Die verlore smoking gun van Bird Island: 'n resensie

  • 19

Die seuns van Bird Island
deur Mark Minnie en Chris Steyn
Tafelberg
ISBN: 9780624081463

Selde in die Suid-Afrikaanse boekwêreld verskyn daar ’n boek soos Die seuns van Bird Island. Behalwe natuurlik Jacques Pauw se The President's keepers, wat net soveel mense na die pen laat gryp het nog voordat hulle die boek gelees het.

In albei gevalle lees dié twee topverkoperboeke soos ’n speurverhaal wat mens laat besef die waarheid is soms vreemder as fiksie. En daar lê die probleem. Waarheid en fiksie raak maklik so verstrengel dat dit moeilik is vir die gewone leser om tussen die twee te onderskei.

Voordat hulle na die pen gryp, behoort deelnemers aan die gesprek maar eers die boeke self te lees.

Die groot verskil tussen dié twee topverkopers is dat die spreekwoordelike smoking gun in Pauw se boek niemand kan ontgaan nie. Met die lees van Pauw se boek ruik mens nog behoorlik die geweerkruit. Die omstandigheidsgetuienis, maar ook die direkte getuienis wat Pauw in sy boek onthul, behoort enige redelike leser sommer gou te oortuig dat hy of sy hier met onweerlegbare feite te make het. Name, plekke, datums. Al drie!

In die geval van Die seuns van Bird Island is dit anders. Die kruitreuk het tot ’n groot mate oor die jare verdamp. Die smoking gun ontbreek. Die rook van die afgevuurde geweer is nie meer so duidelik sigbaar nie. Ook nie in een van die anonieme slagoffers wat in die boek genoem word se verhale nie. Diegene wat onweerlegbare getuienis in die boek gaan soek om die skokkende bewerings daarin te staaf, sal vergeefs daarvoor soek.

Ja, ek weet. Waar daar ’n rokie trek, is ’n vuurtjie. Ongelukkig is die grootste rokie in dié boek saam met drie van die sleutelfigure (wat al drie skynbaar hulle eie lewens geneem het?) saam met hulle graf toe. Maar dat daar ’n rokie trek is gewis.

Vir my is die grootste vermiste skakel in hierdie hele verhaal een van die hoofkarakters, Dave Allen. Was dit nie vir sý dood nie, sou baie van die raaisels waarskynlik vandag opgelos wees. Volgens een van die boek se skrywers, Mark Minnie, het hy gesing soos ’n kanarie. Maar ons kon hom ongelukkig nooit self in die hof hoor sing nie. Hy is dood die dag toe hy in die hof moes verskyn.

En natuurlik is die ander vermiste skakel die oudminister John Wiley. Wat het nie regtig alles op daardie godverlate eiland gebeur nie? Oor hóm was daar al in die tagtigerjare baie stories waarvan vele joernaliste uit daardie era kan getuig. Maar ook hy is dood. So ook Magnus Malan. Mens kan nie nalaat om by te voeg dat dit ’n era was toe joernaliste nie die vryheid gehad het om soos vandag ondersoekende joernalistiek vrylik te bedryf nie.

En les bes is daar die skielike dood van Mark Minnie op bykans dieselfde manier as twee van die boek se hoofkarakters. Selfdood? Hoekom? Selfs daaroor word daar wild bespiegel. Hoekom juis nóú, Mark? Het hulle al drie hul eie lewens geneem of nie?

Al die onbeantwoorde vrae maak dit moeilik om die boek objektief te beoordeel. Dooie duikers deel nie.

Die boek se tema is teen dié tyd alombekend. Dit is die laat tagtigerjare. Ernstige aantygings teen drie prominente NP‐ministers doen die ronde. Een van die drie is, naas die staatshoof, die magtigste man in Suid-Afrika, naamlik generaal Magnus Malan. Vir sommige Suid-Afrikaners is hy die held uit die apartheidsera wat die land wou red van ’n totale aanslag. Vir ander is hy die vark in die verhaal wat nie geskroom het om jong seuns as kanonvoer te gebruik nie.

It's complicated!

Volgens die boek se uitgewers ondersoek ’n waagmoedige polisieman en ’n vreeslose joernalis die gerugte dat jong seuns op ’n eiland aan die kus van Port Elizabeth misbruik word. Mark Minnie en Chris Steyn kom onafhanklik van mekaar op dieselfde donker geheim af. “Maar die saak kry net kortstondig aandag voordat dit doodgesmoor word en verdwyn. Dertig jaar later sit Steyn en Minnie hul bewyse bymekaar en lig die sluier oor dié skokkende gebeure – ’n verhaal van misdaad, toesmeerdery en amptelike medepligtigheid in die verkragting, en moontlik selfs moord, van weerlose kinders.”

Mense wat aan samesweringsteorieë glo, sal die boek opslurp sonder om twee maal daaroor te dink. Diegene wat dink generaals soos Magnus Malan of dominees soos Solly Ozrovech is vanweë hul “onberispelike karakters” nie tot sulke dade in staat nie, sal die boek summier afskiet as kwaadwillige skinderpraatjies. Maar ook dit gaan nie op nie. Ons wéét mos hoe het generaals en dominees in die verlede vir ons gelieg.

Ek glo nie in samesweringsteorieë nie. Ek dink ook nie alles in die boek is noodwendig korrek of feitelik waar nie. Maar ek dink ook nie alles in die boek is uit die duim gesuig nie. Dit moet ’n baie dik duim wees as dit so is.

Volksblad se oudredakteur wat so selfversekerd op Facebook en in Die Burger verklaar alles in die boek is bog, moet maar ook weer ’n slag gaan dink. Hy was immers self die Nasionale Party se poster boy op sy dag. En selfs hy sal weet hoe daar vir ons gelieg is destyds. Die oudgeneraals soos Constand Viljoen se verklaring oor Bird Island se dinge is ook maar net dit: nóg ’n verklaring. Amper soos destyds toe die weermag kamma nie in Angola was nie. Sak Sarel. Nag Generaal.

Die Burgerlikesamewerkingsburo, Vlakplaas, Steve Biko se dood wat Jimmy Kruger so koud gelaat het, en vele ander dinge onder hulle bevel is net té vars in ons geheue dat ons net op oudgeneraals se woord kan staatmaak.

’n Ander oudminister sê in ’n onderhoud met Hanlie Retief in Rapport onder andere dat hy nie nagmaal sou kon gebruik as hy skuldig was nie. Rêrig? Dit op sigself oortuig niemand nie. Wat van die Katolieke priesters wat kinders gemolesteer het en nie net Sondag na Sondag nagmaal gebruik het nie, maar dit selfs bedien het aan hulle diepgelowige kudde wat nooit sou kon dink hulle was aan sulke dade skuldig nie?

Die oudminister sou veel meer geloofwaardigheid gehad het indien hy hom liewer bereid verklaar het om sy volle samewerking te gee om agter die kap van die byl te kom.

Soveel vrae, soveel antwoorde.

Terug na die boek. Dit sou naïef wees om alles in die boek summier as snert af te maak. Dit sou ewe naïef wees om alles as die evangelie te aanvaar. Dele van die storie was al in die ’80's welbekend onder baie joernaliste van daardie tyd. Selfs al het Volksblad se oudredakteur nie daarvan geweet nie. Hy het ook nie van Vlakplaas geweet nie. Ook nie van baie ander wandade onder die apartheidsbeleid nie.

Uiteindelik laat Die seuns van Bird Island my met meer vrae as antwoorde. Ernstige vrae wat smeek om antwoorde. Ter wille van die kinders wat na bewering gemolesteer is, maar ook die oudministers en hulle families, kan mens maar net hoop die verskyning van hierdie boek bring ons nader aan die waarheid. Watter kant toe ook al. Dit sal net so ’n groot onreg wees om onskuldige mense as pedofiele te brandmerk indien dit leuens is as om die slagoffers se pyn te misken as dit waar sou wees.

Mens kan maar net hoop dat daar ná hierdie boek se verskyning meer mense vorendag sal kom met inligting wat lig op die talle onbeantwoorde vrae sal laat skyn. Volgens die medeskrywer, Chris Steyn, het daar nuwe inligting vorendag gekom ná die boek se publikasie. Dit is tot ’n groot mate in haar hande om dit verder te voer, want volgens haar is daar soveel nuwe inligting dat dit selfs ’n opvolgboek regverdig. Die leserspubliek wag in spanning om te sien wat hierdie nuwe inligting behels.

Daar is gans te veel mense op sosiale media wat niks van die saak weet nie, maar dink hulle weet alles daarvan. Dit geld vir beide kante van die debat. Hopelik sal diegene wat regtig met die ondersoek kan help, nou na vore kom. Verkieslik sal daar benewens Steyn se voortgesette ondersoekende joernalistiek ook ander onafhanklike ondersoeke wees, soos wat nou skyn die geval gaan wees.

Dit sal jammer wees as die beplande film oor die boek verskyn voordat daar meer kaarte op die tafel is. Die waarheid maak vry. Maar die smoking gun ontbreek nog in dié boek. Intussen help dit nie om die boodskappers te skiet nie.

  • 19

Kommentaar

  • Tot tyd en wyl die gemolesteerdes openlik na vore kom en klagtes indien by die polisie sal geloofwaardigheid altyd ‘n probleem wees.

  • Schalk vwn Wyk

    Goeie resensensie. Ek sluk maar swaar hieraan. Het nie die boek gelees of beplan om hom te lees nie. Ons familie het Malan persoonlik geken en het baie hoë agting vir hom gehad. Dat daar baie besluite geneem is in daardie tyd wat vandag, met reg, kras veroordeel kan word is 'n feit. Dit sal inderdaad 'n groot onreg wees as dit vals is.

  • Kom voor of jy nie Jacques Pauw se jongste artikel oor die boek gelees het nie. Nog vrae kom na vore.

  • In die hof is die gebrek aan getuienis genoeg om jou onskuldig te bewys. In die samesweringsteorie is daar gewoonlik (gerieflik) die onderdrukking van die waarheid. Om net een op te noem: Die Roswell insident waar na bewering 'n VVV geland het, maar wat deur die Amerikaanse regering onderdruk word.
    'n Vraag wat by my ontstaan is: Hoekom nie skryf oor pedofilie en die gevolge en die misbruik van die jong slagoffers nie. Dit behoort tog die hoofsaak te wees en nie feit dat die wat oortree het ministers was of Nasionaliste was nie. Dit is 'n perversie sonder aansiens des persoons.
    Is daar 'n verdagmakery teen die Apartheidsregering? Nou dat hulle nie meer bestaan nie kan jy dapper op die mishoop staan en kraai dat jy dit en dat nog altyd geweet het. Kan ons joernaliste vertrou om te onderskei tussen die waarheid of stories?

  • Mooi gebalanseerde opinie. Maar die smoking gun wat reeds jare smeul en gesnuf word sodra daar weer 'n vonkie skiet is juis omdat daar waarheid verswyg word. Soveel op die spel. Daar is jare gelede reeds inligting deurgegee. Baie mense sit met info uit 80's.

  • Sal graag wil hê dat hulle nou na vore moet kom sodat die inligting getoets kan word. Hulle hoef mos nou niks meer te vrees nie.

  • Arrie de Beer

    As 'n mens 'n joernalis was wat te kenne gegee het SA was nie (in daardie stadium) in Angola vir 'n bepaalde doel nie, hoe gee jy nou te kenne iemand was nie in 'n bepaalde stadium op Bird-eiland vir 'n bepaalde doel nie?

  • Die helfte van die resensie gaan oor die resesent wat ander mense wil bykom. In die toekoms bly eerder by die boek as wat dit nodig is om 'terug te kom' na die boek en resensie. Andersins goeie resensie.

  • Monica Muller

    Volgens Steyn het soveel getuies na die verskyning van die boek na vore gekom dat sy 'n opvolgboek oorweeg. Waarom 'n opvolgboek? Om nog verder agterdog te saai? Sit die feite op die tafel sodat geregtigheid - na watter kant ook al - kan geskied.

  • Ek het wel die boek gelees, maar daar is dinge wat nie lekker sin maak nie. Sy bevelvoerder het vir Minnie vertel van 'n vrou in die bevelvoerder se gemeente se seun wat 'n storie het om te vertel. En so begin die verhaal ontvou. Wat my pla is dat in die media beweer word dat dit bruin seuns was wat na Bird Island geneem is. Was die bevelvoerder (in die 80's) ook? Of was die bevelvoerder in dieselfde kerk as bruin mense? Of was die slagoffers wit seuns ook? Daar ontstaan definitief meer vrae as wat die boek antwoorde verskaf.

  • Ek het die boek gelees omdat ek dit by 'n weduwee van 'n oud-polisie generaal gekry het. My hare het al die pad regop begin staan vir die blatante misbruik van mag teenoor die swakstes onder ons. Paul is 'n joernalis en kan daarom die skryfwerk kritiseer, maar Minnie was 'n polisieman wat as kind self deur molestering gegaan het. Toe moes hy stilbly, want niemand sou hom glo nie en hy verdere verminking kon ly soos wat hy stil gemaak is deur die hoogste gesagte oor hom en die maklike toegang na sy kantoor om alle bewyse te vernietig ... grootste fout om dit nie elders te bewaar het. Ons weet almal vandag hoe die gereg bewyse laat verdwyn. (bv die SMIT-moorde). Pornografie: die wortel van alle verwoestende gedrag en seksuele wangedrag onder die hoogste van sogenaamde gerespekteerdes deur al die eeue. Die smoking gun ontbreek, maar die kruitrook hang steeds sterk in die lug ...

  • Benadé Kruger

    Jy is reg Nicolette. Die eerste seun - in die brigadier se kerk - was wit gewees. Hy word net beskryf as "'n maer kind met 'n donker vel". Van die slagoffers was wit.
    Een minder raaisel wat jou kan wakker hou in die nag ... 🙂

  • Frans Koekemoer

    Die gerugte van jong kinders in die chopper was al in omgang daai tyd ... ons het vis gevang om daai eiland ...

  • Rosemary Milbank

    Ek het David Allen goed geken in die jare 70's.
    Ek glo ALLES en nog meer wat in die boek is!
    RIP Mark Minnie ... I was so desperately heartbroken to read about the horiffic abuse you suffered as a young boy. Well done for exposing the TRUTH!
    Chris Steyn you are an incredible Lady ... I believe in you 100%.
    People who don't want to believe and who want to discredit the authors and publisher ... why? Are you afraid of what is still to be revealed?
    Wake up and help to prevent further atrocities against our youth!!
    Rosemary Milbank

  • Dis 'n seer storie. Maar waar daar 'n rokie is ...
    Destyds is niemand aangemoedig om hierdie en ander vergrypinge te rapporteer nie. Baie leiers was kop in een mus. By my ou skool was daar 'n senior onderwyser(nogal 'n kadette-offisier) wat vatterig was met van die seuns. Toe my broer kla dat die 'bunny boy' ook met hom aangelê het, het my ma die hoof gaan spreek. Dis maar net onder die mat gevee en die onnie het onverpoos voortgegaan met sy dinge. Dus is daar waarskynlik ... 'n vuurtjie ook in hierdie tragiese vertelling van die Generaal en kie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top