Die US Woordfees bied met trots aan: Fees van die uitverkooptes

  • 0

Rekordverkope tydens die dertiende US Woordfees het ’n opwindende nuwe inisiatief tot gevolg – Die FEES VAN DIE UITVERKOOPTES wat van 14 tot 28 Mei 2012 in die Klein Libertas Teater op Stellenbosch en die Baxter Teaterkompleks in Kaapstad gehou word. Ses toneelstukke wat tydens die Woordfees uitverkoop is, kry verdere speelvakke in Stellenbosch en Kaapstad.

Ont, Wessel Pretorius se eenmanvertoning wat bekroon is met die Woordtrofee vir beste dramavertoning tydens die Woordfees is een van die stukke wat te sien sal wees. Ook Nag Ma, ’n drama oor ’n komplekse verhouding tussen ’n ma en haar dogter, met Sandra Prinsloo en Antoinette Louw, is te sien.

Rachelle Greeff se tweede teks, Buitepos, nou met Deon Lotz in die rolverdeling, word weer opgevoer. Die stuk handel oor ’n doodgewone man met baie tyd, en vroue en spoke uit die verlede wat hom jaag.

Albert Maritz se bekroonde Die rebellie van Lafras Verwey van Die Mechanicals, met onder andere Carel Nel en Stian Bam, is vir oulaas te sien. Elsabé Daneel, Susanne Beyers en Joanie Combrink sorg vir vermaak in Leon Kruger se Ou blare, ’n gesinskomedie wat die maskers laat waai en ’n fakkel dra vir vroue van ’n sekere ouderdom.

Die jonger generasie draf onder leiding van die talentvolle dramaturg-regisseur Christiaan Olwagen ’n alfabet van neuroses kaf in N is vir Neurose. Die stuk handel oor grootword, klein bly, werk, trou en kinders maak, en liefde vind.

Besprekings vir die FEES VAN DIE UITVERKOOPTES kan gemaak word by Computicket. Afslagpryse is beskikbaar vir pensionarisse, studente en skoliere. Om die volledige program te sien, besoek www.woordfees.co.za. Navrae: (021) 808 2901

Feesprogram

Buitepos
Deur Rachelle Greeff. Regie: Fred Abrahamse. Ontwerp Marcel Meyer.
Met Deon Lotz. Deirdre Wolhuter en Jill Middlekop.
Na die sukses van Die Naaimasjien volg Rachelle Greeff se tweede toneelstuk. Dié keer oor 'n man wat elke laatmiddag in die droë rivierloop buite die Karoodorp Buitepos alleen met sy klippe en sy gedagtes is. En die vroue wat hom so jaag. Buitepos trek 'n vinger oor die snykant van stilswye. Dis ook 'n sanksie vir die vergifnis – en die plesier – van die liefde.
Golden Arrow Studio, Baxter Teater: 14, 15 en 23 Mei om 19:00
Klein Libertas Teater: 24 Mei 19:00; 26 Mei 20:15
60 min | R100 (R60 studente)

Ou blare
Teks en regie: Leon Kruger. Met Elsabé Daneel, Susanne Beyers en Joanie Combrink.
Drie jarelange vriendinne kom bymekaar om te herlaai. Hulle is dapper, eksentriek en boonop vies. Tussen joga en sopies spoel hulle mond uit oor karwagte, rietskraal winkelpoppe, kopdokters en thongs. Dié splinternuwe gesinskomedie laat die maskers waai en dra ? fakkel vir vroue van ? sekere ouderdom.
Golden Arrow Studio, Baxter Teater: 17 Mei 19:00; 18 Mei 20:15
Klein Libertas Teater: 15, 16 Mei 19:00; 19, 25 Mei 15:00
70min | R100

 

N is vir Neurose
Teks en regie: Christiaan Olwagen. Met Hannah Borthwick, Roeline Daneel, Mariechen Vosloo en Wessel Pretorius.
’n Kitchen tea. Liz trou. Rachelle en Shani p#$ mekaar af. ’n Klop aan die deur. ’n Polisieman. ? Paar wynglase later neem die aand ’n wending wat hulle vir ewig sal verander. Hierdie swart komedie handel oor grootword, klein bly, werk, trou, kinders maak en liefde vind. Alles voor dertig. Natuurlik gaan ons neuroties wees…
Golden Arrow Studio, Baxter Teater: 21, 24 Mei 19:00
Klein Libertas Teater: 19 Mei 10:00; 25 Mei 20:15; 26 Mei 10:00 en 15:00
90min | R100 (R80 studente) | Geen O/16 (STN)

 

Ont
Teks en regie: Wessel Pretorius. Met Wessel Pretorius. Produksiehuis: Polony
Ont is ? eenmanvertoning oor die reis van “grootword”, ? studie oor die samestelling van ? gesin en die vreugdes van vryheid en vlug. Die proses van menswording word met deernis geskets met behulp van Groot Verseboek, Ma se grammofoonspeler en Pa se Camel filters.
Golden Arrow Studio, Baxter Teater: 16, 22 Mei 19:00; 19, 26 Mei 20:15.
Klein Libertas Teater: 14, 17 Mei 19:00
75min | R90 (R60 studente) | Geen O/16 (TN)

 

Nag Ma
Deur Marsha Norman. Vertaling en verwerking: Antoinette Louw en Sandra Prinsloo. Met Sandra Prinsloo en Antoinette Louw. Regie: Lara Bye.
Saterdagaand. Twee vroue. Een geweer... ’n Ma wat haar dogter langer by haar wil hou. Die bloed wat ons bind, en wat ons soms versmoor. Die begeerte om gehoor te word, om raakgesien te wees. Nag Ma, ? Pulitzer-wenner, is ’n hartroerende teaterbelewenis wat jou lank sal bybly.
Golden Arrow Studio, Baxter Teater: 25 Mei 20:15; 26 Mei 10:00, 15:00
Klein Libertas Teater: 21, 22 en 23 Mei 19:00
85min | R120 Baxter, R110 KLT (R80 pensioenarisse R70 studente | Geen O/14)

 

 

Die rebellie van Lafras Verwey
Aangebied deur The Mechanicals. Deur Chris Barnard. Met Stian Bam, Tinarie van Wyk-Loots, Carel Nel, Nandi Horak, Roxanne Blaise, Wilhelm van der Walt en De Klerk Oelofse. Regie: Albert Maritz.
'Maritz en sy spelers omskep Chris Barnard se oorspronklike hoorspel tot ’n teatrale belewenis wat lank na die tyd by jou kom spook' – Die Burger (vier uit vyf sterre); '’n Groot bederf vir enige gehoor' – LitNet; 'Carel Nel as Lafras Verwey lewer uitsonderlike spel.' – Megan Choritz.
Golden Arrow Studio, Baxter Teater: 20 Mei 17:00 en 20:15
80min | R100 (R60 pensioenarisse R80 studente)

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top