekste, van primêre belang. Teenoor die vroeëre interpretasie van tekste staan die post-strukturalistiese "omgaan met tekste" met sy onsekerhede oor betekenis en betekenis-konstituering met sy lesersresponsies en disseminasie van betekenisse. (1990/9:303)

Bogenoemde behels verder dat die grense tussen skrywer/outeur en verteller vervaag. In V 4 hier bo kry die skrywer ‘n eie stem en ‘n unieke konteks.

V 5 – Dit is pikdonker ...

'n Objektiewe verteller beskryf die opkoms van Afrika as 'n luiderwordende orkes. Hierdie toneel is belangrik ten opsigte van die rol wat die skrywer graag aan Afrika wil toeken.

Dit is pikdonker oor die kontinent van Afrika. Nêrens flikker eens 'n liggie nie.

Dan, wanklankig uit die verte, uit geen spesifieke rigting nie (want die duisternis is volkome, en geen vaste verwysingspunte bestaan nie), kom dit. Eers saggies; dan harder, uit ander oorde.

Mense wat in die duister musiekinstrumente stem.

Die lui stem van 'n kragtige blikkitaar begin hoes, dan neurie, dan bons soos 'n vae, half-melodieuse hartklop tussen die chaos van klank. Hier en daar steek mense ligte aan, brand kerse eensklaps in vensters; hulle is nuuskierig om te sien waar die geluid vandaan kom.

En die een na die ander kom die instrumente by: talking drums, banjo's, simbale, die geklap van hande, 'n rietfluit, 'n konsertina, die gesing en gekwetter van voëls in die eerste oggendlig – die hartklop van 'n vasteland.

V 6 – Corrie en Freek ...

Die tweede hoofstorie volg, 'n soort subintrige:

Corrie en Freek en Corrie se sussie staan en koffie drink in Corrie-hulle se kombuis. Corrie se sussie sit by die tafel en dip 'n Ouma-beskuit in haar koffie. Corrie en Freek staan met hulle rûe teen die kombuiskaste. Uit die sitkamer kom die klanke van die televisie. Dit laat my dink aan net ná ons standerd nege-eksamen, sê Freek. Ons was ongelooflik dronk. Toe rol ons 'n Volksie. Maar ons is nie nou dronk nie, sê Corrie. Ek is altyd dronk of ek het 'n hangover, sê Freek. Kyk hoe bewe die beker in my hand. Hoeveelste jaar is jy nou in standerd nege? vra Corrie se sussie belangstellend. Wat wou, jy kon nog nie eers standerd vier deurkom nie, sê Freek. Standerd vier is baie moeilik, sê Corrie se sussie. Ek kan nie onthou wat ons in standerd vier geleer het nie, sê Corrie. Gesondheidsleer, sê Corrie se sussie.

Die outeur gryp by die vertelling in met 'n niksseggende opmerking:

Hierdie is die einde van die eerste paragraaf van wat dié aand gebeur het.

Dit is asof die outeur sy leser goed wil laat verstaan dat hy orals teenwoordig is.

Dan gaan die storie voort.

Wat is dit? vra Freek. Jy moet jou hande was, sê Corrie, en nie dronk word nie. Waa', ek is nie nou dronk nie, sê Freek. En ek het my hande gister gewas.

Corrie se boetie kom in. Hy het 'n sweetpak aan. Hy stap woordeloos tussen hulle deur op pad na sy kamer buite die huis.

Wat gaan ons alles die vakansie doen? vra Corrie.

Ek het Brigitte verlede week laas gesien. Sy kan gewoonlik aan iets dink. Anyway, ek wou jou nog vertel. Daai aand toe ons die Volksie gerol het (Nog koffie vir jou?) toe los ons hom net daar. (Ja, dankie, met vyf suikers.) (Soos gewoonlik.) En toe slaap ons die nag in my buitekamer, maar Alec skiet net aanmekaar katte oor die onderdeur en hou ons wakker want hy praat mos so baie kak as hy bang is vir die fuzz. Maar wie se Volksie was dit? Johan se oue. Die volgende oggend gaan check ons hom uit. (O ja, nou onthou ek, hy was mos 'n write-off.)

Lang stilte. Hulle drink nog koffie.

Corrie se boetie kom weer verby, in die teenoorgestelde rigting, en hy sleep 'n army-grondseil agter hom aan oor die teëlvloer.

Anyway, wat gaan ons die vakansie doen? vra Freek.

Drink, sê Corrie.

Steek, sê Corrie se sussie.

Wat weet jy van steek?

Ek weet, dit is wat julle doen in die Holiday Inn. Corrie se sussie se stem is gemoduleerd.

Maar dit het niks met jou te doen nie, jy's nog te jonk, bly stil. Corrie se sussie bly stil en vat nog 'n beskuit. Jy't genoeg beskuit gehad, sê Corrie en gryp die pakkie van die tafel af, Corrie se sussie se oë smeul soos twee nuwe tweesentstukke. Sy't haar ma se bruin oë geërf. Dis jammer Johnny is in die army, sê Freek.

Daar is 'n klop aan die agterdeur. Brigitte kom in. Haar wange is effens rooi en sy is uit-asem. Luister, kiddies, ek het iets vir julle, sê sy. Haar een hand is in haar nylonbaadjie se sak. Like ek weet wat ons gaan doen vir die vakansie. Sy stap kombuistafel toe en pak haar sak uit op die plastiekoppervlak. Twintig tienrandnote.

...............................................

V 7 – Die oomblik toe Timo ...

Die hoofstorie vervolg:

Die oomblik toe Timo 'n reep toiletpapier afskeur van die rol langs hom, hou Magda se haardroër op met raas in die boonste slaapkamer.

Meteens is die huis gevul met 'n magiese soort stilte wat net versteur word deur die sagte gevee-vee van die toiletpapier teen Timo se gat en deur sy geneurie.

Hy neurie "Witter as sneeu", 'n deuntjie wat hy onthou van Sondagskool, hoewel hy die betekenis en woorde gelukkig lankal vergeet het. Om die waarheid te sê, hy besef nie wát hy neurie nie, en ook maar goed, want sulke deuntjies pas glad nie by 'n Marxistiese dosent aan UCT, wie se vrou behoort tot sowat vyftig linksgesinde suburb-organisasies nie.

Wanneer hy opstaan, voel hy vreemd leeg, nog leër as gewoonlik. Sy laaste paar maande van klasgee was inhoudloos, doelloos. Want sy brein was besig op 'n ander plek: die tydmasjien in sy kelder.

Hy het gisteraand die laaste drade gekonnekteer. En nou sal hy finaal moet kies: Vír of téén die twintigste eeu, vír of téén sy vrou, vír of téén sy vervelige werk by die universiteit, ensovoorts, ensovoorts.

Hy kan, van nou af, voortgaan om 'n dosent in geskiedenis te wees. Of hy kan teruggaan na die agtiende eeu en dalk 'n veel interessanter pos losslaan aan Simon van der Stel se hof. Of hy kan 'n Vryburger word onder Jan van Riebeeck. Hy kán, as hy wil. Hy het reeds die tydmasjien uitgetoets op klein vluggies, en dit het gewerk.

Voor al die drade nog gekonnekteer was, al die veiligheidskleppe permanent verseël is, het hy dit reeds gewaag om gou-gou te gaan kyk wat volgende jaar se Intervarsity-telling tussen Stellenbosch en Ikeys is.

S/O 7: (Ten tyde van die publikasie ...)

As ek-spreker klim die outeur in die midde van die intrige:

(Ten tyde van die publikasie van hierdie roman sal ek ook weet wat dit is.)

'n Spel met tyd is hier ter sprake. Dit val op dat die outeur nou skielik nie meer weet wat die uitslag was nie, hy word dus 'n karakter ondergeskik aan die intrige.

V 7 (vervolg):

En dit het gewerk; hy wás werklik daar. Hy het langs die rugbyveld gestaan en die wedstryd voor hom sien afspeel. Toe, agterna, is hy terug na sy tydmasjien wat saam met die ander motors buite die hek geparkeer was, en het hy teruggery.

Die lekkerste deel van die hele ekskursie was die parkeerkaartjie wat hy gekry het. Dis die eerste parkeerkaartjie in sy lewe wat hy eers 'n jaar ná dit aan hom uitgeskryf is, sal hoef te betaal. Dis nou te sê ás hy volgende  jaar nog hier is. As hy 'n Vryburger is onder Jan van Riebeeck het hy sowat driehonderd jaar plus speling, en teen daardie tyd het die Verkeersdepartement al lankal van hom vergeet ...

Hy trek sy broek op en spoel die toilet. Gelukkig vir Peanuts is dit donker buite in die gang, en sien Timo nie die verdwaalde grondboontjiedoppe wat op sy gangvloer rondlê nie.

Peanuts, intussen, is natuurlik nog onsigbaar. Hy het alles gehoor wat Timo Bezuidenhout hardop gedink het daar in die privaatheid van sy toilet.

Hy is nuuskierig. Sou hierdie kêrel werklik ... 'n tydmasjien hê – in sy kelder?

Timo is juis op pad kelder toe. Peanuts volg hom met die dofverligte stel trappe af, al kouende, versigtig om nie met sy vlerke teen iets te stamp in die halfdonker en so die aardwese bewus te maak van sy teenwoordigheid nie.

Timo het die onderpunt van die trappe bereik. Hy skakel 'n lig aan iewers teen die muur.

Wat die engel voor hom sien, laat hom onwillekeurig uitroep, maar gelukkig nie baie hard nie, want Timo hoor niks. "Goeie hemel!" sê die engel.

Die tydmasjien lyk glad nie soos 'n gewone tydmasjien nie. Nee, natuurlik nie. Want Timo het dan nog verlede jaar, ek bedoel volgende jaar, daarmee 'n parkeerkaartjie verower by die Intervarsity van 1989.

.................................

'n Groot geheim kom na vore: Timo het 'n tydmasjien! Hy kan terug na die verlede reis of die toekoms gaan verken. Die masjien loop op vrot melk, waarvan genoeg voorraad destyds tydens die vrotmelk-era van die 1980’s bekom is.

S/O 8: Ja. U het natuurlik lankal vermoed ...

Die outeur tree weer toe en spreek weer eens die leser as “u” aan:

Ja. U het natuurlik lankal vermoed dat Adriaan Nieuwoudt se Kubusmaatskappy absoluut niks te doen gehad het met skoonheidsmiddels nie. Volstrek nie.

Maar wat u nie geweet het nie (ek ook nie, nie voor ek begin navorsing doen het vir hierdie roman nie) is dat Timo Bezuidenhout 'n kleinneef van Adriaan Nieuwoudt is. En dat die hele Kubuskwekery destyds al op die been gebring is om brandstof te voorsien vir die tydmasjien wat nou hier in 'n kelder in Vredehoek, Kaapstad, staan!

Al ooit gewonder wat het van al die koevertjies vol kubusplantjies geword? Hulle is almal fyngemaal en 'n groot klomp daarvan word toe al die tyd gestoor in Timo se kelder. Ja, al maande lank lê die wit poeieragtige stof hier in duisende en duisende plastieksakke en wag vir Timo om net water by te voeg en in die Casspir se dorstige enjin te gooi.

Die reis die toekoms in, na volgende jaar se Intervarsity; het hom slegs 'n paar koeverte se poeier gekos. Die reis terug na Jan van Riebeeck se tyd toe – want dit is waar hy besluit het hy heen gaan, sommer terwyl hy by die trappe afgestap het – sal hom ongeveer 'n kwart ton se vrot melk kos. Dit sal beteken dat die Casspir 'n sleepwa agter hom moet aansleep vir noodbrandstof. Maar daaraan het Timo al gedink.

Omdat daar nie plek in sy kelder is vir beide Casspir en sleepwa nie, het hy die sleepwa solank gestoor in hierdie selfde kelder, maar in die jaar 1982. Die orige vrot melkpoeier is gestoor deur die hele sewentiger dekade. En die huis se vorige eienaar weet niks hiervan nie.

'n Verdraaiing van feite vind hier plaas. Almal weet wat die ware storie agter die Kubusbedrog was. Die gebruik van vrot melk as brandstof mag dalk uitermate snaaks wees as parodie, maar bring ‘n belangrike tema na vore: dit is moontlik om die verlede te verander deur nuwe inligting weer te gee!

S/O 9: Ek het besluit ...

Die outeur maak 'n selfbewuste opmerking oor die tegnieke wat hy in die boek aanwend, maar lei eintlik die leser om die bos – daar word geen truuks genoem nie. Daar volg niks op die volgende bladsy nie. Tog is parodie dwarsdeur die boek teenwoordig en beweeg hy weg van konvensionele en tradisionele skryftegnieke. Dit word byna ‘n obsessie om anders te skryf.

Ek het besluit om toe tóg 'n paar tipografiese truuks in dié boek te gebruik. Ter wille van die kritici. Maar net hier en daar. Anders raak 'n mens darem té ongoddelik deurmekaar en jy verloor hééltemal jou draad. Sien die volgende bladsy.

Dit herinner my ek het nog niks van Brigitte gesê nie. Volgens die rowwe notas wat ek voor die tyd gemaak het, moet sy 'n baie belangrike rol in dié boek speel, want sy en haar vriende beeld ook 'n aspek van Afrikanerdom uit.

Brigitte (laat ek nou eers verduidelik) woon in die beton-oerwoud van Parow saam met haar ma-hulle. En sy is baie opgewonde, want sy het gehoor hulle gaan Langebaan toe vir die volgende naweek.

Maar helaas! Die onleesbare, wispelturige hart van die mens! Dinge gebeur nie altyd soos ons dit beplan nie. Die mens wik, maar God beskik. Sjoe. Begin uself hiér inleef:

Twee dae later sê Brigitte se ma eers vir haar: "Brigitte, ons gaan nie meer Langebaan toe vir die naweek nie." Sommerso. Sonder rede. En toe het sy klaar vir Albert uitgenooi en alles. Haar ma-hulle is altyd so onredelik.

"Maar, jissus, Ma," sê sy, "wat is dit nou weer?" "Die koste van alles gaan op," sê haar Ma en foeter met die wasmasjien.

"Jy moet sorg dat jy Sondae in die kerk kom en minder vrae vra," roep 'n stem uit die kamer uit.

Brigitte se pa het wakker geword, laat eers, want hy's op verlof, en hy is in die slaapkamer besig om koerantpapier te ritsel. Sunday Times. "As mense meer kerk toe gaan, sal die Regering nie soveel probleme hê nie," voeg hy by.

Brigitte klap haar kamer se deur woedend agter haar toe en skakel oor na die eerste persoon. Moet ek Albert nou bel of wat?

Insiggewend en skielik spring Brigitte uit die tweede storie in die outeur se storie in en vervleg die verhale. Brigitte en haar vriende verteenwoordig 'n sekere soort Afrikaner wat die outeur graag in sy boek wil betrek. Fokalisasie vra hier: Wie sien? En wie praat? (vgl Bal 1986:108–23). Die outeur gee in die laaste sin van die toneel Brigitte se gesigshoek weer. Maar die fokaliseerder is steeds die outeur, hetsy in die eerste of derde persoon. Die laaste sin van die toneel is in die eerste persoon. Dit kan egter ook vrye indirekte rede wees waar die karakter se woorde as spraak (hier monoloog) aangebied word. Hier vind 'n unieke versmelting tussen outeur en karakter plaas. Die versmelting vind ten eerste tussen outeur en verteller, maar dan ook tussen outeur/verteller en karakter plaas. Die outeur kry as’t ware vier personas.

Peter Boxall verwys na die verskuiwing van ou paradigmas in JM Coetzee se fiksie (2013:115):

All of the experimental energy in Coetzee’s work of the new century – his play with the difficult distinctions between one persona and another, [...,] between narrator and character, between fiction and reality – is built around an exploration of this moment; the moment in the laboratory when the paradigms that support our being in the world give way, opening to the possibility of another way of thinking, another way of engaging with the other.

Reiken (2011:3–24) noem dat 'n outeur dikwels nie daarin slaag om te onderskei tussen die rolle van skrywer, verteller en protagonis (hoofkarakter) en dit daarom nie apart kan hou nie. Hy beweer (2011:12):

Most third-person narratives proceed with constant modulation of the psychic distance, moving like a camera eye between long-range establishing shots to very limited, close-range character point of view, [and out again]. But in a case where the author has not fully imagined the point of view character – often because the author has not yet truly conceived the character as a bona fide other – the ANC relationship gets structured in such a way that there is little or no psychic distance between narrator and character, no way for us to see the character moving through a setting or situation, and hence, though unintentionally, what I am calling a merged affect.

Dit is duidelik dat Reiken hierdie versmelting as negatief beskou. Volgens hom bedink die skrywer/outeur die perspektief van die karakter nie behoorlik nie en kom daar nie genoeg psigiese afstand tussen die verteller en die karakter tot stand nie. Veral by die eerstepersoonverteller versmelt die verteller en die protagonis maklik.

Dit is 'n vraag wat hierdie artikel ondersoek: Is die versmelting in Suidpunt-jazz nie juis die mees prominente en daarom ‘n baie geldige tegniek nie? Dit lei tot unieke prosa. Die gebrek aan psigiese afstand tussen die tradisionele personas veroorsaak chaos en verwarring, juis dit wat die boek besonders maak.

McHale (1987: 115) beskryf hierdie versmelting op 'n ander manier:

This ... is a general pattern in postmodernist multilevel texts: complexity increasing to the point where levels collapse, as if of their own weight, into a single level of diegesis. Here the “intramural setup” of the text initially involves four narrative levels – protagonist, narrator, recorder, and “fourth person” (ie author) – but as the text proceeds these levels begin to lose their initial clarity of definition, and the four distinct roles in the narrative structure merge into a single quasi-autobiographical figure.

Daar is nie meer grense nie: tussen werklikheid en verbeelding, teks en interteks, karakter en verteller, een genre en n ander; die meesterkodes is weg, die outeur is weg, fiksie is besig om uitgevee te word (Hagen 2002:172).

Verteleenhede 2,3 en 4 kom nou ter sprake. Vervolgens word die teks van die boek nie meer aangehaal nie. Dit is hoofsaaklik weens die lengtebeperking vir artikels. Kort opmerkings oor die verteleenhede of tonele is egter voldoende.

2. Uit die diepte van ons see

V 8 – Johan steek nog 'n Pink Floyd kasset in sy Sony in.

Die tweede hoofstorie word hervat. Die radikale verskil tussen geslagte word onderstreep, asook die moeite wat jonk en oud vir mekaar gee. Dit verbaas nie dat die ouer persone as konserwatiewe Afrikaners uitgebeeld word en die jonger geslag as wild, nuuskierig en opstandig nie.

S/O 10 – Wat máák die skrywer?

Die skrywer verval in verdere vertwyfelinge oor die sin van sy skrywerskap: Het hy ‘n boodskap of is dit soos nuttelose politiek? Kan hy die blankes bevry van hulle skuldkompleks? Slaag hy daarin om homself te verontskuldig? Kan hy homself weg tik uit hierdie situasie, of is dit alles sinloos? Al is sy woorde “nagtelik”, hou hy aan tik.

Die tema van wit-swart gee die teks ‘n tipies Suid-Afrikaanse kleur. Die skrywer wil die situasie beter maak ... deur die verlede te verander?

  1. Oor ons ver verlate vlaktes waar die kranse antwoord gee.

S/O 11a – Hierdie boek is jazz.

Weer eens bemoei die outeur hom met die skryfproses en verdedig hy sy unieke styl, jazz. Hy gryp terug na die tyd van die jeugopstand in Amerika met James Dean as heldefiguur. In Suid-Afrika het hierdie opstand gekulmineer in 'n wegdryf van die NG Kerk, die skryf van woedende gedigte, die stig van bendes in die townships, die uitkrap van graffiti op mure, die rondhang in klubs, die luister na rockmusiek.

Die outeur twyfel of sy instrument om te sing voldoende is vir die honderde stories wat hy aan die volk wil vertel. In n rare intertekstuele teruggryp na sy vorige goeie (sic!) boek, Somer II, berig hy oor die frustrerende gewildheid wat hy op die tou geloop het. Nou is hy klaar met waansinniges, hy wil oor normale mense skryf. Hy skryf vir normale mense, die volkome gebalanseerde, betreklik patriotiese kleinburgery wat soos robotte geroetineerd leef en alle reëls van beskaafdheid nakom. Hy wil ook hul geskiedenis nagaan en hoe dit nou nog inwerk op hul lewens.

'n Mens sou Letoit se styl kon vergelyk met wetenskapfiksie. Die betroubaarheid van die werklikheid om jou is nie belangrik nie. 'n Bisarre omgewing en 'n vreemde verteller is nie raar nie, identiteite en rolle vervaag en destabiliseer die wêreld van alle rolfigure (Marina628 2007:1).

S/O 11b – My naam is eintlik Piet Retief.

Die outeur voeg die daad by die woord en spring terug in die geskiedenis in met 'n skokkende aankondiging: “My naam is eintlik Piet Retief.” Hy beskryf die moord op Retief en meld dat hy steeds besig is om homself teen die assegaaie van die impi’s te verdedig. Hierdie radikale versmelting van outeur en karakter lei tot die gevolgtrekking: “En ek is gefnuik, en die kers van my lewe is uitgedoof, nog voor ek kon begin om my roeping te vervul.” Daarom is hy ‘n punkskrywer. Die GAR is nie vir hom beskore nie. Intussen gooi die gamskinders “snags die copshops se ruite yt”.

Dit word al meer duidelik dat die boek daarna streef om 'n alternatiewe geskiedenis te skryf. Die klem is nou op die aard en rol van die subjek. Die vraag ontstaan of die outeur as 'n historiograaf beskou kan word, iemand wat ook geskiedenis weergee. Ek sou beweer, ja beslis, al is sy weergawe wat volg, uniek en selfs skokkend. Van Heerden haal Marshall aan (1997:66):

The question historiographic metafiction raises, then, is not what is the "true" history, but rather, who presents what history, and who reads and interprets it, toward what purpose? We not only watch the postmodern narrator-author write; we are also made aware that the writer is writing quite consciously for us. The narrator-author challenges the reader to participate in creating the picture.

Dit is duidelik dat die outeur vir sy lesers skryf. Die outeur word nou ook Piet Retief. Die perspektief van Retief is waardevol. Die outeur stel nie belang in “ware” geskiedenis, dit wat oorgelewer is nie. Van belang is wie dit skryf en hoekom. Hy herskryf die geskiedenis met 'n doel; hy probeer sy roeping vervul ...

  1. Oor ons ewige gebergtes

S/O 12 – Ja, dit was 'n mooi dag ...

Die skrywer hervat die verhaal van die moord op Retief in die stem van die einste Retief. ‘n Redenasie volg oor die effek van gebed en die rol van God in die gebeure: “God is nòg liberaal nòg konserwatief. Dit is God se wil dat almal in vrede saamleef.”

Dit is dus moontlik dat mense die gang van die geskiedenis kan verander – hier deur gebed, maar miskien ook deur tydsreise terug na die verlede!

V 9 – Die skrywer strompel die kroeg binne.

Die verhaal van die skrywer as karakter gaan voort in die derde persoon. Hy bevind hom in die geselskap van 'n blondine en betreur die swak verhouding tussen hom en sy tikmasjien. Die masjien word as 'n geliefde gesien, maar omdat dit ingegee is vir ‘n diens, wil hy graag die blondine nader leer ken. Haar naam is Inka Brigitte Moon, 'n volksvreemde Afrikaanse tiener. Die outeur noem homself nou Fanie.

Brigitte is onteenseglik deel van twee stories in die boek.

V 10 – Voor enigiets anders ...

In die derde persoon word die wit mense se aktiwiteit om skuilings (huise) en ander konstruksies te bou, beskryf. Dit is egter nou nag en die wit mense skuil agter geslote deure uit vrees vir die donker. Hulle is in Afrika!

 

  1. Enkele slotopmerkings

Hier volg 'n opsomming van die res van die roman:

Timo en die outeur se vertellings wissel mekaar af. Timo reis na die verlede en sien Jan van Riebeeck aan die Kaap land. Hy word met buskruit verwond. Die outeur berig oor sy swerwende en verwarde lewe, maar onthou dat hy ook Piet Retief is. Hy worstel met sy skryfkuns en pynig homself met 'n neurotiese patriotisme. Hy loop steeds die pad saam met IBM, die blondine Inka Brigitte Moon. Sy naam is nou Johan. Peanuts, die engel tree nou ook die outeur se storie binne. Timo reis weer terug na 1754 en loop 'n lieflike jong meisie raak met die naam Diana. Timo oortuig vir Jan Scholtz om ‘n film te maak oor Piet Retief en die Groot Trek. Dit sou behels dat die hele span filmmakers in die tydmasjien na die verlede toe moet reis. Die karakter Piet Retief tree al hoe meer na vore. Peanuts word deur die veiligheidspolisie gearresteer en verskyn voor Magnus Malan, maar ontsnap later. Peanuts leer vir Timo dat verskeie bekende persone van die 20ste eeu ook in vorige eeue onder ander name bekend was. Onder andere was Eugène Terre’Blanche eers Dingaan en Casper de Vries Dirkie Uys. Die slag van Bloedrivier word herbeleef. Die Voortrekkers wen, omdat Magnus Malan troepe met moderne wapens stuur om te kom help. So kry die blankes dus 'n houvas aan die onderkant van die Donker Kontinent, kom die Christelike beskawing hier bo uit. Die outeur besef nou sy pogings om die geskiedenis te probeer verander, is futiel. Ontnugter of te nie, droom hy egter voort oor Afrika.

Alhoewel hier net 'n klein gedeelte van die boek (verteleenheid 1) verken is, kan sekere tendense reeds afgelei/vermoed word.

  1. Skrywer en leser se konteks

Anders as tevore, word die konteks of horison van die skrywer en leser al meer in ag geneem. Dit is belangrik om te weet van waar Letoit skryf: waarskynlik vanuit 'n chaotiese bestaan waarbinne hy probeer sin kry. Die leser se ervaring en “kundigheid” bepaal die grense van interpretasie – of juis nie. 'n Ingeligte leser soos ek wat die outeur so lank en goed ken, kan meer diepte aan die interpretasie gee.

  1. Skrywer, outeur en skrywerskap

Dit is nie duidelik wie die skrywer of die outeur is nie, miskien albei in een. Wat egter duidelik blyk, is dat hierdie persona ‘n “obsessie” met sy eie skrywerskap het. Hy bly die gang van die storie onderbreek met ‘n worstelende wroeging oor die sin en effektiwiteit van sy skryfaktiwiteit. Hy wil homself graag as ‘n beroepskrywer sien.

  1. Intra- en intertekste

Letoit maak ryklik gebruik van sy eie en ander skrywers se tekste. In die preskrip haal hy uit sy eie werk aan, haal hy NP Van Wyk Louw en drie ander kunstenaars se woorde aan, en pleeg hy heiligskennis deur “Die Stem van Suid-Afrika” te verander. Later integreer hy graffiti in sy verhaal en haal hy 'n “ouer” gedig aan.

  1. Absurditeit, fantasie en humor

Die toon van die boek is dikwels snaaks, moontlik weens die absurde voorstelling en vry fantasie wat voorkom. Die absurde is te vinde daarin dat die bekende op sy kop gekeer word, alternatiewe verhale aangebied word en realisme ontbreek. Tog bied die naïewe spreker dit aan as moontlik en werklik en die geamuseerde leser aanvaar die illusie, as dit dan 'n illusie is. Vir die outeur is dit egter 'n gegewe realiteit.

  1. Parodie en hiperbool

Parodie en hiperbool is die mees prominente stylfigure in die boek. Parodie as wysiging van ‘n ouer teks of oortuiging is nie skerp satiries nie; dit wil eerder die nuwe deur ‘n ouer bril herinterpreteer. 'n Voorbeeld hiervan is die gebruik van ‘n gewysigde “Die Stem” (volkslied). Waar oordrywing bykom, neig dit weer na die absurde. Dit word baie snaaks.

  1. Verteller en stories

Daar is sonder twyfel meer as een verteller en een storie in Suidpunt-jazz. In die hoofstorie tree Timo op, in die tweede Brigitte en die derde storie die outeur met Brigitte wat 'n gasverskyning maak. Miskien is daar ook die storie van Afrika. Beide eerste- en derdepersoonvertellers tree op met die outeur/skrywer of 'n meer objektiewe derde persoon wat fokaliseer. Die psigiese afstand tussen die verteller en sy karakters verander, onder andere deurdat die ek- en hy-verteller  afgewissel word. Uniek is die gevalle waar die karakter as ek-spreker ook die outeur verbeeld.

  1. Metafiksie en metaroman

Suidpunt-jazz word tereg 'n metaroman genoem. ‘n Dubbelspel ontstaan tussen dit wat werklik gebeur (het) en dit waarna die skrywende ek-verteller die gebeure transformeer. Die skrywer en die leser speel al meer aktiewe rolle; die outeur hou kroniek van die proses van die skryf en sy eie stryd as skepper.

  1. Geskiedskrywing

Die outeur/skrywer is gefassineer deur die verlede. Hy wil graag deur sy skryfwerk die geskiedenis en daarom ook die toekoms verander. Timo se tydmasjien kan help, maar dit sou moontlik meer suksesvol wees om 'n alternatiewe geskiedenis te skryf wat met die ou verhale meeding. Die fokus is op die verhaal van Piet Retief en sy moord.

  1. Versmelting

In hierdie roman vervaag die grense tussen skrywer, outeur en verteller, asook tussen outeur en karakter. Hierdie versmelting is een van die unieke kenmerke van die boek. Ek oordeel dat dit een van die redes is hoekom ‘n mens Suidpunt-jazz as ‘n baie goeie roman kan beskou. Dit is nie slordige skryfwerk nie.

Op verskeie maniere, wat die leser eers post hoc kan bepaal, slaag die outeur daarin om ‘n fassinerende werk tot stand te bring. Hy herskryf die verlede en die verwarde skrywer kry 'n vastrapplek in die hede.

 

Bibliografie

Abrams, MH en GH Harpham. 2015. A glossary of literary terms (10th Ed). Wadsworth (MA): Cengage Learning.

Bal, Mieke. 1986. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Barrett, A en P Turchi (reds). 2011. A kite in the wind: Fiction writers on their craft. San Antonio (CA): Trinity University Press.

Boxall, Peter. 2013. Twenty-first-century fiction. Cambridge: Cambridge University Press.

Brink, André P. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Pretoria: Academica.

Burger, W. 1994. Suidpunt-jazz van André Letoit: Waardeoordeel en die lees van ’n postmodernistiese prosateks. Literator 13(1), 51–65.

Cloete, T.T. 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Cloete, TT, Elize Botha en Charles Malan (reds). 1985. Gids by die literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr.

De Villiers, GG. 2004. Understanding Gilgamesh: his world and his story. DLitt-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Du Plooy, Heilna. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Galloway, F. 1990/9. Breyten Breytenbach as openbare figuur. Pretoria: HAUM-Literêr.

Hagen, WM. 2002. McHale. Postmodernist fiction. World literature today, 63(1):172.

Halliwell, FS. 2009. The theory and practice of narrative in Plato. J Grethlein & A Rengakos (reds), Narratology and interpretation: The content of narrative form in ancient literature. Trends in Classics, 4:15–41.

Herman, D. 2010. The Cambridge companion to narrative. Cambridge: Cambridge     University Press.

Hough, G. 1978. Narrative and dialogue in Jane Austen. Selected essays. Cambridge: Cambridge University Press.

Marina628. 2007. Brian McHale – Postmodernist fiction. https://marina628.wordpress.com/2007/10/22/brian-mchale-postmodernist-fiction.

Metafiction. https://www.google.co.za/search?source=hp&ei=1EhdXKiKLvCHjLsP8-SsgAs&q=metafiction &btnK=Google+Search&oq=metafiction&gs_l=psy-ab.3..0l10.933.3541..4868...0.0..0.304.2465.2-10j j1....2..0....1..gws-wiz.....0..0i131j0i10.ejZXUrTMbUg.

—. https://en.wikipedia.org/wiki/Metafiction.

McHale, Brian. 1987. Postmodernist fiction. Londen: Routledge.

Meyer, M. 2005. The Bedford introduction to literature. New York (NY): Bedford.

Letoit, André. 1989. Suidpunt-jazz. Pretoria: HAUM-Literêr.

Reiken, F. 2011. The author-narrator-character merge. In Barrett en Turchi (reds) 2011.

Van Heerden, Etienne 1997. Postmodernisme en prosa. Kaapstad: Human & Rousseau.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top