| Referaat gelewer op 25 Januarie 2013, Groenkloofkampus van die Universiteit van Pretoria as deel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedenissimposium: Die Groot Trek 175 jaar: 1838–2013. |
1. Inleiding en doelstelling
Die historiese roman begin vir die meeste skrywers waarskynlik by ’n dokument. By een mens wat opgeskryf het dat hy of sy eenmaal in die tyd hier geloop het. Louis Tregardt se dagboek was in 1976 in gedrukte vorm vir my as honneursstudent aan die Universiteit van Pretoria voorgeskryf. Indertyd nie bevatlike leesstof gewees nie. Mens is jonk. Op daardie stadium te jonk om te verstaan hoe kosbaar die breuksekonde van een lewe in ’n ewigheid is.
Tog moet ek dadelik byvoeg dat ek sedert my honneursjaar telkens na hierdie dagboek teruggekeer het. Ongelukkig nie oor die taalkundige waarde daarvan soos my dosente begeer het nie; wel oor die hartverskeurende einde wanneer ’n man se liefste en dierbaarste pand van hom weggeneem word en dit nie vir hom meer sin maak om sy lewe te dokumenteer nie.
My referaat handel oor die verskille en ooreenkomste tussen die kreatiewe skrywer en die historikus se taak, met verwysing na my roman Die son kom aan die seekant op (2005).
2. Stofversameling
Soos die historikus, het die skrywer bronne geraadpleeg. Haar hoofbron was uiteraard Tregardt se dagboek (Preller 1938) en die uitgawe wat sy gebruik het, beteken vir haar meer as vir ’n historikus wat antikwariese boeke in ’n goeie toestand versamel. Dit is ’n sentimentele besitting, gehawend, vol onderstreping en kanttekeninge. Die boek was saam met haar deur ’n ander wêreld; sy wil nie een in ’n goeie toestand hê nie, sy wil hierdie ene hê, en wel in hierdie toestand.
Vir die jare voor die dagboek begin, moes sy ook haar geheue verfris oor wat tot die Trek aanleiding gegee het. Maar hiervoor kan sy nie bronne verskaf nie, gewoon omdat sy sedert haar jeug soveel daaroor gelees het dat sy nie daarvan rekenskap kan gee nie – ’n vryheid wat die historikus nie het nie en wat sy uitgebuit het. Natuurlik was daardie leesstof deurspek van indertydse ideologie, soos hedendaagse leesstof daaroor deurspek is van ’n ander ideologie – ’n probleem wat die skrywer met die historikus gemeen het. En Preller (1938) se inleiding tot die dagboek is ondankbare leesstof. Met respek, dit kom meermale op ’n hagiografie van Tregardt en sy medetrekkers neer. Maar as Preller nie hierdie taak onderneem het nie, het sy nie ’n begin gehad nie. Daarom lig sy steeds haar hoed vir hierdie heer, wat dit trouens nodig gevind het om kru woorde in die dagboek met keurige Latyn te vervang. Ook Preller se dele I–V van Voortrekkermense (1918, 1920, 1923, 1925, 1938) het waardevolle inligting verskaf oor trekmetodes, daaglikse aktiwiteite en lewenshouding.
Die skrywer het tussen die Venda en die Tsonga-Sjangaan grootgeword op die Ferreira-plaas Deerpark in die Laeveld, wat in haar kindertyd reeds vier geslagte in die familie was. As kind kon sy hulle tale goed praat en dit sal sekerlik vir ’n historikus wat van mondelinge oorlewering gebruik maak, ook nuttig te pas kom. Maar sy het veral hulle stories onthou, Kirufu en Mokhadi s’n. Dit het van Rossetoe ’n mens help maak. Sonder Junod (1927) en Stayt (1931) se uitgebreide dokumentasie van die Venda en die Tsonga-Sjangaan se kultuur sou sy egter nie kon nie.
Soos sovele ander was sy gefassineer deur die San en het ook oor hierdie groep so baie gelees dat sy nie bronne kan verskaf nie. Maar sonder Fourie (1994) se vertaling van ’n San-lied oor die mens se verganklikheid en nietigheid sou Gert Boesman nie sy ongeneeslike lied kon sing nie.
Die skrywer se broer Jan is ’n man vir die pêre. Hy het ook San-werkers in Namibië gehad. Van hom het sy gehoor hoe daar iets in ’n San se psige gebeur wanneer hy onder ’n perd begin uithardloop. Gert Boesman het dimensie gekry.
U sien dus: die skrywer is ’n uitbuiter wat vertelling en herinneringe saam met dokumente inspan.
Vir ander bronne wat sy geraadpleeg het, verwys die skrywer na die bronnelys agter in die roman, want sy wil u nie vermoei met titels nie.
3. Fotomateriaal
Fotomateriaal is vir die skrywer so belangrik soos vir ’n historikus, maar om ander redes. Jy wil daardie mens sien oor wie jy skryf, maar nie om te dokumenteer nie. Die skrywer soek na ’n vermoeide of terglustige trek in die oë. Kleredrag spreek van ’n karakter. Liggaamshouding praat met jou oor die mens in die klere.
Die wanstaltige foto wat daar van Tregardt beskikbaar is, wou my egter nie oortuig nie. Dit kon nie Martha se Lewies wees nie. Gelukkig het Louis Changuion haar gerusgestel dat fotografie eers teen 1845 in die Kaap in gebruik geraak het, toe Tregardt lank reeds heen was. Dit is hoogs onwaarskynlik dat daar ’n fotograaf in ’n afgeleë pos soos Lourenço Marques beskikbaar sou gewees het. Sy het my maar so min of meer verlaat op die foto van Tregardt se seun Carolus soos hy in al sy lewensbeneuktheid daar sit (Preller 1938, titelblad). En omdat Louis Tregardt van Sweedse afkoms was, het die skrywer sy oë ysblou gemaak. Natuurlik het haar selfvertroue ’n knou weg toe sy as redakteur in Visagie (2011) se manuskrip oor Voortrekkerleiers die einste foto van Tregardt sien. Maar ook Visagie vermeld dit is “blykbaar ’n foto van ’n houtskooltekening”. En die tekenaar kon ’n swak hand gehad het. As enige historikus dus daardie twee blou oë wil weerlê, laat daardie een dan nou hier opstaan en dit sê, of vir ewig hierna swyg.
Lang Hans van Rensburg het hom as ’n onverkwiklike karakter by die skrywer kom aanmeld. Watter verantwoordelike man lei sy gesin die gevaar in, redekawel oor onbenullighede, probeer ’n ander die loef afsteek terwyl daar lewensgevaar is? Nie vrae wat ’n historikus vra nie. Lang Hans moes vir die skrywer juis nie lank wees nie – nie uit seksistiese of romantiese oorwegings nie, maar omdat die bose in haar wou hê Lewies moet op Lang Hans in sy kordaatheid afkyk. ’n Vollengtefoto van Lang Hans naas iemand anders sou haar aan bande lê.
Prof Changuion het haar telefoonoproep beantwoord terwyl hy bestuur – wat hy nie mog nie – en gesê sover hy weet, is daar nie ’n foto van Lang Hans nie. As hy geweet het hoe die skrywer by Lang Hans se bynaam sou uitkom, het hy seker omsigtiger geantwoord. “‘Hy is so kort van verstand soos hy van figuur is.’ Die gryns waarmee Carolus die haastige ruiter agternastaar, voorspel niks goeds nie. ‘Lang Hans van Rensburg,’ sis hy. ... Cornelia giggel oor haar man se gevatheid en haak bekoor by hom in” (Ferreira 2005:21).
Vir die Tregardts se dogtertjie Anna het die skrywer staatgemaak op die foto van die kleine Anna wat in 1946 in die Kaap geneem is en in Preller (1938) opgeneem is. ’n Wesie met weggekamde bruin hare en ’n droewe gelaat, ’n pofbroekie met kant omsoom onder die wegstaanrok. Op grond van daardie foto het die skrywer Anna ’n dierbare siel gegee. In Visagie (2011) se manuskrip het sy later ’n heelwat ouer Anna te sien gekry. ’n Mooi vrou, soos sy haar moeder Martha gemaak het, van wie daar geen foto beskikbaar is nie. Die akkuraatheid van verbeelding moenie onderskat word nie.
Met so min fotomateriaal beskikbaar, kan u net dink wat die foto van die ou fort in Lourenço Marques beteken het. Dit is opgeneem in Punt (1953:133). Na dié armsalige gebou was dit dan wat Tregardt hom begewe het om sy komplimente aan die goewerneur te gaan maak. Kort voor lank sou die muskiete uit die nabygeleë moeras van sy trekgeselskap se standplaas ’n doodsakker maak.
Die skrywer neem, soos die historikus, waar, maar sy berei reeds die terrein voor vir wat kom. Slu.
4. Terrein
Sy het onder andere Soutpansberg toe gegaan, waar die Tregardt-trek vyftien maande vertoef het, omdat sy soos die Tregardts wou sien en voel. Uit daardie digte mis wat soos golwe van die berg afrol, het sy Sosjangane se impi sien nader dans. Daar het sy die bok gesien waarvan Tregardt op Woensdag 8 Februarie 1837 geskryf het: “Kwam een rietbok op de werf, heef de Honden my gevangen” (Preller 1938:31).
Hier aan die voet van die Soutpansberg se noordelike hang het sy ook die verblindende soutpan van ver af gesien. En dié keer was dit nie haar verbeelding nie. Die soutpan is steeds daar, gekommersialiseer, maar daar. As sy dit nie self gesien het nie, sou sy nie geweet het wat ’n indruk dit op die Trekkers moes gemaak het nie. Sy kon dit ruik. Ten spyte van die werkers met hulle grawe en plastieksakke was daar ’n groot stilte oor die pan, byna heilig.
Prof Changuion het haar die plek gaan wys waar die Trekkers aan Strijdpoort gestaan het. In die oopte tussen die waens in die oosteveld het die skrywer die wind sien pluk aan die grasse, futsel in die waseile en die bome aan Zebedielaskop. Daar was besembos, en ’n najaarsbyt in die lug. Die Trekkers was daar rondom haar. Sy het Sara van Rensburg in haar verbleikte rok deur die wind sien aankom. “‘’n Dagboek?’ skrik Sara. ‘Dis iets moois’” (Ferreira 2005:26). Dit is wat sy vir die skrywer kom sê het.
Die Laeveld waardeur Tregardt-hulle na Mosambiek getrek het, ken sy soos haar hand. Maar sy was terug soontoe, om die hitte te voel, die rivier in die grou dagbreek te sien kronkel. Om oor die geheim van daardie wasige doringvlakte ’n valk te sien val.
Op ’n helder dag het sy hoog op ’n rivierwal gestaan en in die ewigheid teruggekyk. Die visarend het kom groet. En sy het geweet Pieta Tregardt sou hom ’n boggel lag oor die olifantbaba wat verseg het om die rivier oor te steek, dermate dat dit die matriarg en ’n ouer suster gekos het en neem die kleintjie aan die slurpie en stertjie en dwing hom deur (Ferreira, 2005:170–1).
5. Verbandlegging, byvoeging en weglating
Soos die historikus, beywer die skrywer haar daarvoor om verbande te lê tussen beskikbare feite wat uit verskeie bronne versamel is.
Punt vermeld in sy doktorale tesis, “Louis Trichardt se laaste skof” (1953:37), dat die datum waarop Tregardt die soutpan bereik het, nie bekend is nie. Maar aangesien Punt so ‘n noukeurige navorser was, het die man gaan uitwerk hoeveel myl die trek per dag kon gevorder het (Punt 1953:22–6). Hy neem onder andere in ag dat daar 4 000 skape in die trek was en dat mens ’n skaap nie meer as ses myl ’n dag kan aanja nie. Só kom hy tot die gevolgtrekking dat Tregardt in Mei 1836 by die soutpan aangekom het (Punt 1953:37). Maar vir die skrywer was dit van besondere belang dat hulle juis op 1 Mei by die soutpan sou aangeland het, want Martha Tregardt is op 1 Mei 1838 oorlede, en op 1 Mei 1837 het Tregardt die inskrywing in sy dagboek gemaak waaraan die roman se titel ontleen is: “en de wolken kwam aan de See kand dik en swaar op” (Preller 1938:71). 1 Mei sou ’n onheilsdag word. Dit is immers neffens hierdie soutpan dat Rossetoe voorspel het dat diegene wat van die soutpan oes en nie ’n offer aan die mwari (Groot Gees) bring nie, nie weer gesien sal word nie. Benewens Martha het die grootste deel van Tregardt se trek aan malaria omgekom nadat hulle van die soutpan geneem het en Tregardt betreklik onwillig ’n bul vir die mwari laat slag het.
Niks van Rossetoe se voorspelling of van die slagbul staan in die dokumente nie. Maar daar staan ook nêrens in ’n dokument dat dit nié gebeur het nie. Dit is net een voorbeeld van wat in die roman staan wat nie gedokumenteer is nie. En daarin lê die probleem en die oplossing rakende feite en fiksie in die historiese roman: jy mag byvoeg, maar jy mag nie weerlê nie. Die skrywer het gehou by wat gedokumenteer is: Tregardt het in Mei die soutpan bereik. Niemand kan weerlê dat dit op 1 Mei kon gewees het nie.
Ek noem nog een voorbeeld om hierdie metode te demonstreer: Pieta Tregardt en daardie ontstellende inskrywing in die dagboek op 10 Desember 1836: “... heb Pieta 3 honden dood geslagen om voor de wolf te stel” (Preller 1938:19). Die dagboek verwys nie weer daarna nie. Hoekom sláán mens honde dood? Hoekom skiet jy hulle nie maar genadiglik nie? Die skrywer het afgelei dat die Trekkers se ammunisie aan die min word was; en die vee was te kosbaar om ’n lokaas daarmee te stel. Nóg die dagboek nóg ander dokumente sê wat die motivering vir hierdie daad van Pieta was. Juis daarom het dit vir my as skrywer die gaping gelaat om ’n karakter te skep wat ’n uilskuiken red en grootmaak teen al die besware in, sy honde vleis voer en hulle dan een skemeraand doodslaan om hom op sy vader te wreek; sake waarvan daar geen vermelding in die dagboek is nie, buiten dat daar ’n uitval tussen Pieta en sy vader was.
Dit sou die skrywer dae neem om verantwoording te doen van wat sy alles bygevoeg het en op grond waarvan. Sy sal dit nie aan u doen nie. Die beginsel is duidelik: die historikus teken feite op en interpreteer dit, maar die skrywer maak jag op daardie dinge wat nie in dokumente vermeld word nie – daardie onbeskrewe oomblikke. Daarom maak dit nie regtig vir die skrywer saak dat Tregardt se dagboek nie volledig is nie. Watter dagboek ís immers volledig? Wie kan ’n ganse dag in besonderhede opteken? En wie waag dit om sy oordeelsfoute en menslike swakhede in ’n dagboek op te teken? Dit word dalk eerder weggelaat, goedgepraat.
Waar die historikus na volledigheid streef, moet die skrywer juis selekteer. Jy laat weg. Dit was byvoorbeeld romanmatig nie wenslik om al die treklede en al die Tregardts se kinders in die roman op te neem nie. Dr Jackie Grobler het die skrywer in die besonder verwyt dat sy nie sy gunsteling, Jeremi Tregardt, gefiksionaliseer het nie. Maar ‘n skrywer moet ’n verhaal skep waarin die leser kan kophou – dit is só eenvoudig en só gekompliseerd.
Wat feitelike korrektheid en verbandlegging betref, stem die skrywer se taak dus ooreen met die historikus s’n. Wat byvoeging en weglating betref, staan dit in direkte teenstelling met die historikus se taak. Daarom kan ’n roman oor Tregardt se trek nooit ’n dokument wees nie.
Die roman trek op ou waspore langs, maar dit word ’n nuwe trek waarlangs nuwe vure gepak word en ander tot as verval. Die roman werk met dieselfde alfabet as die dagboekskrywer, soms selfs met dieselfde woorde en sinne. Soos die dagboekskrywer, wou die skrywer met elke woord wat sy kon bybring, ’n drif gooi om die onbegaanbaarheid tussen die sienlike en die onsienlike oor te steek. En die roman is ’n ander wêreld, wat nie volledig is nie en nie geglo kan word nie, maar eerder begryp wil word, soos ’n baie moeilike, eksentrieke mens.
Bibliografie
Fourie, Coral. 1994. Living legends of a dying culture. Bushmen myths, legends and fables. Hartebeespoort: Ekoglide.
Junod, Henri A. 1927. The life of a South African tribe I, II. Londen: Macmillan.
Preller, Gustav S. 1918. Voortrekkermense I. Kaapstad en Bloemfontein: De Nationale Pers Beperkt.
—. 1920. Voortrekkermense II. Kaapstad en Bloemfontein: De Nationale Pers Beperkt.
—. 1923. Voortrekkermense III. Kaapstad en Bloemfontein: De Nationale Pers Beperkt.
—. 1925. Voortrekkermense IV. Kaapstad en Bloemfontein: De Nationale Pers Beperkt.
—. 1938. Dagboek van Louis Trichardt (1836–1838). Kaapstad: Nasionale Pers.
—. 1938. Voortrekkermense V. Kaapstad: Nasionale Pers.
Pretorius, J Celestine (red). 1988. Op trek. Die daaglikse lewe tydens die Groot Trek. Pretoria: Scripta Africana.
Punt, WHJ. 1953. Louis Trichardt se laaste skof. Pretoria: JL van Schaik.
Stayt, Hugh. 1931. The BaVenda. Londen: Oxford University Press.
Visagie, Jan C. 2011. Voortrekkerstamouers. 1835–1845. Pretoria: Protea Boekhuis.
Titel: Die son kom aan die seekant op
Skrywers: Jeanette Ferreira
Uitgewer: Humann & Rousseau
ISBN: 9780798148825

