Die verlede/die hede/en dié wat nog moet gebeur
Voor die begin van tyd was dit al uitgelê
Die duiwel en Jesus het saam gesit en besluit wat hulle wil hê
Satan stel dit toe so: siende dat ek nog altyd populêr was
Het ek klaar meeste van die mensdom in my vlammende kas
So ek soek nie veel nie
Inteendeel ek soek geen reëls nie
Ek soek apatie en haat
Ek sal meeste uit mense se seer baat
Ek is die trane in tienermeisies se oë
Ek is die seer wat mense sal dryf tot selfmoord
Ek is die gaping in jou hart
Ek is seer en smart
Pikswart
Ek sal hulle almal kan oortuig dat hul lewens verby is voor dit begin
Ek sal die kanker wees wat hulle opvreet van binne
Ouers wat hulle kinders slaan
Liefde wat vergaan
Mense wat nie verstaan nie
Kinders wat nie kerk toe gaan nie
En dit alles sal lekker lyk
Als sal reg lyk
Dis hoe ek my destinasie van hel op aarde sal bereik
Jesus sê toe aan Lucifer die engel van musiek
Net die gedagte aan jou planne maak my siek
Het jy geen liefde nie?
Waar het jou siel gegaan?
Hoe kan jy so ’n vulgêre plan beraam?
Ek het hierdie mense oneindig lief
En jy wil hul toekoms kom steel soos ’n dief?
Ek sal self sterf om my kinders ’n kans te gee
Met my bloed sal ek al hul sondes afvee
En ek vertrou hulle
Ek weet dat tussen al jou temptasies en pille
Daar nog steeds skoon, eerlike liefde sal verskyn
En tussen daardie liefde sal al jou onheilighede verdwyn
Siektes sal my mense nie onderkry nie
Niks sal sekere mense weghou van my nie
Ek sal veg met alles wat ek het om te verseker dat ek niemand verloor
’n Engelkoor laat sing vir enigiemand wat wil hoor
Liedere vol liefde uit my hart
’n Skuilplek weg van die duiwel se smart
Toe word die mens gemaak, dis nou ek en jy
En ons word ’n keuse gegee, ons wil was vry
Ons kon Satan se manier namaak
Opbly met onheilighede tot dit laat raak
Onwetend dat dit dalk so laat kan raak dat ons ons tweede opsie verloor
’n Opsie waarvoor ons na die tyd sou moor
Die tweede keuse is Jesus self
’n Opsie weg van die hel
Net liefde in plaas van haat
Vergifnis in plaas van wraak
Maar die situasie is nie ideaal nie
Getroudes is nie lojaal nie
Meisies se rompies is te kort
Ouderlinge wonder wat van hulle sal word
Seuns se gedagtes word afgetrek deur die skoner geslag
Mense word teleurgestel deur wat hul verwag
En in die negatiewe omstandighede lyk die duiwel nogal goed
Ons uitkyk is bevlek met onskuldige bloed
Maar dan is daar dalk een of twee wat vir Jesus onthou en dan na hom uitroep
En nou't Jesus genoeg gehad van sy kinders se teenspoed
Met onhanteerbare woede kom hy self na ons toe
Die duiwel kom ook uit sy skuiling sodat die twee weereens mekaar kan ontmoet
Hierdie keer is daar egter geen gesprek
Al twee sal baklei om hul droom te laat werk
En die duiwel prostiteer en blasfimeer
Jesus probeer ons van liefde leer
En heel aan die einde, die finale geveg
Die son en die maan steek albei hul gesigte weg
Die perfekte beligting vir die hoofarena
Tussen alles en niks staan die twee alleen daar
Woedende oë, een paar gevul met liefde, die ander met haat
Woedende oë kyk vir mekaar
Dan storm die duiwel met als wat verkeerd is
En Jesus storm terug, vol heilige lig
Dan tref hulle mekaar
En ons almal is daar
My volgende woorde is ongelooflik maar waar
Jy weet dit want jy't dit self ervaar
’n Oorverdowende knal en dan net die skare se fluister
Soos die stof nog in die lug hang lyk alles nog duister
Maar dan verskyn die silhoeët van die oorwinnaar
Jesus op die lyk van die oorspronklike sondaar
En soos dit ’n held pas juig almal sy naam
Jesus! Koning! Abba, Pa!
Die einde van die duiwel merk die begin van ’n nuwe wêreld
Een vol goue paaie vol pêrels
En Jesus sit in die hoofgebou op die troon
En nou is ons uiteindelik almal skoon
Die duiwel het verloor
![]() |



